2020-06-01
1 Samuel 10:1 NLV
Hier is ‘n wonderbaarlike verhaal oor hoe Saul Israel se eerste koning geword het. Hy was in die veld besig om sy pa se verlore donkies te soek, toe hy die profeet Samuel raakgeloop het. “Toe hulle buite die dorp kom, sê Samuel vir [Saul]: ‘Gee die jong man opdrag om vooruit te loop, maar jy moet hier bly staan, want ek het ‘n boodskap van God vir jou.’ Samuel neem toe ‘n kruik met olie, gooi dit op Saul se kop uit, soen hom en sê: ‘Die Here het jou gesalf as leier oor sy besitting'” (1 Samuel 9:27 – 10:1 NLV). Dink daaroor – Saul het na donkies gaan soek – en sy lewensdoelwit ontdek! Dit kan ook met jou gebeur! God het ‘n gewoonte om mense te roep wat besig is om ander dinge te doen. Jakobus en Johannes was besig om hulle nette reg te maak, Matteus het tolgeld ingesamel, Elisa was besig om te boer en Saul was na sy pa se verlore donkies op soek. Dit was net nog ‘n werksdag. Wanneer God egter ‘n doel vir jou en ‘n dag op sy kalender met jou naam op het, sal Hy jou kom kry. Jy sê: ‘Maar ek is niemand spesiaals nie!’ Dis wat Saul ook gesê het: ‘…Ek is maar net ‘n Benjaminiet, die kleinste stam van Israel. My familie is boonop die geringste van al die families van ons stam!..’ (1 Samuel 9:21 NLV). Jou sosiale status beperk God nie. Wanneer Hy ‘n plan vir jou in gedagte het, sal Hy na die agtergrond toe reik en jou na die voorgrond toe bring. Bly dus getrou, hou aan om Hom te dien en jou tyd sal kom!
Sielskos: 1 Kon 12-13; Mark 13:12-23; Ps 117; Spr 12:20-22
2020-05-31
Kolossense 4:6 NLV
John Grisham, die skrywer van topverkoper boeke wat topverkoper films geword het, is al ‘n ‘reguit pyl op ‘n skewe pad,’ genoem. Sy boeke beeld dikwels gewetenlose prokureurs, korrupte politici en bose polisiemanne uit – die onderwêreld van ‘n lewe van rykdom en ordentlikheid. Sy helde, aan die ander kant, is gewoonlik die onskuldiges of kinders, soos die elfjarige seun in sy boek The Client. Grisham het gesê dat hy eerder ‘n goeie mens wil wees as om sy boeke met seks en bloed te vul. Hy weier om enigiets te skryf wat sy ma of sy kinders in die verleentheid sal stel. Baie in die uitgewerswêreld het gedink dat hy sou misluk, maar sy benadering het dividende behaal. The Firm het nou al oor die twintig miljoen kopieë in druk. Tot op datum is die oudste aanhanger wat aan hom geskryf het ses-en-negentig jaar oud, en die jongste tien jaar oud. Die meeste van sy lesers prys hom omdat hy grafiese geweld, obsene tonele en vloektaal vermy. Die Bybel sê: ‘Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee.’ Jou woorde moet in goeie smaak wees. Jesus het gesê: ‘…Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. As jy luister na wat iemand sê, sal jy agterkom of sy gesindheid reg is en hy van ‘binne’ skoon is. Juis daarom sê Ek vir julle: mense wat sommer allerhande lelike dinge van ander sê, sal met die finale oordeel hulle woorde voor God moet gaan verduidelik. Wat jy sê, is dus verskriklik belangrik. Immers, op grond van wat jy sê, sal God besluit of jou saak met Hom reg is of nie’ (Matteus 12:34-37 NLV). Praat dus met goeie smaak.
