Wat jy uit ‘n hartaanval leer
2020-07-05Deuteronomium 11:2 DB
Wanneer jy na mense luister wat ‘n byna-dood ervaring gehad het, sal hulle vir jou dinge vertel wat die moeite werd is om te onthou: ‘Die lewe is broos en kosbaar. Ek het besluit om minder tyd by die werk en meer tyd saam met my vrou en familie te spandeer. Ek het ‘n nuwe deernis vir mense, meer begrip en simpatie. Ek het die Here op ‘n dieper en ryker manier leer ken as wat ek ooit gedink het moontlik is.’ In plaas van om te vra: ‘Hoekom, Here?’ vra hulle: ‘Wat wil U my uit hierdie ervaring leer?’ Dis nie omdat ons stadige leerders is nie, ons is net vinnig om te vergeet. Dis hoekom God vir sy mense gesê het: ‘Onthou al die wonderlike dinge wat die Here julle geleer en vir julle gedoen het…’ In plaas daarvan om vir God te vra om jou omstandighede te verbeter, vra Hom om jou omstandighede te gebruik om jou te verbeter. Die lewe is ‘n verpligte kursus, so jy kan net sowel jou beste doen om dit te slaag. God is aan die werk in jou lewe, of jy dit nou weet of nie. ‘Die Here verneder nie graag mense nie. Hy laat hulle ook nie verniet seerkry nie’ (Klaagliedere 3:33 DB). God vind geen vreugde in jou lyding nie, maar Hy geniet jou vordering. ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi…’ (Filippense 1:6 NLV). Hy sal nie misluk nie, want Hy kan nie misluk nie! Hy sal in ons, ‘…tot stand bring wat God se hart sal bly maak…’ (Hebreërs 13:21 NLV). Elke uitdaging, groot en klein, rus jou vir die toekoms wat God vir jou in gedagte het, toe.
Sielskos: Jak 5:16-18; 1 Kon 18; 2 Kon 2:1-12