Dink jy God het die verkeerde persoon gekies?
2020-12-07Numeri 13:30 NLV
Een Sondagaand, was Mary Southerland in die kerk toe ‘n vreemdeling haar op die skouer tik en vir haar sê dat sy geroepe is om die musiek- en jeugassistent van die kerk te wees. Sy het gedink hy is mal! Sy het pas haar universiteitopleiding met ‘n graad in laerskoolonderwys klaargemaak en ‘n vriend het haar uitgenooi om die aanddiens by te woon. Dis al – of so het sy gedink.
Toe die diens eindig, het haar vriend gesê: ‘Jy moet ten minste oor sy aanbod bid.’ Sy het dit gedoen. ‘Hier is ek nou dertig jaar later, ‘n onwaarskynlike dienskneg, wat in konstante verwondering oor God se plan vir my lewe, leef.’ Ons laat almal toe dat ons swakhede en onsekerhede die koers van ons lewens dikteer, terwyl God altyd opsoek is na gewone mense om uitsonderlike dinge te doen. Ons maak altyd verskonings oor hoe ons nie by die kerk, of in die gemeenskap, of by mense in nood betrokke kan raak nie. Die kans is goed dat jy, op jou eie, nie bekwaam voel nie. Min mense doen. Paulus wys egter die volgende uit: ‘…[God se] krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking…’ (2 Korintiërs 12:9 NLV).
Toe Moses twaalf spioene na Kanaӓn gestuur het om die land te verken, het tien van hulle gerapporteer: ‘Ons staan nie ‘n kans nie, die reuse is te groot’ (sien Numeri 13:28). Twee het egter gesê: ‘…Laat ons optrek en die land gaan oorneem. Ons is daartoe in staat.’ Jy is in staat daartoe, nie omdat jy magtig is nie, maar omdat God magtig is. God sien jou as ‘n wenner en iemand wat groot dinge kan oorkom en bereik, deur die talente en krag wat Hy in jou geplaas het.
Sielskos: Jos 14-15; Joh 17:1-12; Ps 147:12-20; Spr 29:6-10