2020-05-08
Psalm 40:9 NLV
Daar is geen vreugde in die lewe wat kan kers vashou by die vreugde wat jy voel wanneer jy weet dat jy te midde van God se wil loop nie. Nie roem nie, nie rykdom nie, nie plesier nie. Niks kan vergelyk word met die wete dat jy sy goedkeuring op jou daaglikse aktiwiteite het nie. Sal dit altyd maklik wees om God se wil te doen? Nee; dit is genotvol, maar dis nie altyd maklik nie. Die grootte van jou God-gegewe lewensopdrag bepaal inderwaarheid die vlak van aanval wat teen jou geloods sal word. In hierdie sin is Satan se aanval op jou dus ‘n bevestiging dat jy waarlik in God se wil is. Paulus skryf: ‘Wat harde werk betref, uitermate; wat tronke betref, uitermate; wat katshoue betref, in die oortreffende trap; in doodsgevare dikwels. Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van 39 houe gekry; drie maal is ek met stokke geslaan, en een keer is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een van daardie kere het ek ‘n dag en ‘n nag op die oop see oorleef. Ek was dikwels op reis; in gevare van riviere; van rowers; van my volksgenote; van nie-Jode; gevare in die stad en in verlate gebiede; gevare op see en gevare onder vals medegelowiges. Ek weet van harde werk en swaarkry, van baie nagte se wakkerbly, van honger en dors; van dikwels sonder kos te moet klaarkom, van koue en sonder klere wees. Behalwe al dié dinge, was daar nog elke dag die bekommernis oor al die gemeentes. Watter medegelowige is swak, en ek voel nie saam swak nie?..’ (2 Korintiërs 11:23-29 NLV). Verbly jouself dus – jy is in die wil van God!
Sielskos: Num 16-18; Mark 7:14-23; Ps 44:1-8; Spr 11:9
2020-05-07
Spreuke 16:23 DB
Die gedagtepatrone wat jy gevestig het, plaas jou op ‘autopilot.’ Dit beteken dat wanneer spesifieke situasies voorkom, jy geprogrammeer is om op ‘n sekere manier te reageer. Soms is dit ‘n goeie ding, soos om outomaties jouself van gevaar te distansieer. Ander kere, moet jy jou gevestigde gedagtepatrone onderbreek en jou gedagtes keer om in die verkeerde rigting te beweeg. Jy kan, byvoorbeeld, dit al vir jare lank vrees om Kersfees saam met jou familie deur te bring. Hierdie jaar kan jy egter kies om te dink: ‘Dis nie my gunstelingaktiwiteit nie, maar ek gaan vir iets goeds in elkeen van my familielede uitkyk.’ Of miskien het jy in die gewoonte verval om te kla en oorweldig te voel wanneer jy jou rekeninge aan die einde van die maand ontvang. Jy kan eerder kies om te dink: ‘Ek gaan soveel as moontlik hieraan afbetaal en bietjie vir bietjie sal ek uit die skuld kom.’ Miskien hou jy nie van jou werk, jou baas of jou kollegas nie. Indien dit die geval is, het jy ‘n keuse. Jy kan negatief en krities wees, of jy kan sê: ‘Ek is bly ek het ‘n werk; baie mense het nie een nie. Ek gaan elke dag my bes doen en glo dat God vir my guns by my baas sal gee. My werksomgewing is dalk nie ideaal nie, maar ek sal my deel doen om dit vir myself en die mense rondom my, aangenaam te maak.’ In plaas van om op jou eerste gedagtes te reageer, lei jou gedagtes – een gedagte op ‘n keer – op om anders te dink. Dit sal ‘n bietjie werk verg, maar wanneer jy God se gedagtes dink, help Hy jou om alles te bereik wat jy moet bereik.
