2020-05-14
Spreuke 3:6 NLV
Bly in kontak met die beheertoring wanneer jy die regte houding moet behou. Lugverkeerkontroleerders ‘sien die groter prentjie’ wanneer dit kom by wat in die lug aangaan. Hulle het die kennis en outoriteit om vir die vlieëniers te sê om spoed te verminder of te vermeerder, om hoër of laer te vlieg, om storms te vermy of te navigeer of om alternatiewe roetes te neem. Lugverkeerkontroleerders in Amerika hanteer ongeveer 87,000 vlugte ‘n dag en 64 miljoen landings en opstygings ‘n jaar. Hulle bestuur kommersiële vlugte, privaat vliegtuie en militêre- en vragvliegtuie. Op enige gegewe tyd sou hulle 460 skerms nodig gehad het om al die lugverkeer op een slag te kon dophou! Met so baie vlugte wat elke sekonde opstyg en land, moet die vlieëniers in kontak met die beheertoring bly. Jy moet soortgelyk ook in kontak met God bly – die Een wat die groter prentjie vir jou lewe sien en alles waarby jy betrokke is, orkestreer. Hy maak seker dat alles wat nodig is om te gebeur, gebeur en dat dit op die regte tyd gebeur en teen die regte spoed beweeg, sodat jy veilig by die bestemming wat Hy vir jou beplan het, kan aankom. Dis hoekom kommunikasie met God aan die toppunt van jou doenlysie moet wees. Hy sal jou help om die op en af van die lewe te navigeer en jou help om jou pad te vind op bewolkte dae wanneer jy nie die volgende tree wat jy moet neem, kan sien nie. Met ander woorde: ‘Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys.’
Sielskos: Num 30:1-32:24; Mark 9:1-13; Ps 49; Spr 11:16-18
2020-05-13
Daniël 2:21 NLV
Besef dat moeilike tye nie vir altyd aanhou nie. Die seisoen van teëspoed waarin jy jouself nou bevind, sal tot ‘n einde kom. Wanneer dit gebeur, sal jy daaruit leer sodat jy ‘n beter toekoms kan bou. Sommige van jou grootste seëninge spruit uit jou moeilikste omstandighede. Paulus skryf: ‘Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan’ (2 Korintiërs 4:17 NLV). Uit jou grootste toetse kom jou grootste getuienisse. Moenie groot besluite tydens ‘n storm neem nie. Gedagtes en gevoelens kan dikwels te midde van ‘n krisis op hol gaan; dis die tye wat jy versigtig moet wees om besluite te neem. Bly kalm, dissiplineer jouself om op dit wat jy kan doen te fokus en vertrou op God om dit te doen wat jy nie kan nie. Net soos ‘n fout aan die vlieënier se kant kan veroorsaak dat ‘n vliegtuig van koers af raak of ‘n noodlanding moet doen, kan ‘n slegte besluit jou daarvan weerhou om jou lewensdoelwit te bereik. Laat jou emosies bedaar voor jy enige besluite neem. Jy mag dalk nie altyd daardie opsie hê nie, maar probeer om nie belangrike besluite te neem voor die storm verby is nie. Net soos die wind vreeslik tydens ‘n storm waai, so kan jou gedagtes wild en woes word; en dis nie die tyd om noodsaaklike evaluerings te doen nie. Wat moet jy dus doen? Paulus antwoord: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God… Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:6-7 NLV).
