Hoe om mense te kry om na jou te luister (2)

2018-07-13
Genesis 39:3 NLV

Die tweede bewys wat jy nodig het om mense te kry om na jou te luister, is sukses. Geloofwaardigheid kom nie net van kennis alleenlik nie; dit kom van resultate. Wanneer mense sukses wil behaal, soek hulle raad by diegene wat al iets bereik het. Wanneer jy suksesvol is, sal daar altyd diegene wees wat na jou wil luister. As jy sukses bereik het in ‘n veld waarin hulle ook wil presteer, neem jou geloofwaardigheid baie toe. Wat verg dit dus om ‘n sukses te wees? Baie verskillende dinge. Hier is ‘n paar: 1) Gewoontes. Almal wil suksesvol wees, maar min mense is bereid om die prys daarvoor te betaal. Jy bepaal nie jou toekoms nie; jy bepaal jou gewoontes en jou gewoontes bepaal jou toekoms. Die geheim lê in jou daaglikse roetine. Om sukses te bereik, moet jy ‘n gewoonte daarvan maak om dit te doen wat ander onsuksesvolle mense nie doen nie. 2) Geleenthede. ‘n Suksesvolle persoon maak hooi van die gras wat onder ‘n ander persoon se voete groei! Hulle beperk hulle take nie tot die ure wat die son skyn nie. Hulle verstaan dat sukses aspirasie, inspirasie en perspirasie verg. 3) Volharding. Sukses beteken dat jy elke keer opstaan wanneer jy val. Die wetenskaplike en uitvinder, Louis Pasteur, het gesê, ‘Laat my toe om jou die geheim te vertel wat my gehelp het om my doelwit te behaal. My sterkpunte lê alleenlik in my deursettingsvermoë.’ 4) God. Abraham Lincoln het gesê, ‘I believe the will of God prevails; without Him all human reliance is vain; without the assistance of that divine being I cannot succeed; with that assistance I cannot fail.’ God het vir Josef sukses gegee in alles wat hy gedoen het; en Hy wil dieselfde vir jou doen!

Sielskos: 2 Sam 1:1-3:21; Luk 6:37-49; Ps 109:1-15; Spr 17:27-28