Laat jou lewe voor God tel

2021-02-08
2 Timoteus 4:7 NLV

In die Mount Hope begrafplaas in Hiawatha, Kansas, sal jy verskeie groot grafstene kry wat deur John Milburn Davis opgerig is. Davis het sy beroep begin as ‘n loonwerker en het dit later reggekry om ‘n groot fortuin op te bou. Hy het nie baie vriende in die proses gemaak nie. Hy was ook nie na aan sy vrou se familie nie, omdat hulle gedink het dat Davis benede haar is. Hy was bitter en het gesweer om hulle nie ‘n sent na te laat nie. Toe sy vrou oorlede is, het Davis ‘n groot grafsteen van hom en haar wat op ‘n bankie sit, opgerig. Hy was so in sy skik daarmee dat hy ‘n tweede monument beplan het, wat sy vrou sou uitbeeld waar sy met blomme voor sy toekomstige graf kniel. Een idee het tot ‘n volgende gelei en voor hy sy oë kon uitvee, het hy ‘n kwartmiljoen dollars op huldeblyke aan sy vrou en homself spandeer. Wanneer mense hom gevra het om by te dra tot ‘n nuwe hospitaal of park, sou die ou gierigaard sê: ‘Wat het hierdie dorp al ooit vir my gedoen?’ Davis het sy lewensfortuin op standbeelde spandeer en is as eensame, norse ou man op twee-en-negentig jaar in die armhuis oorlede.

Wat het van sy monumente geword? Elke liewe een van hulle is stadig besig om in die Kansas grond in te sink – slagoffers van tyd, vandalisme, verwaarlosing – monumente van ‘n nydige en selfgesentreerde lewe. Daar is ‘n sekere poëtiese geregtigheid daaraan dat hulle almal oor ‘n paar jaar in rommel sal verdwyn. Net een persoon het Davis se begrafnis bygewoon – Horace England, die grafsteenverkoper! Moenie dat dit met jou gebeur nie; laat jou lewe voor God tel!

Sielskos: Rom 3:21-6:23; Matt 13:10-23; Ps 125; Spr 4:3-4

Beskerm jou gedagtes

2021-02-07
2 Korintiërs 11:3 DB

Paulus skryf: ‘Maar ek is regtig bang dat julle in dieselfde slaggat sal trap as Eva toe sy deur die slang verlei is. Ek is bekommerd dat julle gedagtes nie meer een honderd persent daarop gerig is om Christus opreg te dien nie.’

Versoeking begin altyd in jou gedagtes en om jou gedagtes te beskerm, moet jy op God se Woord staan. Dit was Satan wat die gedagte vir Eva gegee het om die verbode vrugte te eet. Eva het nie rondgestaan en wonder hoe om ongehoorsaam aan God te wees nie. Onthou dus dat wanneer jy versoek word, dit nie God is wat met jou praat nie. Die duiwel bestudeer jou op dieselfde manier wat ‘n afrigter die spel van die span se teenstanders bestudeer. Omdat hy dit doen, ken hy jou swakpunte en weet hy watter versoekings die beste kans vir sukses het. Hoeveel keer het jy nie al gesê: ‘Ek beloof myself ek sal dit nie weer doen nie,’ maar dit tog weer doen nie? Dit gebeur omdat Satan weet wat vir jou werk.

Jy hoef egter nie weerloos en moedeloos te voel nie. Die Bybel sê: ‘Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou’ (1 Korintiërs 10:13 NLV). Satan wag tot jou weerstand laag is voor hy toeslaan, maar God voorsien altyd ‘n uitweg. Dit beteken dat hoewel jy voor versoekings te staan sal kom, jy dit kan oorwin. Sodra Satan dan agterkom dat sy taktieke nie meer werk nie, sal hy êrens anders heen aanbeweeg.

