Bly volhard en jy sal wen

2021-01-18
Jesaja 50:7 NLV

Iemand het een keer vir die kampioenvegter, James Corbett, gevra: ‘Wat is die belangrikste ding wat ‘n man moet doen om ‘n kampioen te word?’ Hy het geantwoord: ‘Veg nog ‘n rondte.’ Suksesvolle mense het verskillende talente, maar hulle het almal dieselfde kwaliteite: volharding, hardnekkigheid en taaiheid.

Thomas Grey het vyf-en-sewentig manuskripte geskryf voordat hy tevrede was met Elegy Written in a Country Churchyard, sy poëtiese meesterstuk. S.N. Behrman, die Amerikaanse dramaturg, het vir elf jaar lank toneelstukke geskryf voor hy ‘n enkele een verkoop het. Somerset Maugham het net vyfhonderd dollar in sy eerste tien jaar as skrywer verdien. Terwyl hy voltyds in ‘n fabriek gewerk het, het Enrico Caruso vir twaalf jaar sanglesse geneem voordat hy ‘n tenoor geword het. George Gershwin het amper eenhonderd melodieë gekomponeer voor hy sy eerste een vir vyf dollar verkoop het.

Daar is ‘n belangrike les uit elkeen van hierdie verhale te leer: As jou droom nie onmiddellik plaasvind nie, moenie moedeloos word nie. Hou aan om aan jou droom te werk en ontwikkel jou talent. Studeer en leer. Groei deur ervaring. Hou aan werk. Oorwinning word aan die man of vrou gegee wat ‘nog ‘n rondte veg.’ Wanneer jy tou opgooi, kan God niks meer vir jou doen nie. Wanneer jy egter volhard, sal Hy jou help. Let op wat sy Woord sê: ‘Omdat die oppermagtige Here my help, sal ek nie in die skande kom nie. Ek het my gesig hard soos vuurklip gemaak. Ek weet ek sal nie in die verleentheid kom nie.’ Wanneer beloof God om jou te help? Wanneer jy jou gesig so hard soos vuurklip maak.

Sielskos: Eks 39-40; Matt 8:10-17; Ps 84; Spr 2:16-19