Wat jy NIE gestuur is om te doen nie!
2020-12-08Johannes 20:21 NLV
Jesus het gesê: ‘…Net soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.’ Dit gaan daaroor hoe God wil hê ons die evangelie moet deel, nie oor die reëls, regulasies en voorskrifte van die verskillende denominasies nie. Verstaan die volgende:
1) Ons is gestuur om te dien, nie om gedien te word nie. ‘Selfs Ek, die Seun van die Mens, het nie gekom om gedien te word nie, maar om diens te lewer en so selfs my lewe te gee as ‘n losprys vir baie mense’ (Matteus 20:28 NLV). In God se koninkryk lê die mag aan die onderkant en dis van daar af wat Christus heers en oorwin. Tensy ons bereid is om die voorskoot van nederigheid aan te trek en ons broer se voete te was, selfs wanneer sy naam Judas is, verteenwoordig ons nie Jesus nie.
2) Ons is gestuur om God se wil, nie ons eie nie, te doen. Jesus het gesê: ‘Ek het van die hemel af gekom, nie om mý wil uit te voer nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het’ (Johannes 6:38 NLV). Wanneer ons klein is, sê ons dat ons eendag ‘n dokter of ‘n onderwyser of ‘n verpleegster wil word. Ons moet egter eerder ‘as dit God se wil is’ byvoeg, omdat jy op jou eie is as dit nie in Sy wil is nie. As jy die verkeerde beroep kies, sal jy in die verkeerde plek met die verkeerde mense wees en gevolglik sal alles in jou lewe verkeerd wees. Johannes het gesê: ‘Die wêreld én sy begeertes is aan die verbygaan. Wie die wil van God uitvoer, leef egter vir altyd’ (1 Johannes 2:17 NLV). Wanneer jy God se wil mis – mis jy die doel waarvoor jy gebore is. Moenie toelaat dat dit met jou gebeur nie.
Sielskos: Jos 16:1-19:23; Joh 17:13-26; Ps 148:1-6; Spr 29:11-15