Hoe om moedeloosheid te oorkom (2)

2020-11-12
Nehemia 4:14 NLV

Moenie net aan die probleem dink nie, dink aan die Here. Nehemia het gesê: ‘Ek het sake dopgehou en toe die leiers, die amptenare en die res van die volk bymekaargeroep en gesê: ‘Moenie vir die vyand bang wees nie! Hou in gedagte dat die Here groot en vreesaanjaend is’…’

Wat moet jy spesifiek onthou? Drie dinge: 1) Onthou die Here se goedheid aan jou in die verlede. Wanneer jy aan al die goeie dinge wat Hy reeds in jou lewe gedoen het begin dink, sal jou gees opgebeur word en jou angs verminder.

2) Onthou God se nabyheid in die hede. Wat is Hy besig om tans in jou lewe te doen? Die waarheid is dat Hy by jou is, of jy nou sy nabyheid voel of nie. Hy het gesê: ‘…Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie’ (Hebreërs 13:5 NLV).

3) Onthou God se krag vir die toekoms. Hy sal jou krag vir jou behoeftes gee.

Wanneer jy moedeloos raak, neem jou gedagtes van die omstandighede af en fokus op die Here, want omstandighede kan jou depressief maak en jou ontmoedig. Die kans is goed dat jy moedeloos voel, omdat jy negatiewe gedagtes dink.

Kies ‘n paar bemoedigende Bybelverse om te memoriseer en vir jouself aan te haal: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (Filippense 4:13 NLV). ‘…As God aan ons kant is, wie kan ooit téén ons wees?’ (Romeine 8:31 NLV). ‘…As ‘n mens glo, is álles moontlik!’ (Markus 9:23 NLV). Hou in gedagte dat dit jou gedagtes is wat jou gevoelens bepaal en wanneer jy jou gedagtes met beloftes uit God se Woord vul, kan jy moedeloosheid oorkom.

Sielskos: 1 Kro 12:23-15:29; Joh 10:11-21; Ps 83:1-8; Spr 26:7-12

Hoe om moedeloosheid te oorkom (1)

2020-11-11
Nehemia 4:14 NLV

Eerstens, vind ‘n beter manier. Terwyl hulle besig was om Jerusalem se mure te herbou, het Nehemia gesê: ‘Ek het sake dopgehou…” Hy het besef dat daar vyande was om te verslaan en struikelblokke om te oorkom, dus het hy toe: ‘…wagte agter die laagste dele van die muur geplaas waar daar oop gedeeltes was. Ek het ook mense by die families laat wagstaan, gewapen met swaarde, spiese en boë’ (vers 13 NLV). Om moedeloosheid te oorkom, het Nehemia besef dat hulle dinge anders sou moes begin doen. Hulle het ‘n nuwe sisteem nodig gehad. Dus het hy mense volgens hulle gawes en sterkpunte georganiseer.

Waansin word gedefinieer as om dieselfde ding oor en oor te doen en vir ander resultate te hoop. Daar is wysheid in hierdie definisie! Wanneer jy moedeloos word, moenie op jou doelwitte opgee nie. Dink eerder aan ‘n nuwe benadering. Was dit verkeerd van die Jode om die mure van Jerusalem te herbou? Nee, hulle het dit net op die verkeerde manier aangepak!

Daar is ‘n les vir ons almal hieruit te leer. Het jy byvoorbeeld ‘n probleem in jou huwelik? Moenie tou opgooi nie; probeer ‘n nuwe houding. Het jy ‘n probleem in jou besigheid? Moenie opgee nie; soek ‘n nuwe benadering, herorganiseer jou skedule en herfokus jou doelwit.

Het jy al ooit van die 80/20 beginsel gehoor? Dis waar 80 persent van jou tyd aan die 20 persent van aktiwiteite wat nie produktief is nie, bestee word en gevolglik raak jy gefrustreerd. Wat jy eintlik moet doen, is om 80 persent van jou tyd aan die 20 persent aktiwiteite wat die beste resultate produseer, te wy. Begin dus oefen om die meerderheid van jou tyd en energie aan die dinge wat jy weet resultate gee, te bestee.

