2020-12-18
Jakobus 1:19 NLV
Die meeste mans is van nature ‘regmakers’. Hulle maak karre, wasmasjiene en die druppende kraan reg. Wanneer dit dus voorkom of hulle vrouens oor hulle probleme wil praat, eerder as om dit reg te maak, raak hulle gefrustreerd. Dikwels besef hulle nie dat sy emosionele bekragtiging, eerder as ‘n oplossing, nodig het nie. Dit beteken dat jy moet sit en geduldig moet luister hoe sy voel. Wanneer mans dit doen, verander hulle vrouens se hele uitkyk op die situasie.
Is die probleem opgelos? Nie noodwending nie. ‘n Belangrike behoefte is egter vervul. In die vrou se oë wys die man wat haar op romantiese afsprake geneem het en aan haar lippe gehang het, dat haar gevoelens steeds vir hom saak maak. Die man wat dit gouer, eerder as later, leer, sal ‘n gelukkiger vrou hê.
Dink so daaroor: Soms verander ons gebede nie die omstandighede nie, maar ons voel beter omdat ons gebid het, nie waar nie? Dis omdat ons dit met die Een wat dit kan verander en genoeg omgee om te luister, gedeel het, dus gaan ons met ‘n ander uitkyk op die situasie weg.
Dis die rede hoekom Paulus geskryf het: ‘Getroude mans, julle moet julle vroue liefhê net soos Christus liefde aan die kerk bewys het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het’ (Efesiërs 5:25 NLV). Mans wat in hul beroepe uitblink, is dikwels onbewus van hierdie huweliksbeginsel. Dis egter nie te laat om te leer nie. Moet egter nie verras wees as jou vrou versigtig of verward lyk of flou neerval die eerste keer wat jy dit probeer nie! Haar reaksie sal in verhouding wees met die lengte van die tyd wat jy emosioneel afwesig was. Byt dus vas en gee dit tyd. Die beloning sal veel meer as die belegging wees.
Sielskos: Miga 1-4; Joh 20:19-31; Ps 67; Spr 30:29-33
2020-12-17
Johannes 11:41 NLV
Voordat Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het, het Hy gebid: ‘…Vader, Ek is dankbaar teenoor U dat U na My geluister het.’ Wanneer jy weet dat jou gebed in harmonie met God se wil is, kan jy jou gebed met dieselfde woorde afsluit. Nadat jy gebid het, wil die duiwel hê dat jy daarvan moet weggaan en wonder of God jou gehoor het en of Hy gewillig is om jou versoek toe te staan. Wanneer jy egter weet dat God jou gebed gehoor het, dink, praat en tree jy anders op. Angs word met vrede vervang.
Hier is ‘n paar Skrifgedeeltes waarop jy kan mediteer: ‘Maar as ‘n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie’ (Jakobus 1:6-7 NLV). ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, sal toestaan’ (1 Johannes 5:14-15 NLV). ‘…julle kan vir hierdie berg sê: ‘Mag God jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie… alles wat julle in gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou’ (Markus 11:23-24 NLV).
Begin vandag om God te dank dat Hy na jou gebed geluister het en dat Hy dit op ‘n manier wat die beste vir jou is, sal antwoord.
Sielskos: Neh 11-13; Joh 20:10-18; Ps 57; Spr 30:24-28
2020-12-16
Efesiërs 4:31 NLV
Die woorde: ‘Raak ontslae van alle bitterheid,’ roep die beeld op van ‘n sjirurg wat ‘n kwaadaardige groeisel uitsny om die persoon se lewe te red. ‘n Ander vers: ‘…Moenie dat daar onder julle ‘n giftige loot opskiet wat moeilikheid veroorsaak en baie aansteek nie’ (Hebreërs 12:15 NLV), beveel ons om waaksaam te wees, omdat ‘n klein saadjie bitterheid wortel kan skiet en probleme veroorsaak.
Bitterheid het baie oorspronge: ‘n afwesige of skellende ouer wie ons nie kan vergewe nie; ‘n aaklige skeisaak wat ons aanhou herleef; die sorgelose fluistering van ‘n vriend wat nie eers bewus is van die effek daarvan op jou nie; ‘n baas wat ons vir bevordering oorgesien het.