Sielskos: 1 Kon 3:4-28; Jak 1:2-8

Probeer vergoed

2021-02-06
Lukas 19:8 NLV

As jy iemand bedrieg het, verwag God van jou om daarvoor te vergoed. Saggeus was ‘n bedrieër in die eerste eeu wat belasting van die Jode, sy eie mense, vir die Romeine ingesamel het. Hy het almal wat hy kon, bedrieg. Die Bybel sê dat hy ryk was (sien vers 2 NLV). Nadat hy egter ‘n aand saam het Jesus deurgebring het, het hy radikaal verander. Hoe weet ons dit? Omdat hy gesê het: ‘…Here, ek gaan die helfte van my besittings aan die armes gee, en as ek iets van iemand met ‘n slenter bekom het, gee ek dit vierdubbel terug.’ Jesus leer ons: ‘Bewys eerder deur julle voorbeeldige lewe dat julle werklik tot inkeer gekom het’ (Matteus 3:8 NLV).

Soms is dit egter nie moontlik om vrede te maak met die persoon wat jy seergemaak het nie. Wat as hulle oorlede is? Wat as jy ‘n ‘affair’ met iemand anders se eggenoot gehad het? Moet jy teruggaan en hulle man of vrou daarvan vertel sodat jy minder skuldig kan voel? Nee, jy sal hulle harte breek en hulle gesin vernietig. Wat moet jy dus doen? Bid en ontvang God se vergifnis (sien 1 Johannes 1:7-9). As jy daarna steeds daarmee worstel, gaan praat daaroor met jou pastoor, of ‘n Christelike berader, of ‘n volwasse vriend wat dit kan hanteer. Jakobus skryf: ‘Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word…’ (Jakobus 5:16 NLV).

Die punt is dat jy gewillig moet wees om vrede te maak wanneer dit moontlik is en gewillig moet wees om die koste te dra om dinge reg te stel. As jy dit doen, sal God jou seën en kan jy met ‘n skoon gewete met betrekking daar toe lewe.

Sielskos: Rom 1:1-3:20; Matt 13:1-9; Ps 67; Spr 4:1-2

Vergewe omdat jy vergewe is

2021-02-05
Matteus 18:33 NLV

Jesus het gesê: ‘Om hierdie rede kan God se koningsheerskappy vergelyk word met ‘n koning wat besluit het om na te gaan wat sy amptenare hom skuld. Skaars het die ondersoek begin of een word na hom toe gebring wat hom miljoene rande skuld. Toe hy dit nie kon bybring nie, gee die koning opdrag dat hy, sy vrou en sy kinders en al sy besittings verkoop moet word om sy skuld te betaal. Hy val toe voor die koning neer en smeek hom: ‘Gee my kans, ek sal alles aan u terugbetaal.’ Daarop het die koning hom innig jammer gekry. Hy het hom laat gaan en sy skuld afgeskryf. Toe die amptenaar daarvandaan weggaan, loop hy egter een van sy medeamptenare raak wat hom net ‘n paar rand geskuld het. Hy… sê: ‘Betaal jou skuld!’ Sy medeamptenaar val toe voor hom neer en smeek hom: ‘Gee my kans, ek sal alles aan jou terugbetaal.’ Maar daarvan wou sy skuldeiser nie hoor nie. Hy is daar weg en het hom in die tronk laat gooi… Toe sy medeamptenare sien wat gebeur het, was hulle uitermate ontsteld. Hulle het alles wat gebeur het toe aan die koning gaan vertel. Daarop het die koning daardie man laat roep en vir hom gesê: ‘Jou ellendige vent! Toe jy my gesoebat het, het ek vir jou al jou skuld afgeskryf. Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek vir jou jammer gekry het nie?’ Woedend het die koning hom toe oorgegee aan die folteraars om elke sent uit hom te pers totdat hy al sy skuld betaal het. So sal my hemelse Vader ook met julle maak as julle weier om julle medegelowiges met julle hele hart te vergewe’ (verse 23-35 NLV).

As jy vandag wraak in jou hart koester en weier om iemand te vergewe, lees weer hierdie verhaal. Dis die woord vir jou vandag!

