Sielshonger

2020-12-11
Psalm 142:5 NLV

Vrouens wat geïsoleerd en eensaam voel, verwag dikwels van hul mans om dit wat hul ‘sielshonger’ genoem word, te bevredig. Dis ‘n rol wat baie mans nog nooit goed hanteer het nie. Die moderne lewe help ook nie daarvoor nie.

‘n Eeu gelede het daar groot kameraadskap tussen vrouens en moeders geheers. Hulle het saam gekook, saam kerk toe gegaan en saam oud geword. Wanneer ‘n nuwe baba gebore is, was die tantes, oumas en bure daar om die nuwe ma te wys hoe om doeke te ruil, te voed en dissipline toe te pas. Vandag het die uitgebreide familie amper heeltemal verdwyn, wat ‘n vrou van daardie tradisionele bron van ondersteuning ontneem. Verder trek hedendaagse families ook elke drie of vier jaar, wat verhoed dat langtermyn vriendskappe gevorm word. Dis ook belangrik vir vrouens om te verstaan dat sommige van hulle behoeftes eenvoudig nie deur mans vervul kan word nie.

In die boek, Anne of Green Gables, is daar ‘n wonderlike oomblik wanneer Anne sê: “‘n Boesemvriendin – ‘n intieme vriendin, jy weet – regtig ‘n sielsgenoot aan wie ek my innerlike siel kan openbaar. Ek droom al my hele lewe lank om haar te ontmoet.” Sy verwoord ‘n begeerte wat algemeen by vrouens voorkom, maar nie so tipies by mans is nie – die behoefte aan intieme vriendskap. Die psalmdigter Dawid het dit as volg opgesom: ‘Ek kyk na regs, maar niemand sien my raak nie. Daar is vir my geen ontvlugting nie, en niemand gee vir my om nie.’

Om hierdie gevoel van isolasie te bekamp, is dit belangrik vir vrouens om ‘n netwerk van vriende deur aktiwiteite soos oefenklasse, groepstokperdjies en kerkaktiwiteite, te onderhou. Die interaksie tussen hulle mag dalk soos informele geselskap klink, maar dit is die vriendskapsband wat die lewe meer bevredigend maak.

Sielskos: Kol 1-2; Joh 18:25-40; Ps 105:1-7; Spr 30:1-4