Die waarheid van die skepping (3)

2021-02-14
Genesis 1:2 NLV

Die wetenskap definieer die heelal deur middel van vyf komponente waaruit dit bestaan: tyd, ruimte, materie, krag en beweging. Met dit in gedagte, lees die volgende: ‘In die begin [tyd] het God die ganse heelal gemaak [krag], die hemel [ruimte] daarbo en die aarde [materie] hieronder. Maar die aarde was ‘n vormlose, onbewoonbare massa, en die diep waters was toegevou in duisternis. Tog het die kragtige, skeppende Gees van God oor die oppervlakte van die water gesweef [beweging]. Toe beveel God: ‘Laat daar lig wees!’ en dit was so’ (verse 1-3 NLV).

Dink nou oor hierdie aanhalings na: 1) ‘Die meeste kosmoloë (wetenskaplikes wat die strukture en evolusie van die heelal bestudeer), stem saam dat die Genesis weergawe van die skepping, in die idee van ‘n aanvanklike leemte, ongelooflik naby aan die waarheid kan wees’ (die tydskrif Time).

2) ‘Die heelal het skielik in bestaan in ontplof. Die ‘Big Bang’ teorie het ‘n ongelooflike ooreenkoms met die bevel in Genesis’ (Jim Holt, wetenskaplike skrywer: The Wall Street Journal).

3) ‘Nuwe wetenskaplike openbarings oor supernovas, swart gate, kwarke en selfs die ‘big bang’ stel aan sommige wetenskaplikes voor dat daar ‘n ‘meestersplan’ vir die heelal is’ (U.S. News & World Report).

Jou oog se retina bevat 137 miljoen lig-sensitiewe selle, terwyl die spiere wat jou oë fokus ongeveer 100,000 keer ‘n dag beweeg. Raai wat? Charles Darwin het in sy boek, On the Origin of the Species by Means of Natural Selection, die volgende geskryf: ‘Ek moet bieg dat om te veronderstel dat die oog deur natuurlike seleksie (evolusie) gevorm kon word, absurd in die hoogste graad lyk.’

Die waarheid is as volg: God het jou gemaak en Hy het ‘n plan vir jou lewe.

Sielskos: Ef 5:21-33; Hoogl 2:1-7; Ps 45; Spr 5:15-19

Die waarheid van die skepping (2)

2021-02-13
Matteus 19:4 NLV

‘n Fassinerende aanhaling uit ‘n 1995 uitgawe van die U.S. News & World Report lees as volg: ‘Navorsers stel voor dat amper alle moderne mans – 99 persent van hulle, sê een wetenskaplike – geneties nou verwant is of gene deel met een manlike voorsaat wat ‘Y-chomosoom Adam’ genoem word. Ons is besig om uit te vind dat mense baie, baie vlak genetiese wortels het wat na een onlangse voorsaat nagespeur kan word. Dit beteken dat daar ‘n oorsprong op ‘n spesifieke plek op die aarbol was en dat dit van daar af uitgesprei het.’

Verder weet ons dat die man die vrou nodig het om voort te plant, en andersom. Geeneen van die twee kan lewe sonder die ander een voortbring nie. Jesus het dit uitgewys deur te sê: ‘…die Skepper [het] die mens van die begin af man en vrou gemaak…’

Wie het dus volgens die evolusieteorie eerste gekom: die man of die vrou? Soos een skrywer opmerk: ‘As ‘n man sonder ‘n vrou begin bestaan het, hoe het die manlike van elke spesie sonder vrouens voortgeplant? Hoe is dit moontlik dat ‘n man en vrou elk spontaan begin bestaan het, maar tog komplekse, komplementêre voortplantingstelsels het? As elke geslag in staat was om sonder die ander een voort te plant, hoekom (en hoe) sou hulle voortplantingstelsels ontwikkel het wat beide geslagte benodig vir die spesie om te oorleef?’

Net omdat ‘n akademikus iets sê, maak dit dit nie waar nie! Christene moet begin antwoorde eis by diegene wat onbewese teorieë in die naam van hoër onderrig aanbied. Jesus het gesê dat ons die waarheid sal ken en dat die waarheid ons sal vrymaak (sien Johannes 8:32). Vry waarvan? Vry van foute!

