‘n Verhaal van twee families

2020-11-01
Genesis 18:19 NLV

Die verhaal van twee families wat ‘n eeu gelede vertel is, bevat lesse wat nou, meer as ooit, relevant is. Familie nommer een. Het jy geweet dat die pa van die bekroonde Amerikaanse hervormer en pastoor, Jonathan Edwards, ‘n predikant was? En dat sy ma uit die nageslag van ‘n dominee gebore is? Edwards se familie het inderwaarheid 14 universiteitspresidente, meer as 100 professors, 100-plus prokureurs, 60 dokters, meer as 100 predikante, sendelinge en teoloë en omtrent 60 skrywers ingesluit. Deur die geskiedenis is daar skaars ‘n Amerikaanse industrie wat nie ‘n Edwards-familielid onder hulle geledere gehad het nie. Dit was die produk van een Christelike familie wat in gunstigste omstandighede grootgemaak is.

Familie nommer twee. Lede van die berugte Jukes familie kon nie oortuig word om te studeer nie, wou nie werk nie en daar word geraam dat hulle die staat van New York miljoene dollars gekos het. Hulle hele stamboom was een van armlastigheid, misdaad en waansin. Onder hulle nageslag, was daar 310 professionele armlastiges, 440 het fisiese gebreke as gevolg van hulle eie bose dade gehad, 60 was gewoontemisdadigers, 133 was in die tronk en 55 van hulle was slagoffers van onreinheid. Net 20 van hulle het ‘n ambag geleer (10 van hulle het dit in die tronk geleer) en hierdie berugte familie het 7 moordenaars opgelewer.

Een persoon kan die hele stroom besoedel. As hy egter op ‘n goddelike manier grootgemaak word, kan hy ‘n hele familie seën en die wêreld vir generasies daarna beïnvloed. Dis eenvoudig; as jy as ouer wys wil wees, sal jy God se leiding elke dag van jou lewe soek.

Sielskos: 1 Kro 17:1-20; Heb 11:4-12:3; Ps 18:20-29; Spr 4:18

Harde werk – die prys van sukses

2020-10-31
Spreuke 14:23 NLV

Een dag het ‘n oupa vir sy kleinkinders die verhaal van hoe hy na Amerika gekom het, vertel. Hy het hulle van die treine en die skip wat hom van sy huis in Oos-Europa gebring het, vertel. Hy het vertel hoe hy saam met ander immigrante by Ellis Eiland geprosseseer moes word en hoe hy na ‘n kafeteria gegaan het om iets te kry om te eet. Hy het by ‘n leë tafel gaan sit en lank gewag vir iemand om sy bestelling te kom neem, maar niemand het nie.

Uiteindelik het ‘n vrou met ‘n skinkbord kos oorkant hom gaan sit en verduidelik hoe ‘n kafeteria werk. ‘Jy begin by hierdie punt,’ het sy gesê en na ‘n stapel skinkborde gewys. ‘Dan gaan jy by die lyn kos af en kies wat jy wil hê. By die ander punt sal hulle vir jou sê hoeveel dit sal kos.’

Die oupa het vir ‘n ruk daaroor gepeins en toe vir sy kleinkinders gesê: ‘Ek het gou geleer hoe alles in hierdie land werk. Die lewe hier is ‘n kafeteria. Jy kan enigiets kry wat jy wil hê – selfs groot sukses – as jy bereid is om die prys te betaal. Jy sal egter nooit kry wat jy wil hê as jy vir iemand wag om dit vir jou te bring nie. Jy moet opstaan en dit self gaan kry.’

Die verskil tussen waar jy op die oomblik is en waar jy wil wees, kan met twee woorde opgesom word – harde werk! ‘Wil God hê dat ek sukses moet behaal?’ vra jy. Ja, maar Hy sal nie sukses in jou skoot laat val nie. Hy het beloof om ‘…al die werk wat jy doen, te seën…’ (Deuteronomium 28:12 NLV). Ontelbare ure, aanhoudende inspanning en konstante verbetering kan die verskil tussen ambisie en sukses maak.