Sielskos: Joh 7:37-41; Eks 17:1-7; Jes 35:1-7
2020-05-30
1 Johannes 2:19 NLV
Elke verhouding in jou lewe is daar vir ‘n rede en ‘n seisoen. Jou toewyding aan jou familie moet vir ‘n leeftyd duur; ander verhoudings mag dalk tydsbeperkings hê. Wanneer iemand kies om weg te loop, moenie hulle probeer ompraat om by jou te bly, jou lief te hê, jou te bel, vir jou om te gee, jou te kom sien of om geheg aan jou te bly nie. Jou lewensdoel hang nie van diegene wat jou verlaat het af nie. Johannes skryf: ‘Hulle het uit ons geledere gekom, maar was nooit regtig deel van ons nie. As hulle regtig deel van ons was, sou hulle nou nog by ons gebly het. Hulle het uit ons geledere weggegaan sodat dit aan die lig sou kom dat hulle nie regtig deel van ons was nie.’ Mense verlaat jou, omdat hulle nie aan jou geheg is nie. As hulle nie aan jou geheg is nie, moet jy hulle nie probeer dwing om te bly nie. Dit beteken nie dat hulle slegte mense is nie; dit beteken net dat hulle deel in jou verhaal verby is. Jy moet weet wanneer ‘n verhouding verby is en met grasie tot siens sê, met die wete dat God die verhoudings wat Hy wil hê jy moet hê, sal voorsien. Nadat Lot hom verlaat het, het Abraham ‘n nuwe vlak van God se seën binnegegaan. Toe Orpa vir Naomi verlaat het en terug na Moab gegaan het, het Rut by haar gebly en is beide Naomi en Rut deur God geseën. Jy moet weet wie in jou lewe hoort en wie nie. As jy vandag aan iemand vasklou wat nie hoort nie en wat nie in jou lewe behoort te wees nie, is die woord vir jou vandag – laat hulle gaan!
Sielskos: 1 Kon 10-11; Mark 13:1-11; Ps 82; Spr 12:18-19
2020-05-29
Jakobus 1:2 NLV
Wanneer ons teenspoed in die lewe en in ons verhoudings ervaar, wat onvermydelik sal gebeur, is dit maklik om aan wanhoop toe te gee. Eerstens, word ons deur ‘n gebeurtenis of verhouding teleurgestel. Terwyl die teleurstelling nog in ons harte en gedagtes talm, gee ons onsself oor aan ontmoediging en gee ons op op ons verwagting dat dinge sal verander. Laastens, soos ons voel dat dit onmoontlik is om die teenspoed te oorkom, gee ons ons oor aan wanhoop. Ons voel magteloos en hopeloos en kan nie ‘n pad vorentoe sien nie. In plaas daarvan om ons lewensresies te hardloop, voel dit of ons onderwater in ‘n see van jellie swem. Dikwels wanneer ons nie ons lewensomstandighede kan verstaan nie, beperk ons ons verwagtings van wie God is en wat Hy kan doen. Ons dink dat daar net een goeie uitkoms is – die een wat ons wil hê! Ons moet egter eerder op ons hemelse Vader vertrou, omdat Hy dalk groter en beter dinge vir ons in gedagte het. Ons moet probeer om sy werk in enige teenspoed wat oor ons pad kom, te sien. Onthou, God se verwagtings is groter as ons eie en slegs ons hemelse Vader en sy doelwitte, maak nie saak hoe pynlik hulle op die oomblik is nie, is in staat om ons siele waarlik te bevredig. Jakobus skryf: ‘My liewe broers en susters, wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees. Julle weet mos: Wanneer ‘n mens se geloof ‘n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard. Julle moet egter enduit volhard. Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees. Julle sal niks kortkom nie’ (verse 2-4 NLV). Hou hierdie waarheid voorop in jou gedagtes en jy sal nie aan wanhoop toegee nie.