Sielskos: Num 27-29; Mark 8:27-38; Ps 62; Spr 11:15
2020-05-12
Filippense 4:8 ABA
Ons almal moet van tyd tot tyd ons houding aanpas. Dis noodsaaklik om die regte houding te onderhou wanneer dinge moeilik raak. Maak nie saak wat in jou lewe gebeur nie, besluit om dit met die regte houding aan te pak. Besluit inderwaarheid voor die tyd om ‘n positiewe gedagtegang in elke negatiewe situasie te handhaaf. As jy dit bewustelik besluit en daaroor in goeie tye mediteer, sal jy gereed wees wanneer moeilike tye hulle opwagting maak. Paulus skryf: ‘…Julle moet altyd dink aan die dinge wat waar is, wat mooi is, wat reg is, wat rein is, wat pragtig en goed is. Ja, julle moet dink aan alles wat mooi is, alles waarop ‘n mens trots kan wees… Julle moet dieselfde doen, dan sal God wat vrede gee, by julle wees’ (verse 8-9 ABA). Sommige van die geskiedenis se grootste skrywers en komponiste het meesterstukke in die moeilikste tye van hulle lewens geskep. Beethoven se bekendste simfonieë is geskryf toe hy amper heeltemal doof was en groot hartseer ervaar het. Een van die grootste foute wat jy kan maak, is om te dink: ‘Ek sal nooit soos daardie mense kan wees nie.’ As jy so dink, is jy reeds oorwonne, nog voor jy begin het. Dis makliker om ‘n goeie houding te onderhou, as om ‘n goeie houding terug te kry. Sodra jy dus agterkom dat jy begin negatief raak, moet jy onmiddellik jou houding aanpas. Die Bybel sê: ‘…Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug’ (Jakobus 4:7 NLV). Die oomblik wat die Vyand negatiewe gedagtes in jou kop plaas, moet jy dit onmiddellik stop. Dissiplineer jouself om met ‘n positiewe houding in alle omstandighede sterk te staan. Wanneer jy dit doen, sal ‘God wat vrede gee, by julle wees.’
Sielskos: Num 25-26; Mark 8:14-26; Ps 57; Spr 11:14
2020-05-11
2 Korintiërs 10:4 NLV
God het vir Dawid ‘…’n man na my hart…’ (Handelinge 13:22 NLV), genoem. Dawid het egter met ‘n swakheid in sy lewe geworstel – ‘n wellustige gees wat van tyd tot tyd te voorskyn gekom en waarvan die mense naaste aan hom geweet het. Toe hy oud word en nie meer warm kon word nie, het hulle ‘n jong meisie gebring om langs hom in die bed te lê ‘…sodat [hy] kan warm word’ (1 Konings 1:1-2 NLV). Hulle het gedink as dit nie sy sirkulasie aan die gang kon kry nie, was hy definitief op sy sterfbed! Daar is egter iets hartseers hieraan. Dawid het sy swakheid aan sy seun Amnon oorgedra, wat uiteindelik sy eie suster verkrag het. Alhoewel Dawid daaroor kwaad was, het hy nie vir Amnon daaroor gekonfronteer of hom gestraf nie. Wat kon hy immers sê? Soos vader, so is seun! Wellus is nie net ‘n bevlieging wat mens kry nie, dis ‘n sonde. Wanneer dit van een generasie na die volgende oorgedra word, word dit ‘n ‘vesting.’ Sielkundiges verwys deesdae daarna as “‘n genetiese vatbaarheid.” Miskien is daar êrens in jou stamboom ‘n werksverslaafde pa, ‘n ma wat emosioneel ontoeganklik was, of ‘n broer of suster wat te veel gedrink het en nou worstel jy met dieselfde kwessies. Moenie ontmoedig word nie; Paulus sê: ‘…die kragtige gevegtoerusting van God [kan] vestings… vernietig…” Voor jy dus na die skeihof of rehabilitasiesentrum hardloop, noem jou vesting en bid dan daaroor, met die geloof dat God die wurggreep daarvan op jou lewe kan verbreek. Doen dit voor dit die volgende generasie aansteek. Moet dit nie oordra nie – gee dit terug van waar dit gekom het.
