2020-10-26
Hebreërs 11:26 NLV
Derdens, moet jy jou prioriteite bepaal. ‘Vir hom was die lyding wat hy ter wille van Christus, die Messias, moes deurmaak, ‘n groter rykdom as die skatte van Egipte.’ Baie van die wêreld se rykdom in daardie tyd was in Egipte gestoor. Moses het dus reeds gehad wat die meeste mense hulle lewens gewy het om te probeer kry: populariteit, plesier en besittings. Tog het God hom gevra om iets te doen wat belangriker was – en hy het dit gedoen. Dit was ‘n kwessie van prioriteite.
Moses kon maklik gedink het: ‘Die situasie met die slawe is so sleg, dus sal ek in die sisteem bly en dit probeer hervorm.’ Die meeste van ons wil hê dat mense van ons moet hou, maar daar is een groot probleem met populariteit: Dit hou nie. Jy kan vir ‘n ruk die ‘groot man’ op kampus wees, maar wanneer jy ‘n paar jaar later terugkeer, sal jy heel waarskynlik vind dat niemand meer dink dat jy spesiaal is nie.
Dan is daar plesier. Is plesier verkeerd? Dis nie verkeerd nie, tensy dit sondig is. Daar is ook niks verkeerd met materiële sukses nie. Sommige van die grootste mense in die Bybel was baie ryk, insluitend Abraham en Salomo. Jesus het egter gesê: ‘…Ware lewe word nie gemeet aan hoeveel ons besit nie’ (Lukas 12:15 NLV). Uiteindelik bring rykdom nie geluk mee nie. Geld is daar om gebruik te word – nie om liefgehê te word nie! God wil hê dat ons dinge moet gebruik en mense moet liefhê. As ons egter dinge liefhet, sal ons op die ou einde mense gebruik.
Moses het sy prioriteite reg gehad; hy het nie waarde aan materiële dinge geheg nie, omdat daar iets belangrikers in sy lewe was – God se wil!
Sielskos: 1 Tim 1-3; Joh 6:35-51; Ps 127; Spr 24:19-22
2020-10-25
Hebreërs 11:25 NLV
Tweedens moet jy verantwoordelikheid vir jou lewe neem. ‘Omdat Moses geglo het, het hy as volwasse man geweier om as die seun van Farao se dogter bekend te staan. Hy het die swaarkry saam met God se volk verkies bo die kortstondige genieting van die sonde’ (verse 24-25 NLV). Eerstens, het Moses geweier om enigiemand behalwe homself te wees. Tweedens, het hy gekies om God se pad te stap.
Die beginsel hier is dat jy altyd ‘n negatiewe met ‘n positiewe kan vervang. Jy hou nie net op om iets te doen nie – jy begin iets anders doen. Die Christelike lewe is nie ‘n saak van negatiewe reëls en regulasies nie. Dis ‘n saak van verhoudings – met God, met ander mense en met jouself.
Let op dat Moses sy besluit gemaak het toe hy ‘n ‘volwasse man’ was. Dis ‘n teken van volwassenheid wanneer jy persoonlike verantwoordelikheid begin aanvaar. Toe Moses ‘n baba was, was dit in die haak om die besluit oor wie hy was, uit te stel. Toe hy egter ‘n volwassene word, moes hy ‘n keuse maak, verantwoordelikheid vir sy eie lewe neem en vorentoe beweeg.
Dis altyd maklik om ander mense te blameer: ‘Ek sou God se pad stap as my kêrel of vriendin, ma of pa, man of vrou, dit ook sou doen.’ Of: ‘Ek sou vandag ‘n beter mens gewees het as ek beter ouers gehad het.’ Jy kan nie al die omstandighede in jou lewe kies nie, maar jy kan kies of die omstandighede jou ‘n bitter of ‘n beter persoon maak. Op die ou einde is jy die enigste een wat jou lewe kan ruïneer! Die duiwel kan nie, omdat hy nie genoeg mag het nie – en God sal nie, want Hy is lief vir jou. Kies dus om God se pad te stap!
