God werk in jou!

2020-12-12
Filippense 2:13 NLV

Wanneer jy God wil behaag, is daar twee struikelblokke wat jy moet oorkom – die ‘wil’ en die ‘kan.’ Om jou eie planne te laat vaar en God se wil te omarm, gebeur nie maklik nie. Jou ou vleeslike natuur wil hê wat dit wil hê, nie wat God wil hê nie. Selfs wanneer God se wil duidelik is en jy wil hê wat Hy wil hê, het jy nie noodwendig die nodige vermoë om dit te kan doen nie. Gelukkig is dit waar God die situasie betree om vir jou die ‘wil’ en die ‘kan’ te gee. Die gewilligheid en die vermoë om dit te kan doen kom egter van Hom af, nie van jou af nie.

Jy vra: ‘Hoekom is dit dan so ‘n stryd om God se wil te doen, wanneer Hy in my werk?’ Die probleem is dat jou natuurlike gedagtes self-gesentreerd is en geneig is om God se wil teen te staan. Wat is dus die antwoord?

1) Gee jou liggaam en sy begeertes aan God oor. ‘…gee dan julleself aan Hom as ‘n lewende en heilige offer…’ (Romeine 12:1 NLV). 2) Vernuwe jou gedagtes. ‘…laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is’ (Romeine 12:2 NLV). Deur jou gedagtes te vernuwe, beteken dat jy dit in lyn met God se gedagtes bring – om doelbewus te dink soos Hy dink. Met ander woorde, God inisieer die ‘wil’ en ‘kan’ in jou en jy werk saam deur jou gedagtes in lyn met syne te bring.

Wanneer dit gebeur, kan jy seker wees dat ‘…God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi…’ (Filippense 1:6 NLV).

Sielskos: Kol 3-4; Filemon; Joh 19:1-16; Ps 105:8-15; Spr 30:5-9