2021-02-02
Handelinge 19:18 NLV
Met betrekking tot die kerk in Efese, skryf Paulus: ‘Baie van dié wat gelowig geword het, het hulle aangemeld en al hulle praktyke openlik bely… So het die Woord van die Here kragtig gegroei en sterk geword’ (verse 18-20 NLV). Geestelike genesing vind in kerke soos dié plaas. Wanneer jy dus in dieselfde patroon van sonde en mislukking vasgevang is, moet jy volwasse, toegewyde Christene soek wat nie deur jou probleem geskok sal word nie, wat nie jou vertroue sal skend nie en wat weet hoe om vir jou en saam met jou te bid.
Jesus het sy volgelinge die outoriteit gegee om belydenisse aan te hoor en genade uit te spreek. ‘Wie se sondes julle ook al vergewe, dit word hulle vergewe; wie s’n julle ook al handhaaf, word gehandhaaf’ (Johannes 20:23 NLV). ‘n Geestelike katarsis vind plaas wanneer iemand jou in die oë kyk en sê: ‘God vergewe jou, ek vergewe jou, vergewe nou jouself en wandel in God se vergifnis!’ Vergifnis is so ‘n sterk krag dat dit genesing kan fasiliteer.
Jakobus skryf: ‘Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid. En ‘n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan. En watter sondes die sieke ook al gedoen het, dit sal hom vergewe word. Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ‘n kragtige uitwerking’ (Jakobus 5:14-16 NLV). Indien jy nie seker is met wie jy moet praat, of wie jy kan vertrou nie, begin by jou pastoor.
Sielskos: Jes 49-52; Matt 12:1-14; Ps 107:33-43; Spr 3:27-28
2021-02-01
Romeine 8:31 NLV
Sommige van die wêreld se bekendste mense het die grootste uitdagings ervaar, maar hulle het dit oorkom. Hier volg ‘n paar voorbeelde: kreupel: sir Walter Scott. In die tronk: John Bunyan. In volslae armoede grootgeword: Abraham Lincoln. Bittere godsdienstige veroordeling: Benjamin Disraeli. Verlam: Franklin Roosevelt. Grootgemaak in ‘n gemeenskap vol rasse-diskriminasie: Booker T. Washington, Harriet Tubman, Marian Anderson en George Washington Carver. Die eerste kind uit ‘n arm Italiaanse familie van agtien lede om te oorleef: Enrico Caruso. Ouers wat die Nazi konsentrasiekampe oorleef het, verlam vanaf die middel ondertoe vanaf sy vierde jaar: die onvergelykbare violis, Itzhak Perlman. ‘n Stadige leerder, verstandelik gestrem en ononderrigbaar: Albert Einstein. Helen Keller is blind en doof gebore, maar tog het sy haar Universiteitopleiding met die hoogste eer geslaag en ‘n impak op die wêreld gehad. Margaret Thatcher, Engeland se eerste vroulike Eerste Minister, het bo haar pa se kruidenierswinkel gewoon. Vir ‘n tydperk het hulle huis geen lopende water of binnenshuise loodgieterswerk gehad nie. Golda Meier, Israel se eerste en enigste vroulike Eerste Minister, was ‘n geskeide ouma van Milwaukee.
Wat kan ons uit hierdie mense se lewens leer? Dat sukses nie van ons omstandighede afhang nie, maar van ons vermoë om ons omstandighede te oorkom! Met God aan ons kant, kan ons dit doen! Paulus, wat voor groot struikelblokke in sy lewe te staan gekom het, het geskryf: ‘…As God aan ons kant is, wie kan ooit téén ons wees?’
Sielskos: Jes 45-48; Matt 11:20-30; Ps 107:23-32; Spr 3:25-26
2021-01-31
Filippense 2:3 NLV
Hier is die dilemma van ‘n onsekere leier: as ander in ‘n werk uitblink, vrees hulle dat dit hulle sal laat sleg lyk. Hulle vrees egter ook dat as die ander persoon die werk sleg doen, dit hulle ook sleg sal laat lyk. Dus probeer hulle alles self doen. Gevolglik behaal hulle nie sukses nie, of hulle sukses is beperk.
