‘n Rustige gemoedstoestand

2020-07-12
Filippense 4:7 NLV

Die woord ‘bekommernis’ kom van ‘n Griekse woord wat beteken ‘om die gedagtes te verdeel.’ Bekommernis sny jou middeldeur; in plaas daarvan om aan God se beloftes te dink, dink jy aan jou probleme. Bekommernis is soos ‘n wiegstoel – dit hou jou besig, maar dit bring jou nêrens. In plaas daarvan om toekomstige moeilikhede te verlig, steel dit vandag se krag – en jy kan nie bekostig om jou krag te verloor nie. Hoe kan jy dus ophou om jouself te bekommer? Die Bybel het ‘n twee-ledige antwoord: God se deel, en ons deel. Ons deel sluit gebed en dankbaarheid in: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen’ (vers 6 NLV). Jy moet meer bid sodat jy minder bekommerd kan wees en ook onthou om jou dankbaarheid te betuig. Jy kan met vrymoedigheid na God vir die volgende ding gaan, wanneer jy onthou het om Hom vir die laaste ding te bedank. Wat is God se deel? ‘As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (vers 7 NLV). Jy sal God se vrede beleef. Dink net hoe wonderlik sal dit wees om God se rustige gemoedstoestand te hê! Dink jy dat Hy met angstigheid sukkel? Of dat Hy sy hande saamslaan en die engele vir sooibrandmedisyne vra? Soos ‘n stokkie voor ‘n olifant se poot, so uitdagend is jou probleem vir God. Hy geniet perfekte vrede omdat Hy perfekte mag het – en Hy bied sy vrede vir jou aan. Wanneer jy jou deel deur gebed en danksegging doen, sal jy ‘n rustige gemoedstoestand hê.

Sielskos: Heb 11:7; Gen 6:9-22; Gen 8:18-22; Matt 24:36-44