Struikelblokke tot beantwoorde gebede (5)

2021-01-09
Matteus 5:24 NLV

Die vyfde struikelblok tot beantwoorde gebede is ‘n onversoenbare gees. Jou woede mag dalk geregverdig voel, maar dit kan langtermyn resultate, wat jou kan seermaak, veroorsaak. Wrokkigheid is skadelik vir jou gesondheid en geestelike welstand, ongeag ‘wie wat aan wie gedoen het.’ Jesus het gesê: ‘As jy dus jou offer na die altaar toe bring en dit val jou daar by dat jou medemens ‘n grief teen jou koester, los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede met daardie persoon. Kom dan terug en bring jou offer’ (verse 23-24 NLV). Satan sal aanhou om jou elke dag van jou lewe seer te maak – totdat jy besluit om te vergewe.

God sê: ‘Ek, ja, Ek alleen, is die Een wat julle sondes uitwis. Ek doen dit ter wille van Myself en dink nie weer daaraan nie’ (Jesaja 43:25 NLV). Vergeet dit, om God se onthalwe; wanneer jy dit aanhou ophaal, pla jy Hom! Is God regtig ernstig hieroor? Ja. ‘Die Here het egter 70 man van Bet-Semes laat sterf omdat hulle die ark van die Here bekyk het…’ (1 Samuel 6:19 NLV). Wat was in die ark? Die Tien Gebooie wat ons almal al verbreek het; die rekord van ons skuld en mislukking. Dink twee keer na voor jy besluit om iemand anders se sonde te ontbloot; jy is op gevaarlike voet met God! Jy sê: ‘Maar hulle verdien nie om vergewe te word nie.’ Niemand van ons verdien dit nie, maar God vergewe ons in elk geval. Sy Woord sê: ‘…Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (Efesiërs 4:32 NLV).

As jy dus wil hê dat God jou gebede moet beantwoord – vergewe en laat dit gaan!

Sielskos: Eks 19-21; Matt 5:38-48; Ps 46; Spr 1:32-33