God het vir jou gawes gegee (1)

2021-01-21
1 Korintiërs 12:11 NLV

Die Bybel sê: ‘Daar is ‘n hele verskeidenheid geestelike gawes, en tog kom hulle van dieselfde Gees’ (1 Korintiërs 12:4 NLV). Die woord ‘gawe’ kom van die Hebreeuse woord ‘charis,’ wat letterlik genade beteken. Dit beteken dat jy nie ‘n geestelike gawe kan verdien, daarvoor kan kwalifiseer of daarvoor kan werk nie. Die Heilige Gees gee hulle aan elkeen van ons ‘soos Hy dit goedvind.’ Dit is nie iets wat jy deur studie of oefening kan kry of kan erf nie. Dit is nie hoogsontwikkelde natuurlike talente nie. Dit is bonatuurlike skenkings wat jou in staat stel om God se wil op God se manier uit te dra. Jy sal nooit God se wil kan doen voordat jy nie besef dat jy nie veronderstel is om Hom te dien deur krag uit jou eie vaardighede te put nie, maar dat jy op die inwonende krag van sy Gees moet vertrou.

Jy is, in ‘n mate, soos ‘n handskoen; die Heilige Gees binne-in jou vul daardie handskoen, beweeg dit en bereik daardeur dit wat gedoen moet word.

‘n Jong pastoor het een maal vir ‘n ouer pastoor gesê: ‘Ek is moedeloos, want God verwag die beste van my, maar maak nie saak hoe hard ek probeer nie, ek kan dit nie altyd vir Hom gee nie.’ Die ouer pastoor het gesê: ‘Seun, God verwag niks van jou nie, behalwe mislukking!’ Toe het hy egter bygevoeg: ‘Hy het egter vir jou die Heilige Gees gegee, sodat dit nie nodig is vir jou om te misluk nie.’ Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘…Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie’ (Johannes 15:5 NLV). Jou werk is om God se maniere te leer en op die krag van God te steun.

Sielskos: Jes 8-11; Matt 9:1-13; Ps 89:38-52; Spr 3:1-2

Versoeking (2)

2021-01-20
1 Korintiërs 10:13 NLV

God se plan om versoeking in oorwinning te verander is nie om dit te verduur nie, maar om daarvan te ontsnap. Dit beteken dat jy twee dinge moet doen:

1) Moenie in ‘n situasie wat jou versoek, beland nie. Te veel mense is soos die seuntjie wat onder die boer se appelboom sit. Toe die boer hom vra: ‘Seun, probeer jy my appels steel?’ het hy geantwoord: ‘Nee oom, ek probeer om dit nie te doen nie.’ Sy probleem was dat hy in die eerste plek onder die appelboom was. Jy kan nie pornografie van die internet af hou nie, maar jy kan dit vermy deur gehoorsaam te wees aan God se Woord wat sê: ‘Ek stel geen lae ding voor my oë nie…’ (Psalm 101:3 AFR53).

2) As jy jouself in ‘n situasie wat jou versoek bevind, kom vinnig daaruit. Die Bybel sê nooit dat ons versoeking moet beveg nie, maar dat ons daarvan moet wegvlug. Paulus sê vir Timoteus: ‘Vlug vir enigiets wat jeugdige drange aanwakker…’ (2 Timoteus 2:22 NLV). Hy waarsku die mense van Korinte: ‘Vlug dus weg van seksuele losbandigheid…’ (1 Korintiërs 6:18 NLV). Potifar se vrou het aanhoudend probeer om vir Josef te verlei. ‘…Ná sy bevordering het Potifar se vrou begerig na hom gekyk en hom genooi om by haar te kom slaap (Genesis 39:6-7 NLV). Josef het egter gevlug en sy kleed agtergelaat.

God voorsien nie ‘n uitweg voor die versoeking of na die versoeking nie, maar tydens die versoeking. Word jy vandag versoek? Bid en God sal jou versterk. ‘Gelukkig weet die Here hoe om almal te help wat in ‘n opregte verhouding met Hom leef as hulle voor versoekings te staan kom. Hy help hulle om nie daaraan toe te gee nie…’ (2 Petrus 2:9 DB).

