Leer om strategies te dink (1)

2020-05-02
Efesiërs 5:15-16 NLV

Strategiese denke help jou om te beplan, meer effektief te word, jou sterkpunte uit te lig en om die reguitste pad om jou God-gegewe lewensopdrag te bereik, te vind. Daar is verskeie voordele aan strategiese denke. Hier is ‘n paar van hulle: 1) Strategiese denke vereenvoudig die ingewikkelde. Dit neem komplekse kwessies en langtermyn doelwitte wat moeilik is om aan te spreek en breek dit in hanteerbare dele op. Enigiets word eenvoudiger wanneer jy ‘n plan het! Die Bybel sê: ‘Getroue werk lewer wins op. Afskeepwerk lei tot gebrek’ (Spreuke 21:5 NLV). 2) Strategiese denke help jou om die regte vrae te vra. Kyk na die volgende vrae wat deur Bobb Biehl, die skrywer van Masterplanning, ontwikkel is: ‘Rigting: Wat moet ons volgende doen? Hoekom? Organisasie: Wie is verantwoordelik vir wat? Wie is verantwoordelik vir wie? Het ons die regte mense op die regte plekke? Kontant: Wat is ons geprojekteerde inkomste en uitgawes? Kan ons dit bekostig? Hoe kan ons dit bekostig? Evaluering: Bereik ons ons teikens? Oorhoofse evaluasie: Bereik ons die kwaliteit en eise wat ons van onsself verwag? Verfyning: Hoe kan ons meer effektief en doeltreffend wees?’ Hierdie mag dalk nie die enigste vrae wees wat jy aan die begin moet vra om ‘n strategiese plan te formuleer nie, maar dit is ‘n goeie beginpunt. Totdat jy die eerste tree neem, sal jy op een plek vasgevang bly. Totdat jy oor jou behoefte om dit perfek te doen kom, sal jy dit glad nie doen nie. ‘Wanneer moet ek daarmee begin?’ vra jy. Vandag!

Sielskos: Num 4:34-6:27; Mark 6:1-13; Ps 37:1-7; Spr 11:1-2

Tomas se tweeling

2020-05-01
Johannes 20:24 ABA

Die Bybel sê: “Tomas was een van die twaalf dissipels. Die mense het hom ‘Tweeling’ genoem. Hy was nie by die ander dissipels toe Jesus aan hulle verskyn het nie. Hulle het vir Tomas gesê: ‘Ons het die Here gesien.’ Tomas het vir hulle gesê: ‘Nee, ek glo dit nie. Ek sal dit net glo as ek die plekke in sy hande sien waar die spykers was en as ek my vinger daar kan indruk. Ek sal dit net glo as ek my hand kan indruk in die gat in Jesus se sy.’ ‘n Week later was die dissipels weer bymekaar. Tomas was ook by hulle. Die deure was gesluit, maar Jesus het gekom en Hy het tussen hulle gaan staan. Hy het vir hulle gesê: ‘Ek gee vir julle my vrede!’ Toe sê Hy vir Tomas: ‘Kom, druk jou vinger hier in my hande en kyk, en kom druk jou hand in die gat in my sy. Jy moenie ongelowig wees nie, jy moet glo’! Tomas het vir Jesus gesê: ‘U is my Here en my God!'” (verse 24-28 ABA). Die mense het vir Tomas ‘Tweeling’ genoem. Weet jy wie sy tweeling was? Jy! Wie jy ook al is wat vandag hierdie bladsy lees, jy is Tomas se tweeling. Dink daaroor: Hoe dikwels het jy aan God se liefde, sy goedheid, sy genade, sy getrouheid en sy beloftes getwyfel? Wat is dus die oplossing? ‘n Persoonlike ontmoeting met Jesus soos wat Tomas gehad het. Dit gebeur wanneer jy sy Woord lees en ‘n vers vir jou uitstaan en jou laat: ‘My Here en my God!’ uitroep. Dit gebeur wanneer jy soos die Psalmdigter bid: ‘Wees goed vir u dienaar sodat ek mag lewe en u woord gehoorsaam. Maak oop my oë sodat ek die wonders kan sien wat opgeskryf is in u gebooie’ (Psalm 119:17-18 NLV).