Sielskos: Matt 6:5-15; Jak 5:13-18; 1 Tess 5:16-18
2020-10-24
Hebreërs 11:24 NLV
Moses se lewe openbaar vier kwessies wat jy moet hanteer sodat jy sukses in die lewe kan behaal.
Eerstens: Jy moet weet wie jy is. ‘Omdat Moses geglo het, het hy as volwasse man geweier om as die seun van Farao se dogter bekend te staan.’ Moses is as ‘n Hebreër gebore, maar is as ‘n Egiptenaar deur die farao se dogter grootgemaak. Selfs al was hy besig om opgelei te word om tweede in bevel in Farao se koninkryk te wees, het Moses geweet dat God hom geroep het om sy mense te bevry en hulle uit Egipte te lei. Dus moes hy ‘n keuse maak. Moses het elke gemak waarvoor hy kon wens in die paleis gehad en hy kon daar gebly het. Wat sou jy gedoen het? Moses het die regte besluit gemaak, maar dit het beteken dat hy die volgende tagtig jaar van sy lewe in die woestyn sou moes deurbring.
Almal van ons moet vrede met ons identiteit maak. Ons het almal ‘n diepe behoefte en begeerte om te aanvaar wie ons is. Om iemand te probeer wees wat ons nie is nie, is ‘n vinnige manier om ‘n maagseer te kry, omdat dit ons onder so baie druk plaas.
Moses het hierdie spanning herken en besluit om op te hou om voor te gee. Dis bevrydend wanneer ons ophou om iemand te probeer wees wat ons nie is nie en God se plan vir ons lewe begin aanvaar. Hoe sou ons Moses vandag onthou het as hy besluit het om in die paleis te bly? Dalk as ‘n Egiptiese mummie in een of ander museum – of dalk glad nie. Hy het egter die moeilike besluit geneem, wat in die lig van die ewigheid die regte besluit was. Leer by hom!
Sielskos: Hab 1-3; Joh 6:25-34; Ps 98; Spr 24:15-18
2020-10-23
Matteus 7:2 NLV
As jy die een is wat oordeel, onthou hierdie tydlose beginsel: wat rondgaan, kom terug na jou toe. Jesus het gesê: ‘Hou op om ‘n oordeel oor ander uit te spreek… Hy sal julle beoordeel soos julle ander beoordeel. Die kriterium waarmee julle oordeel, sal ook vir julle self gebruik word’ (verse 1-2 NLV).
Dit word die wet van wederkerigheid genoem en dit waarborg dat jy dit sal ontvang wat jy uitgee. Dis nie ‘n dreigement nie; dis ‘n onveranderlike wet, net soos die wet van swaartekrag. Jy sê: ‘Ek is eerlik, ek sê dit soos ek dit sien. Buitendien, daardie persoon se sonde moet ontbloot word!’ Dit gaan nie oor jou eerlikheid of hulle sonde nie; dit gaan oor God se Woord wat veroordeling verbied. Jy mag dalk reg wees en hulle verkeerd, maar wanneer jy oordeel, oortree jy die Skrif.
Wat as die ander persoon alreeds berou gehad het, hulle sonde bely het en God se vergifnis ontvang het? Dink daaroor: Die ergste vorm van oordeel is om sondes te veroordeel wat God alreeds vergewe en vergeet het (sien Jesaja 43:25).
Wanneer ons ander mense oordeel, kyk ons in die verkeerde rigting. Ons vermy dit wat ons nie wil sien nie – ons eie tekortkominge. Jesus het gesê: ‘En hoe sien jy die splintertjie in jou medemens se oog raak, maar jy merk die yslike stomp in jou eie oog nie op nie?’ (Matteus 7:3 NLV). Wat daardie splintertjie ook al mag wees, dis God se besigheid – nie joune nie. Jou ‘stomp’ is jou besigheid!
Jesus het ook gesê: ‘Gelukkig is dié wat met deernis uitreik na mense in nood, want God sal aan húlle deernis bewys’ (Matteus 5:7 NLV). In plaas daarvan om ander mense te oordeel, begin in jou ‘deernis rekening’ belê. Jy sal dit gou genoeg nodig kry.
