2020-05-26
Filippense 2:10 NLV
Gedurende een van die kruistogte het Philippe Auguste, koning van Frankryk, al sy edele ridders bymekaar geroep en hulle aangemoedig om sterk tydens die geveg te staan. Hy het sy koninklike kroon, wat met die inskripsie: ‘Aan die waardigste,’ gegraveer was, op die tafel gesit en dit as prys aan die braafste vegter beloof. Nadat sy weermag die stryd gewen het, het hulle die tafel waarop die kroon gesit is, omring. Toe het een van die ridders vorentoe getree, die kroon opgelig en dit op die koning se kop geplaas deur te sê: ‘U, o Koning, is die waardigste.’ Die Bybel sê: ‘So sal by die noem van Jesus se heerlike Naam elke knie in die hemel en op die aarde en onder die aarde buig, en elke tong sal erken: ‘Jesus Christus is Here!’…’ (verse 10-11 NLV). Let op die woorde: ‘elke knie sal buig.’ Die bevolkingsverwysingsburo het in 2011 geskat dat daar sedert die begin van die mensdom ongeveer 106 biljoen mense gebore is. Raai wat? Elke liewe een van hulle sal voor die Naam van Jesus kniel. Kan jy jou net indink hoe al daardie mense – meer as tien keer die wêreld se huidige bevolking – voor Christus sal kniel en sê: ‘U, o Koning, is die waardigste.’ In daardie oomblik sal Christus sy plek inneem, ‘…hoog verhewe bo alle magte en kragte wat daar in die hemel en op die aarde is… nie net… in hierdie wêreld nie, maar ook in die wêreld wat kom’ (Efesiërs 1:21 NLV). Dan sal Hy, die skrywer en voleinder van dit alles, die boek op hierdie lewe toemaak en die boek op die volgende een oopmaak. Dis net die begin van die nimmereindigende storie waarna ons, die verlostes van die Here, wag en waarna ons smag.
Sielskos: 1 Kon 3-5; Mark 11:27-33; Ps 128; Spr 12:10-11
2020-05-25
Johannes 1:14 NLV
Jesus het vir twee redes na hierdie wêreld gekom. Eerstens om vir jou die grootste geskenk van alles te gee – ewige lewe. Tweedens, sodat jy weet dat Hy oor elke detail van jou lewe omgee. ‘Jesus het toe as mens aarde toe gekom. ‘n Mens kan sê Hy het onder ons kom huis opsit. Ons het gesien hoe belangrik en wonderlik Hy is. Net die unieke Seun van die Vader is so groot en belangrik. Hy was soos ‘n fontein van die goeie dinge wat God vir ons so onverdiend wil gee. By Hom kon ons ontdek wat regtig waar en eg is’ (Johannes 1:14 DB). Nagenoeg 20 persent van alles wat Jesus onderrig het, het met jou finansies, jou werk en jou aardse behoeftes te doen. Hy gee om! Wanneer jy nie al jou verpligtinge kan nakom nie, sê die Bybel: ‘…God [sal] uit sy ontsaglike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het’ (Filippense 4:19 NLV). Wanneer jou maatskappy besig is om ten gronde te gaan, is sy belofte: ‘…Ek is julle God die Here wat vir julle leer om te doen wat julle moet doen, en Ek lei julle op die pad waar julle moet loop’ (Jesaja 48:17 ABA). God gee om oor die las wat jy vandag dra, so as jou behoeftes nie vervul word nie, herevalueer jou begrip van jou hemelse Vader. Het jy al jou finansies met Hom bespreek? Wat van die aankoop van jou huis? Het jy ‘n innerlike bevestiging van die Heilige Gees ontvang dat die tydsberekening daarvoor reg is? Het jy jou tiende gegee, en in God se koninkryk gesaai? Sade wat in goeie grond gesaai word bring altyd ‘n oes mee en geloof is die magneet wat die oes in jou lewe intrek. Die woord vir jou vandag is: God is lief vir jou en wil elke area van jou lewe seën.
