2020-11-24
Lukas 12:37 NLV
Wanneer jy aan self-fokus dink, mag jy dalk vra: ‘Wat van al daardie Skrifgedeeltes wat spesifiek vir ons sê om op te let? Gaan hulle nie almal daaroor om ‘n oog oor onsself te hou nie?’ Dis ‘n goeie vraag, kom ons kyk dus na ‘n paar Skrifgedeeltes wat daaroor gaan.
In Markus 13:34-37 (NLV) lees ons: “Die koms van die Seun van die Mens kan vergelyk word met ‘n man wat van sy huis vertrek om op reis te gaan. Hy vertrou sy eiendom aan sy werksmense toe. Vir elkeen het hy instruksies gegee oor die werk wat hy moes doen, maar vir die deurwagter het hy opdrag gegee om noulettend wag te hou. Waak julle dan voortdurend, want julle weet nie wanneer die baas van die huis terugkom nie – teen die aand of teen middernag of met hanekraai of vroegdag. Moenie dat hy julle aan die slaap kry as hy onverwags opdaag nie. Wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: ‘Bly voortdurend waaksaam!'”
Wat Jesus hier vir ons leer, is die teenoorgestelde van self-fokus. Jesus verwag van ons om onsself te vergeet, pligsgetrou vir sy koninkryk te werk en uit te sien en voor te berei vir sy terugkeer. Jesus wil nie hê dat jy obsessiewe selfondersoek moet doen wat jou moeg, moedeloos en teleurgesteld in jouself laat nie. Nee, Hy wil hê dat jy opgewonde en betrokke by sy werk hier op aarde moet wees en aktief op die uitkyk vir jou Here en Koning se koms moet wees. ‘Laat die hele wêreld na My toe kom sodat julle gered kan word. Want Ek is God en daar is geen ander nie’ (Jesaja 45:22 NLV). Fokus dus meer op God – en minder op jouself.
Sielskos: 2 Kro 19-21; Joh 13:1-17; Ps 95; Spr 27:17-19
2020-11-23
2 Korintiërs 13:5 NLV
Dis nie noodwendig sleg om op jouself te fokus nie, mits dit tot geestelike groei lei. Sommige mense neem egter verkeerdelik aan dat dit ‘n Bybelse mandaat is! Het God ons nie immers beveel om onsself te ondersoek nie? Met dit in gedagte begin ons wonder – ‘Is ek geestelik genoeg? Het ek waarlik berou oor my sondes? Bid ek genoeg? Is God tevrede met my?’ Die waarheid is dat wanneer jy op jouself fokus, dit jou mismoedig en oorwonne kan laat voel.
Kom ons kyk wat God regtig sê. Daar is net twee gevalle waar selfondersoek in die Bybel genoem word en nie een van die twee leer ons om op onsself te fokus nie.
Eerstens, het Paulus die Korintiërs aangespreek omdat hulle groot sonde in hulle kerk toegelaat het. ‘n Man het ‘n verhouding met sy stiefma gehad en niemand was daaroor ontsteld nie. Omdat hulle nie berou oor hulle onreinheid, seksuele vergrype en losbandigheid gehad het nie (sien 2 Korintiërs 12:21), het Paulus geskryf: ‘Ondersoek julleself of julle in ‘n egte geloofsverhouding met Christus staan…’ Dis nie ‘n uitnodiging om op jouself te fokus nie, maar ‘n geestelike ondersoek.
Tweedens, het Paulus die Korintiërs se gedrag gedurende die nagmaal gekorrigeer. Omdat sommige van hulle van die nagmaalwyn dronk geraak het, het hy gesê: ‘Dit is waarom julle julleself moet ondersoek voordat julle van die brood eet en uit die beker drink’ (1 Korintiërs 11:28 NLV). Paulus bedoel nie dat jy op jou foute moet fikseer nie, maar op die bevrydende waarheid dat Jesus die prys vir al jou sonde betaal het – in die verlede, die hede en die toekoms.
Groei, vreugde en oorwinning lê daarin om ‘n ongesonde fokus op jouself agter te laat en op Christus gefokus te bly!
