Struikelblokke tot beantwoorde gebede (2)

2021-01-06
Jakobus 4:3 NLV

Nog ‘n struikelblok wat veroorsaak dat jou gebede nie beantwoord word nie, is selfsug. Jy sal nie die woorde: ‘ek,’ of ‘my,’ of ‘myne’ in die Onse Vader vind nie. Jy vind eerder die volgende: ‘Gee ons die porsie brood wat ons vir vandag nodig het. En vergeef ons ons sondeskuld… Bewaar ons… en bevry ons van die greep van die Bose’ (sien Matteus 6:11-13). Kry jy die idee? Die man wat bid: ‘Here, seën my, my vrou en twee kinders: ons vier en niks meer nie,’ sal nie ‘n gunstige reaksie uit die hemel ontvang nie.

Jesus het gesê: ‘…alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou’ (Markus 11:24 NLV). Hierdie Skrifgedeelte is egter nie ‘n blanko tjek nie; God se antwoord op selfsugtige gebede is altyd nee. Jakobus skryf: ‘En selfs wanneer julle vra, kry julle dit nie omdat julle motiewe verkeerd is – julle wil goed hê net om dit self te geniet’ (Jakobus 4:3 NLV).

Miskien dink jy: ‘Maar die Bybel sê wanneer ek vreugde in die Here vind, sal Hy my alles gee wat my hart begeer’ (sien Psalm 37:4). Ja, maar jou hartsbegeertes moet in harmonie met God se wil wees. God het Abraham geseën sodat hy ‘n seëning vir ander mense kon wees (sien Genesis 12:2-3).

God weet wat jy wil hê en Hy weet ook hoekom jy dit wil hê. Is dit net vir jou eie gemak en gerief, of is dit ook om sy doelwitte te vervul? Eers wanneer jy daardie vraag eerlik kan beantwoord, kan jy met vertroue bid. Wanneer jou doel is om ander mense te seën, spring God aan die werk en beantwoord jou gebede op wonderbaarlike maniere. Probeer dit – en sien vir jouself!

Sielskos: Eks 10-12; Matt 5:1-12; Ps 10:12-18; Spr 1:17-19