Sielskos: Num 14-15; Mark 7:1-13; Ps 37:32-40; Spr 11:7-8
2020-05-06
Psalm 4:6 DB
Dag na dag het Potifar se vrou vir Josef probeer verlei, maar hy het nee gesê. ‘…hy het volhard om nie toe te gee aan haar versoeke nie…’ (Genesis 39:10 NLV). Wanneer sy gebel het, het hy nie die foon geantwoord nie. Wanneer sy vir hom ‘n teksboodskap gestuur het, het hy nie een teruggestuur nie. Toe sy haar opwagting gemaak het, het hy ‘…uit die huis gehardloop’ (vers 12 NLV). In ‘n kultuur wat frases soos ‘instemmende volwassenes’ en ‘seksuele regte’ gebruik, is dit maklik om te vergeet hoe immoraliteit die lewens van mense buite die slaapkamer, vernietig. Max Lucado skryf: ‘Jare gelede het ‘n vriend vir my hierdie raad gegee: ‘Maak ‘n lys van al die lewens wat deur jou seksuele immoraliteit geaffekteer sou word.’ Ek het. Elke nou en dan het ek weer die lys gelees. ‘My vrou, Denalyn. My drie dogters. My skoonseun. My ongebore kleindogter. Elke persoon wat al ooit my boeke gelees het of na een van my preke geluister het.’ Die lys herinner my aan die volgende feit: Een daad van vleeslikheid is ‘n slegte plaasvervanger vir ‘n lewe van verlore nalatenskap.’ Josef se primêre rede om vir Potifar se vrou nee te sê – was God. ‘…Hoe kan ek ooit so ‘n slegte ding doen? Dit sal ‘n baie groot sonde voor God wees’ (vers 9 NLV). Die les wat ons van Josef leer is eenvoudig: Doen wat vir God aanvaarbaar is. Wanneer ‘n vriend vir jou dagga aanbied: Doen wat vir God aanvaarbaar is. Wanneer jou klasmaat vir jou ‘n manier wys om op die vraestel te kul: Doen wat vir God aanvaarbaar is. Wanneer die versoeking om pornografie te kyk groot is: Doen wat vir God aanvaarbaar is. ‘Hoe kan ek vir God aanvaarbaar wees?’ vra jy. ‘Dien die Here met oorgawe! Vertrou op Hom.’
Sielskos: Num 11-13; Mark 6:45-56; Ps 37:25-31; Spr 11:5-6
2020-05-05
Spreuke 3:24 NLV
Slapeloosheid is ‘n aaklige ding. Op enige gegewe tyd affekteer dit 30 tot 50 persent van die bevolking. Jy vrees slaaptyd, rol die hele nag rond en loop doodmoeg die volgende dag rond. Wanneer dit vir weke en selfs maande aanhou, kan dit jou depressief maak en jou vreugde van jou steel. Is dit wat tans met jou gebeur? Laat God jou dan help. Sy Woord sê dat Hy vir die mense wat Hy liefhet, alles gee ‘…wat hulle nodig het, ook terwyl hulle slaap’ (Psalm 127:2 ABA). Sy belofte is: ‘Jy sal kan gaan slaap sonder om bang te wees. Jy sal rustig kan bly slaap.’ Maak die volgende vandag jou gebed: ‘Vader, skyn vandag u lig op die oorsaak van my slapeloosheid. Watter angstighede my ook al weerhou van ‘n diep, genesende slaap, gee ek aan U oor soos U my beveel het, omdat U vir my omgee (sien 1 Petrus 5:7). Kalmeer my rustelose gedagtes. Help my om stil te wees en te weet dat U my God is (sien Psalm 46:11). Ek onderwerp my aan u bevel om my nie oor enigiets te bekommer nie, maar om oor alles te bid. Ek bring my behoeftes na U toe en dank U vir alles wat U alreeds gedoen het. U Woord verseker my dat indien ek dit doen, ek u vrede sal ervaar, wat wonderliker is as wat ‘n mens kan indink en dat dit my hart en gedagtes sal beskerm (sien Filippense 4:6-7). Deur geloof sal ek vanaand sonder vrees of angs my kop neerlê en mooi drome droom. Ja, ek sal in vrede gaan lê en slaap omdat U, Here, my veilig sal hou (sien Psalm 4:9). In Jesus se Naam bid ek dit, Amen.’
