2021-01-27
Lukas 14:28 NLV
Realiteit is die verskil tussen dit waarvoor jy wens – en dit wat is. As jy van nature ‘n optimistiese persoon is, mag jy dit moeilik vind om realisties te dink. Jy mag inderwaarheid dink dat dit die teenoorgestelde van geloof is. Nee, geloof ontken nie die probleem nie, dit konnekteer jou met God deur wie se krag jy dit kan oorkom. Hier is twee dinge wat realistiese denke vir jou sal doen:
1) Onnodige risiko’s minimaliseer. Alle aksies het gevolge. Realistiese denke kan jou help om te bepaal wat daardie gevolge mag wees. Dis veral belangrik wanneer jou aksies ander mense affekteer. Die ou gesegde: ‘Verwag die beste maar beplan vir die ergste,’ het waarde. Deur so te dink, minimaliseer jy onnodige risiko’s. Dit gee jou ‘n doelwit, met ‘n plan om dit te bereik. Hier is die goeie nuus: Jy het ‘n sin van hoop nodig om sukses te behaal. Hier is die slegte nuus: Hoop is nie ‘n strategie nie.
2) Jou wys wat verander moet word. Mense wat alleenlik op hoop vir hulle sukses vertrou, maak selde verandering ‘n hoë prioriteit. As jy slegs hoop het, impliseer jy dat sukses uit jou hande is. Dis ‘n saak van kanse en geluk – hoekom sal jy dus verander? Daar is niks soos realiteit wat jou in die gesig staar, wat jou help sien wat verander moet word nie. Verandering alleen bring nie groei mee nie, maar jy kan nie groei sonder verandering nie.
Om Christus te volg is die mees geseënde en vreugdevolle lewe wat jy kan lei, maar daar is ‘n prys aan verbonde. Jesus was realisties daaroor: ‘En jy kan nie my dissipel wees as jy nie jou eie kruis dra en My volg nie. Moenie eers begin voordat jy die koste bereken het nie…’ (verse 27-28 NLV).
Sielskos: Jes 30-33; Matt 10:21-31; Ps 104:24-35; Spr 3:11-12
2021-01-26
Handelinge 17:27 NLV
Die Bybel sê dat God nie ver van enigeen van ons af is nie. Van die massas in die stad se strate tot die geïsoleerde dorpenaars op die platteland, alle mense kan God se teenwoordigheid geniet. Baie doen egter nie. Hulle swoeg deur die lewe asof daar geen God is wat hulle liefhet nie. Asof hulle enigste krag hul eie is. Asof die oplossing van binne af kom, nie van bo af nie. Hulle lewe goddeloos.
Jy hoef dit egter nie te doen nie. Jy kan: 1) Op God se teenwoordigheid steun. “…Onthou dat God die versekering gegee het: ‘Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie'” (Hebreërs 13:5 NLV). 2) Op God se mense steun. ‘Waar twee of drie bymekaarkom omdat hulle my mense is, is Ek immers ook saam met hulle daar’ (Matteus 18:20 NLV).
Toe Moses en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het, het God vir Josua beveel om die geveg in die vallei te lei, terwyl Moses die koppie uitgeklim het om te bid. Hy het egter nie alleen gegaan nie. Hy het sy twee luitenante, Aäron en Hur, saamgeneem. Terwyl Josua die fisiese geveg gelei het, was Moses by ‘n geestelike geveg betrokke. Aäron en Hur het weerskante van hulle leier gestaan om sy arms tydens sy strydgebed op te hou. Die Israeliete het die Amalekiete oorwin omdat Moses gebid het en Moses het gewen omdat hy ander gehad het wat saam met hom gebid het. Jy kan ook gebedsondersteuning inroep.
Jesus het gesê: ‘…As twee van julle hier op aarde sou saamstem oor enigiets wat julle van God behoort te vra, sal my hemelse Vader dit vir julle doen’ (Matteus 18:19 NLV). Steun dus op God se teenwoordigheid en sy mense.
