Struikelblokke tot beantwoorde gebede (3)
2021-01-071 Johannes 3:21 NLV
Die derde struikelblok tot beantwoorde gebede is onbelyde sonde. Nadat hulle Jerigo, die sterkste stad in die Beloofde Land, oorwin het, is die Israeliete deur ‘n handvol soldate verslaan. Josua was verpletter! Hy ‘…het sy klere geskeur. Hy het voor die ark van die Here op die grond neergeval en daar bly lê tot die aand toe…’ (Josua 7:6 NLV). Luister na sy gebed: ‘Wanneer die Kanaäniete en almal wat in die land woon daarvan hoor, gaan hulle ons omsingel en ons van die aarde af verdelg. Wat sal dan van u eervolle Naam word?’ (vers 9 NLV).
Hoe het God gereageer? Jy sal dalk verbaas wees. “Die Here sê toe vir Josua: ‘Staan op. Hoekom lê jy daar op die grond? Israel het oortree…'” (verse 10-11 NLV). Wat het toe gebeur? Akan, ‘n Israelitiese soldaat, het van die buit wat aan God behoort het, gesteel. Jerigo was die eerste stad in die Beloofde Land wat hulle oorwin het en God het gesê dat die eerste van alle oeste aan Hom behoort (sien Spreuke 3:9). Die skatte van die volgende nege gevegte het aan die mense behoort, maar die skatte van Jerigo het aan God behoort.
Daar is ‘n tyd om te bid en ‘n tyd om op te hou bid, sodat jy eers die sonde in jou lewe kan hanteer. Jy kan nie bid: ‘Here, wat wil U hê moet ek doen?’, wanneer jy reeds weet wat om te doen, maar nie gewillig is om dit te doen nie. Praat God deur vandag se dagstukkie met jou? ‘Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God toe te gaan. Wat ons ook al bid, kry ons van Hom omdat ons sy opdragte gehoorsaam en dié dinge in sy teenwoordigheid doen wat Hom bly maak’ (1 Johannes 3:21-22 NLV).
Sielskos: Eks 13-15; Matt 5:13-26; Ps 42:1-5; Spr 1:20-27