Draai briek aan! (3)

2020-11-30
Klaagliedere 1:12 NLV

Op ‘n koue oggend in Januarie, het ‘n jong violis by ‘n moltrein stasie in Washington D.C. verskeie Bach komposisies gespeel terwyl mense verby gehaas het. Na drie minute het ‘n middeljarige man kortstondig gestop en toe verder geloop. Vier minute later het die jong violis sy eerste dollar ontvang; ‘n vrou het dit in sy hoed gegooi sonder om stil te staan. Na tien minute het ‘n jong seuntjie gestop, maar sy ma het hom aangejaag. Ander kinders het dieselfde gedoen, maar elke ouer, sonder uitsondering, het hulle aangejaag.

Die jong musikant het vir vyf-en-veertig minute lank gespeel. Gedurende daardie tyd het ses mense gestop en vir ‘n rukkie geluister en twintig mense het geld gegee soos hulle verbygeloop het. Hy het ‘n totaal van $32 ingesamel en toe hy ophou speel, het niemand daarvan notisie geneem of hande geklap nie. Wat egter wonderbaarlik is, is die volgende: Die violis was Joshua Bell, een van die wêreld se grootste musikante. Hy het ‘n paar van die ingewikkeldste musiekstukke wat ooit geskryf is, op ‘n viool wat meer as $3.5 miljoen dollar werd is, gespeel. Twee dae tevore was die kaartjies van een van sy vertonings in Boston uitverkoop. Hierdie kaartjies het ongeveer $100 gekos vir die voorreg om die musiek wat hy daardie oggend by die stasie gespeel het, te kon aanhoor.

Hier is die vraag: As jy nie tyd het om te stop en na een van die wêreld se beste musikante, wat die fynste musiek wat ooit geskryf is, op een van die mooiste instrumente wat ooit gemaak is, te luister nie, wat anders mis jy soos jy deur die lewe storm? Dis iets om oor na te dink, nie waar nie? (Nota: Joshua Bell het incognito as deel van ‘n sosiale eksperiment wat deur die Washington Post georkestreer is, gespeel).

Sielskos: 2 Kro 35-36; 2 John; Joh 14:26-15:4; Ps 146; Spr 28:9-12

Draai briek aan! (2)

2020-11-29
Romeine 12:2 NLV

Ons hoë-tegnologiese leefstyl produseer mense wat gestres is. Volgende jaar sal ons nog minder tyd hê, omdat tegnologie statisties twee ure van jou tyd opneem, vir elke uur wat dit jou spaar.

Keri Wyatt skryf: ‘Elke keer wat jy vir iets ‘ja’ sê, sê jy vir ander opsies ‘nee.’ Moenie die gedrag van hierdie wêreld namaak nie; ons wêreld is gejaagd. Neem tyd om te luister en te sorg. Die kenmerk van ‘n Christen is liefde, en jy kan nie iemand gejaagd liefhê nie.’

Om dus briek aan te draai, moet jy die volgende doen: 1) Vereenvoudig jou lewe. ‘…hou op om julle te bekommer oor… wat julle sal eet of drink; of… oor wat julle sal aantrek…’ (Matteus 6:25 NLV). Stel God eerste en alle ander dinge sal volg. Toe Marlene Eissens besluit het om van beroep te verander, het sy terug Universiteit toe gegaan met net die goed wat in haar kar kon pas. Vandag het sy ‘n bediening en ‘n huis, maar weerhou haar daarvan om dit vol besittings te maak en skenk alles wat sy nie in ses maande gebruik het nie, aan liefdadigheid. Sy sê: ‘Ek voel ware vryheid, omdat ek met minder goed meer tyd het om op God te fokus.’

2) Onderhou die Sabbat. Sit een dag ‘n week eenkant om te rus en tyd met jou geliefdes en in gemeenskap met jou kerkfamilie, te bestee.

3) ‘…Laat wat julle het, vir julle genoeg wees…’ (Hebreërs 13:5 NLV). Jy sal nog steeds in die versoeking kom om te jaag en vir meer en beter dinge te wens, maar jy sal nader aan God groei wanneer jy meer ruimte in jou lewe vir Hom maak. Soos J.I. Packer sê: ‘Ons bring God in oneer wanneer ons ‘n Redder wat voldoen aanroep, maar dan in ontevredenheid rondloop.’

