Roep Jesus vandag aan

2020-07-10
Markus 10:48 NLV

Probeer jouself indink dat jy jou hele lewe lank blind is en dan een dag wonderbaarlik jou sig terugkry. Die eerste gesig wat jy sien – is Jesus s’n! Dis wat met Bartimeus gebeur het. Jesus het verby die plek waar hy elke dag gesit en bedel het, geloop. Bartimeus het dit as ‘n een-in-‘n-leeftyd geleentheid herken en uit volle bors uitgeroep. Soms doen waardige gebed nie die werk nie. Desperate situasies verg desperate pogings. Soms moet jy God uit die diepte van jou siel aanroep! Toe Bartimeus uitgeroep het, het ‘Jesus… toe gaan staan…’ (vers 49 NLV). Jou roep sal God se aandag trek. Dawid het gesê: ‘Here my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak’ (Psalm 30:3 NLV). Moenie terughoudend wees nie, wees vol vrymoedigheid. ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:16 NLV). Die Bybel sê: ‘Hy het sy jas eenkant gegooi, opgespring en na Jesus toe gekom’ (Markus 10:50 NLV). Hy het dit om twee redes gedoen: Eerstens, kon ‘n lang jas hom pootjie. Tweedens, het sy klere hom as ‘n bedelaar geïdentifiseer. Om by Jesus te kom, moet jy bereid wees om alles wat in jou pad staan, eenkant toe te gooi. Die skaamte en mislukkings van jou verlede, jou tekortkominge en jou beperkings en die etikette wat mense op jou geplaas het. Wanneer Jesus jou herstel en heelmaak, sal jy nie meer daardie ou klere hoef te dra nie. Toe Bartimeus sy sig teruggekry het, het hy besluit om Jesus te volg (sien vers 52). Jy moet dit ook doen.

Sielskos: Jer 41-44; Luk 6:27-36; Ps 109:1-15; Spr 15:22