Paulus spreek dit as volg aan: ‘Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange’ (verse 3-4 NLV).
Selfversekerde leiers is in staat om in ander mense te glo, omdat hulle in hulself glo. Hulle is nie arrogant nie; hulle ken hulle eie sterk- en swakpunte en respekteer hulself. Wanneer mense goed presteer, voel hulle nie bedreig nie. Hulle gaan uit hul pad om die beste mense bymekaar te bring en hulle op te bou sodat hulle na die beste van hul vermoë kan presteer. Wanneer ‘n selfversekerde leier se span sukses behaal, bring dit vir hulle groot vreugde. Hulle sien dit as die hoogste kompliment wat hulle vir hul leierskapsvaardighede kan kry.
Een skrywer merk op: ‘Die grootste hindernis om op goeie voet met ander mense te wees, is om ongemaklik met jouself te wees.’ Wat moet jy dus doen? 1) Ken jouself. As jy nie van nature daarvan bewus is nie, vra iemand wat jy vertrou om jou drie opvallendste sterk- en swakpunte te noem. Moenie jouself verdedig wanneer jy hulle antwoorde hoor nie. Samel die inligting in en reflekteer daarop. 2) Kry hulp. Jy verdien dit, jy is dit waardig! As jy jou onsekerheid kan oorkom, sal jy ‘n nuwe vlak van seën en prestasie bereik.
Sielskos: 2 Kon 6:8-20; Ef 1:15-23
2021-01-30
Lukas 12:48 NLV
Die skrywer H. Jackson Brown Jnr het geskerts: ‘Talent sonder dissipline is soos ‘n seekat op rolskaatse. Daar is baie beweging, maar jy weet nooit of dit vorentoe, agtertoe of kant toe gaan nie.’ As jy weet dat jy talent het en al baie beweging sonder veel konkrete resultate gesien het, mag jy dalk selfdissipline kort. Kyk na verlede week se skedule. Hoeveel tyd het jy aan gereelde, gedissiplineerde aktiwiteite toegewy? Het jy enigiets gedoen om te groei en jouself te verbeter? As jy dit aanhou uitstel en vir jouself sê dat jy dit later sal doen, moet jy aan jou selfdissipline werk. ‘n Kwekery in Kanada het ‘n plakkaat op die muur wat lui: ‘Die beste tyd om ‘n boom te plant is vyf-en-twintig jaar gelede. Die tweede beste tyd, is vandag.’ Begin vandag om jouself te dissiplineer. Hoekom?
Omdat: 1) Daar ‘n prys daaraan verbonde is om die volgende vlak te bereik. Die Amerikaanse dramaturg Sidney Howard het opgemerk: ‘Die een helfte van weet wat jy wil hê, is om te weet wat jy moet opgee om dit te kan kry.’
2) Wees gewillig om klein te begin. Aan die begin sal jou wins min wees, maar dit sal groei. Die verskil tussen die wenner van die goue medalje en die res, is dikwels net ‘n honderdste van ‘n sekonde.
3) Kies die regte omgewing. Omdat verbetering altyd ‘n graad van risiko en mislukking verg, kies ‘n plek waar groei en eksperimentasie aangemoedig word.
4) Glo dat jy dit altyd beter kan doen. Enigiets wat jy op ‘n spesifieke manier vir ‘n gegewe tydperk gedoen het, kan altyd beter gedoen word. Jy kan dus, met God se hulp, aanhou verbeter.
Sielskos: Jes 42-44; Matt 11:10-19; Ps 107:17-22; Spr 3:21-24
2021-01-29
Esegiël 8:4 NLV
Wanneer God vir jou ‘n visie gee, sal dit jou lewe verander. John Sculley, die voormalige president van PepsiCo en Apple rekenaars, het gesê: ‘Die toekoms behoort aan diegene wat die moontlikhede sien, voordat dit ooglopend raak.’ Die Bybel sê vir ons dat God: ‘…dinge wat nog nie bestaan nie, aanspreek asof hulle reeds werklikheid is’ (Romeine 4:17 NLV).
