Dis nie te laat nie (2)

2020-07-07
Joël 2:28 NLV

Die wêreldkampioen bokser, George Foreman, is in ‘n Christelike huis grootgemaak en het uiteindelik na sy wortels teruggekeer – maar nie voor hy in ‘n wêreld van bendes, dwelms en geweld vasgevang geraak het nie. ‘n Vriend het sy potensiaal raakgesien en hom aangemoedig om by ‘n plaaslike gym aan te sluit om sodoende sy aggressie op ‘n meer konstruktiewe manier uit te laat. Dit het daartoe gelei dat hy ‘n swaargewig wêreldkampioen bokser geword het en miljoene dollars gemaak het. Die loopbaan van ‘n wêreldkampioen bokser is egter relatief kort en uiteindelik het Foreman, ouer en oorgewig, die punt bereik waar hy net in gevegte wat ‘n paar duisend dollar betaal het, begin veg het. Hy moes dringend gewig verloor en fiks word. ‘n Vriend het hom aan ‘n gesonde dieet voorgestel en as deel van sy nuwe eetplan, moes Foreman ‘n klein braaipan gebruik. Een dag het Foreman se vrou voorgestel dat hy sy naam op die klein braaipan moet aanbring en dat ander mense dit sou koop. Hulle het! Daar is al oor die 100 miljoen George Foreman braaipanne verkoop en mense koop dit steeds. Dink daaraan. George Foreman het meer geld met sy klein braaipan as met al sy prysgevegte gemaak. Die Bybel sê dat wanneer die Heilige Gees hulle bemagtig, ‘…Julle oumense sal drome droom…’ Ten spyte van jou ouderdom, is dit nie vir jou te laat nie. Gaan net vandag op jou knieë en bid: ‘Here, alles wat ek het en alles wat ek is, gee ek ten volle aan U. Gebruik my soos U dit goed dink.’ Wanneer Hy antwoord, moet jy voorbereid wees dat Hy jou in ‘n hele nuwe rigting mag neem.

Sielskos: Jer 31-32; Luk 5:27-39; Ps 122; Spr 15:10-14