Sielskos: Jes 4-7; Matt 8:28-34; Ps 89:15-37; Spr 2:21-22

Versoeking (1)

2021-01-19
1 Korintiërs 10:13 NLV

Is daar ‘n sekere versoeking wat jy aanhoudend voor te staan kom en waarvoor jy om elke hoek en draai swig? God het ‘n manier om jou versoeking in oorwinning te verander. Satan word ‘die versoeker’ genoem en hy weet presies voor watter versoekings jy die maklikste swig.

Paulus skryf egter: ‘Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook…’ Jesus moes self: ‘…presies dieselfde versoekings as ons trotseer – behalwe dat Hy nie voor die sonde geswig het nie’ (Hebreërs 4:15 NLV). Die rede daarvoor? ‘Omdat Hy self versoekings verduur het, kan Hy dié help wat onder versoeking swaarkry’ (Hebreërs 2:18 NLV).

Baie jong Christene dink dat wanneer hulle gered word, hulle nie meer versoekings sal ervaar nie. Nee, wanneer jy gered is, sal jy meer versoekings ervaar as toe jy nog verlore was. Versoeking neem nooit ‘n vakansie nie. Wanneer jy op vakansie gaan, gaan dit saam met jou. Dit sal jou tref wanneer jy die sterkste voel en jou neerfel en skop wanneer jy op jou swakste is. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Daarom – as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ‘n val kom nie’ (1 Korintiërs 10:12 NLV).

Wat is die antwoord? ‘…God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word’ (vers 13 NLV). Let twee dinge op: Eerstens, sal jy versoek word. Tweedens, sal jy nooit voor ‘n versoeking te staan kom wat jy nie die hoof kan bied nie, want God is getrou. Hy beantwoord gebede. Veral die gebed wat Jesus vir ons gesê het om te bid: ‘Help ons om nooit te swig voor versoekings nie, en pas ons op wanneer die duiwel ons wil verlei om verkeerde dinge te doen’ (Matteus 6:13 DB).

Sielskos: Jes 1-3; Matt 8:18-27; Ps 89:1-14; Spr 2:20

Bly volhard en jy sal wen

2021-01-18
Jesaja 50:7 NLV

Iemand het een keer vir die kampioenvegter, James Corbett, gevra: ‘Wat is die belangrikste ding wat ‘n man moet doen om ‘n kampioen te word?’ Hy het geantwoord: ‘Veg nog ‘n rondte.’ Suksesvolle mense het verskillende talente, maar hulle het almal dieselfde kwaliteite: volharding, hardnekkigheid en taaiheid.

Thomas Grey het vyf-en-sewentig manuskripte geskryf voordat hy tevrede was met Elegy Written in a Country Churchyard, sy poëtiese meesterstuk. S.N. Behrman, die Amerikaanse dramaturg, het vir elf jaar lank toneelstukke geskryf voor hy ‘n enkele een verkoop het. Somerset Maugham het net vyfhonderd dollar in sy eerste tien jaar as skrywer verdien. Terwyl hy voltyds in ‘n fabriek gewerk het, het Enrico Caruso vir twaalf jaar sanglesse geneem voordat hy ‘n tenoor geword het. George Gershwin het amper eenhonderd melodieë gekomponeer voor hy sy eerste een vir vyf dollar verkoop het.

Daar is ‘n belangrike les uit elkeen van hierdie verhale te leer: As jou droom nie onmiddellik plaasvind nie, moenie moedeloos word nie. Hou aan om aan jou droom te werk en ontwikkel jou talent. Studeer en leer. Groei deur ervaring. Hou aan werk. Oorwinning word aan die man of vrou gegee wat ‘nog ‘n rondte veg.’ Wanneer jy tou opgooi, kan God niks meer vir jou doen nie. Wanneer jy egter volhard, sal Hy jou help. Let op wat sy Woord sê: ‘Omdat die oppermagtige Here my help, sal ek nie in die skande kom nie. Ek het my gesig hard soos vuurklip gemaak. Ek weet ek sal nie in die verleentheid kom nie.’ Wanneer beloof God om jou te help? Wanneer jy jou gesig so hard soos vuurklip maak.

