2020-10-20
Kolossense 3:23 NLV
Jy sal weet dat jou werk jou ‘roeping’ is wanneer jy doen waarvoor jy lief is en lief is vir wat jy doen.
Die filantroop en nyweraar, Andrew Carnegie, het gesê: ‘Die gemiddelde persoon sit slegs 25 persent van hul energie en vaardigheid in hul werk. Die wêreld haal hulle hoed af vir diegene wat meer as 50 persent insit en staan op hulle koppe vir die enkele siele wat 100 persent aan hulle werk toewy.’
Thomas Edison was mal oor sy werk. In sy latere jare het hy Menlo Park, die wêreld se eerste fabriek wat niks anders as uitvindings gemaak het nie, gestig. Dit was ‘n voorloper tot die private navorsingslaboratoriums wat nou deur so baie groot maatskappye onderhou word. Op een tydstip was Edison besig om aan sewe-en-veertig dinge gelyk te werk. Ander uitvinders mag dalk ryker gewees het, maar geen uitvinder was meer entoesiasties of suksesvol nie.
Wanneer jy glo dat dit wat jy doen, ‘n verskil maak, sal jy anders voel oor wat jy doen. As jy glo dat jou werk waarde in God se oë het, sal jy nie meer oor die kritici omgee of van die rasieleiers afhanklik wees nie.
Paulus het gesê: ‘Al is my lewe kosbaar, ag ek dit van geen waarde as ek nie my lewenstaak en bediening wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak nie…’ (Handelinge 20:24 NLV).
Een van die laaste gebede wat Jesus gebid het, was: ‘Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U my gegee het om te doen’ (Johannes 17:4 NLV). As jy ernstig daaroor is om God te behaag, moet jy dit ook jou gebed maak.
Sielkos: 2 Sam 20:1-22:30; Joh 5:1-15; Ps 15; Spr 24:7
2020-10-19
1 Timoteus 4:13 NLV
Wat jy lees en bestudeer, is wat jy word. Wanneer jy die regte boeke met jou saamdra, onderhou jy ‘n aanhoudende vloed van waarheid en informasie na jou hart en gedagtes toe.
1) Lees ontmoedig onproduktiewe gesprekke. Jy moet altyd gereed wees om jou geloof te deel en ander mense te dien. Het jy egter al ooit langs iemand gesit wat nie wou ophou praat nie? Baie keer het mense wat daarvan hou om te praat, nie regtig iets beduidends om te sê nie. Hulle praat net om stilte te vermy, maar wanneer jy ‘n boek beskikbaar het, los dit daardie probleem op.
2) Maak ‘n lys van boeke wat jy elke maand wil lees. Dit voorkom onwyse keuses in oomblikke van verveeldheid, versoeking of moegheid. Kies aan die begin van die jaar twee-en-vyftig boeke wat jy teen die einde van die jaar wil lees – een per week.
3) Dra boeke saam wanneer jy reis. Wanneer jy weg van jou besige skedule is, kan jy droom, fokus en beplan.
Toe hy Timoteus gementor het, het Paulus geskryf: ‘…konsentreer daarop om die Skrif aan die gemeente voor te lees, die gelowiges te bemoedig en om hulle te onderrig. Moenie die geestelike gawe verwaarloos wat jy ontvang het… nie. Gee jou volle aandag aan hierdie sake. Werp jouself in jou werksaamhede sodat almal jou vordering kan sien’ (verse 13-15 NLV).
Die eerste boek wat jy moet lees is die Bybel – en dis ook die een wat jy die meeste moet lees. Lees egter ander boeke ook, omdat God die bron van alle ware wysheid en kennis is. Om Salomo aan te haal: ‘Die verstandige ding om te doen, is om eers te bekom… Stel dit hoog op prys en dit sal aan jou eer gee’ (Spreuke 4:7-8 NLV).
Sielskos: 2 Sam 17:14-19:43; Joh 4:39-54; Ps 41; Spr 24:5-6
2020-10-18
Spreuke 12:5 ABA
Jou gedagtes kan vir of teen jou werk. Wanneer dit vir jou werk, help dit jou om positief te bly, jou doelwitte te bereik en elke dag te geniet. Wanneer dit egter teen jou werk, kan dit jou negatief en moedeloos laat voel, jou terughou en jou gedagtes laat dink wat self-sabotasie tot gevolg het. Leer dus jou gedagtes om vir jou en nie teen jou nie, te werk.
‘n Belangrike manier om dit te doen, is om ‘n bewustelike besluit te neem om positief te begin dink – in terme van geloof en nie van vrees nie. Jou brein sal nie hierdie nuwe rol oornag begin vervul nie. Jy verwag dalk van jou brein om ‘n radikale transformasie te ondergaan, wat tyd sal neem. Besluit egter dat tesame met jou ywer en God se hulp, jou brein vir jou sal begin werk en ‘n positiewe dryfkrag in jou lewe sal word.
Dr Caroline Leaf, ‘n kognitiewe neurowetenskaplike, wys uit dat die brein agtien jaar neem om volwasse te word en ‘n leeftyd neem om te groei. Moenie die punt mis nie! Terwyl elke orgaan in jou liggaam tydens jou geboorte ten volle gevorm was en groter geword het soos jou liggaam gegroei het, het jou brein ‘n volle agtien jaar nodig gehad om volwasse te word. Sodra dit volledig gevorm is, hou dit aan groei – maak nie saak hoe oud jy is nie. Dis wonderlike nuus, omdat dit beteken dat jy nie in ‘n ou of verkeerde gedagtepatroon vasgevang hoef te bly nie. Jou brein groei steeds, wat beteken dat jy steeds jou denke kan verbeter.