Sielskos: Jes 26-29; Matt 10:11-20; Ps 104:1-23; Spr 3:9-10
2021-01-25
Spreuke 2:6 NLV
Persoonlike groei vereis vier dinge:
1) Omgewing. Jy moet jouself in ‘n omgewing plaas wat groei aanmoedig. Sekere visse groei volgens die grootte van hulle omgewing. As jy hulle in ‘n klein visbak hou, bly hulle klein, maar wanneer jy hulle in die oseaan loslaat, groei hulle tot die grootte wat hulle bedoel was om te wees. Dieselfde beginsel is op jou van toepassing. Jy moet jou tyd met die regte mense, op die regte plek, met die regte dinge deurbring om sodoende te groei.
2) Sterkpunte. Wanneer jy probeer om in alles uit te blink, is jy op die ou einde in niks goed nie. God het jou spesifieke sterkpunte gegee – identifiseer en gebruik hulle.
3) Verandering. Die meeste van ons wil hê dat dinge moet beter word, sonder dat ons hoef te verander. Die Bybel sê: ‘…Kom ons gaan eerder verder en word geestelik volwasse…’ (Hebreërs 6:1 NLV). Om te groei, moet jy nie net jouself daaraan toewy om verandering te aanvaar nie, maar om dit na te jaag.
4) Genot. Die meeste skaakmeesters neem vyftien jaar om hulle bewegings te leer voordat hulle hul eerste wêreldtitel wen. Dis amper ‘n vyfde van hulle lewensduur! Wanneer jy so baie tyd aan iets toewy, moet jy seker maak jy geniet dit! As die bestemming vir jou aanloklik lyk, maar jy geniet nie die reis nie, sal jy wys wees om God se leiding te vra om seker maak dat jy in die regte rigting op pad is. As jy op die verkeerde trein is, moenie net saamry nie – klim by die volgende stasie af!
Sielskos: Jes 22-25; Matt 10:1-10; Ps 100; Spr 3:7-8
2021-01-24
Spreuke 3:13 NLV
Hier is drie redes hoekom ons nie persoonlike groei ervaar nie:
1) Ons dink dit vind slegs deur ervaring plaas. Om te glo dat persoonlike groei slegs deur ervaring plaasvind, is soos ‘n boogskutter wat telkens die teiken mis, maar glo dat hy verbeter omdat hy eenvoudig aanhou pyle afvuur. Ervaring is slegs winsgewend wanneer jy daaruit leer en begin om jou teiken te tref. Moenie jou lewe eindig met spyt oor die tyd en geleenthede wat jy vermors het nie. Gebruik van vandag af elke geleentheid wat God vir jou gee om te groei.
2) Ons dink dat groei slegs deur informasie plaasvind. Het jy al ooit iemand geken wat absoluut briljant was, maar tog nooit iets kon bereik tot voordeel van God, hulself of ander mense nie? Hulle is soos ‘n ensiklopedie gevul met kennis wat geen waarde het nie, omdat dit nooit gebruik word nie. Die grootste struikelblok tot persoonlike groei is nie onkunde nie; dis die illusie van kennis! Die Bybel sê: ‘Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie, dan bedrieg julle julleself’ (Jakobus 1:22 NLV).
3) Ons neem aan dat groei outomaties kom. Wanneer ons kinders is, vind groei outomaties plaas. Gedurende daardie tyd is daar ouers, afrigters en onderwysers wat ons op ‘n daaglike basis uitdaag om te groei, dus raak ons gewoond aan groei. Die probleem kom wanneer ons klaar is met skool en niemand ons druk om te groei of te vorder nie. Die prys van groei is altyd minder as die koste van onkunde en stilstand. Die waarheid is dat indien jy nie verantwoordelikheid vir jou persoonlike groei neem nie – sal dit nie plaasvind nie!