Sielskos: 1 Kon 1-2; Mark 11:12-26; Ps 45; Spr 12:7-9
2020-05-24
2 Korintiërs 8:9 NLV
Die Bybel verseker ons dat God nie arm is nie. ‘Die silwer en die goud behoort aan My, sê die magtige Here’ (Haggai 2:8 NLV). ‘Want al die diere van die bos is Myne, ook die wild op duisende berge’ (Psalm 50:10 NLV). Vra jouself af: As jy ‘n biljoenêr was, sou jy gelukkig gewees het as jou kinders in vodde geklee en honger was? Nie? Wel, God is ook nie gelukkig daarmee nie! Paulus skryf: ‘Julle ken die ongelooflike goedheid van ons Here Jesus Christus. Alhoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword sodat julle deur sy armoede ryk kon word’ (2 Korintiërs 8:9 NLV). Miskien het jy hierdie Skrifgedeelte gelees en gedink dat Paulus geestelik ryk bedoel het, nie finansieel ryk nie. Kom ons lees die teks in daardie konteks en kyk of dit sin maak: ‘Alhoewel Hy geestelik ryk was, het Hy ter wille van julle geestelik arm geword sodat julle deur sy geestelike armoede, geestelik ryk kon word.’ Dis nie wat dit sê nie! Wanneer was Jesus ooit geestelik arm? Nee, die vers sê wat dit bedoel en bedoel wat dit sê. ‘…sodat julle… ryk kon word.’ Die woord ‘ryk’ beteken verskillende goed vir verskillende mense. In sommige lande word jy as ryk geag as jy ‘n dak oor jou kop het, drie maaltye ‘n dag kan eet en ‘n fiets het om mee werk toe te ry. Voorspoed, volgens die Bybel, beteken eenvoudig dat jy genoeg het om die wil van God te doen. Het God ‘n doel vir jou lewe? Ja. Wil Hy hê dat jy genoeg geld moet hê om sy wil vir jou lewe te vervul? Ja. Dis God se plan vir jou lewe!
Sielskos: Joh 6:1-15; Joh 6:25-40; 1 Kor 11:23-24
2020-05-23
Deuteronomium 8:18 NLV
Wanneer dit by God en jou geld kom: 1) Sal Hy jou seën wanneer jy doen wat Hom behaag. Hoekom? Omdat jy met jou dade bewys dat dit vir jou belangriker is om sy wil te doen, as om jou eie dinge te doen. ‘…Uitstekend!.. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou…’ (Matteus 25:23 NLV). Daar is egter ‘n ander kant van die muntstuk. Wanneer jy willens en wetens dit doen wat God nie behaag nie, sal Hy ophou om jou te seën. ‘…Vat die muntstuk by hom en gee dit vir die een wat die tien muntstukke het. Aan hulle wat dit wat aan hulle toevertrou is goed gebruik, sal nog meer gegee word… Maar van hulle wat niks kan wys nie, sal selfs die bietjie wat hulle het, ook nog weggeneem word’ (verse 28-29 NLV). 2) Sal Hy jou wys hoe om meer geld te maak. Hy het vir Josef gewys hoe om te midde van ‘n wêreldwye hongersnood voorspoedig te wees en die nasies rondom hom te seën. Toe die visse nie wou byt nie, het Jesus vir die dissipels gewys waar om ‘n bootvrag visse te kry. God werk deur onwaarskynlike kanale en Hy wil hê dat jy op Hom moet vertrou as die bron van alles wat jy nodig het. Die Bybel sê: ‘Onthou altyd dat dit die Here jou God is wat vir jou die krag gee om ryk te word…’ Die woord ‘krag’ sluit idees, strategieë, planne, verhoudings en beleggings in. Ja, God kan vir jou ‘n onverwagte tjek in die pos stuur wat jou probleem tydelik sal oplos, maar jy moet Hom vertrou vir ‘n plan wat jou probleem permanent sal oplos.
