2020-10-14
2 Timoteus 4:5 NLV
‘n Vrou het in haar woonkamer gesit toe ‘n klein swart slangetjie skielik te voorskyn kom, oor die vloer en onder die rusbank inseil. Sy was dodelik bang vir slange en het na die badkamer gehardloop om haar man, wat besig was om te stort, te roep. Hy het uit die stort met net ‘n handdoek om sy lyf gehardloop en ‘n ou besemstok uit die kas gegryp en daarmee onder die bank begin rondsteek. Op daardie stadium het die gesin se hond wakker geword en begin ondersoek instel oor al die opwinding. Hy het nader gekom en met sy koue neus aan die man se voet geraak. Die man het gedink dat die slang hom op sy voet gepik het en het flou geword. Sy vrou het tot die gevolgtrekking gekom dat haar man aan ‘n hartaanval beswyk het en na die hospitaal, wat ‘n blok van hulle huis af was, gehardloop. Die ambulanspersoneel het hulle na haar huis gehaas en die man op ‘n draagbaar geplaas. Net toe hulle hom begin uitdra, het die slang van onder die rusbank te voorskyn gekom. Een van die ambulanspersoneel het so groot geskrik dat hy die draagbaar laat val het en die man se been is gebreek. Die vrou het ineengestort toe sy haar man se gebreekte been sien. Tussenin het die slang stil-stil weggeseil!
‘n Ou Afrikagesegde sê: ‘Daar is veertig tipes malligheid, maar net een tipe gesonde verstand.’ Deur impulsief op te tree, beteken gewoonlik dat dinge erger gaan raak voor hulle beter raak. Voor jy dus paniekerig word, kalmeer jouself en vra God, selfs in die eenvoudigste dinge, vir wysheid en hulp.
Sielskos: 2 Sam 3:22-7:17; Joh 3:22-36; Ps 89:38-52; Spr 23:19-21
2020-10-13
Galasiërs 2:21 DB
Chuck Swindoll sê dat ons as gelowiges dikwels onverdraagsaam is ‘teenoor diegene wat nie by ons idee van ‘n gelowige pas nie – ‘n houding wat deur ‘n kwaai kyk of ‘n bytende opmerking geopenbaar word. Sulke reaksies sal die kerkgeledere vinniger as ‘n vuur in die konsistorie of ‘n griep in die kerkbanke uitdun.
Paulus het die Galasiërs tereggewys omdat hulle hulle rug op God gedraai het (sien Galasiërs 1:6), die onverdiende goedheid van Christus verwerp het (sien Galasiërs 2:21), en die kluts kwyt geraak het deur net op die wet te fokus (sien Galasiërs 3:1). Ja, daar is grense aan vryheid. Genade beteken nie dat jy net kan doen wat jy wil nie. Die grense is egter breër as wat ons besef. Ek kan byvoorbeeld nie dink dat die enigste musiek wat God behaag hoogdrawende en dralerige gesange is nie. Ook dink ek nie dat Hy van ons verwag om slegs met ‘n pak klere en ‘n das sy heiligdom binne te gaan nie. Dis nie God wat oor uiterlike voorkomste opgewerk raak nie! Hy ‘…kyk na gedagtes en bedoelings’ (1 Samuel 16:7 NLV).
Jesus het sy kragtigste en langste preek vir die Fariseërs gehou – mense wat die wet tot op die letter aangehang het. Hy het nie houe teruggehou toe hy met diegene wat by die tempels rondgehang het en ander geminag het, gepraat het nie.
Twee opmerkings: 1) As jy geneig is om soos die Fariseërs ander mense te boelie en op hulle neer te kyk – hou onmiddellik daarmee op! 2) Wanneer ‘n hedendaagse Fariseër jou lewe probeer beheer, stop hulle. Herinner daardie gelowige nabootsers dat die splinter in jou oog tussen jou en God is en dat hulle eerder aandag aan die balk in hulle eie oog moet gee.’