Sielskos: Jos 1; Ps 27:11-14; 2 Tim 2:1-13

Draai briek aan! (1)

2020-11-28
Filippense 3:13 NLV

Ons lewe in die dae van ‘multitasking’. Ons praat op die foon, sit grimering aan, drink koffie, eet middagete, voer die kinders en lees selfs teksboodskappe terwyl ons by die hoofweg afjaag. Dr Richard Swenson sê: ‘In sommige gevalle is ons meer produktief. Sommige mense hekel terwyl hulle nuus kyk. In sommige werke word dit as noodsaaklik gesien; klerke op die vloer van die aandelemark moet rondhardloop terwyl hulle vyf dinge gelyk doen. Is dit egter nie bisar dat wanneer ‘n 48-jarige makelaar dood neerslaan, sy kollegas aanhou om rondom sy lewelose liggaam te werk terwyl hy noodhulp ontvang nie?

Die dramatiese eskalasie van besig wees het ons te veel dinge gegee om in ‘n te kort tyd te doen. Die standaard strategie is om twee, drie of selfs vier dinge op ‘n slag te doen, in plaas daarvan om te weier om meer dinge op jou skouers te neem. Iemand het egter vergeet om die somme te maak! Deur twee dinge gelyk te doen, word 30 persent van jou aandag van die primêre taak afgetrek; jy offer kwaliteit vir kwantiteit op, wat tot meer foute lei. Jy mag dalk meer take klaarmaak, maar met slegter resultate en senuwees wat gedaan is.

Wanneer dit egter by verhoudings kom, kan ‘multitasking’ rampspoedig wees. Ons luister nie, want dit neem te veel tyd. Families het fokus nodig, babas het dinge dadelik nodig wanneer hulle dit nodig het. Jy voed hulle op, of jy doen dit nie.

Paulus het nie so gelewe nie. Een ding op ‘n slag was vir hom belangrik – die persoon voor hom.’ ‘n Hond het vier voete, maar probeer nie op vier verskillende paaie loop nie. Draai dus briek aan en vestig ‘n pas wat verstandig en volhoubaar is.

Sielskos: 2 Kro 32-34; Joh 14:15-25; Ps 118:19-29; Spr 28:5-8

Vermy ongesonde fokus op jouself (5)

2020-11-27
Jesaja 58:5 NLV

God het jou nooit beveel om jou emosies, ervarings of sondes te ondersoek nie. Wat Hy wel gesê het, is: ‘…Kyk, daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem’ (Johannes 1:29 NLV). Oorwinning oor sonde vind plaas deur op Christus te fokus – nie deur jouself te stenig nie!

In die Ou Testament het die Israeliete ‘n plek van wanhoop bereik. Hulle het gevas en hulle siele verootmoedig, maar tog het God dit verwerp en gesê: ‘Is dit die vas wat Ek verkies, net ‘n dag waarop ‘n mens homself verneder? Is dit om net jou kop te buig soos ‘n biesie en te sit in sak en as?..’ Dis duidelik dat God nie tevrede is met die ellende wat self-fokus meebring nie!

Hy het ‘n meer effektiewe manier om ons te bevry. Eerder as om ons die las van berou te laat dra, het Hy gesê: ‘Nee, is die vas wat Ek wil hê, dan nie: om mense wat onregverdig in die tronk is, vry te laat, om… elke juk te breek nie? Is dit nie om jou kos te deel met dié wat honger is… om klere te gee vir mense wat dit nodig het, om nie weg te draai van medemense wat jou hulp nodig het nie?’ (Jesaja 58:6-7 NLV). God se manier beveel jou om heeltemal van jouself te vergeet en by die lewens en behoeftes van ander mense betrokke te raak.

