‘n Woord vir die nuwe jaar (1)
2021-01-01Deuteronomium 11:12 NLV
Soos jy die nuwe jaar binnegaan, lees hierdie Skrifgedeelte en staan daarop: ‘Die land wat jy nou binnegaan… is nie soos Egipte van waar julle kom nie… Dit is ‘n land met berge en valleie met baie reën wat van die hemel kom. Dit is ‘n land waarvoor die Here jou God sorg. Dag vir dag, dwarsdeur die jaar, hou Hy sy oog op die land!’ (verse 10-12 NLV). Kom ons kyk vir die volgende paar dae na hierdie Skrifgedeelte.
‘Die land wat jy nou binnegaan en in besit gaan neem, is nie soos Egipte van waar julle kom nie…’ Egipte was die plek van stres, smart en struwelinge. Kanaän was egter die plek van Godgegewe sukses, selfwaarde en geestelike groei. Hierdie jaar hoef, met ander woorde, nie soos verlede jaar vir jou te wees nie. Hoekom? Omdat ‘die Here jou God sorg.’
Jeremia het gesê: “Tog is daar een ding waarop ek kan reken en waarop ek altyd kan hoop: Deur die Here se troue liefde is ons nie doodgemaak nie. Hy hou nooit op om vir ons om te gee nie. Sy liefde het geen einde nie. Op u ontferming kan mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut. Ek sê vir myself: ‘My lewe behoort aan die Here. Ek kan op Hom vertrou. Die Here is goed vir hulle wat hoop op Hom en vra wat Hy wil hê'” (Klaagliedere 3:21-25 NLV).
Dawid het gesê: ‘Sy toorn duur net ‘n oomblik, maar sy genade is lewenslank! In die nag vloei die trane, maar in die oggend is daar vreugde’ (Psalm 30:6 NLV). Jy hoef nie dit wat voor jou lê te vrees nie. Hierdie jaar kan jy God se liefde, genade, getrouheid, goedheid en guns in jou lewe ervaar.
Sielskos: Rom 13:12-14:19; Joh 1:1-14