Sielskos: 2 Sam 1:1-3:21; Joh 3:1-21; Ps 89:15-37; Spr 23:15-18
2020-10-12
Johannes 4:10 NLV
Toe die vrou by die put vir Jesus water aangebied het, het Hy geantwoord: ‘…As jy maar net hierdie gawe van God vir jou geken het, en geweet het wie dit is wat vir jou vra: ‘Gee vir My water om te drink,’ sou jy Hóm gevra het en Hy sou vir jou water gegee het wat tot die ewige lewe lei.’ Jesus het gereeld genade aan die mense wat dit die minste verdien het, bewys, en hierdie vrou was geen uitsondering nie.
Hoe goed is jy daarmee om God se genade aan ander mense uit te deel? Is jy vrygewig, of deel jy dit spaarsamig uit? John Walker het gesê: ‘Genade laat mense toe om keuses te maak. Dis vry, vloeibaar en vry van skuld en skande. Dit sê: ‘Ek weet alles van jou en is steeds lief vir jou.’
Die meeste van ons, as ons eerlik is, funksioneer asof God suinig met sy genade is. Ons vrees sy straf. God weet egter reeds wie wat gedoen het en is steeds lief vir ons, ten spyte daarvan. Hy wil ons verlos, nie aanhou om ons aan ons sonde te herinner nie.
Ongelukkig lewe baie Christene asof ons steeds vir ons sonde gaan boet en hou almal saam verantwoordelik daarvoor. Ons gebruik die wapens van die vlees – die sarkastiese opmerking, die kwaai kyk – om mense sover te kry om reg te lewe.
In teenstelling daarmee, het die vrou by die put teruggegaan na haar dorp toe en vir hulle gesê: ‘…Kom gou!… Ek het ‘n vreemde man raakgeloop wat my hele lewensverhaal vir my vertel het…’ (Johannes 4:28 DB). Niks is vir Jesus weggesteek nie en tog het Hy op so ‘n manier met haar gekommunikeer dat sy geliefd en aanvaarbaar gevoel het. Dít is God se genade!’
Sielskos: Ef 4:17-6:24; Joh 2:12-25; Ps 89:1-14; Spr 23:10-14
2020-10-11
Spreuke 22:24 NLV
Het jy al ooit ‘n oesterskulp sonder ‘n oester gesien en gewonder hoe die oester uitgekom het? Kyk uit vir ‘n klein gaatjie wat aan die bokant van die skulp deur ‘n wulk (‘n soort seeslak), gemaak is. Hierdie klein slakkie het ‘n aanhangsel wat soos ‘n handboor werk. Die wulk boor daarmee in die bokant van die skulp en suig die oester deur die gat uit, bietjie vir bietjie, totdat die oester heeltemal opgeëet is.
Moenie toelaat dat iemand se woede-uitbarstings of kritiese opmerkings ‘n gat in jou goeie gesindheid boor en jou sonnige lewensuitkyk by jou steel nie. As jy nie versigtig is nie, kan jy geïrriteerd word tot op die punt waar bitterheid in jou begin borrel. Dit kan gevaarlik vir jou gesondheid wees.
Daar is ‘n berg mediese bewyse dat sekere tipes depressie eenvoudig woede is wat inwaarts gedraai word. Die Bybel sê: ‘Moenie vriende maak met ‘n humeurige mens nie. Bly ver weg van een wat ongeduldig is. Jy moenie dalk sy maniere by hom aanleer nie. Dit sal die oorsaak word van jou eie ondergang’ (verse 24-25 NLV).
As jy wys is, sal jy probeer om mense wat negatief en kwaad vir die lewe is, te vermy, asook mense wat lyk of hulle plesier daarin vind om jou af te kraak. Met ander woorde – vermy wulke!
John Mason skryf: ‘Een manier om van ongewensde bagasie ontslae te raak, is om jou gedagtes van die dinge wat teen jou is, te onttrek. Wanneer jy aan negatiewe faktore dink, gee jy hulle krag wat hulle nie waarlik besit nie. Om oor jou wrokke te praat, bou hulle net verder op. Wy jouself aan God se vergifnis, plan en Woord toe. Jy sal dan sien hoe jy los van voormalige ‘taai’ situasies, raak.’
