‘Gelouter in die smeltkroes van lyding’

2020-11-18
Jesaja 48:10 NLV

Moet nooit jaloers op iemand anders se talent wees nie. Moet ook nie daardeur geïntimideer wees nie, omdat die God wat hulle geroep en toegerus het, jou ook sal gebruik. Wanneer jy leer om die gawe van God in iemand anders se lewe te waardeer en te prys, sal jy jouself in ‘n posisie plaas waar Hy jou ook kan seën. Ons is almal nodig vir God se plan. Die Bybel sê: ‘Maar nou het God dit so beskik dat daar verskillende lede sal wees en dat elkeen van hulle sy eie plek in die liggaam sal hê, soos Hy dit goedvind’ (1 Korintiërs 12:18 NLV). Soek Hom dus en jy sal jou opdrag vind.

Hoekom het Jesus gesê: ‘So sal baie wat so vernaam lyk, eendag heeltemal onbelangrik wees…’ (Matteus 20:16 NLV)? ‘n Gedeelte van die antwoord word in hierdie woorde gevind: ‘Ek het julle gelouter, maar nie soos silwer nie. Ek het julle gelouter in die smeltkroes van lyding.’ Jy het meer as ‘n roeping nodig – jy het karakter nodig sodat jy geloofwaardigheid kan hê. Dit beteken dat jy tyd in die silwersmid se vuur moet deurbring.

Oor die algemeen is dit nie jou roeping wat jou in die moeilikheid laat beland nie, maar jou karakter – of gebrek daaraan! God het gesê: ‘Ek wil sien hoe jy onder druk reageer. Wanneer jy ‘n ‘ja’ wil hê, maar met ‘n ‘nee’ moet saamlewe. Wanneer jy ‘n publieke bediening wil hê, maar tot agter die skerms beperk word.’ God is ‘n wyse besigheidsman; Hy plaas nie ongetoetse voorraad in sy winkelvenster nie.

Watse ‘smeltkroes van lyding’ bevind jy jouself vandag in? Voel jy die hitte van die silwersmid se vuur? Indien dit die geval is – wees bly! Wanneer jy uitkom, sal jy toegerus en gereed vir diens wees. Dís die woord vir jou vandag!

Sielskos: 2 Kro 1-4; Joh 11:38-57; Ps 81; Spr 27:1-3

Beskerm jou geestelike lewe

2020-11-17
Job 33:4 NLV

Jy kan diefwering voor jou vensters sit, ‘n alarm in jou kar hê, video-kameras by jou besigheid hê en jou waardevolle items in ‘n kluis toesluit. Wat doen jy egter om jou waardevolste besitting, jou geestelike lewe, te beskerm? Elihu het vir Job gesê: ‘…Die asem van die Almagtige gee my lewe.’

Wanneer God tydens jou redding sy Gees in jou inblaas, word jy geestelik lewendig. Nou het jy die vermoë om Hom lief te hê, Hom te dien en Hom te behaag. Dis wat die Vyand wil vernietig – die deel van God wat binne-in jou is! Om by dit uit te kom sal hy jou liggaam aanval, oorlog met jou gedagtes maak en jou deur jou gewoontes, vertwyfelinge en vrese probeer beheer. Hy sal selfs deur ander mense werk, insluitend nabye vriende en familielede.

Toe God asem in Adam ingeblaas het, het hy lewendig geword. Hy het besef wie hy is en wat hy geroep is om in die lewe te doen. Moenie die les hierin misloop nie! Totdat jy besef dat God jou geskep en vir ‘n doel gered het, sal ander mense probeer om hulle identiteit en agenda in jou ‘in te blaas.’ Dis gevaarlik, want wanneer iemand jou kan definieer, kan hulle jou beheer!

‘Hoe kan ek myself beskerm?’ vra jy. Deur elke dag met die bewustheid van God se teenwoordigheid te leef! Die Psalmdigter het gesê: ‘U is vir my ‘n skuilplek, ‘n sterk vesting buite bereik van my vyande. Laat my vir altyd in u woning bly, en onder die beskerming van u vleuels skuil!’ (Psalm 61:4-5 NLV). Wanneer jy in daardie plek van veiligheid is, kan die Vyand nie jou of enigiets wat regmatig joune is, bykom nie.