Sielskos: Eks 39-40; Matt 8:10-17; Ps 84; Spr 2:16-19

Jy kan jou lewe oor begin

2021-01-17
Spreuke 23:7 AFR53

Dit was ‘n lang, harde pad wat die Chandler familie uit die katoenvelde en uit armoede in Mississippi moes stap. Al nege van die kinders kon die bywonershuisie waarin hulle moes bly en dat hulle nie genoeg gehad het om te eet nie, onthou. Vandag het al nege kinders egter universiteitsgrade agter hulle name!

Hier is hulle inspirerende verhaal: Hulle ouers het twee dollars geleen om ‘n buskaartjie vir hulle seun Cleveland te koop, wat uiteindelik die voorsitter van die departement van ekonomie aan Howard Universiteit geword het. Luther het die Universiteit van Omaha bygewoon en die bestuurder van publieke werke vir Kansas City geword. Hy het sy broer James gehelp om Omaha toe te kom en toe van daar af hom gehelp om werk by Yale Universiteit te kry. James het op sy beurt weer vir Herman gehelp, wat nou ‘n tegniese bestuurder in Dallas is. Donald werk in Minneapolis. Die kinders het ook hulself gehelp – deur katoen te pluk, mielies te oes en aartappels op te grawe. Fortson het die Morehouse Kollege in Atlanta bygewoon en ‘n prediker in Colorado geword. Princess het haar M.A. graad aan Indiana Universiteit behaal en ‘n onderwyseres geword. Gloria is ook ‘n onderwyseres. Bessie het ‘n M.A. graad en is ‘n dieetkundige by ‘n hospitaal. In 1984, het al die kinders bymekaar gekom en vir hulle ouers ‘n huis gekoop.

Die Bybel sê: ‘Want soos hy in sy siel bereken, so is hy…’ As jy jouself oortuig dat jy nie kan nie, of ander mense toelaat om jou daarvan te oortuig, sal jy nie kan nie. As jy egter glo dat jy deur God se genade kan, dan sal jy! As die Chandlers dit kon doen, kan jy ook. Vergeet dit wat in die verlede gebeur het! Elke dag gee God jou die keuse om jou lewe oor te begin.

Sielskos: Gen 5:22-24; Heb 11:5; 2 Kon 2:1-12; Hand 1:9-11

Areas van sukses, areas van sukkel

2021-01-16
Romeine 12:6 NLV

Die Bybel leer ons dat God vir ons elkeen sekere gawes gegee het, sowel as die genade om hierdie gawes te gebruik. Wanneer ons nie binne die area van ons gawes optree nie, sukkel ons. Ons moet dit in gedagte hou wanneer ons iemand sien wat presteer, of self ‘n groot presteerder word.

Paulus het vyf tale gepraat en die helfte van die Nuwe Testament geskryf, maar hy het konstant met dit wat hy as ‘die doring in sy vlees’ beskryf het, geworstel. Toe hy tot God bid en Hom vra om dit te verwyder, het God nee gesê: ‘…My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking’…’ (2 Korintiërs 12:9 NLV).Ons het dus genade nodig in die areas waarin ons begaafd is, sowel as genade vir die areas waarin ons glad nie begaafd is nie.

Daar is ‘n verhaal van ‘n man wat na ‘n bekende spreker gaan luister het en op die stoel langs die spreker se vrou beland het. Gedurende die praatjie, het die man opgelet dat die bekende spreker geborduurde kouse aan het. Met nadere ondersoek het die man gesien dat die letters op die spreker se kouse ‘TGIF’ gelees het. Toe die praatjie verby is, het hy die spreker gekomplimenteer en toe na die spreker se vrou gedraai en gevra: ‘Hoekom sê jou man se kouse, TGIF: Thank Goodness It’s Friday?’ Sy het geantwoord: ‘O, dis nie waarvoor die letters staan nie; dis om hom te help aantrek. Die letters staan vir ‘Toes Go In First’.’

Solank as wat jy lewe sal jy in sekere areas uitblink en in ander areas sukkel. Jy sal egter vind dat God se genade genoeg is vir enige uitdaging waarvoor jy te staan sal kom. Dis die woord vir jou vandag.

Sielskos: Eks 36-38; Matt 8:1-9; Ps 81; Spr 2:11-15