2020-05-20
Hebreërs 4:16 NLV
Wanneer jy ‘n geestelike, fisiese, finansiële of verhoudingsbehoefte het, sê God dat Hy dit sal vervul. Sommige van ons vind dit egter moeilik om te glo. Jesus het immers die ryk man veroordeel wat die arm man wat by sy deur gesit het, geïgnoreer het. God het nie sy standpunt daaroor verander nie. Jesus het die verhaal vertel van ‘n man wat so besig was om geld te maak, dat hy nie tyd vir God gehad het nie. ‘Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas! Jy sal vannag nog sterf. Wie sal dan alles kry?’ Ja, ‘n mens is ‘n dwaas as jy net aardse rykdom versamel, maar nie ‘n ryk verhouding met God het nie’ (Lukas 12:20-21 NLV). Hy het ook nie sy standpunt hieroor verander nie. Jesus het die geldwisselaars uit die tempel uitgegooi omdat hulle die mense verkul het. Hy het sover gegaan as om hulle ‘n ‘rowersnes’ te noem (sien Markus 11:17 NLV). Beteken dit dat God aan ons geestelike behoeftes wil voldoen, maar nie aan ons materiële behoeftes nie? Kom ons wees duidelik: Jou geestelike behoeftes moet altyd jou eerste prioriteit wees, maar kom ons laat die Skrif toe om die vraag self te antwoord: ‘Moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat sal ons tog eet?’ of: ‘Wat sal ons drink?’ of: ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. Dit is die ongelowiges wat oor hierdie soort dinge begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge byvoeg’ (Matteus 6:31-33 NLV). Let op die woorde: ‘al hierdie ander dinge.’ As jy geregverdig voor God is, kan jy met vertroue bid en Hom vra om jou in alle dinge te seën!
Sielskos: Heb 1-4; Mark 10:13-22; Ps 88:9b-18; Spr 11:27-29
2020-05-19
2 Korintiërs 9:8 NLV
Kom ons begin deur dit weer te sê: Wat jy oor God en jou geld glo, sal bepaal waarvoor jy Hom vertrou. As jy meer geld wil hê om by die bure by te hou of om te spog oor dit wat jy besit, moet jy nie verwag dat God jou planne sal seën nie. Die Bybel sê: ‘…God is téén mense wat te veel van hulleself dink, maar aan dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, gee Hy sy onverdiende goedheid’ (Jakobus 4:6 NLV). Afhanklikheid sê: ‘Here, alles wat ek het is ‘n gawe van U af. Alles wat ek ooit sal nodig kry, kom van U af.’ Voor jy God vir meer geld vra, moet jy weet dat jou hartsmotiewe reg is. As jy weet dat jou motiewe reg is, kan jy op hierdie Skrifgedeelte staan: ‘Soos daar geskryf staan: ‘Hy het uitgedeel en gegee aan die armes; sy goedhartigheid bly vir altyd staan.’ God wat saad voorsien aan die saaier en dan brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat toeneem en die vrugte van julle goedhartigheid lieflik laat groei. In elke opsig sal julle ryk gemaak word om ook by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Deur ons toedoen bring julle vrygewigheid mee dat God gedank word’ (2 Korintiërs 9:9-11 NLV). Aan wie gee God die saad? Aan saaiers, nie opgaarders nie. Wanneer vermeerder God jou saad? Wanneer jy dit saai om sy doelwitte te vervul.
Sielskos: Titus 1-3; Mark 10:1-12; Ps 88:1-9a; Spr 11:24-26
2020-05-18
Psalm 84:12 NLV
Wat jy oor God en jou geld glo, sal bepaal hoe jy bid en waarvoor jy Hom vertrou. Jy sê: ‘Maar geld is die wortel van alle kwaad.’ Nee, die Bybel sê: ‘…die liefde vir geld is die wortel van alle soorte kwaad…’ (1 Timoteus 6:10 NLV). Dit beteken dat as jy ‘n gierigaard is, God nie vir jou nog sal gee nie. ‘Het sommige predikers nie al die Bybel gebruik om hulself te verryk nie?’ vra jy. Absoluut – en jy sal nie in hulle skoene wil staan wanneer hulle voor God verantwoording moet doen nie! Moet egter nie die baba saam met die badwater uitgooi nie. Die vraag is: Soek jy vir ‘n rede om aan God se beloftes te twyfel, of vir ‘n rede om in hulle te glo? Die Bybel sê: ‘…Hy sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie’ (Psalm 84:12 NLV). Ons almal kan saamstem dat om vir jou familie te sorg, bevordering te kry, jou kinders te laat leer en om aan ander mense se behoeftes te voldoen, ‘goeie’ dinge is. Wanneer jy dus ‘doen wat reg is’ voor God, kan jy verwag dat Hy jou sal seën. Johannes het geskryf: ‘Liewe vriend, ek hou aan bid dat dit in alle opsigte met jou goed mag gaan en dat jy nét so gesond sal wees soos dit geestelik goed met jou gaan’ (3 Johannes 2 NLV). Eers wanneer jou kinders volwasse is en verantwoordelikheid demonstreer, vertrou ons hulle met die sleutel van die familiekar, nie waar nie? Volwassenheid moet dus voorspoed vooruitgaan. Wanneer jy volwassenheid demonstreer, kan jy met vertroue na God toe gaan met die wete dat Hy aan jou behoeftes sal voldoen en jou sal seën. Die vraag is dus: Is jy besig om geestelik te groei en volwasse te word?
