Staar die dood sonder vrees in die gesig (2)
2020-12-021 Korintiërs 15:55 NLV
Toe Carolyn Arends se pa sterwend in die hospitaal gelê het, het ‘n suurstofmasker dit amper onmoontlik vir hom gemaak om met sy familie te kommunikeer. Hulle was dus verras om hom ‘n ou liedjie wat hy in die Sondagskool geleer het, te hoor neurie: ‘With Christ in the vessel we can smile at the storm, as we go sailing home.’ Ure voor hy na sy huis in die hemel toe vertrek het, het ‘n lied wat hy sestig jaar gelede geleer het, hierdie sterwende man vertroos en krag gegee.
Arends skryf: ‘Ek hoop dat ek aan die einde oor Jesus sal sing, praat en dink. Die dood is die monster in die kelder; dit laat ons oor ons skouer kyk en weerhou ons daarvan om die dae wat aan ons gegee is, vreugdevol te bestee. Wanneer ons egter die dood uit die skaduwees bring en dit in die lig van die evangelie ophou, verloor die dood nie net sy angel nie, dit word ook ‘n aanmaning om ons tyd wys te gebruik (sien Psalm 90:12).
Wanneer ‘n gelowige besef dat hy op pad is na die dood (oormôre of oor 50 jaar), kan hy ophou om die geweldige energie te gebruik om sy eie mortaliteit te ontken en dit aanwend om sy ewige lotsbestemming hier en nou te begin leef. Hy kan doelbewus begin om in die dinge wat hy aan die einde by hom wil hê, te belê. Die dood maak seer, maar dis nie die einde nie. Ons rou nie soos diegene wat geen hoop het nie. Ek weet nie hoeveel dae ek oor het nie, maar ek wil elkeen van hulle gebruik om die waarheid oor wie Jesus is – en wie ek in Hom is – in myself in te prent.’
Sielskos: Jos 1-4; Joh 15:18-27; Ps 65;
Spr 28:17-20