Sielskos: 1 Kro 26:20-29:30; Joh 11:28-37; Ps 50; Spr 26:27-28

Wees gereed om te ontvang

2020-11-16
Johannes 16:24 NLV

Die Bybel sê nie vir ons hoe lank die verlamde man in Handelinge hoofstuk 3 by die tempelingang gesit en bedel het nie, maar dit was ‘n daaglikse gebeurtenis. Toe hy Petrus en Johannes sien, was die kans goed dat hy niks verwag het nie – hy het net probeer oorleef. Toe het Petrus vir hom gesê: ‘…Geld het ek nie. Maar wat ek het, dít gee ek vir jou: Op gesag van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!’ (Handelinge 3:6 NLV). ‘Hy het opgespring, op sy voete gestaan en begin rondstap. Daarna, terwyl hy rondstap, huppel en God prys, is hy saam met hulle die tempel in’ (vers 8 NLV).

Daar is ‘n belangrike les hieruit te leer. God het sekere tye bepaal om sekere dinge te doen. Hy het ‘n kalender waarop jou naam is: ‘…want die bestemde tyd het aangebreek, die tyd om hom genadig te wees’ (Psalm 102:14 AFR83). As jy nie geestelik by jou ‘bestemde tyd’ ingestel is nie, mag jy dalk dit wat God vir jou in gedagte het, prysgee. Dit beteken dat jy moet leer om in verwagting te leef, omdat God se seëninge óf na jou toe kom, óf by jou verbygaan.

Die Vyand sal probeer om jou so besig, sinies en hooploos te hou dat wanneer God die antwoord stuur waarvoor jy gebid het, jy dit nie sal herken, daarvoor uitreik of dit ontvang nie. Jesus het gesê: ‘…Ek verseker julle, wat julle ook al van die Vader vra op grond van my Naam, sal Hy aan julle gee. Tot nou toe het julle nog nie op grond van my Naam gebid nie. Hou aan bid, en julle sal ontvang sodat julle blydskap volledig kan wees’ (Johannes 16:23-24 NLV). Wees dus gereed om te ontvang.

Sielskos: 1 Kro 23:21-26:19; Joh 11:17-27; Ps 8; Spr 26:23-26

Wat dit vat om te wen

2020-11-15
1 Korintiërs 9:26 NLV

Of dit nou in die wêreld van sport of in die koninkryk van God is, het alle wenners die volgende vyf karaktereienskappe.

1) Selfkennis. Wenners is eerlik oor hulle sterk- en swakpunte. Die Bybel sê: ‘…Want die Here sien elke hart en verstaan en ken elke plan en gedagte. As jy na Hom soek, sal jy Hom vind…’ (1 Kronieke 28:9 NLV). In gebed sien jy jouself soos jy is. Soos jy God se Woord lees, begin jy jouself sien soos jy kan wees.

2) Fokus. Waar jy ookal vandag is, wees daar – want dis waar God is. Mense wat hulle hele lewe lank vir hulle ‘skip om in te kom’ wag, word gewoonlik teleurgestel, of sterf in die hawe. Wenners lewe in die huidige oomblik. Hulle weier om een plek te wees, terwyl hulle gedagtes op ‘n ander plek is.

3) Selfvertroue. Wenners oorkom angstigheid deur hulle oë op die doelwit te hou. Soos hulle nader daaraan kom, vermeerder hulle selfvertroue. Judas skryf: ‘Maar julle, geliefdes, moet aanhou om julleself op te bou…’ (Judas vers 20 NLV). Dis iets wat jy vir jouself en daagliks deur gebed en God se Woord moet doen.

4) Taaiheid. Wenners offer die hede vir die toekoms op. Hulle het geleer om nee vir vergunnings en ja vir dissipline te sê, want die prys is vir hulle meer werd as die koste. Paulus skryf: ‘Ek brei my liggaam en dissiplineer dit om werklik bruikbaar te wees…’ (1 Korintiërs 9:27 NLV).

5) ‘n Wenplan. Wenners weet dat talent alleenlik nie genoeg is nie; jy het ook ‘n plan nodig waarvolgens jy moet lewe. Het jy al God se plan vir jou lewe ontdek? Lewe jy daarvolgens? Indien nie, praat vandag met Hom daaroor. Dis een van die belangrikste gesprekke wat jy ooit sal hê.

Sielskos: Matt 6:1-4; Mark 12:41-44; Luk 14:12-14; 2 Kor 9:6-11

Maak seker daarvan om God te prys!