Sielskos: Pred 1-4; Matt 14:13-21; Ps 145:14-21; Spr 4:23-24

Die waarheid van die skepping (1)

2021-02-12
Genesis 1:1 NLV

‘n Groeiende aantal opvoeders en wetenskaplikes rondom die wêreld glo die Bybelse weergawe van die skepping en verwys ons terug na die waarheid van hierdie woorde: ‘In die begin het God die ganse heelal gemaak, die hemel daarbo en die aarde hieronder.’ Die vraag: ‘Evolusie of skepping?’ word duideliker wanneer jy dit herfraseer as ‘Ongeluk of ontwerp?’

Sir Fred Hoyle, professor in astronomie aan die Cambridge Universiteit, het gesê: ‘Die kans dat ‘n hoër lewensvorm dalk op hierdie manier (deur evolusie) gevorm is, kan vergelyk word met die kans dat ‘n tornado deur ‘n rommelwerf swiep en ‘n Boeing 747 uit die materiale aanmekaar sit.’ Hy gaan voort: ‘Die waarskynlikheid van die vorming van lewe uit lewelose materie is een uit 1040,000. Dit is groot genoeg om Darwin en die hele evolusieteorie te begrawe. Daar was geen oersop, op hierdie of ‘n ander planeet nie en as die begin van lewe nie toevallig was nie, moet dit dus die produk van doelgerigte intelligensie wees.’

Selfs die evolusionis Stephen Hawking, een van die mees gerespekteerde wetenskaplikes sedert Albert Einstein, het erken: ‘Die heelal en die wette van fisika kom voor asof dit spesifiek vir ons ontwerp is. As enigeen van ongeveer 40 fisise wette effense ander waardes gehad het, sou die lewe soos ons dit ken, nie kon bestaan nie. Atome sou of nie stabiel gewees het nie, of hulle sou nie in molekules saamgevoeg kon word nie, of die sterre sou nie die swaarder elemente kon vorm nie, of die heelal sou ineengestort het voordat lewe kon ontwikkel.’

As iemand wat in die Bybel glo, moet jy nooit verskoning maak of toegee wanneer dit by die waarheid kom wat sê: ‘In die begin het God die ganse heelal gemaak, die hemel daarbo en die aarde hieronder’ nie.

Sielskos: Rom 15-16; Matt 14:1-12; Ps 145:1-13; Spr 4:20-22

Die Bybel en jou gesondheid (2)

2021-02-11
Levitikus 7:23 NLV

God het sy mense oor die gevare wat met diervet geassosieer word, gewaarsku. As jy aan gebraaide of vetterige kos verslaaf is, lees dan die volgende Skrifgedeelte: ‘…Gee vir die Israeliete hierdie instruksies: Julle mag nooit vet eet nie, nie die vet van osse of skape of bokke nie. Die vet van ‘n dooie dier… mag nooit geëet word nie. Dit mag egter wel vir ander doeleindes gebruik word’ (verse 23-24 NLV).

Terwyl poli-onversadige en mono-onversadige vette wat meestal in plantgebaseerde kosse en olies gevind word dieetgesondheid aanmoedig, is die tipe vet wat in baie van die kos wat ons eet versadigde en transvet, wat cholesterol verhoog. Cholesterol is ‘n groot risikofaktor wat tot hartsiektes lei wat beroertes en hartaanvalle veroorsaak. Met betrekking tot prostaatkanker, het ‘n studie aan die Universiteit van Pennsylvania se kankersentrum ook die volgende stelling gemaak: ‘Die vierde algemeenste oorsaak van kanker by mans mag dalk verband hou met versadigde vet inname.’

God het ook vir sy mense wette in verband met higiëne gegee. ‘As die man met ‘n afskeiding gesond word… moet hy sy klere was en in vars fonteinwater bad…’ (Levitikus 15:13 NLV). Gedurende die agtiende eeu het drie uit elke tien moeders tydens kindergeboorte gesterf, selfs al het hulle gesond voorgekom. Hoekom? Omdat dokters in daardie tyd gereeld lyke ondersoek het en dan, sonder om hulle hande te was, na die kraamsaal toe is waar hulle verwagtende moeders ondersoek het. ‘Mikroskopiese siektes’ was ongekend tot 1845, toe Ignaz Semmelweis, ‘n Weense dokter wat ‘die Redder van moeders’ gedoop is, begin aanbeveel het dat hande onder lopende water met ‘n gechlorineerde kalkoplossing gewas moet word. Die sterftesyfer onder nuwe moeders het daarna skerp gedaal. Die punt is: deur volgens die beginsels van die Skrif te lewe, sal jy gesond bly.

