God werk in jou!

2020-12-12
Filippense 2:13 NLV

Wanneer jy God wil behaag, is daar twee struikelblokke wat jy moet oorkom – die ‘wil’ en die ‘kan.’ Om jou eie planne te laat vaar en God se wil te omarm, gebeur nie maklik nie. Jou ou vleeslike natuur wil hê wat dit wil hê, nie wat God wil hê nie. Selfs wanneer God se wil duidelik is en jy wil hê wat Hy wil hê, het jy nie noodwendig die nodige vermoë om dit te kan doen nie. Gelukkig is dit waar God die situasie betree om vir jou die ‘wil’ en die ‘kan’ te gee. Die gewilligheid en die vermoë om dit te kan doen kom egter van Hom af, nie van jou af nie.

Jy vra: ‘Hoekom is dit dan so ‘n stryd om God se wil te doen, wanneer Hy in my werk?’ Die probleem is dat jou natuurlike gedagtes self-gesentreerd is en geneig is om God se wil teen te staan. Wat is dus die antwoord?

1) Gee jou liggaam en sy begeertes aan God oor. ‘…gee dan julleself aan Hom as ‘n lewende en heilige offer…’ (Romeine 12:1 NLV). 2) Vernuwe jou gedagtes. ‘…laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is’ (Romeine 12:2 NLV). Deur jou gedagtes te vernuwe, beteken dat jy dit in lyn met God se gedagtes bring – om doelbewus te dink soos Hy dink. Met ander woorde, God inisieer die ‘wil’ en ‘kan’ in jou en jy werk saam deur jou gedagtes in lyn met syne te bring.

Wanneer dit gebeur, kan jy seker wees dat ‘…God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi…’ (Filippense 1:6 NLV).

Sielskos: Kol 3-4; Filemon; Joh 19:1-16; Ps 105:8-15; Spr 30:5-9

Sielshonger

2020-12-11
Psalm 142:5 NLV

Vrouens wat geïsoleerd en eensaam voel, verwag dikwels van hul mans om dit wat hul ‘sielshonger’ genoem word, te bevredig. Dis ‘n rol wat baie mans nog nooit goed hanteer het nie. Die moderne lewe help ook nie daarvoor nie.

‘n Eeu gelede het daar groot kameraadskap tussen vrouens en moeders geheers. Hulle het saam gekook, saam kerk toe gegaan en saam oud geword. Wanneer ‘n nuwe baba gebore is, was die tantes, oumas en bure daar om die nuwe ma te wys hoe om doeke te ruil, te voed en dissipline toe te pas. Vandag het die uitgebreide familie amper heeltemal verdwyn, wat ‘n vrou van daardie tradisionele bron van ondersteuning ontneem. Verder trek hedendaagse families ook elke drie of vier jaar, wat verhoed dat langtermyn vriendskappe gevorm word. Dis ook belangrik vir vrouens om te verstaan dat sommige van hulle behoeftes eenvoudig nie deur mans vervul kan word nie.

In die boek, Anne of Green Gables, is daar ‘n wonderlike oomblik wanneer Anne sê: “‘n Boesemvriendin – ‘n intieme vriendin, jy weet – regtig ‘n sielsgenoot aan wie ek my innerlike siel kan openbaar. Ek droom al my hele lewe lank om haar te ontmoet.” Sy verwoord ‘n begeerte wat algemeen by vrouens voorkom, maar nie so tipies by mans is nie – die behoefte aan intieme vriendskap. Die psalmdigter Dawid het dit as volg opgesom: ‘Ek kyk na regs, maar niemand sien my raak nie. Daar is vir my geen ontvlugting nie, en niemand gee vir my om nie.’

Om hierdie gevoel van isolasie te bekamp, is dit belangrik vir vrouens om ‘n netwerk van vriende deur aktiwiteite soos oefenklasse, groepstokperdjies en kerkaktiwiteite, te onderhou. Die interaksie tussen hulle mag dalk soos informele geselskap klink, maar dit is die vriendskapsband wat die lewe meer bevredigend maak.