Sielskos: 1 Kro 10:1-12:22; Joh 10:1-10; Ps 133; Spr 26:1-6

Wys hulle jy gee om

2020-11-10
Hebreërs 4:15 NLV

Alhoewel die inheemse Indiane in Amerika nie ‘n formele geskrewe alfabet gehad het voor hulle die Europeërs ontmoet het nie, was hulle taal alles behalwe primitief. Die woordeskat van baie inheemse tale was net so groot soos hulle Franse en Engelse oorwinnaars s’n en hulle uitdrukkings was dikwels baie meer welsprekend. In een taal, word die konsep van die woord ‘vriend’ byvoorbeeld gestel as ‘die een wat my sorge op sy of haar rug dra.’

Wat ‘n wonderlike definisie! Wanneer iemand na jou toe kom vir troos of raad, wil hulle dikwels net iemand hê wat gewillig is om te luister en met wie hulle hul sorge kan deel. Wanneer jou antwoord oppervlakkig is, neem hulle soms aan dat jy nie tyd vir hulle het nie. Een van die mooiste dinge wat in die Bybel van Jesus gesê is, is dat Hy ‘ten volle met ons in ons swakhede [kan] saamvoel.’ Partykeer wil ‘n vriend net weet dat jy verstaan waardeur hulle gaan en dat jy omgee. Hier is hoe jy kan help:

1) Luister met ‘n oop hart, eerder as om hulle probleem te probeer wegpraat.

2) As hulle huil, deel hulle trane. As hulle stil is, deel hulle stilte.

3) Laat hulle weet dat jy beskikbaar is, gereed is om te help en dat jy altyd vir hulle sal tyd hê.

4) Herinner hulle dat mense net soveel self kan doen, maar dat God die onmoontlike kan doen.

5) As hulle jou toelaat, bid vir hulle en saam met hulle. So kan jy help om die las van hulle skouers af te haal en dit op God se skouers te sit (sien Psalm 55:23).

Sielskos: 1 Kro 7:20-9:44; Joh 9:24-41; Ps 99; Spr 25:26-28

Vergewe hulle

2020-11-09
Lukas 6:35 NLV

In sy boek, Beneath the Cross of Jesus, vertel A. Leonard Griffith die verhaal van ‘n jong Koreaanse uitruilstudent wat ‘n leier in die Christelike kringe by die Universiteit van Pennsylvania was. Hy het sy woonstel die aand van 25 April, 1958 verlaat om ‘n brief aan sy ouers te pos. Toe hy by die posbus omdraai, het elf tienerseuns met leerbaadjies hom ingewag. Sonder om ‘n woord te sê het hulle hom met ‘n domkrag, pyp en hulle stewels en vuiste begin aanrand en hom vir dood op die sypaadjie agtergelaat. Die gemeenskap in Philadelphia het wraak geëis en die distriksaanklaer het op televisie aangekondig dat hy die doodstraf in die saak sou vra.

Toe het die volgende brief, wat deur die seun se ouers en twintig ander familielede in Korea onderteken is, gearriveer: ‘Ons familie het bymekaar gekom en besluit om hierdie petisie op te stel sodat diegene wat hierdie misdaad gepleeg het, die vrygewigste behandeling moontlik binne die wette van julle regering kry. Om bewys van ons opregte hoop wat in hierdie petisie vervat is te lewer, het ons begin geld spaar om ‘n fonds te skep vir die geestelike, opvoedkundige, professionele en sosiale leiding vir hierdie seuns wanneer hulle vrygelaat word. Ons hoop dit met die gees wat ons van die evangelie van ons Redder, Jesus Christus, wat vir ons sondes gesterf het, ontvang het.’

Hierdie verhaal neem vergifnis na die volgende vlak toe! Dit leer ons ook dat wanneer jy vergewe, jy die sitplek van die slagoffer prysgee en die sitplek van die oorwinnaar inneem. Dis wat Jesus ook vir jou vandag in gedagte het!