Sielskos: Luk 1:26-38; Luk 2:25-35; Luk 2:41-51; Acts 1:13-14
2020-10-10
1 Timoteus 4:14 NLV
Luigi Tarisio is in 1796 in Italië gebore. Hy het viole versamel en was trots daarop om seldsame viole uit te snuffel en net instrumente van die hoogste kwaliteit aan te koop. Niemand het regtig van Tarisio se passie geweet nie, totdat hy oorlede is. Eers toe sy boedel gewaardeer is, is daar ongeveer 246 waardevolle viole in sy solder ontdek! Een van die duurste viole, wat in ‘n ou laaikas versteek was, was ‘n Stradivarius wat hy by ‘n ander versamelaar gekoop het.
Dr W.Y. Fullerton, die talentvolle prediker, het opgemerk dat omdat Tarisio die instrument bewaar het, het hy ‘die wêreld van al daardie musiek ontneem.’ Teen die tyd wat die Stradivarius in sy versameling uiteindelik weer bespeel is, het 147 jaar verbygegaan!
Een sielkundige het gesê: ‘Moenie doodgaan met die musiek nog binne in jou nie. Moenie aan die einde van jou lewe kom en sê: ‘Wat as my hele lewe verkeerd was nie?’ God het vir jou gawes gegee en Hy verwag van jou om hulle te gebruik. As jy wag tot jy dit perfek kan doen, sal jy dit nooit doen nie. Jesus het gesê: ‘Julle is sout wat smaak moet gee aan hierdie smaaklose wêreld waarin almal in sonde leef. As julle dit nie doen nie, beteken julle net mooi niks vir God nie. Dan kan Hy julle net sowel op die ashoop weggooi. Julle is ‘n lig vir die donker wêreld rondom julle. Almal moet kan sien dat julle glo. Julle geloof moet net so sigbaar wees soos ‘n stad wat hoog bo-op ‘n berg gebou is’ (Matteus 5:13-14 DB)’.
Verstaan dit: God sal jou daarvoor aanspreeklik hou om jou talente te ontdek, hulle ten volle te ontwikel en hulle te gebruik om Hom te verheerlik en ander mense te seën.
Sielskos: Ef 1:1-4:16; Joh 2:1-11; Ps 110; Spr 23:6-9
2020-10-09
Spreuke 15:18 NLV
Salomo maan ons herhaaldelik om nie gou kwaad te word nie (Spreuke 14:29, 15:18, 16:32). Neem jou Bybel en lees hierdie verse stadig en met gebed deur. Gee noue aandag aan die kere in die Skrif waar Jesus kwaad geword het (daar is min van hulle), en een ding sal dadelik vir jou uitstaan. Hy het nooit kwaad geword oor iets wat iemand aan Hom gedoen het nie. Hy het nooit teruggeslaan en gegrief geword oor mense wat Hom verkeerd behandel het nie. Selfs toe die laksmanne Hom teen die kruis vasgespyker het, het Hy gebid: ‘…Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!..’ (Lukas 23:34 NLV).
As jy ernstig daaroor is om Jesus te volg, moet jy dieselfde doen! Die Bybel sê: “‘n Vriendelike antwoord kalmeer die gemoedere, ‘n dwars antwoord laat woede opspring” (Spreuke 15:1 NLV).
Het jy al ooit agtergekom hoe brandweermanne nooit vuur met vuur beveg nie? Gewoonlik is water ‘n baie beter keuse. Op dieselfde manier, is ‘n sagte antwoord op ‘n kwaai opmerking, soos om die koue water van kalmte op die vlamme van ‘n vurige humeur te giet.
‘n Universiteitstudie het bevind dat wanneer daar op mense geskree word, hulle amper altyd terugskree. Die navorsing het ook bewys dat jy ‘n ander persoon se stemtoon deur die stemtoon wat jy gebruik, kan beheer. As jy jou stem sag hou, sal jy dit nie net vermy om kwaad te word nie, maar jy sal heel waarskynlik die ander persoon ook daarvan weerhou om kwaad te word.
Wil jy meer soos Christus word en meer sukses in jou omgang met ander mense behaal? Dan is die woord vir jou vandag: Moenie gou kwaad word nie.
Sielskos: 1 Sam 27-31; Joh 1:43-51; Ps 23; Spr 23:4-5