Sielskos: Num 3:1-4:33; Mark 5:31-43; Ps 2; Spr 10:30-32

Waar is God wanneer jy seer het?

2020-04-30
Job 2:10 NLV

As jy vir God een vraag kon vra, wat sou jy vra? Toe George Barna hierdie vraag in ‘n nasionale opname gevra het, was die primêre reaksie: ‘Hoekom is daar pyn en lyding in hierdie wêreld?’ Die kort antwoord is: Christus se eerste koms was om ons van die straf van ons sondes te red; sy tweede koms sal wees om ons van die teenwoordigheid van sonde te red en die paradys te herstel. Op ‘n sekere stadium in jou lewe sal jy voor pyn en lyding te staan kom. Job was ‘n goeie en ‘n godvresende man; maar tog het al tien sy kinders tragies op dieselfde dag gesterf. ‘Sy vrou vra hom: ‘Hoekom hou jy aan om die Here te dien? Vloek God en sterf!’ Job het haar geantwoord: ‘…Ek het die goeie geskenke uit God se hand aanvaar. Moet ek nie nou ook die slegte aanvaar nie?’ Job het steeds niks verkeerds gedoen of gesê nie’ (verse 9-10 NLV). Let twee dinge oor teenspoed op. Ons val óf uitmekaar, óf ons beweeg nader aan God. Tweedens is dit wat ons sê baie belangrik: ‘Job het steeds niks verkeerds gedoen of gesê nie.’ Ja, hy het diep gerou. Hy het baie vrae vir God gehad, waarvan baie onbeantwoord gebly het. Tog het hy die volgende gesê toe hy gepraat het: ‘Maar Hy weet waarheen ek gaan! Wanneer Hy my toets soos goud in ‘n vuur sal Hy my onskuldig verklaar. Want ek het op sy paaie gebly en hom gevolg sonder om weg te draai. Ek het alles gedoen wat Hy my beveel het. Wat Hy sê, het ek in my hart bewaar’ (Job 23:10-12 NLV).

Sielskos: Num 1-2; Mark 5:21-30; Ps 35; Spr 10:28-29

Doen slegs wat God wil hê jy moet doen

2020-04-29
Johannes 17:4 NLV

Meer as die helfte van diegene wat die bediening binnegaan, verlaat dit binne tien jaar as gevolg van stres en ontmoediging. Hoe kan jy dit vermy? Deur Christus se voorbeeld te volg. Hoe het Jesus dit gedoen? Hy sê vir ons: ‘…Ek verseker julle, die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen. Wat die Vader ook al doen, dit doen die Seun net so. Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen… Ek is nie daartoe in staat om enigiets uit My eie te doen nie…’ (Johannes 5:19-20; 30 NLV). Dit klink eenvoudig, nè? Eenvoudig – maar nie maklik nie. Mense sal jou probeer ompraat om goeie dinge te doen wat nie noodwendig God se hoogste prioriteit vir jou is nie. Jy kan jou lewe spandeer om die ‘goeie’ te doen en nooit by die ‘beste’ uitkom nie. Jesus het gesê: ‘Ek het… die werk voltooi wat U vir my gegee het om te doen.’ As God dit nie vir jou gee nie, moenie dit aanpak nie. Indien Hy dit vir jou gee, moenie dit sonder sy hulp aanpak nie. Staanhorlosies kom met twee instruksies: Moet dit eerstens nie laat afloop nie. Tweedens, moet dit nie te styf opwen nie. Hoekom het Jesus voor dagbreek opgestaan om te gaan bid en soms deurnag gebid? Sodat Hy nie te afgemat of te opgewen sou raak nie! Die Bybel sê: ‘Gee jou kommer oor aan die Here, Hy sal vir jou sorg. Hy sal gelowiges nie teleurstel nie’ (Psalm 55:23 NLV). Hy kan egter net jou kommer en sorge dra, wanneer jy dit vir Hom gee.