Sielskos: Kol 1-2; Joh 18:25-40; Ps 105:1-7; Spr 30:1-4

Kwaliteit en kwantiteit

2020-12-10
Psalm 127:3 NLV

Sommige mense sê dat dit nie saak maak hoe min tyd jy saam met jou kinders bestee nie, solank dit kwaliteittyd is. Die logika agter hierdie konsep maak egter nie heeltemal sin nie. Hoekom moet ons tussen kwaliteit en kwantiteit kies? Ons aanvaar nie hierdie geforseerde keuse in ander areas van ons lewens nie, hoekom is dit dus net van toepassing op ons kinders? Ons kan dit as volg illustreer.

Veronderstel jy sien al heeldag uit om by een van die beste restaurante in die stad te eet. Die kelner bring vir jou die spyskaart en jy bestel die duurste biefstuk daarop. Wanneer die maaltyd egter arriveer, sien jy ‘n klein stukkie vleis so groot soos ‘n vierkante sentimeter in die middel van jou bord lê. Wanneer jy oor die grootte van jou biefstuk kla, sê die kelner: ‘Ek weet dat die porsie klein is, maar dis die beste biefstuk wat geld kan koop. Jy sal nêrens anders ‘n beter happie vleis kry nie. In terme van die porsiegrootte, hoop ek jy verstaan dus dat dit nie die kwantiteit is wat tel nie, maar die kwaliteit.’

Jy sal daaroor kapsie maak; en met goeie rede. Hoekom? Omdat beide kwantiteit en kwaliteit in baie areas van ons lewens belangrik is, insluitend hoe ons tyd saam met ons kinders bestee. Hulle het ons tyd nodig, sowel as die beste wat ons daarvan het om aan hulle te gee. Die ‘kwaliteit versus kwantiteit’ argument mag dalk ‘n sleg vermomde rasionalisering wees om ons kinders nie een van die twee te gee nie. Die Bybel sê: ‘Kinders is ‘n gawe van die Here…’ Wanneer jy dus vir hulle tyd en aandag gee, verdien hulle die beste in beide kwantiteit en kwaliteit.

Sielskos: Jos 22-24; Joh 18:12-24; Ps 150; Spr 29:22-27

Wees lief vir en geniet jou kinders

2020-12-09
Psalm 127:5 DB

Dr James Dobson het een keer sy kinders op ‘n ski vakansie geneem. Om twee kinders wat luidkeels oor die koue kla en met mekaar baklei in toom te hou, was besig om op sy laaste senuwee te werk.

Op daardie vakansie het hy egter ‘n les geleer wat hy nooit sou vergeet het nie: ‘Nadat ek die kinders dadelik by die ski oord gaan aflaai het, het ek ons bagasie gaan aflaai en die kar gaan parkeer. Ek het saam met omtrent 15 jong skiërs gewag vir die trok wat ons weer na die bokant van die berg sou neem. Ek het ‘n jong meisie wat in haar twintigs was, in die groep opgemerk. Toe sy vir my kyk, kon ek die onmiskenbare teken van breinskade in haar oë herken. Sy het vreemd opgetree en aanhoudend die frase ‘wie ook al’ herhaal. Die ander jong skiërs het gelag en hulle oë gerol.

Toe het ek ‘n man langs haar opgemerk wat haar pa moes wees. Hy het die reaksies van die ander jong skiërs opgemerk en gesê: ‘Ja, my skat, wie ook al.’ Die deernis in sy stem en sy optrede het gelyk of dit sê: “Ja, dis waar. Haar vaardighede is beperk. Sy sal nie liedjies of boeke skryf nie. Ons het die beste wat ons kon, vir haar gedoen. Maar ek wil hê dat julle iets moet weet – dis my dogter en ek is lief vir haar. Sy is my hele wêreld. Ek is nie skaam om haar pa te wees of om saam met haar gesien te word nie. ‘Ja, my skat, wie ook al!'”

Dobson sê dat hy vir die Here om verskoning gevra het omdat hy oor sy kinders gekla het en uitgesien het om hulle bo-op die berg styf teen hom vas te druk.

Sielskos: Jos 19:24-21:45; Joh 18:1-11; Ps 148:7-14; Spr 29:16-21

Wat jy NIE gestuur is om te doen nie!