Sielskos: 1 Kon 8-9; Mark 12:28-44; Ps 113; Spr 12:15-17
2020-05-28
Jesaja 42:3 NLV
Het jy al ooit van die groot melasse vloed wat in Boston plaasgevind het, gehoor? Op 15 Januarie, 1919, het ‘n staalvat wat amper nege miljoen liter melasse bevat het, gebreek. ‘n Nege meter hoë muur van warm stroop het mense en perde verdrink, geboue vernietig en karre, vragmotors en waens saamgesleur. Die enorme tenk, wat 15 meter hoog was en ‘n omtrek van 73 meter gehad het, was swak ontwerp. Besigheidsamptenare het die krake op die tenk wat aanhoudend te voorskyn gekom het, net met dieselfde kleur as die melasse geverf – hulle filosofie was uit die oog, uit die hart. Hierdie amptenare het geweet dat die vat gevaarlik was, maar niks daaraan gedoen nie. Daar het 21 mense gesterf en 150 mense is in die tragedie beseer, wat deur een skrywer as die ‘Swart Golf’ beskryf is. Daar is twee belangrike lesse uit hierdie verhaal te leer. Eerstens, gee aandag aan die krake in jou karakter; dit wat jy vandag ignoreer, kan jou dalk môre laat verdrink. Tweedens, dit maak nie saak hoe gebroke jy mag wees nie, as jy na God toe draai, sal Hy jou herstel. Jesaja sê: ‘Hy sal ‘n geknakte riet nie verder afbreek nie…’ Miskien dink jy dat jou sonde te groot is en dat daar nie vir jou omdraai kans is nie. Nee. God het gesê: ‘…Ek is ‘n God wat barmhartig en genadig is. Ek het geduld met mense. Ek is lojaal. Ek bly getrou’ (Eksodus 34:6 NLV). ‘…Dan sal Ek hulle genees van hulle ontrouheid; my liefde sal geen perke ken nie, want my woede is weg vir altyd!’ (Hosea 14:5 NLV). ‘…U bly nie vir altyd kwaad nie, maar is liefdevol en getrou. U sal weer medelye hê met ons. U sal ons sonde… weggooi in die diepte van die see!’ (Miga 7:18-19 NLV). God sal jou vandag vergewe en jou herstel.
Sielskos: Lev 23:15-22; Hand 2:1-18
2020-05-27
Psalm 89:20 NLV
Die Psalmdigter sê: “Voorheen het U deur ‘n visioen met u heiliges gepraat en gesê: …’Ek het my dienskneg Dawid gesoek. Met heilige olie het Ek hom gesalf. Met my hand sal Ek hom ondersteun, met my arm sal Ek hom sterk maak'” (verse 20-22 NLV). ‘n Groot visie gaan altyd groot prestasie vooruit. God is die gewer van groot visies – vra Hom dus vir een. Visie gee geboorte aan die doelwit; dit laat die vuur binne-in vlamvat en beweeg jou, ten spyte van die struikelblokke en teenstand, vorentoe. Om ‘n beter begrip van die woord ‘visie’ te hê, moet jy die volgende dinge verstaan: 1) Visie kom van God af. Hy weet waartoe jy in staat is en wat se talente Hy vir jou gegee het. As jy vir God vir ‘n visie gevra het en steeds nie een het nie, dink daaraan om by iemand wie se visie by jou aanklank vind, aan te sluit. 2) ‘n Visie put krag uit jou verlede uit. ‘n Visie is nie ‘n mistieke kwaliteit wat uit ‘n vakuum kom nie. Dit groei vanuit jou ervarings in die verlede en die geskiedenis van die mense rondom jou. 3) ‘n Visie vervul ander mense se behoeftes. ‘n Godgegewe visie bereik veel meer as wat een mens kan bereik. Dit seën en sluit ander mense in. As jou visie dit nie doen nie, is dit heel waarskynlik te klein. 4) ‘n Visie trek hulpbronne aan. Dit trek mense en uitdagings soos ‘n magneet aan en verenig hulle. Dit trek ook finansies en ander hulpbronne aan. Hoe groter jou visie is, hoe meer geesvervulde mense sal dit aantrek. Hoe uitdagender die visie is, hoe harder sal die deelnemers daaraan werk om dit te bereik.
Sielskos: 1 Kon 6-7; Mark 12:1-27; Ps 101; Spr 12:12-14