Sielskos: Num 8-10; Mark 6:30-44; Ps 37:16-24; Spr 11:4
2020-05-04
Psalm 16:7 NLV
Wanneer jy voor ‘n probleem te staan kom wat jou oorweldig, breek dit af in kleiner, hanteerbare dele sodat jy meer effektief op elk van hulle kan fokus. Moenie die hele probleem in jou gedagtes probeer oplos nie; skryf dit neer sodat jy ‘n helderder prentjie kan kry. Een van daardie klein dele mag dalk die sleutel wees wat die deur oopsluit. As jy steeds nie ‘n oplossing kan kry nie, neem dit in gebed na God toe. Die Psalmdigter het gesê: ‘Here, U sal u doel met my bereik, want u troue liefde Here, ken geen einde nie…’ (Psalm 138:8 NLV). As iets vir jou van belang is, is dit van belang vir die God wat lief is vir jou. Bid die volgende: ‘Here, ek gee hierdie probleem aan U oor en gaan nou slaap.’ Wanneer jy dit doen, kan jy die volgende môre wakker word met ‘n wonderlike eenvoudige oplossing tot die oorweldigende probleem wat jy die vorige aand gehad het. Die Psalmdigter het gesê: ‘Ek prys die Here wat my insig gee; ook in die nag is ek daarvan bewus.’ God weet wat jy nie weet nie en gebed gee jou toegang tot sy kennis. Vyf brode en twee vissies in ‘n seuntjie se hand kan nie vyfduisend mense voed nie. Toe hy dit egter in Christus se hande geplaas het, het dit vermenigvuldig en het daar twaalf mandjies vol oorgebly. Strategiese denke werk die beste wanneer God die fondasie van jou strategie is en wanneer jy op sy Woord staan en sy beloftes opeis: ‘Vra My, en Ek sal jou ‘n antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel. Dit is nou nog vir jou ‘n geheim, en jy weet niks daarvan nie’ (Jeremia 33:3 NLV). God sal dit deur jou doen, solank as wat jy onthou dat jy dit nie sonder Hom kan doen nie.
Sielskos: Num 7; Mark 6:14-29; Ps 37:8-15; Spr 11:3
2020-05-03
Spreuke 13:16 NLV
Deur die tyd te neem om kennis te versamel, sal jy gereed wees vir die geleenthede wat die lewe meebring. As jy nie voorbereid is nie, sal hulle jou verbygaan en na ander mense gaan. God het gesê: ‘My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis…’ (Hosea 4:6 AFR53). Let op: 1) Strategiese denke berei jou vir die toekoms voor. Niemand van ons weet wat môre gaan meebring nie. ‘Moenie te veel praat oor wat môre kan gebeur nie. Jy weet glad nie wat môre gaan oplewer nie’ (Spreuke 27:1 NLV). Die enigste ding wat erger as die onsekerheid van die toekoms is, is wanneer jy geen plan en strategie vir jou lewe het nie. 2) Strategiese denke verminder die kans om foute te maak. Wanneer jy dit nie doen nie, is jy soos ‘n gholfspeler wat die bal slaan, sonder om eers die hou te mik. As jou hou met ‘n paar grade foutief is, kan dit jou bal honderde meters van die teiken af stuur. Strategiese denke bring jou aksies in lyn met jou doelwitte. Hoe meer in lyn jy met jou teiken is, hoe beter is die kanse dat jy in die regte rigting sal gaan. 3) Strategiese denke gee jou invloed by ander mense. Een direkteur het geskerts: ‘Ons maatskappy het ‘n korttermyplan en ‘n langtermynplan. Ons korttermyn plan is om lank genoeg staande te bly sodat ons by ons langtermynplan kan uitkom.’ Dis nie ‘n baie goeie strategie nie en tog is dit dikwels die posisie waarin ons onsself bevind. Die persoon met die plan is die persoon met die mag. Dit maak nie saak by watter aktiwiteit jy betrokke is nie, strategiese denke is noodsaaklik vir sukses. Praat met God daaroor.
Sielskos: Matt 5:9; Rom 12:17-21; Jak 3:17-18; Spr 16:7