Hanteer diegene wat jou seermaak

2018-07-07
Genesis 50:20 NLV

Op sewentienjarige ouderdom het Josef se broers hom as slaaf verkoop. Op dertigjarige ouderdom, het farao hom as heerser oor Egipte aangestel. Gedurende daardie dertien jaar het Josef verskriklik gely. Nou het hy die mag van lewe en dood oor sy broers in sy hand gehou. Tog het hy nie net gekies om hulle te vergewe nie, maar ook om hulle in ‘n tyd van hongersnood van kos te voorsien. Soos hulle bewend voor hom gestaan het, het Josef gesê: “‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is. Hy het my gebring tot in hierdie hoë pos wat ek beklee sodat ek die lewens van baie mense kon red. Moenie bang wees nie. Wees verseker: Ek sal self vir julle en julle gesinne sorg.” So het hy vriendelik met hulle gepraat en hulle gerusgestel’ (verse 20-21 NLV). Let hierdie vier dinge op: 1) Net God verstaan mense se harte, dus is slegs Hy gekwalifiseerd om hulle te oordeel. 2) Soos jy meer volwasse word, sal jy in staat wees om die hand van God in sekere van die situasies wat jy deurgemaak het te sien; jy sal die ‘goeie’ eerder as die slegte in hulle sien. 3) Omdat jy geestelik gegroei het, sal jy erken dat ander ook in staat is om te groei en te verander. 4) As gevolg van die guns en seën wat God aan jou bewys het, sal jy nie net vriendelik met jou oortreder praat nie, maar ook vrygewig teenoor hulle wees. Jesus het gesê, ‘…julle moet julle vyande liefhê en bid vir dié wat julle vervolg’ (Matteus 5:44 NLV). Is jy gewillig om dit te doen? Is jy ten minste gewillig om te bid, ‘Here, maak my gewillig?’

Sielskos: 1 Sam 20:30-23:29; Luk 5:12-26; Ps 102:18-28; Spr 17:11-14