Jy kan in die tweede helfte wen
2020-07-04Hosea 14:5 NLV
Halftyd in die wedstryd is vir rus en assessering. Dis ‘n tyd om te hergroepeer – om te evalueer hoe dinge gaan en watter aanpassings die res van die wedstryd gemaak moet word. Dikwels mag dit teen halftyd lyk of ‘n span verloor, maar teen die einde van die wedstryd het hulle die telling omgeswaai en gewen. Totdat die finale fluitjie blaas, is die wedstryd nog nie gewen nie. Dieselfde is waar van die lewe. As jy nog hier is, is die wedstryd van die lewe nog nie vir jou verby nie. Jou horlosie tik steeds. Jy het nog ‘n lewe om te leef. Nie net dit nie, maar die eerste helfte bepaal nie die wedstryd se uitkoms nie. Miskien het jy foute gemaak en teleurstellings en mislukkings ervaar. Miskien het die lewe jou ‘n taai klap hier en daar gegee. Jy is egter nog hier – en solank as wat jy is, het die fluitjie nog nie geblaas nie en is dit nie te laat vir God om jou reguit na die plan wat Hy vir jou het, te neem nie. Jy sien, God kyk na jou toekoms terwyl die Vyand jou op jou verlede gefokus wil hou. God sê: ‘Jy kan, ten spyte van wat gedoen is!’ Die Vyand sê egter: ‘Jy kan nie, as gevolg van wat jy gedoen het.’ God sal jou nooit volgens jou verlede definieer nie, terwyl die Vyand dit teen jou sal gebruik om jou te probeer beheer en te beperk. Hy wil jou aan jou verlede vasgeketting hou. God, aan die ander kant, wil hê dat jy uit jou verlede sal leer en nie daarin sal leef nie.
Sielskos: Jer 25-27; Luk 5:1-11; Ps 102:18-28; Spr 15:4-7