Groei is belangriker as doelwitte

2020-12-13
Spreuke 4:18 NLV

Phil Cooke skryf: ‘Groei is wat ons met kennis doen. Groei is waar ons ons kennis neem, hoe ons dit toepas en hoe ons dit in ons alledaagse lewe gebruik. Die leierskapskundige, John Maxwell, het my lank gelede geleer om my uitgangspunt van doelwitte na groei te verander. Dit was ‘n openbaring. Ek het altyd geleer dat doelwitte belangrik was en ek het ‘n sisteem gebruik waar ek oor en oor doelwitte probeer bereik het, maar aanhoudend daarmee gesukkel het. Ek kan sien dat doelwitte baie mense motiveer, maar dit het my leeg en onbevredig laat voel.

Toe John my egter wys hoe om my aandag op groei te fokus, het alles skielik in plek geval. Die proses het my geleer dat doelwitte goed is, maar wanneer ons ‘n doelwit bereik, is dit klaar.

Groei is egter ‘n nimmereindigende proses – waar jy altyd leer, altyd vorentoe beweeg en altyd presteer. Ek hoop dat wanneer ek die einde van my lewe bereik, daar ‘n paar goeie boeke op my bedkassie sal wees, want ek wil tot met my laaste asem nog leer en groei.

Kyk na mense in jou vriendekring. Hoekom behaal party van hulle sukses, terwyl ander stagneer? Hoekom beweeg sommige van hulle na hoër prestasievlakke, terwyl ander jare lank op dieselfde plek bly? Baie mense blameer die sisteem, die maatskappy of hulle baas. Hulle blameer die samelewing, hulle opvoeding of hulle verlede. ‘n Lewenslange plan vir groei kan egter grense breek en amper enige struikelblok oorkom.’

Die Bybel stel dit so: ‘Die pad van die regverdiges is soos die lig met dagbreek. Dit word al helderder totdat die volle dag aanbreek.’

Sielskos: Eseg 37:1-14; Matt 27:50-53; 1 Tess 4:13-18