Sielskos: Deut 18:9-18; Jes 47:5-15; Hand 16:16-34; Dan 2

Sê die regte ding

2020-10-30
Spreuke 15:23 NLV

William Penn, die stigter van die Britse kolonie in Pennsylvania in 1677 (die Amerikaanse staat van Pennsylvania is na hom vernoem), het ses beginsels vir gesprekke geformuleer:

‘1) Vermy geselskap waar dit nie winsgewend of noodsaaklik is nie, maar wanneer jy jou in so ‘n gesprek bevind, praat min en praat laaste.

2) Stilte is wysheid, waar om te praat dwaasheid sal wees. Stilte is altyd veilig.

3) Sommige mense is so dwaas dat hulle die gesprek onderbreek en aanneem wat die een wat praat wil sê, in plaas daarvan om te luister en te dink voor hulle antwoord. Dis nie net ongeskik nie, maar dom.

4) As jy twee keer dink voor jy praat, sal jy twee keer beter praat.

5) Dis beter om niks te sê as om nie tot die punt te kom nie. 6) Laat die waarheid altyd jou doelwit in alle gesprekke wees, nie oorwinning of onregverdige selfbelang, winsbejag of om jou kritici te ontbloot nie.’

In kort: Dink voor jy praat! Gee jouself tyd om wysheid in jou woorde te inkorporeer en vermy woorde wat ander mense minderwaardig laat voel of wat hulle sal intimideer.

Een van die beste manier om ander mense te oortuig, is om na hulle te luister. ‘n Skinderbek praat oor ander mense en ‘n vervelige mens praat oor homself, maar ‘n goeie gesprekvoerder praat oor dit wat jou interesseer en luister aandagtig na wat jy te sê het.

Die waarheid is dat mense soms minder onthou hoe meer jy praat. Hulle is meer geneig om jou woorde te onthou as hulle voel dat jy genoeg omgee om na hulle gedagtes en bekommernisse te luister. Die Bybel sê: ‘Daar is vreugde daarin om die regte antwoord te hê; wat is beter as die regte woord op die regte tyd?’

Sielskos: Esra 3-5; Joh 7:25-44; Ps 108; Spr 24:29

‘Die hemelse dinge’

2020-10-29
Kolossense 3:2 NLV

Die Bybel sê: ‘Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge, nie deur dinge op hierdie aarde nie.’ Daar is baie dinge wat in hierdie wêreld kan gebeur wat maklik ons gedagtes en emosies kan affekteer. Ons moet leer om bo hulle uit te rys. Wanneer negatiewe gedagtes opbou en beheer van jou emosies probeer neem, moet jy ‘n paar minute neem om jou gedagtes op ‘die hemelse dinge’ te fokus. Dit help dikwels om op ‘n positiewe manier oor dit wat jou pla, te praat.

Gesels byvoorbeeld as volg met jouself: ‘My familie mag dalk nie alles wees wat ek wil hê hulle moet wees nie, maar ek is dankbaar dat ek ‘n familie het. My huis mag dalk nie so mooi en netjies wees soos ek dit sal verkies nie, maar dis steeds ‘n goeie plek om te bly. Ek mag dalk tans deur ‘n moeilike tyd gaan, maar Jesus is met my en gaan my hierdeur bring.’

Die duiwel weet watter knoppies om te druk om ‘n emosionele reaksie te ontlok. Wat moet jy dus doen? Staan op God se Woord: ‘Geseënd is hulle vir wie U vermaan, Here, vir wie U uit u gebooie onderrig. U gee hom verligting in moeilike tye…’ (Psalm 94:12-13 NLV).

Hoe meer jy jouself dissiplineer om nee vir jou gevoelens en ja vir God se wysheid te sê, hoe makliker word dit om die Vyand in ‘n geestelike stryd te oorwin. Besluit dus vandag dat jy nie jou lewe rondom onbetroubare emosies gaan rangskik nie en fokus eerder op ‘die hemelse dinge’!