Sielskos: Dan 6:1-24; Hand 12:1-19
2021-01-23
1 Korintiërs 12:14 NLV
Net soos jy nie die kleur van jou oë kan bepaal nie, kan jy nie jou geestelike gawes bepaal nie. Die Heilige Gees gee vir ons sy gawes ‘soos Hy dit goedvind’ (vers 11 NLV). Let drie dinge op:
1) Ons is verskillend van mekaar. ‘Ja, die liggaam bestaan nie net uit een lid nie, maar uit baie’ (vers 12 NLV). Hoekom is daar verskillende gawes? Omdat daar verskillende behoeftes is!
2) Ons is afhanklik van mekaar. Al die dele moet saamwerk voordat daar ‘n gesonde liggaam kan wees wat behoorlik funksioneer. Paulus skryf: ‘Die oog kan nie vir die hand sê: ‘Ek kan sonder jou klaarkom’ nie. En op sy beurt kan die kop nie vir die voete sê: ‘Ek kan sonder jou klaarkom’ nie’ (vers 21 NLV). Nie net is elke lid van die liggaam ewe nodig nie, hulle is ook ewe belangrik. Sommige van ons is verbaal sterk en ander is stil. Sommige is dinamies en ander is rustig. Sommige is leiers en ander volgelinge. Dit maak nie saak wie die krediet kry nie, solank as wat die werk gedoen word en God die glorie kry.
3) Ons moet aan mekaar toegewyd wees. ‘…God het dus ons liggaam so kunstig saamgestel dat daardie liggaamsdele wat eer kortkom, juis dubbele eer kry. Gevolglik heers daar harmonie in ons liggaam en al die liggaamsdele sorg saam vir mekaar. As een lid swaarkry, kry al die lede saam swaar, en as een lid vereer word, juig al die lede saam. Julle is Christus se liggaam en elkeen van julle is ‘n noodsaaklike liggaamsdeel’ (verse 24-27 NLV).
Sielskos: Jes 17-21; Matt 9:27-38; Ps 96; Spr 3:5-6
2021-01-22
Romeine 12:6 NLV
Moenie sê: ‘Ek is van geen nut vir God nie,’ of ‘Ek word nie by die kerk benodig nie,’ of ‘Daar is nie ‘n manier wat God my sal kan gebruik nie.’ God het vir jou gawes gegee! Jy is geroep om jou gawes te gebruik om ander te seën, die kerk op te bou en sy koninkryk vir ‘n wêreld wat ons dophou, voor te hou. ‘…Met hierdie gawes moet julle mekaar dien sodat God se ryk en onverdiende goedheid deur julle na mekaar toe kan vloei.
Het jy die gawe ontvang om te preek? Dan moet jy só preek dat Gód deur jou praat. Het jy die gawe ontvang om ander te dien? Doen dit met die krag en energie wat Gód gee. Só moet God verheerlik word…’ (1 Petrus 4:10-11 NLV).
Elke Christen is ‘n dominee met ‘n bediening. Die bediening van die kerk moet deur individuele gelowiges uitgedra word soos hulle hulle geestelike gawes beoefen deur mekaar te bedien. As jy nie jou geestelike gawe uitoefen nie, verhoed jy jou kerk se bediening.
Aangesien die Heilige Gees besluit watter spesifieke gawes elkeen van ons ontvang, is daar dus nie plek vir jaloesie of mededinging nie. Paulus skryf: ‘Wat maak jou beter as enige ander gelowige? Wat het jy wat God nie aan jou gegee het nie? En as dit dan aan jou gegee is, hoe spog jy dan asof jy op eie houtjie presteer het?’ (1 Korintiërs 4:7 NLV).
Elkeen van ons het verskillende gawes ontvang en elkeen van ons het die perfekte gawes ontvang. Die Heilige Gees het in sy goddelike wysheid vir elkeen van ons die presiese gawes gegee wat ons in staat stel om die effektiefste in die liggaam van Christus te funksioneer. Begin dus vandag jou gawe gebruik!
Sielskos: Jes 12-16; Matt 9:14-26; Ps 91; Spr 3:3-4