Visie steek die vuur binne-in jou aan die brand en dryf jou vorentoe. As dit wat jy in die lewe najaag nie vanuit ‘n brandende begeerte in jou kom nie, sal jy dit nie kan bereik nie. Hoekom nie? Omdat jy langs die pad struikelblokke, teenstand, padblokkades en weerstand sal moet oorkom.
Ester se visie het beteken dat sy haar lewe in gevaar moes stel om die Joodse volk van uitwissing te red. Sy het gesê: ‘…As ek dan daarvoor moet sterf, moet ek maar sterf’ (Ester 4:16 NLV). Het sy gesterf? Nee, maar sy was gewillig om te sterf. Is jy? Om jou visie te vervul, moet jy twee dinge doen:
1) Jouself meet. As jy voorheen oor jou lewensvisie gedink het en dit duidelik geartikuleer het, meet hoe goed jy dit uitdra. Praat met diegene wat jy vertrou en vra hulle wat hulle dink jou visie is. As hulle dit kan artikuleer, dan is jy heel waarskynlik besig om dit te leef.
2) Dit neerskryf. ‘…Skryf… die visioen in groot, duidelike letters… sodat iemand wat verbyhardloop, dit kan lees’ (Habakuk 2:2 NLV). Deur dit neer te skryf, kry jy klarigheid in jou gedagtes. Wanneer jou visie neergeskryf is, word dit ‘n padkaart na jou bestemming toe. Raadpleeg dit dikwels en jaag dit met alles binne-in jou na. As jy dit doen, is die kans goed dat jy die vervulling daarvan in jou lewe sal sien.
Sielskos: Jes 38-41; Matt 11:1-9; Ps 107:10-16; Spr 3:19-20
2021-01-28
Spreuke 22:3 NLV
Hier is drie dinge wat realistiese denke vir jou sal doen:
1) Dit sal jou ‘n sin van sekuriteit gee. Wanneer jy gedink het aan die ergste wat kan gebeur en ‘n gebeurlikheidsplan daarvoor opgestel het, voel jy meer gemaklik en vol vertroue. Dis gerusstellend om te weet dat jy nie maklik verras sal word nie. Teleurstelling is die verskil tussen verwagtinge en die realiteit. Wanneer jy realisties dink, verminder jy die verskil tussen die twee.
2) Dit sal jou geloofwaardigheid gee. Leiers wat aanhoudend deur die onverwagte verras word, verloor vinnig geloofwaardigheid in hul volgelinge se oë. Leiers wat realisties dink en daarvolgens beplan, posisioneer hulself om te wen. Dit gee hul volgelinge vertroue in hulle. Voordat jy dus enigiemand uitnooi om deel van jou visie of projek te wees, moet jy jouself die volgende afvra: a) Is dit moontlik? b) Het ek die voordele en nadele van die projek geïdentifiseer en dit verduidelik? c) Het ek ‘n vaste fondasie om op te bou? Thomas Edison het opgemerk: ‘Die waarde van ‘n goeie idee lê in die gebruik daarvan.’
3) Dit sal jou help om ‘n idee bruikbaar te maak deur die ‘wens faktor’ uit die weg te ruim. Die meeste idees en pogings bereik nie hul bedoelde resultate nie, omdat ons te veel op dit wat ons wens, en nie op dit wat is nie, staatmaak. Jy kan nie ‘n huis in die lug bou nie; dit benodig ‘n soliede fondasie. Idees en planne is dieselfde. Hulle het iets konkreet nodig om op te bou en realistiese denke voorsien daardie soliede fondasie.
Salomo het dit so gestel: ‘Iemand wat verstandig is, sien wanneer onheil kom en vermy dit. Die onervare mens loop oopoë daarin vas en boet daarvoor.’ Die woord vir jou vandag is dus – dink realisties.
Sielskos: Jes 34-37; Matt 10:32-42; Ps 107:1-9; Spr 3:13-18