Soos die Bybel sê: ‘Mense wat reg lewe, dink reg…’
Sielskos: Matt 21:18-22; Matt 8:5-13; Mark 6:1-6
2020-10-17
Psalm 126:2 NLV
God het elke menslike emosie wat jy voel, geskep. Hy het jou ontwerp om te huil wanneer jy hartseer is en te lag wanneer jy gelukkig is: ‘Daar is ‘n vaste tyd vir alles… ‘n Tyd om te huil en ‘n tyd om te lag…” (Prediker 3:1,4 NLV). Jesus het gesê: ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees’ (Johannes 15:11 NLV).
Vraag: Hoe gereeld lag jy? Dokters sê dat lag ‘n wonderlike genesende effek op jou liggaam het. Dit het ook wonderlike genesende effekte op jou gedagtes en siel. Stop en dink aan die dae wat jy gelag het, selfs al het jy nie regtig iets gehad om oor te lag nie. Jy was ver van God af en deur jou sondige gewoontes gebonde, maar Hy het jou vrygemaak, nie waar nie?
In die Ou Testament lees ons: ‘Toe die Here die bannelinge teruggebring het na Sion toe, was dit soos ‘n droom. Ons het gelag en van vreugde gesing. Die ander nasies het gesê: ‘Die Here het groot dinge vir hierdie mense gedoen.’ Die Here het groot dinge vir ons gedoen en ons is vol vreugde!’ (Psalm 126:1-3 NLV).
As God jou vrygemaak het, het jy waarlik iets om oor te lag. Hou op om so hard op jouself te wees – omdat jy nie perfek is nie, jou stadige groei in God, jou gebedslewe wat aandag kort, dat jy nie meer Skrifgedeeltes kan memoriseer nie, jou vrees om jou geloof met ander te deel, ens. Ons dra sulke swaar laste rond. Dis maklik om baie dinge te vind om oor bekommerd te wees, maar jy moet soms ‘n bietjie daaraan werk om gelukkig te wees. Die woord vir jou vandag is dus – lag meer!
Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Joh 4:27-38; Ps 87; Spr 24:1-4
2020-10-16
Matteus 6:31 NLV
Maak nie saak wat in die lewe gebeur nie, probeer om dinge in perspektief te hou. Doen jou bes om dinge te sien soos hulle waarlik is en moenie hulle uit proporsie blaas nie. Ontwikkel die gewoonte om na die groter prentjie te kyk, in plaas daarvan om op die een kwessie wat jou ontstel, vas te haak. Deur aanhoudend aan jou probleme te dink, lyk hulle groter as wat hulle regtig is.
Wanneer jy voor ‘n situasie te staan kom wat jou ontstel, moet jy eers die paniek hanteer voor jy die probleem kan hanteer. Gaan sit stil, kalmeer jouself en neem die tyd om spesifiek aan die goeie dinge wat jy geniet, te dink.
Die waarheid is dat bekommernis nooit weggaan nie. Wanneer jy een kwessie oplos, wag ‘n ander een om sy plek in te neem. Wat moet jy dus doen? Verander jou perspektief! In plaas daarvan om op jou bekommernisse te fokus, moet jy God in die situasie inbring. Het Hy jou al ooit gefaal? Nee, en Hy sal ook nooit! Die genade van God wat jou onderhou het en jou deur die vorige moeilike situasie gebring het, sal met jou in hierdie een – en die volgende een! – wees.
Let op wat Jesus oor die dinge wat ons die meeste bekommer, gesê het: ‘Moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat sal ons tog eet?’ of: ‘Wat sal ons drink?’ of: ‘Wat sal ons aantrek?’ nie… Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (verse 31-33 NLV).
Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; Joh 4:13-26; Ps 32; Spr 23:29-35
2020-10-15
Matteus 6:26 NLV
Jy mag dalk nie van die politieke party wat tans aan bewind is hou nie, maar jy is baie beter af as die Joodse mense met wie Jesus hier gepraat het. Die land was deur die Romeine beset en hulle het buitensporige belasting betaal om hulle aan bewind te hou. Hulle het as slawe gelewe, dus het hulle hul baie bekommer.
Toe het Jesus gekom en gesê: ‘Hou die voëls in die lug dop. Hulle saai nie, hulle oes nie, en hulle maak nie in skure bymekaar nie. Dit is onnodig, want julle hemelse Vader gee aan hulle kos. Besef julle dan nie dat julle vir God nog baie kosbaarder is as hulle nie? Kan al julle bekommernis julle lewe een sekonde langer rek? Vanselfsprekend nie!’ (vers 26-27 NLV).
Voëls weet nie waar hulle volgende maaltyd vandaan kom nie, maar tog sien jy nooit een wat op ‘n tak sit, besig om ‘n angsaanval te kry nie.
‘n Man was werkloos, despondent en het gewonder hoe hy vir sy gesin gaan sorg, toe hy ‘n paar voëls sien wat koek uit ‘n asblik eet. Meteens het hy besef – ‘As God vir die voëls koek kan voer, sal Hy verseker vir my ook sorg!’ Selfs as jy ‘n lae selfbeeld het en dink dat jy nie waardig is om voor gesorg te word nie, is jy nie steeds meer waardevol as ‘n voël nie?
Kyk dus hoe jou hemelse Vader vir hulle sorg en herinner jouself daaraan dat Hy vir jou ook sal sorg. As angs jou geluk deur die dag en jou slaap in die nag steel, moet jy besluit om volgens hierdie Skrifgedeelte te lewe: ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV).
Sielskos: 2 Sam 7:18-11:27; Joh 4:1-12; Ps 100; Spr 23:22-28