Gee God al die eer

2020-07-01
1 Korintiërs 1:29 NLV

Daar is ‘n verhaal van ‘n houtkappertjie wat besig was om aan ‘n denneboom te pik, toe die boom deur ‘n weerligstraal middeldeur geslaan is. Die houtkappertjie kon nie sy oë glo nie. Hy het teruggestaan, vir ‘n oomblik na die boom gekyk en toe weggevlieg. ‘n Rukkie later het hy met nege ander houtkappertjies teruggevlieg gekom. Toe, breëbors en trots, het hy na die boom gewys en gesê: ‘Sien julle, ek het julle mos gesê ek het die boom middeldeur gepik!’ Kom ons raak ernstig. So lank as wat jy onthou om God die krediet vir jou sukses te gee, sal Hy aanhou om jou te gebruik en jou te seën. ‘Van Bo af kom net goeie, ja, volmaakte gawes…’ (Jakobus 1:17 NLV). Dit beteken dat elke goeie ding wat jy vandag geniet en elke goeie ding wat jy môre gaan nodig kry, ‘n gawe van God is. Daar is geen spogstories in die hemel nie, net lofprysing. Hoekom? Omdat jy nie kan spog oor hoe jy in die hemel gekom het nie; dis net deur God se genade. Jy kan ook nie spog oor dit wat jy vir God gedoen het voor jy hemel toe gegaan het nie, omdat dit slegs God se roeping was wat jy vervul het. Hy sê: ‘Ek is die Here, dit is my Naam. My eer deel Ek met niemand anders nie…’ (Jesaja 42:8 NLV). Weer sê Hy: ‘Bring elkeen wat Ek geroep het sodat hy aan My sal behoort, bring elkeen wat Ek gemaak het sodat hy My sal eer’ (Jesaja 43:7 ABA). Die Onse Vader eindig met die woorde: ‘…Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen’ (Matteus 6:13 AFR53). Vir hoe lank? ‘Tot in ewigheid. Amen.’

Sielskos: Jer 14-17; Luk 4:1-13; Ps 98; Spr 14:34