Sielskos: 2 Kro 16-18; Joh 12:37-50; Ps 102:18-28; Spr 27:13-16
2020-11-22
Psalm 34:9 NLV
Die Psalmdigter het gesê: ‘Beproef en sien dat die Here goed is…’ Wat jy van God glo, sal in die manier waarop jy jou lewe lei, manifesteer. Wat beteken dit om ‘goed’ te wees? Dit beteken dat jy jou lewe op die beste manier wat jy kan, lei. Omdat God alwetend is, weet Hy wat jou beste is! Sy goedheid kan nie bevraagteken word nie. Omdat God goed is – nie net op ‘n vroom manier nie, maar waarlik, prakties, konsekwent goed is – kan jou sin van welstand, sekuriteit, vrede, selfvertroue en vreugde oorvloedig wees. ‘n Goeie God kan nie sy belofte verbreek, sy kinders verlaat of hulle nie liefhê en seën nie. Jy kan verseker wees dat Hy jou in elke omstandigheid op die beste moontlike manier sal behandel.
Wanneer dit voel of jou lewe uitmekaar val, is dit soms moeilik om God se goedheid raak te sien of te voel dat dinge beter sal raak. Dis wanneer jy die geloof wat God reeds vir jou gegee het moet gebruik en deur ‘n daad van jou wil op Hom moet vertrou (sien Romeine 12:3).
‘n Wyse pastoor is een keer deur ‘n moedelose gemeentelid gevra: ‘Pastoor, lyk die wêreld ook vir jou soos ‘n wrak?’ Hy het geantwoord: ‘Ja, soos die wrak van ‘n gebarste saad!’ Sonder om deur die ‘wrak’ stadium te gaan, waar die wêreld letterlik uitmekaar val, kan die akker nooit aan die eikeboom lewe gee nie.
Omhels dus God se wil gedurende hierdie toets, omdat dit ‘goed en aanvaarbaar en volmaak is,’ ongeag hoe dit tans vir jou voel (sien Romeine 12:2). Uiteindelik sal jy ‘sien dat die Here goed is. Geseënd is die persoon wat op Hom vertrou!’
Sielskos: Gen 24:1-51; 2 Kor 6:14-7:1
2020-11-21
Markus 5:19 NLV
Was jy al ooit op so ‘n wonderlike plek dat jy nooit daarvan wou weggaan nie? Dis hoe die man in Markus hoofstuk 5 gevoel het nadat Jesus hom van ‘n lewe van waansinnigheid genees het. Hy wou saam met Jesus reis, na sy lesse luister, sy wonderwerke sien en sy geselskap geniet. Jesus het egter vir hom gesê om huis toe te gaan en sy familie te vertel wat God vir hom gedoen het. God wil nie hê dat jy verafgeleë en apart van die wêreld moet lewe nie! Die enigste manier om dit wat jy het te behou, is om dit weg te gee. Na ‘n geestelike bergtop ervaring, moet jy dit wat jy ontvang het neem en met die mense in die vallei deel.
Die man in vandag se teksvers het jare lank in die begrafplaas gewoon. Hy het homself gesny en onsamehangend geskree. Later het die mense hom: ‘…by Jesus se voete sien sit, geklee en by sy volle verstand…’ (Lukas 8:35 NLV). Dis hoe dit steeds werk. Eers klee Jesus jou, dan roep Hy jou. Wanneer jy na Hom toe kom, is jy geestelik naak, dus vou Hy jou in sy geregtigheid toe.
Paulus sê: ‘…iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’ (2 Korintiërs 5:17 NLV). Waar jy eens ‘in Adam’ was waar almal sterf, is jy nou ‘in Christus’ waar almal geestelik lewend gemaak word (sien 1 Korintiërs 15:22). Die gesangeskrywer Edwin Mote het geskryf: ‘Clothed in His righteousness alone, faultless to stand before the throne.’