Sielskos: Jes 63-66; Matt 12:38-50; Ps 120; Spr 3:33-35

Ons dien ‘n vrygewige God

2021-02-04
2 Korintiërs 9:8 AFR83

God het nie net lief nie; Hy oorlaai ons met liefde (sien 1 Johannes 3:1). Hy deel nie net wysheid uit nie; Hy ‘…sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie’ (Jakobus 1:5 NLV). Die Verlore Seun het die vetste kalf gekry, die gaste by die troue in Kana die beste wyn en Petrus het so baie vis gevang dat sy boot begin sink het.

Paulus sê vir ons dat God ‘saad voorsien aan die saaier’ (2 Korintiërs 9:10 NLV). Die Griekse woord vir ‘voorsien’ stam van twee betekenisse af. Die eerste beteken ‘om te dans’ en die tweede beteken ‘om te lei.’ Dit beteken letterlik om “‘n dans te lei.” Wanneer God dus vir jou gee, dans Hy van vreugde. Hy is lief daarvoor om te gee! Een dag het Petrus vir Jesus gesê: ‘…Ons het alles opgegee om u dissipels te word. Wat sal ons daaruit kry?’ (Matteus 19:27 NLV). Dit lyk na ‘n goeie geleentheid vir Jesus om Petrus se ‘Wat’s in dit vir my?’ mentaliteit aan te spreek. Hy doen dit egter nie. In plaas daarvan, verseker Hy vir Petrus dat ons honderdvoudig in hierdie lewe sal ontvang en die ewige lewe ook sal verkry (sien Matteus 19:29). Jesus beloof ons ‘n wins van 10,000 persent! God deel sy goedheid nie met ‘n oogdrupper uit nie, maar met ‘n brandkraan; nie met ‘n teekoppie nie, maar met die Middellandse See. Jy kan dit eenvoudig nie bedwing nie.

Laat dit dus oorborrel. Uitloop. Oor die kant mors. ‘…En onthou, hierdie dinge het julle nie self verdien nie. Ek het dit gratis vir julle gegee. Gaan gee dit daarom ook verniet aan ander weg’ (Matteus 10:8 DB).

Sielskos: Jes 58-62; Matt 12:22-37; Ps 108; Spr 3:31-32

Volgehoue genade

2021-02-03
2 Korintiërs 12:9 NLV

Daar is twee tipes genade: 1) Reddende genade. Die oomblik wat jy jou vertroue in Christus plaas, wis God die hele rekord van jou sonde uit. 2) Volgehoue genade. Paulus skryf: “…Daarom, sodat ek nie hoogmoedig moet word nie, is aan my ‘n doring in die vlees gegee… Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat. Hy het egter vir my gesê: ‘My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking'” (verse 7-9 NLV).

Wat ‘n helder beeld! ‘n Doring steek in die sagte vel tot onder die oppervlakte in. Elke tree is ‘n herinnering daaraan: Die kind in die rehabilitasiesentrum. Die rooi ink op die lêer. Die misdaadrekord. Die smagting na alkohol in die middel van die dag. Die trane in die middel van die nag. ‘Here, neem dit weg?’ Jy hoor egter die volgende: ‘My genade is genoeg vir jou.’ Volgehoue genade beloof ons nie die afwesigheid van beproewing nie, maar die versterkende teenwoordigheid van God.

John Newton, die Anglikaanse predikant wat ‘Amazing Grace’ geskryf het, het gevind dat God se genade genoeg is. Op die dag wat sy geliefde vrou, Mary, oorlede is, het hy die krag ontvang om ‘n Sondagpreek te lewer. Die volgende dag het hy kerklede besoek en later haar begrafnis waargeneem. Toe hy terugkyk op daardie tyd, het hy geskryf: ‘Die Bank van Engeland is te arm om vir so ‘n verlies soos myne te vergoed. Maar die Here, algenoegsame God, spreek, en dit word gedaan. Laat hulle wat Hom ken en vertrou, moed skep. Hy kan hulle krag volgens hulle dag gee. Hy kan hulle krag vermeerder soos hulle beproewings vermeerder. Dit wat Hy kan doen, het Hy beloof dat Hy sal doen.’

Sielskos: Jes 53-57; Matt 12:15-21; Ps 111; Spr 3:29-30