Sielskos: Jak 3-5; Mark 5:11-20; Ps 94:12-23; Spr 10:27

‘Ja, maar…’ mense

2020-04-28
1 Timoteus 6:4 NLV

Sommige mense loop al die goeie dinge in die lewe mis, omdat hulle te besig is om op die slegte te fokus. Hulle kyk die blomme in die tuin mis en wys die onkruid uit. Wie is hulle? Hulle is die ‘Ja, maar…’ mense. Om hulle te help en hulle reg te hanteer moet jy: 1) Kan onderskei. Besef dat hulle brawe maskers dikwels ‘n onderliggende onsekerheid verbloem. Dit laat hulle toe om die fokus van hulle eie vrese op die foute van ander mense af te skuif. 2) Kan aanvaar. Ons eerste reaksie is om moeilike mense te ignoreer en te isoleer. Dis ‘n fout. Moeilike mense wil dikwels geïgnoreer word en wanneer jy hulle vermy, verskaf jy emosionele afstand aan hulle om weg te kruip. Dit bevestig ook hulle oortuiging dat jy nie omgee nie en nie wil luister nie, omdat jy dink dat hulle verkeerd en jy reg is. 3) Geïnteresseerd wees. Wys dat jy regtig in hulle familie, hulle werk en hulle welstand belangstel. ‘Ja, maar…’ mense sukkel dikwels om liefde te gee en te ontvang; hulle is geneig om opinie en lojaliteit bo kommunikasie en rekonsiliasie te stel. 4) Vriendelik wees. Die Bybel sê: ‘Die liefde is geduldig en vriendelik… Die liefde bly stil oor ander se foute, dit bly steeds vertrou, dit hou aan met hoop, dit verduur alles… Die liefde sal nooit vergaan nie…’ (1 Korintiërs 13:4-8 NLV). Om ‘Ja, maar…’ mense te vermy werk nie; ook nie om met hulle te argumenteer of om te probeer dat hulle sin insien nie. Jy kan nie gewoontes van ‘n leeftyd in een of twee gesprekke verander nie. Met genoeg tyd, is liefde egter die een strategie wat egter nooit misluk nie.

Sielskos: Jak 1-2; Mark 5:1-10; Ps 94:1-11; Spr 10:24-26

Gebede wat nie werk nie

2020-04-27
Psalm 35:13 NLV

Misplaaste gebede. Sommige mense maak die gebed voor ete ‘n geleentheid om hulle frustrasies in die publiek te lug. Ander mense bons hulle gebede van God af in die hoop dat dit die persoon oorkant die tafel sal tref – die een wat hulle vir Christus probeer wen. Moenie dit doen nie. Jesus het gesê: ‘Wanneer julle bid, dan moet julle nie soos die skynheilige mense bid nie… Hulle doen dit sodat die mense hulle kan sien…’ (Matteus 6:5 ABA). Veroordelende gebede. In een kerk het ‘n kinderlose egpaar vir ‘n baba gebid. Die gebedsgroep het sommer besluit dat die man nie ‘goddelik’ genoeg was om ‘n pa te wees nie, dus het hulle gebid dat God hom moet verander. As God net aan perfekte ouers kinders gegee het, sou die mensdom uitgesterf het! Die Bybel sê: ‘…Ons vra dit nie omdat ons regverdig is nie, maar ons smeek U omdat U barmhartig is’ (Daniël 9:18 NLV). Kworum-gebaseerde gebede. Jy dink daar is ‘n beter kans dat jou gebede beantwoord word wanneer jy ‘n klomp mense betrek, soos om ‘n kworum in ‘n vergadering te hê. Die geloof waarmee jy bid, nie die aantal mense nie, is egter wat vir God saak maak. Jesus het gesê: ‘…Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie’ (Markus 11:23 NLV). Wanneer jy egter voor ‘n situasie te staan kom wat te groot is om alleen te hanteer, is dit wys om na iemand wat God waarlik ken en wat in ooreenstemming met jou kan bid, uit te reik. ‘…As twee van julle hier op aarde sou saamstem oor enigiets wat julle van God behoort te vra, sal my hemelse Vader dit vir julle doen’ (Matteus 18:19 NLV). Het jy gebedsvennote na wie jy kan uitreik? Is jy ‘n gebedsvennoot vir iemand anders?

Sielskos: Dan 11-12; Mark 4:26-41; Ps 144:9-15; Spr 10:22-23