Is jy nuutgebore?

2020-11-06
Johannes 3:7 AFR83

Die Anglikaanse predikant, George Whitefield, was net so verantwoordelik vir die transformasie van Engeland en die Groot Ontwaking in Amerika as John en Charles Wesley. In ‘n brief aan Benjamin Franklin, wat Whitefield se preke baie geniet het, het hy geskryf: ‘Soos ek sien dat jy meer en meer beroemd in die geleerde wêreld word, sal ek aanbeveel dat jy die misterie van die nuwe geboorte ywerig en onbevooroordelend bestudeer. Dit is ‘n baie belangrike studie en wanneer jy dit bemeester, sal dit al jou vrae ryklik antwoord. Ek herinner jou, my vriend, dat die Een voor wie ons eendag sal staan, verklaar het dat ons daarsonder nie sy koninkryk sal sien nie.’Dis ‘n baie wyse aanbeveling aan ‘n man wat deur die geskiedenis van die wêreld as baie wys gesien is.

Jesus het gesê: ‘…julle moet opnuut gebore word…,’ en daar was nog nooit ‘n persoon wat ernstig na die nuwe geboorte gesoek het en dit nie ontvang het nie. Selfs ons soeke daarna kom van die Gees van God af (sien Johannes 6:44).

Is jy moeg vir die leegheid en doelloosheid van jou lewe? Is jy moeg vir die vuil toiings van jou eie geregtigheid? Is jy gewillig om iemand anders, eerder as jouself, te vertrou? Kyk dan na die kruis van Christus. Plaas jou vertroue in Hom en vra Hom om vandag te kom en in jou gebore te word. Jy kan eenkeer gebore word en twee keer sterf, maar as jy twee keer gebore word, sal jy net een keer sterf. Jesus het gesê: ‘Wie glo in die Seun, besit nou reeds die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie ervaar nie…’ (Johannes 3:36 NLV).

Sielskos: 1 Kro 1-2; Joh 8:42-59; Ps 123; Spr 25:18-20

Mites oor kinders grootmaak (2)

2020-11-05
Deuteronomium 4:9 NLV

In sy boek, Why Johnny Can’t Tell Right from Wrong, identifiseer William Kilpatrick nog twee mites oor kinders grootmaak waarvoor ouers val: 1) Die mite dat alle morele probleme sielkundig van aard is. Gedragsprobleme word deur hierdie uitkyk as kwessies gesien wat met selfbeeld of sielkundige behoeftes te make het. Die outydse idee dat gedragsprobleme by kinders die resultaat van hardkoppigheid kan wees, kom nie by die gemiddelde kundige op nie. As jy na die indeks van die tipiese boek oor ouerskap kyk, sal jy sien dat baie bladsye aan selfbeeld toegewy word, maar jy sal nie sommer die woord ‘karakter’ daar vind nie.

2) Die mite dat ouers nie die reg het om waardes by hulle kinders in te boesem nie. Weer eens, is die standaard dogma dat kinders hulle eie waardes moet skep. Kinders het egter baie min kans om dit te doen, omdat die res van die samelewing nie huiwer om hulle waardes op hulle af te dwing nie. Maak dit dus sin vir ouers om neutrale omstanders te wees terwyl almal anders, van draaiboekskrywers tot kunstenaars, adverteerders en seksvoorligters, daarop aandring om hulle waardes aan ons kinders te verkoop?

God het vir sy volk die volgende gesê: ‘Maar pas op! Wees baie versigtig om nooit te vergeet wat julle gesien het wat die Here vir julle gedoen het nie. Solank as wat julle leef, moet julle hierdie dinge onthou. Maak seker dat julle dit vir julle kinders en kleinkinders oorvertel.’

Ouer, wanneer dit daarby kom om geestelike waardes by jou kinders in te boesem, moet jy jouself die volgende afvra: Indien nie jy nie, wie dan? Indien nie nou nie, wanneer dan?

Sielskos: 1 Joh 3:11-5:21; Joh 8:31-41; Ps 30; Spr 25:13-17

Reguit woorde oor monogamie

2020-11-03
Spreuke 5:15 NLV

Hier is ‘n paar reguit woorde oor monogamie van een van die wysste mans wat nog ooit gelewe het – Salomo: ‘Drink die water uit jou eie put. Drink by jou eie fontein. Moet jou fonteine in die strate uitloop? Moet jou water die pleine oorstroom? Hou jou water vir jouself. Deel dit nie met vreemdelinge nie. Laat jou eie fontein vir jou tot seën wees. Geniet jou eie jong vrou. Sy is die bokkie wat jy liefhet. Laat haar borste vir jou vreugde gee. Laat haar liefkosings jou die hele tyd oorweldig. My seun, waarom sou jy meegevoer raak deur ‘n slegte vrou? Waarom sou jy liefde by ‘n vreemde vrou gaan soek? Die Here sien alles wat ‘n mens doen. Hy weeg elke tree wat jy gee. Die goddelose mens se eie sondes maak van hom ‘n gevangene. Dit draai hom vas in sy eie sonde. Hy kon homself nie beheer nie; daarom gaan hy sterf. Hy verdwaal omdat hy dwase dinge doen’ (Spreuke 5:15-23 NLV).