2020-12-08
Johannes 20:21 NLV

Jesus het gesê: ‘…Net soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.’ Dit gaan daaroor hoe God wil hê ons die evangelie moet deel, nie oor die reëls, regulasies en voorskrifte van die verskillende denominasies nie. Verstaan die volgende:

1) Ons is gestuur om te dien, nie om gedien te word nie. ‘Selfs Ek, die Seun van die Mens, het nie gekom om gedien te word nie, maar om diens te lewer en so selfs my lewe te gee as ‘n losprys vir baie mense’ (Matteus 20:28 NLV). In God se koninkryk lê die mag aan die onderkant en dis van daar af wat Christus heers en oorwin. Tensy ons bereid is om die voorskoot van nederigheid aan te trek en ons broer se voete te was, selfs wanneer sy naam Judas is, verteenwoordig ons nie Jesus nie.

2) Ons is gestuur om God se wil, nie ons eie nie, te doen. Jesus het gesê: ‘Ek het van die hemel af gekom, nie om mý wil uit te voer nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het’ (Johannes 6:38 NLV). Wanneer ons klein is, sê ons dat ons eendag ‘n dokter of ‘n onderwyser of ‘n verpleegster wil word. Ons moet egter eerder ‘as dit God se wil is’ byvoeg, omdat jy op jou eie is as dit nie in Sy wil is nie. As jy die verkeerde beroep kies, sal jy in die verkeerde plek met die verkeerde mense wees en gevolglik sal alles in jou lewe verkeerd wees. Johannes het gesê: ‘Die wêreld én sy begeertes is aan die verbygaan. Wie die wil van God uitvoer, leef egter vir altyd’ (1 Johannes 2:17 NLV). Wanneer jy God se wil mis – mis jy die doel waarvoor jy gebore is. Moenie toelaat dat dit met jou gebeur nie.

Sielskos: Jos 16:1-19:23; Joh 17:13-26; Ps 148:1-6; Spr 29:11-15

Dink jy God het die verkeerde persoon gekies?

2020-12-07
Numeri 13:30 NLV

Een Sondagaand, was Mary Southerland in die kerk toe ‘n vreemdeling haar op die skouer tik en vir haar sê dat sy geroepe is om die musiek- en jeugassistent van die kerk te wees. Sy het gedink hy is mal! Sy het pas haar universiteitopleiding met ‘n graad in laerskoolonderwys klaargemaak en ‘n vriend het haar uitgenooi om die aanddiens by te woon. Dis al – of so het sy gedink.

Toe die diens eindig, het haar vriend gesê: ‘Jy moet ten minste oor sy aanbod bid.’ Sy het dit gedoen. ‘Hier is ek nou dertig jaar later, ‘n onwaarskynlike dienskneg, wat in konstante verwondering oor God se plan vir my lewe, leef.’ Ons laat almal toe dat ons swakhede en onsekerhede die koers van ons lewens dikteer, terwyl God altyd opsoek is na gewone mense om uitsonderlike dinge te doen. Ons maak altyd verskonings oor hoe ons nie by die kerk, of in die gemeenskap, of by mense in nood betrokke kan raak nie. Die kans is goed dat jy, op jou eie, nie bekwaam voel nie. Min mense doen. Paulus wys egter die volgende uit: ‘…[God se] krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking…’ (2 Korintiërs 12:9 NLV).

Toe Moses twaalf spioene na Kanaӓn gestuur het om die land te verken, het tien van hulle gerapporteer: ‘Ons staan nie ‘n kans nie, die reuse is te groot’ (sien Numeri 13:28). Twee het egter gesê: ‘…Laat ons optrek en die land gaan oorneem. Ons is daartoe in staat.’ Jy is in staat daartoe, nie omdat jy magtig is nie, maar omdat God magtig is. God sien jou as ‘n wenner en iemand wat groot dinge kan oorkom en bereik, deur die talente en krag wat Hy in jou geplaas het.

Sielskos: Jos 14-15; Joh 17:1-12; Ps 147:12-20; Spr 29:6-10