Sielskos: Esra 1-2; Joh 7:14-24; Ps 104:24-35; Spr 24:28

Bid jou alfabet

2020-10-28
Filippense 4:6 NLV

Rachel en Jim het ‘n kommersiële gebou besit, die helfte daarvan het Jim vir sy tandheelkundige praktyk gebruik. Vir vyftien jaar lank het hulle glad nie gesukkel om die ander helfte te verhuur nie, wat ‘n ekstra inkomste was om hulle rekeninge te betaal. Toe hulle hul langtermyn huurder verloor het, het ‘n eiendomsagent vir hulle gesê: ‘Vergeet daarvan om vir ‘n ruk die spasie te adverteer – niemand huur op die oomblik nie.’

Om van haar stres ontslae te raak, het Rachel rondtes by die plaaslike gimnasium begin swem. Eendag het sy baie angstig gevoel en besluit om te bid terwyl sy swem, terwyl sy die alfabet gebruik om telling van haar rondtes te hou. Sy het begin om God te beskryf, deur met die letter A te begin. ‘U is ‘n Almagtige God,’ het sy gedurende die eerste rondte gebid. B. “‘n Barmhartige God, ‘n betroubare God,” het sy tydens die volgende rondte gebid. Dan C: Dankie dat U Christus vir ons gestuur het.’Teen die tyd wat sy ses-en-twintig rondtes geswem het, was dit ‘n uur later en was haar vrese weg. Sy het geweet dat God sou voorsien.

‘n Kort rukkie later het ‘n fisioterapeut gebel om uit te vra oor die spasie, nadat sy die ‘Te Huur’ bordjie in die venster gesien het. Dit was presies wat sy wou gehad het, dus het sy en haar vennoot die spasie gehuur. Rachel bid steeds terwyl sy rondtes swem. ‘Ek het immers ontdek dat God se goedheid van A tot Z strek,’ sê sy.

Bekommer jy jou vandag oor iets? Hier is ‘n beter opsie: ‘…Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen… Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (verse 6-7 NLV).

Sielskos: Sef 1-3; Joh 7:1-13; Ps 104:1-23; Spr 24:26-27

Leer by Moses (4)

2020-10-27
Hebreërs 11:27 NLV

Vierdens moet jy volhou wanneer die lewe moeilik raak. Jy kan Moses se hele lewe in hierdie drie woorde opsom: ‘Hy het volgehou.’

Dis ‘n feit van die lewe dat daar nie vooruitgang sonder probleme kan wees nie. Moses het verstaan dat die lewe moeilikhede en probleme kan oplewer en hy het ook geweet hoe om reg op hulle te reageer en aan te beweeg. Ons moet ook leer om dit te doen.

As volgelinge van Christus, moet ons nie toelaat dat probleme ons oorwin nie, ons moet dit toelaat om ons nader aan God te beweeg. Iemand het gesê dat ons nie moet toelaat dat probleme ons afbring nie – behalwe af op ons knieë om te bid! God laat sekere situasies in ons lewens toe om groei te laat plaasvind. Sonder volhouding sal ons egter nie ver kom nie.

Let die woorde op: ‘Omdat hy geglo het… [het] hy volgehou…’ Waarin het hy geglo? In wie het hy geglo? In God! Ons praat nie hier van ‘n vleeslike vorm van self-help nie. Nee, ons praat van die feit dat wanneer God jou roep om ‘n werk te doen, Hy jou daarvoor toerus en jou bekragtig. Hy gaan jou vooruit en voorsien alles wat jy nodig het.

Wanneer jy vir sy plan in jou lewe ja sê, kan jy op hierdie belofte staan: ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (Romeine 8:28 NLV).

Jy moet dus: a) weet wie jy is; b) verantwoordelikheid vir jou lewe neem; c) jou prioriteite bepaal; en d) volhou wanneer die lewe moeilik raak. As jy volgens hierdie vier Bybelse waarhede lewe, sal jy ‘n lewe lei wat waarlik deur God geseën word.

Sielskos: 1 Tim 4-6; Joh 6:52-71; Ps 114; Spr 24:23-25