Sielskos: Jona 1-4; Mark 9:38-50; Ps 75; Spr 11:23
2020-05-17
Jesaja 40:29 NLV
Wanneer die stryd voortduur met geen einde in sig nie, raak jy moeg. Is dit waar jy vandag is? Werk dinge wat eers glad verloop het, nie meer nie? Het jy alles wat jy kon doen, gedoen, maar dit het nie gehelp nie? Wat moet jy doen? Spandeer meer tyd saam met God in gebed en luister na Hom as Hy deur sy Woord met jou praat. Jy moet jou kragte herwin deur op God se krag staat te maak, jou geloof teenoor oorwinning te herfokus en aan God se beloftes terug te dink (sien Psalm 77:6). Wanneer jy deur probleme in jou huwelik, jou besigheid, jou gesondheid, jou werk, of jou finansies oorweldig voel, kan jy op hierdie twee Bybelse beloftes staan: ‘Hy gee krag aan dié wat moeg is. Hy maak die kragteloses sterk. Selfs jongmense raak uitgeput en afgemat. Baie jongmense struikel en val. Maar dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry. Hulle vlieg hoog, soos arende. Hulle sal hardloop en nie moeg word nie. Hulle sal loop en nooit vermoeid word nie’ (Jesaja 40:29-31 NLV). ‘…ons is ver bo ons kragte belas, met die gevolg dat ons selfs moed verloor het om te bly lewe. Dit het eintlik vir ons gevoel of ons die doodsvonnis ontvang het sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op dié God wat die dooies opwek. Dit is Hy wat ons van só ‘n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Hý is ons verwagting; Hy sal ons altyd weer red’ (2 Korintiërs 1:8-10 NLV). In plaas daarvan om te probeer om uit die situasie te ontsnap, vra na God en Hy sal vir jou die krag en ‘n strategie gee om sterker anderkant uit te kom.
Sielskos: Matt 4:12-16; Matt 5:14-16; Hand 9:1-19
2020-05-16
Jesaja 40:31 NLV
Wanneer jy fisies, emosioneel en geestelik gedreineerd is, word jy kwesbaar. Toe Simson moeg geword het, het hy met sy kop op Delila se skoot gaan lê. Jesus verwag 100 persent toewyding van ons, maar Hy ken ook die noodsaaklikheid daarvan om in balans te bly; van werk en rus; van gee en neem. ‘…omdat daar voortdurend talle mense gekom en gegaan het sodat hulle selfs nie kans gekry het om te eet nie, het Jesus toe vir hulle gesê: ‘Kom julle nou self eenkant toe na ‘n stil plek en skep ‘n bietjie asem.’ Hulle het toe per skuit na ‘n stil plek vertrek waar hulle alleen kon wees’ (Markus 6:31-32 NLV). ‘n Goeie generaal sal nooit al sy soldate op een slag na die slagveld uitstuur nie. Hy hou ‘n leërmag in reserwe om die moeë soldate wat van die voorste linies af terugstrompel, af te los. Ja, jy mag dalk die belangrikste roeping in die wêreld hê en sukses daarin behaal, maar as jy nie ‘reserwes’ in plek stel nie, stel jy jouself vir potensiële gevaar oop. Dis hoekom dit so belangrik is om elke dag tyd eenkant te sit om alleen met God in gebed te spandeer en jou Bybel te lees. As Satan jou nie direk kan oorwin nie, sal hy tevrede wees met ‘n moeë, oneffektiewe weergawe van die persoon wat God wil hê jy moet wees. Jy loop veral die risiko as jy ‘n tipe A persoonlikheid met hoë energie is. Wat is die antwoord? ‘…Baie jongmense struikel en val. Maar dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry. Hulle vlieg hoog, soos arende. Hulle sal hardloop en nie moeg word nie. Hulle sal loop en nooit vermoeid word nie’ (Jesaja 40:30-31 NLV).
Sielskos: Num 34-36; Mark 9:30-37; Ps 18:30-50; Spr 11:22
2020-05-15
2 Korintiërs 7:10 NLV
Daar is ‘n verskil om jou sondes te bely en om jou van jou sondes te bekeer. In die Skrif beteken die woord ‘bekering,’ ‘om weg te draai van sonde.’ Deur jou sonde te bely erken jy wat jy gedoen het; deur jou daarvan te bekeer, draai jy weg daarvan af. Die goeie nuus is dat daar geen beperking op God se vergifnis is nie. Die oomblik wat jy daarvoor vra, ontvang jy dit. God verwag egter dat jy nie jou sondige patrone oor en oor sal herhaal nie. Paulus skryf: ‘Kyk net watter entoesiastiese reaksie die belewenis van hartseer volgens die wil van God by julle meegebring het: die verantwoording, dringendheid om reg te maak…’ (vers 11 NLV). Die doel van goddelike hartseer is om jou meer ywerig te maak om jou gedrag te verander. Wanneer jy sonde in jou lewe toelaat, skend jy jou middelpunt van geregtigheid. ‘God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word’ (2 Korintiërs 5:21 NLV). Jy is een met Christus! Jy is ‘n vernuwe gees wat in ‘n onveranderde liggaam woon en wanneer jy sonde in jou lewe toelaat, skend dit die absolute kern van wie jy is! Dit sal goddelike hartseer by jou veroorsaak, wat tot bekering lei en jou toelaat om van die sonde af weg te draai. Moenie sê: ‘Dis ‘n gewoonte wat ek nie kan verbreek nie, maar God sal my daarvoor vergewe’. Ja, Hy sal jou vergewe, maar Hy wil nie hê dat jy in ‘n siklus waar jy sondig, dit bely, vergifnis ontvang en dan weer dieselfde sonde herhaal, vasgevang word nie. Hy wil hê dat jy sterk en effektief in sy bediening moet wees. Dis hoekom Hy jou na ‘n hoër vlak geroep het.
Sielskos: Num 32:25-33:56; Mark 9:14-29; Ps 18:1-29; Spr 11:19-21