In Salomo se tyd, was ‘n put of fontein so waardevol soos goud. Skoon water was ‘n kosbare kommoditeit, dus was Salomo inderwaarheid besig om te sê: ‘Hoekom sal jy die besoedelde water wat uit die riool van losbandigheid vloei drink, wanneer jy kan wag en die skoon water wat uit die put van ‘n toegewyde eggenoot kom, kan drink?’

Hier is twee waarhede wat jy altyd in gedagte moet hou: 1) Ware liefde wag. 2) Ware liefde is die wag werd. Onthou, jy kan enige tyd uit die put drink. Jy kan egter nooit weer die persoon wees wat jy was voor jy daardie besluit geneem het nie.

Sielskos: Esra 9-10; Joh 8:1-20; Ps 96; Spr 25:1-7

Laat jou woorde tel

2020-11-02
Spreuke 18:4 NLV

Wanneer Salomo van ‘diep waters’ praat, verwys hy na die water in die bodem van die put wat die skoonste en die koelste is. As jy wil weet watse tipe water ‘n put het, moet jy na die bodem toe gaan. As jy wil weet wat in ‘n persoon se hart is, moet jy na sy of haar woorde luister. ‘n Ou boer het dit so gestel: ‘Wat onder in die put is, kom altyd in die emmer uit!’

Een van die sekerste bewyse van wysheid en volwassenheid is die vermoë om die regte ding, op die regte manier, op die regte tyd, aan die regte persoon te sê – of om niks te sê nie. Soos jy wyser word, sal jy minder praat en meer sê.

Wanneer iemand in Amerika gearresteer word, word daar van die polisie vereis om hulle Miranda regte aan hulle voor te lees: ‘You have the right to remain silent. Anything you say can and will be used against you in a court of law.’ Tensy jou woorde dus bedoel is om iemand op te bou eerder as om hulle af te kraak, is stilte ‘n reg wat jy elke dag moet uitoefen. Soms is die wysste woorde dié wat nooit gespreek word nie.

Iemand het gesê: “‘n Wyse man is iemand wat twee keer dink voordat hy niks sê nie.” Salomo sê ook: ‘Iemand wat kennis het, praat nie baie nie. Iemand met insig bly kalm. Wanneer ‘n dwaas stilbly, kan dit lyk of hy wys is; en as hy sy mond toehou, lyk hy soos iemand met insig’ (Spreuke 17:27-28 NLV). Dis dus beter om jou mond toe te hou en mense te laat dink dat jy ‘n dwaas is, as om jou mond oop te maak en enige twyfel daaromtrent uit die weg te ruim.

Sielskos: Esra 6-8; Joh 7:45-53 Ps 9; Spr 24:30-34

Mites oor kinders grootmaak (1)

2020-11-01
Deuteronomium 31:13 NLV

In sy boek, Why Johnny Can’t Tell Right from Wrong, identifiseer William Kilpatrick ‘n paar mites oor kinders grootmaak wat ouers glo: 1) Die mite van die ‘goeie stoute seun.’ Amerikaanse literatuur en films beeld dikwels ‘stoute seuns’ as sjarmant en aantreklik uit. Tom Sawyer en Buster Brown is voorbeelde uit die verlede, maar daar is baie voorbeelde daarvan op hedendaagse televisie en rolprente. Hierdie deel van Amerikaanse tradisie het so ‘n kragtige houvas op die verbeelding dat ‘gehoorsaamheid’ amper ‘n lelike woord is.

2) Die mite van natuurlike goedheid. Dis die idee dat deugde vanself sal kom, as kinders net toegelaat word om op hulle eie manier groot te word.

3) Die mite van kundige kennis. Tydens die afgelope dekades, het ouers na professionele kundiges gekyk oor hoe om hulle kinders groot te maak. Ongelukkig hang die grootste meerderheid van hierdie kundiges die mite van natuurlike goedheid aan. Soveel klem word op die unieke, kreatiewe en spontane natuur van kinders geplaas, dat ouers voel hulle moet by hulle kinders aanpas, eerder as wat hulle kinders leer om by die verwagtinge van die gesinslewe aan te pas.

Kom ons neem ‘n oomblik en kyk na wat God vir die volk van Israel gesê het oor kinders grootmaak: ‘Doen dit sodat jou kinders wat hierdie gebooie nie ken nie, sal hoor en leer om ontsag te hê vir die Here julle God…’ Let die woorde ‘hoor en leer’ op. Dis nie ‘n voorstel vir ouers nie – dis ‘n bevel wat God vir jou gegee het om te gehoorsaam, indien jy wil hê dat jou familie geseën moet word.

Sielskos: 1 Joh 1:1-3:10; Joh 8:21-30; Ps 86; Spr 25:8-12