Sielskos: Nahum 1-3; Joh 6:1-24; Ps 85; Spr 24:11-14
2020-10-22
1 Korintiërs 4:5 NLV
Oordeel is soos asemhaal – dit gebeur natuurlik. Soms is die ergste kritici Christene wat die Skrif as wapen gebruik. Indien jy dus die een is wat geoordeel word, probeer om die volgende vier dinge te onthou:
1) Wys nederigheid. As jy skuldig is, bely dit aan God, jouself en die gepaste mense. Belydenis bring eerlikheid en geestelike groei mee (sien 1 Johannes 1:9).
2) Ken jou Bybel. Satan het die Skrif uit konteks gebruik om Jesus te probeer versoek, maar Jesus het die konteks geken en nie daarvoor geval nie (sien Lukas 4:1-13). Wanneer die Bybel uit konteks aangehaal word, onthou dat God dit nie op jou mik nie. Wanneer jy tereg deur God se Woord geoordeel word, moenie wanhopig word nie; dit beteken nie dat Hy vir jou kwaad is nie. Hy is lief vir jou: ‘Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is; Hy tug elkeen wat Hy as sy kind aanneem.
3) Moenie aangehits word om jouself te probeer regverdig nie. Mense wat oordeel is nie in feite geïnteresseerd nie – hulle wil net goed oor hulself voel deur jou sleg te laat voel. Kies jou gevegte versigtig en moenie tyd op die onbelangrike mors nie. Paulus het as volg teenoor sy kritici gereageer: ‘…Dis vir my werklik nie belangrik hoe julle of enige menslike regbank my beoordeel nie…’ (1 Korintiërs 4:3 NLV).
4) Moenie by die jurie aansluit nie. As God jou nie skuldig vind nie, moenie jouself oordeel nie. Volg Paulus se voorbeeld: ‘…Ek vertrou selfs nie eers my eie oordeel in hierdie opsig nie!’ (vers 3 NLV). As jy verkeerd is, bely dit en korrigeer dit met hulp van God se genade. Besluit dan om jou lewe sonder veroordeling te lei.
Sielskos: 2 Pet 1-3; Joh 5:31-47; Ps 126; Spr 24:10
2020-10-21
Spreuke 2:6 NLV
Wat sê die mense in jou lewe vir jou? Versterk hulle jou geloof of laat hulle jou aan jouself twyfel? Net omdat mense vir jou iets sê, beteken nie dat dit so is nie.
In 1492 het die mense rondom Columbus gedink dat die aarde plat is. Die ‘kundiges’ het sy reisplanne ondersoek en gesê dat sy idee onmoontlik was. Columbus het egter nie van die kant van die aarde afgeval soos hulle voorspel het nie – hy het Amerika ontdek!
In dieselfde trant het Thomas Edison vir Henry Ford probeer oortuig om sy idee van ‘n motorkar te laat vaar, omdat hy oortuig was dat dit nie sou werk nie. Hy het vir Ford gesê: ‘Kom werk vir my en doen iets wat die moeite werd is.’ Alhoewel Edison ‘n groot uitvinder was, klink dit asof hy positief was oor wat hy kon doen en negatief was oor wat ander mense kon vermag. Die volgende keer wat jy in jou kar klim om êrens heen te gaan, moet jy bly wees dat Ford nie Edison se negatiewe uitkyk oor karre gehad het nie.
Moenie dat iemand anders se beperkende denke jou beperk nie. Selfs al is jy die enigste positiewe persoon in jou familie, wees die een wat ‘n optimistiese uitkyk in elke situasie het. Wat ons ‘algemene kennis’ noem, is oor die algemeen dikwels verkeerd! ‘Dit is tog die Here wat wysheid gee. Sy woorde gee kennis en insig.’
Het die mense wat vir jou sê: ‘Dit kan nie gedoen word nie,’ vir God by die situasie ingereken? Indien hulle nie het nie, moenie daaraan aandag gee nie. In plaas daarvan om na mense te luister wat jou laat twyfel, moet jy na die mense luister aan wie God wysheid, kennis en begrip gegee het.
Sielskos: 2 Sam 22:31-24:25; Joh 5:16-30; Ps 5; Spr 24:8-9