Moet egter nooit vergeet dat wanneer jy ‘geklee en by jou volle verstand is,’ dat dit jou Godgegewe mandaat is om uit te gaan en vir ander mense te vertel wat die Here vir jou gedoen het nie.
Sielskos: 2 Kro 12-15; Joh 12:20-36; Ps 102:12-17; Spr 27:10-12
2020-11-20
2 Korintiërs 9:6 NLV
Jou finansiële oes word deur dit wat jy spandeer, dit wat jy spaar en dit wat jy in God se koninkryk saai, bepaal. Jou toekoms begin met dit wat jy tans in jou hand het. Niks is te min om te vermeerder nie. Elkeen van ons het iets van God ontvang wat in staat is om te vermeerder; die geheim is om dit in sy hande te plaas. Hy het gesê: ‘…Ek is die Here jou God wat jou leer wat vir jou reg is…’ (Jesaja 48:17 NLV).
In die Nuwe Testament het Jesus die vissermanne geleer hoe om meer vis te vang (sien Lukas 5:1-11). Op een geleentheid het Hy selfs vir sy dissipels gesê waar om geld te kry om hulle belasting te betaal (sien Matteus 17:27). Hy het ons geleer dat om te gee en nie terug te hou nie, die manier is om dit wat vir jou gegee is, te vermeerder (sien Lukas 6:38). Soms is jou saadjie die enigste manier uit die moeilikheid uit, maar jy moet gewillig wees om dit te saai.
Jesus het vir mense gewys waar om geld te vind. Wanneer hulle misluk het, het Hy hulle gemotiveer om op te staan en weer te probeer – en sy metodes te gebruik. Hy het vir hulle gesê dat God hulle onfeilbare bron is en hulle aangemoedig om te verwag dat hulle ‘n oes vir elke saad wat hulle saai, sou ontvang.
Paulus sê: ‘…God het die blymoedige gewer lief. En God is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee sodat julle in elke opsig altyd van alles genoeg kan hê én ook nog oorvloedig kan wees in elke goeie werk’ (2 Korintiërs 9:7-8 NLV). As jy saai, sal jy oes! Dis so eenvoudig!
Sielskos: 2 Kro 8-11; Joh 12:12-19; Ps 102:1-11; Spr 27:7-9
2020-11-19
Klaagliedere 3:25 NLV
As jy vandag geestelik sukkel, is hier drie gedagtes wat jou sal help: Eerstens, moet jy besef dat dit nie veronderstel is om maklik te wees om God se wil te doen nie. Satan, jou Vyand, gee niks sonder ‘n geveg op nie en angs is een van sy geheime wapens. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes’ (Galasiërs 6:9 NLV). Mense wat moeilike situasies oorkom is nie noodwendig meer geleerd of meer talentvol as ander mense nie, hulle is net meer volhardend. Hulle druk verby die punt waar ander mense tou opgooi.
Tweedens, moet jy glo dat God se wil vir jou totale welstand is. Jy is die kind van ‘n perfekte God, tree dus so op. Sy verbond met jou is vir ewig, dink dus so. Jou totale welstand is sy begeerte en plesier, leef dus so. Die apostel Johannes het geskryf: ‘Liewe vriend, ek hou aan bid dat dit in alle opsigte met jou goed mag gaan en dat jy nét so gesond sal wees soos dit geestelik goed met jou gaan’ (3 Johannes vers 2 NLV).
Derdens, reik deur geloof uit na dit wat God jou beloof het. Siekte is soos ‘n dief. Dit kan tyd met geliefdes, geld wat vir jou doelwitte aangewend kon word en energie om God se doel vir jou lewe te vervul, by jou steel. Die profeet Jesaja het gesê: ‘Tog was dit ons swakhede wat hy gedra het… Hy is geslaan sodat ons gesond kon word’ (Jesaja 53:4-5 NLV). Staan dus vandag in geloof en eis dit op, want soos die Skrif sê: ‘Die Here is goed vir hulle wat hoop op Hom en vra wat Hy wil hê.’
Sielskos: 2 Kro 5-7; Joh 12:1-11; Ps 76; Spr 27:4-6