Sielskos: Rom 12-14; Matt 13:47-58; Ps 141; Spr 4:18-19

Die Bybel en jou gesondheid (1)

2021-02-10
Spreuke 14:30 NLV

In die laaste halfeeu, het dokters die verhouding tussen geestelike en fisiese gesondheid begin verstaan en beklemtoon. Tog praat die Bybel meer as drie duisend jaar gelede al daaroor toe koning Salomo vir ons hierdie vier spreuke gegee het: 1) ‘Innerlike kalmte bevorder die gesondheid. Jaloesie vreet ‘n mens op.’ 2). ‘Oë wat blink, bring vreugde. Goeie nuus, bring gesondheid’ (Spreuke 15:30 NLV). 3) ‘Mooi woorde is soos heuning; dit is goed vir die gees en bevorderlik vir sy lewe’ (Spreuke 16:24 NLV). 4) “‘n Vrolike mens is soos goeie medisyne. ‘n Neerslagtige mens tap jou krag” (Spreuke 17:22 NLV).

Hierdie Skrifgedeeltes kan as volg opgesom word: ‘n Houding wat met geloof gevul is (deur op die goeie eerder as die slegte te fokus), lag (die vermoë om jouself te verbly) en gesproke woorde van aanmoediging het ‘n diepgaande effek op jou gesondheid (sowel as die gesondheid van diegene rondom jou).

Wat is die teenmiddel vir stres? Kalmte! Wat is die geneesmiddel vir vrees? Geloof! Waar kom kalmte en geloof vandaan? Van God af! Dit het nie goed met Dawid gegaan toe hy die volgende geskryf het nie: ‘Ek het na U geroep, Here. Ek het by U gepleit om genade: ‘Wat sal dit U baat as ek sterf, as ek wegsak in die graf?’…’ (Psalm 30:9-10 NLV). Ons weet nie of hy stres gehad het of fisies siek was nie. God het egter ingetree en later het Dawid in dieselfde Psalm geskryf: ‘U het my droefheid verander in ‘n dans van vreugde. U het my… met vreugde geklee. Daarom sal ek sing tot u eer en nie swyg nie…’ (verse 12-13 NLV).

Daar is geen twyfel daaraan nie – jou gedagtes het ‘n diepgaande effek op jou gesondheid!

Sielskos: Rom 9:17-11:36; Matt 13:36-46; Ps 138; Spr 4:14-17

Jy is aanvaar, geliefd en veilig

2021-02-09
Romeine 8:15 ABA

As jy ‘n aangenome kind is, beteken dit dat jou ouers jou gekies het. Hulle kon ‘n ander geslag, kleur of afkoms gekies het. Hulle het egter vir jou gekies. Jy sê: ‘As hulle egter die res van my lewe kon vooruitsien, mag hulle dalk van gedagte verander het.’ Dis presies die punt! God het ons hele lewe van begin tot einde gesien en tog was Hy steeds oortuig om ‘Deur wat Christus gedoen het… ons as sy kinders aan te neem…’ (Efesiërs 1:5 NLV). Ons kan nou lewe soos God se ‘…kinders, en die Heilige Gees help ons om vir God te sê ‘Vader’… Ons is God se kinders, en daarom sal God ook vir ons gee wat Hy vir ons belowe het. Ja, ons sal saam met Christus alles kry wat God gee…’ (Romeine 8:15, 17 ABA).

God aanvaar jou nie op grond van jou stamboom nie. Hy verwerp jou ook nie op grond van jou tekortkominge, skuld of dom keuses nie. Jy is sy verloste kind. Jy kan ‘…met vertroue vrymoedig na God toe gaan’ (Efesiërs 3:12 NLV). Dit raak egter beter. Jou aanneming is horisontaal sowel as vertikaal. Jy is nou ‘n lid van sy verloste familie. Verdelende mure van vyandigheid word afgebreek en ‘n samelewing word op die basis van ‘n gemeenskaplike Vader geskep. Oombliklike familie wêreldwyd!

As God vir jou lief is, is jy waardig om liefde te ontvang. As Hy jou in sy koninkryk wil hê, is jy waardig om geken te word. God se genade nooi jou uit – nee, dit verwag van jou – om jou houding teenoor jouself te verander en saam met God teen jou gevoelens van verwerping en onwaardigheid standpunt in te neem. Jy is aanvaar, geliefd en veilig!

Sielskos: Rom 7:1-9:16; Matt 13:24-35; Ps 134; Spr 4:5-13