Sielskos: Num 22-24; Mark 8:1-13; Ps 44:17-26; Spr 11:12-13
2020-05-10
Romeine 10:17 NLV
Kom ons definieer die woord ‘geloof’ duideliker. Die Bybel sê geloof is: ‘…die vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur. Dit is die bewys dat God die dinge wat ons nog nie kan sien nie, waar sal maak’ (Hebreërs 11:1 NLV). Geloof is nie ‘n leë hoop of ‘n positiewe belydenis van iets wat ons graag wil hê waar moet wees nie. Geloof is die erkenning van iets wat reeds ‘n realiteit is, ten spyte van die feit dat dit nog nie gesien kan word nie. Die Bybel sê dat Abraham in God geglo het, wat deur: ‘…sy roepstem dinge wat nog nie bestaan nie, aanspreek asof hulle reeds werklikheid is’ (Romeine 4:17 NLV). Abraham het eenvoudig vir God geglo, volgens sy belofte opgetree en gevolglik is Isak gebore. ‘En Abraham se geloof het nie verswak nie, al het hy baie goed besef dat sy eie liggaamlike vermoëns alreeds gedaan was – hy was al omtrent 100 jaar oud – en dat sy vrou Sara nie meer kinders kon hê nie. Abraham het nie getwyfel aan God se belofte nie; inteendeel, sy geloof het sterker geword en so het hy die eer aan God gegee. Hy was absoluut daarvan oortuig dat God enigiets kon doen wat Hy beloof het’ (verse 19-21 NLV). Jou geloof moet in God wees, nie in jou geloof nie! Op sy eie, het geloof geen kreatiewe krag nie; dit bevestig net wat reeds in die onsigbare wêreld bestaan en dit wat God beloof het, met die wete dat dit in sy tyd tot stand sal kom, omdat dit sy wil is. Wat jy ook al in geloof opeis, moet op dit wat God reeds in sy Woord aan jou beloof het, gebaseer wees. Hoe ontwikkel jy hierdie tipe geloof? Lees die Woord! ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap…’
Sielskos: Matt 5:10; 1 Tess 2:13-3:5; 1 Kor 4:11-13; Op 6:9-11
2020-05-09
Genesis 41:37 NLV
God het vir Josef ‘n droom gegee dat hy eendag in ‘n hoëprofiel leierskapsposisie sou wees. Toe hy egter uiteindelik by farao se paleis aangekom het, het hy nie ingestap en aangekondig: ‘God het vir my gesê dat ek die baas hier rond gaan wees!’ nie. Nee, hy moes daarvoor werk. Daar was ‘n wêreldwye hongersnood op die tyd aan die gang en Josef het vir farao ‘n plan gegee om dit nie net te oorleef nie, maar om as gevolg daarvan te floreer. Let op wat farao oor Josef gesê het: ‘…Wie sal dit beter kan doen as Josef? Hy het sonder twyfel die gees van God’ (vers 39 NLV). Wat is jou droom? En wat is jou plan? Jou droom en jou talente is belangrik, maar langtermynsukses sal nie sonder ‘n plan plaasvind nie. Jou talente mag dalk die aandag van sleutelmense op jou vestig, maar jy sal in staat moet wees om te verduidelik wat jou plan is. ‘n Plan neem jou drome en talente en vergroot hulle deur struktuur aan die konsep te gee. Dit beteken dat jy aan ‘n begroting toegewyd moet wees; dit beteken dat jy konstant aan sekere doelwitte en details moet werk. Josef het vir farao ‘n spesifieke plan met ‘n tydslyn gegee: sewe jaar. Hy het vir hom gesê: ‘Op hierdie manier sal daar genoeg wees om te eet wanneer die sewe jaar van hongersnood aanbreek…’ (Genesis 41:36 NLV). Jy moet dus die volgende doen: Skryf jou plan neer, met spesifieke aksies en spertye om dit te vervul. Sal God jou plan seën? Ja, maar jy moet die regte plan in plek hê, voor Hy dit kan seën.
Sielskos: Num 19-21; Mark 7:24-37; Ps 44:9-16; Spr 11:10-11