Sy vier-punt plan om jou vlees te oorkom is as volg: 1) Erken sy genade en sien jouself as ‘geregtig’ in Christus. 2) Vestig jou oë op Jesus. 3) Vermy obsessiewe self-fokus. 4) Dien God deur ander mense te dien. Wanneer jy al hierdie dinge doen, ‘…dan sal jou lig skyn in die donkerte… Die Here sal jou altyd lei… en sterk hou…’ (verse 10-11 NLV).

Sielskos: 2 Kro 29-31; Joh 14:1-14; Ps 118:10-18; Spr 28:1-4

Vermy ongesonde fokus op jouself (4)

2020-11-26
Psalm 25:15 NLV

Hannah Whitall Smith skryf: ‘Dis van geen nut vir ons om die self te ondersoek en daaraan te timmer in die hoop om dit te verbeter nie. Die Here wil hê dat ons daarvan ontslae moet raak.’ Jou ou natuur is gedetermineerd om jou aandag te hou; dit verkies dat jy eerder sleg van jouself dink as wat jy glad nie aan jouself dink nie. Wanneer jy in die proses is om jou vlees te ondersoek, mag jy dalk dink dat jy besig is om nederig, eerlik en geestelik te wees. Die enigste geestelike en veilige manier om egter jou vleeslike natuur te hanteer is om dit te ignoreer en jou aandag en verwagtinge eksklusief op die Here te fokus.

Dawid het verstaan hoe hierdie beginsel werk: ‘Ek kyk altyd op na die Here, want Hy sal my voete van die vangnet bevry.’ Deur na jou eie ‘voete van klei’ (swakhede en mislukkings), en die vangnet (jou onveranderde vlees) waarin jy verstrik is te kyk, sal jou nie uit die strik red nie. Jy sal net meer verstrengel word. Net God, tesame met jou samewerking, kan jou uit die vangnet van die vlees bevry. Jy moet slegs opkyk na die Here om oorwinning te behaal. Luister na wat Dawid gesê het: ‘Die Here is altyd by my… daarom sal ek nie struikel nie… U wys vir my die lewenspad; in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd’ (Psalm 16:8-11 NLV).

Jou werk is eenvouding, alhoewel nie noodwendig maklik nie. Jy moet net jou vleeslike begeertes ignoreer en op Jesus gefokus bly. Sy werk is om jou deur sy magtige krag te transformeer!

Sielskos: 2 Kro 25-28; Joh 13:31-38; Ps 118:1-9; Spr 27:23-27

Vermy ‘n ongesonde fokus op jouself (3)

2020-11-25
Efesiërs 4:22 NLV

Verwag God van ons om aan groei en self-verbetering te werk? Ja! Dis egter vergeefs as dit jou op jouself gefokus en oorwonne hou. Die Bybelse pad na verandering is om weg te draai van jouself en op God te fokus. Paulus sê: ‘Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ‘n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee’ (2 Korintiërs 3:18 NLV).

God stel nie in ‘verbeterde vlees’ belang nie. In sy oë is ‘verbeterde vlees’ steeds vlees. Hy wil jou karakter transformeer. Al jou self-verbetering strategieë kan nie jou ou sondige natuur transformeer nie. Net God, deur die Gees, kan jou meer soos Christus maak. Dit gebeur nie as gevolg van jou harde werk nie, maar deur sy genade.

‘Wat gaan dus met my vlees gebeur?’ vra jy. God se uiteindelike plan is om dit te vervang en vir jou ‘n nuwe geestelike liggaam te gee. Dis hoekom Paulus skryf: ‘naamlik dat julle, wat julle vroeëre leefstyl betref, die ou, sondige mens soos vuil klere moet uittrek. Bedrieglike begeertes laat hierdie mens te gronde gaan.’ Jy moet dit nie regmaak of verander nie – jy moet dit uittrek!

Soos ‘n kreef groei en die gevangenis van sy ou skulp afskud, so sal jy die dominansie van jou ou natuur afskud en in jou nuwe een ingroei, soos jy op Christus fokus en in gemeenskap met Hom lewe. Jy word getransformeer – van die binnekant af buitentoe.

Sielskos: 2 Kro 22-24; Joh 13:18-30; Ps 114; Spr 27:20-22