2020-11-14
Psalm 34:2 NLV

Die Psalmdigter het gesê: ‘Ek sal te alle tye die Here loof. Sy lof sal altyd op my lippe wees… Kom verheerlik die Here saam met my; laat ons saam sy Naam prys’ (verse 2-4 NLV). Let drie dinge in hierdie Skrifgedeelte op:

1) Jy moet kies om die Here te prys. ‘Ek sal te alle tye die Here loof. Sy lof sal altyd op my lippe wees.’ Dis nie ‘n impuls nie, dis ‘n keuse wat jy maak, ongeag jou gevoelens. Die woord ‘halleluja’ is die bevelvorm van die woord ‘prys’. Dis ‘n uitdrukking van lofprysing, maar dis ook ‘n bevel om die Here te begin prys.

2) Lofprysing roer jou emosies. Eerstens, het Dawid die Here geprys omdat hy beveel is om dit te doen. Tweedens, het hy die Here geprys omdat hy dit wou doen. As jy jou gevoelens wil verander, moet jy jou fokus verander. Voor dit verby was, het Dawid gesing: ‘Maar hulle wat die Here dien, sal Hy bevry. Nie een wat by Hom skuil, sal veroordeel word nie’ (vers 23 NLV).

3) Lofprysing beïnvloed ander. ‘Kom verheerlik die Here saam met my; laat ons sy Naam prys.’ Lofprysing is aansteeklik; dit verander die atmosfeer rondom jou. Wanneer jy saam met mense lofprys, gee dekorum pad voor verruklikheid en jy bevind jouself in ‘n area van vreugde wat jy nog nooit vantevore ervaar het nie.

Lofprysing het verskeie vorms van uitdrukking. Psalm 150 noem nege verskillende maniere om God te prys. Jy kan praat, skree, sing, jou hande klap of hulle ophef. Jy kan musikale instrumente speel, jy kan staan, kniel of dans. Die punt is – maak seker om God te prys!

Sielskos: 1 Kro 19:1-23:20; Joh 11:1-16; Ps 4; Spr 26:17-22

Hoe om moedeloosheid te oorkom (3)

2020-11-13
Nehemia 4:14 NLV

Beveg ‘n swaarmoedige lewensuitkyk. Houding is ‘n klein dingetjie, maar dit maak ‘n reuse verskil. Depressie, swartgalligheid, pessimisme, wanhoop en moedeloosheid affekteer meer mense as al die wêreld se gekombineerde siektes saam. Die waarheid is dat entoesiasme jou kan neem waar talent alleen nie kan nie. Dink daaroor: Elke dag gee talentvolle mense hulself oor aan moedeloosheid en gooi tou op, terwyl mense met minder talent en vermoëns aanhou en sukses behaal.

Winston Churchill het een keer geskerts: ‘Ek is ‘n optimis. Dit lyk nie of om enigiets anders te wees, werk nie.’ As jy regtig, regtig, regtig glo dat God aan jou kant is, sal jy optimisties wees, selfs wanneer jy voor oorweldigende struikelblokke en moedeloosheid te staan kom.

In die Ou Testament, het ‘n groep voormalige slawe die mure van Jerusalem in slegs twee-en-vyftig dae herbou en voortgegaan om te floreer. Hoe het hulle dit gedoen? Omdat hulle leier gesê het: ‘Moenie aan moedeloosheid oorgee nie. Nie eers bietjie nie. Beveg dit om elke hoek en draai!’ Dit werk vandag steeds so!

Een van Satan se gunstelingwapens is moedeloosheid. Hy weet dat hy jou nooit kan verslaan nie, tensy jy reeds in jou gedagtes verslaan is. Jy het egter die krag om hom te oorwin. Die Bybel sê: ‘…Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug’ (Jakobus 4:7 NLV). Wanneer Satan moedeloosheid na jou deur toe bring, wat moet jy doen? Moenie die deur oopmaak nie! Moenie hom innooi nie! Moenie vir die pakkie teken nie! Onderwerp jouself eerder aan God – en staan hom teen!

Van tyd tot tyd ervaar ons almal moegheid, frustrasie, mislukking en vrees. Deur egter op God se beloftes te staan en krag uit sy mag te put, kan jy kies om nie moedeloos te word nie. Die keuse is joune!

Sielskos: 1 Kro 16-18; Joh 10:22-42; Ps 83:9-18; Spr 26:13-16