Sielskos: Heb 11:17-13:25; Mark 11:1-11; Ps 47; Spr 12:4-6
2020-05-22
Matteus 6:33 DB
Die Bybel leer ons die volgende beginsels oor geld: 1) God wil hê dat jy genoeg geld het om aan die grootte van enige van jou behoeftes, te kan voldoen. Dink daaroor: Werknemers is hoofsaaklik oor een ding besorg – om hulle salaristjeks te kry. Werkgewers, aan die ander kant, het ‘n groter behoefte. Hulle moet genoeg geld hê om almal se salarisse te betaal. Daar is egter goeie nuus vir beide werkgewer en werknemer: ‘…julle Vader weet presies wat julle behoeftes is, selfs nog voordat julle Hom vra!’ (vers 8 NLV). 2) Baie keer sal God jou na ‘n spesifieke plek of persoon stuur om aan jou behoefte te voldoen. Gedurende ‘n tyd van erge hongersnood toe mense in Israel van honger gesterf het, het God vir die profeet Elia gesê: ‘…Gaan in ‘n oostelike rigting en kruip weg by die Kritspruit… Ek sal die kraaie beveel om vir jou kos te bring’ (1 Konings 17:3-4 NLV). Dit het goed vir ‘n tydjie gewerk, maar ‘Na ‘n tyd het die spruit egter opgedroog, want daar was geen reënval in die opvanggebied nie’ (vers 7 NLV). God het dit so beplan, want Hy sal nooit toelaat dat jy van enigiemand of enigiets anders as Homself afhanklik is nie. Hy sal jou ‘spruit’ laat opdroog om jou sodoende na jou ware bron toe terug te stuur – na Hom toe. God het volgende vir Elia gesê: ‘…Gaan bly in die dorp Sarfat… Daar woon ‘n weduwee. Ek het aan haar opdrag gegee om vir jou te sorg’ (vers 8 NLV). God het onwaarskynlike dinge soos kraaie, ‘n spruit en ‘n arm weduwee gebruik om aan Elia se behoeftes te voldoen. Hou op om God te probeer uitpluis! Vertrou die Een wat ‘…die aarde… aan niks [ophang]’ (Job 26:7 NLV), om wie ook al, wat ook al, waar ook al en wanneer ook al te gebruik om aan jou behoeftes te voldoen.
Sielskos: Heb 9:1-11:16; Mark 10:35-52; Ps 97; Spr 12:1-3
2020-05-21
Prediker 10:19 NLV
Die Bybel leer ons dat God wil hê dat jy genoeg geld moet hê om: 1) Aan die behoeftes van jou familie te voldoen en hulle te help om sukses te behaal. ‘Dié wat nie hulle eie familie versorg nie, veral dié wat in dieselfde huishouding woon, verloën wat ons glo. Sulke mense is slegter as ongelowiges’ (1 Timoteus 5:8 NLV). 2) Jou tiende te gee en God se werk te finansier. “Die magtige Here sê: ‘Bring al die tiendes na die stoorkamers sodat daar genoeg kos in my tempel kan wees. Toets My hierin of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak nie. Ek sal voorspoed op julle laat reën wat meer as genoeg vir julle sal wees!'” (Maleagi 3:10 NLV). 3) Om jou belasting te betaal en jou verpligtinge na te kom. ‘…gee dan aan die keiser wat hom toekom. Maar gee ook aan God alles wat Hóm toekom’ (Matteus 22:17-22 NLV). 4) Om sy Woord na die vier uithoeke van die aarde uit te dra. ‘Maar hoe sal hulle Hom aanroep as hulle nie in Hom glo nie? En hoe sal hulle in Hom glo as hulle nog nooit van Hom gehoor het nie? En hoe sal hulle van Hom hoor sonder dat daar iemand is wat die boodskap bring? En hoe sal hulle die boodskap bring as hulle nie gestuur word nie?..’ (Romeine 10:14-15 NLV). 5) Om die armes en behoeftiges te help. ‘…Geseënd is hy wat die Here dien, hy wat met groot vreugde sy gebooie onderhou… Oorvloed en rykdom vul sy huis… Hy gee ruim vir hulle in nood. Sy goeie dade word altyd onthou…’ (Psalm 112:1, 3, 9 NLV). Wanneer jy meer geld wil hê om God se wil te vervul en ander mense te seën, sal God jou eer.
Sielskos: Heb 5-8; Mark 10:23-34; Ps 93; Spr 11:30-31