Sielskos: 1 Kro 6:1-7:19; Joh 9:13-23; Ps 115; Spr 25:23-25

Reëls om ‘n goeie gas te wees

2020-11-08
Spreuke 25:17 NLV

Soms trap ons as Christene in die strik om eksklusief op die groot dinge soos wêreldevangelisme, geestelike gawes en die tweede koms van Christus, te fokus. Gevolglik skeep ons die klein dingetjies, soos goeie maniere, af. Die Bybel praat egter van goeie maniere – en as dit daar is, is dit belangrik! Iemand het geskerts: ‘Vis en geselskap stink na drie dae.’ Dit mag dalk verduidelik hoekom Salomo gesê het: ‘Moenie te veel by jou buurman gaan kuier dat hy te veel van jou sien en weersin in jou kry nie.’

Wanneer jou gasheer vir die tiende keer gaap, vir sy vrou kyk en sê: ‘Skat, kom ons gaan klim in die bed sodat hierdie gawe mense by die huis kan kom,’ moet jy weet dat jy te lank gekuier het. ‘Almal weet dit tog!’ sê jy. Nee, hulle doen nie, dis hoekom God dit in sy Woord aanspreek.

Hier is tien reëls om ‘n goeie gas te wees: 1) Wees bedag op die ander persoon se tyd. 2) Moenie iemand onderbreek terwyl hulle praat nie. 3) Moenie die gesprek domineer nie. 4) Moenie te vroeg opdaag of te laat bly nie. 5) Maak tye vas om besoek af te lê. 6) Wees hoflk en simpatiek, sonder om neerbuigend te wees. 7) Wees eerlik oor die tydsbeperkinge van jou besoek en maak seker dat dit by ander mense se skedules pas. 8) Help jou gasheer of gasvrou om na die ete op te ruim. 9) Neem jou gasheer en gasvrou vir ten minste een ete uit, as jy langer as ‘n dag by hulle kuier. 10) Stuur ‘n nota of epos om dankie te sê vir die gawe van hulle tyd en hulle goedgunstighed.

As jy vriende wil maak en hulle wil behou – moet jy hierdie reëls nakom.

Sielskos: Matt 6:16-18; Jes 58:1-11; Luk 4:1-13

Lag – God se voorskrif vir stress!

2020-11-07
Spreuke 17:22 NLV

Die skrywer Barbara Johnson het gesê: ‘Om te lag is soos om ‘n baba se doek om te ruil. Dit los nie die probleem permanent op nie, maar dit maak dinge vir ‘n rukkie meer aanvaarbaar.’

Een dag was die komediant en skrywer, David Brenner, besig om boeke te teken. ‘n Jong man het vir hom sy nuutgekoopte boek gegee om te teken en gesê: ‘Ek wil jou bedank dat jy my lewe gered het.’ Sonder om mooi te dink het Brenner geskerts: ‘My plesier.’ Die jong man het egter aangegedring: ‘Nee, ek bedoel dit regtig!’ Brenner het opgekyk. Die jong man het voortgegaan deur te sê: ‘My pa is oorlede. Hy was my beste vriend. Ek was lief vir hom en kon vir weke nie ophou huil nie, dus het ek besluit om my eie lewe te neem. Die aand wat ek beplan het om dit te doen, was die televisie aan en jy was die gasheer op The Tonight Show. Ek het na jou openingsmonoloog geluister en die volgende oomblik was ek besig om histeries te lag. Ek het toe besef dat as ek in staat was om te lag, was ek in staat om te lewe. Dus wil ek jou bedank dat jy my lewe gered het.’ Nederig en dankbaar het Brenner sy hand geskud en gesê: ‘Nee, dankie vir jou.’

Die Bybel sê: “‘n Vrolike mens is soos goeie medisyne…” Kundiges bevestig dat lag jou immuunstelsel opbou, jou geheue en leervermoë verbeter, spanning verlig, jou polsslag en bloeddruk verlaag, endorfiene vrystel wat pyn verminder, angs en stres verlaag, mense gerusstel en eenheid meebring. Hierdie effekte hou vir agt tot twaalf ure aan. Dit bevorder emosionele genesing en die beste van alles – dis pret. Dis hoekom lag God se voorskrif vir stres is!

Sielskos: 1 Kro 3-5; Joh 9:1-12; Ps 15; Spr 25:21-22