Wat is die antwoord? Paulus skryf: ‘…Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (Efesiërs 4:32 NLV). Hoe gouer jy dit doen, hoe beter! Die swaarste ding wat jy ooit sal ronddra, is ‘n wrok. Jou primêre begeerte sal dan wees om die skuldige party aan die pen te laat ry, veral wanneer jy of jou geliefde die slagoffer is.
Satan kom dan die situasie binne en oortuig jou dat dit reg is dat jy ‘n wrok koester. Jy beskerm mos net jouself sodat jy nie weer seerkry nie, nie waar nie? Wanneer dit gebeur, skop jy vas, jy probeer jou posisie regverdig en jy raak gemaklik daarmee om met bitterheid saam te lewe. Totdat dit jou vernietig.
Dit hoef egter nie met jou te gebeur nie, omdat daar geen emosie is wat so diep wortel geskiet het dat God se genade dit nie kan bereik en verwyder nie. Die woord vir jou vandag is dus: ‘Raak ontslae van alle bitterheid.’
Sielskos: Neh 8-10; Joh 20:1-9; Ps 105:37-45; Spr 30:20-23
2020-12-15
Psalm 119:104 NLV
Ware insig kom van God af – dis ‘n gawe wat slegs Hy kan gee. Dis hoekom Salomo vir God vir insig gevra het, eerder as om op sy eie staat te maak. God sal vir jou insig deur sy Woord gee. ‘Dit is tog die Here wat wysheid gee. Sy woorde gee kennis en insig’ (Spreuke 2:6 NLV). Dawid het gesê: ‘Deur u bevele kry ek insig…’ Die Bybel is geskryf sodat ons insig kan hê en die lewe kan interpreteer soos God dit doen.
Paulus, wat ‘n groot gedeelte van die Nuwe Testament geskryf het, het vir Timoteus gesê: ‘Dink na oor wat ek sê. Die Here sal jou help om al hierdie dinge beter te begryp’ (2 Timoteus 2:7 NLV). Soos jy jouself in die Skrif verdiep, praat God met jou. Hy sê in wese: ‘Dis hoe Ek dit sien, en dis hoe Ek wil hê jy dit moet sien.’ In die Bybel sal jy leer hoe om waarlik suksesvol te wees. Jy sal die antwoord op jou finansiële probleme kry, hoe om jouself van angs te genees en hoe om verhoudingsprobleme op te los. Dit sal jou gesinsverhoudings rig – die vloei van gesag in die huis, insluitend die posisie van die man, die vrou en die kinders. Dit bevat die kuur vir senuweeagtigheid en depressie. Dis selfs ‘n reinigingsmiddel om jou te help om sonde uit jou gedagtes en lewe te verwyder. ‘Hoe kan ‘n jongmens ‘n skoon lewe lei? Deur gehoorsaam te wees aan u woord’ (Psalm 119:9 NLV).
In kort, is die Bybel die beste handleiding vir sukses in die wêreld! Die psalmdigter het gesê: ‘Begrip van u woord bring lig; dit gee insig aan die eenvoudige’ (Psalm 119:130 NLV). As jy dus ware insig wil hê, mediteer vandag oor die Skrif.
Sielskos: Neh 5-7; Joh 19:31-42; Ps 105:23-36; Spr 30:15-19
2020-12-14
Spreuke 1:5 NLV
Om sukses in die lewe te behaal, moet jy persoonlike groei een van jou hoogste prioriteite maak. Die feit is dat jy nooit stilstaan nie. Jy beweeg vorentoe of agtertoe, jy strek of jy stagneer. Kom ons neem ‘n oomblik om te dink oor wat gebeur wanneer jy jouself toelaat om te stagneer.
Jy verloor jou invloed. Soek vriende jou raad en tree dan daarvolgens op? Waardeer jou kollegas jou opinie? As jy nie op ‘n gereelde basis nuwe idees en inligting na die tafel toe bring nie, sal mense dit êrens anders begin soek en sal jy eenkant toe geskuif word. Vandag se besighede beweeg teen die spoed van lig. Nuwe idees, tegnologie, leierskapstegnieke, finansiële modelle, verkoopsbeginsels en maniere om te kommunikeer word konstant ondersoek, bespreek, geëvalueer en getoets. Maatskappye soek mense wat nie outomate is nie. Hulle soek mense met oorspronklike idees, mense wat verby die alledaagse interaksies in die werksplek kan kyk en met nuwe oplossings tevore kan kom. Wees die persoon waarna hulle gaan wanneer dit by antwoorde en idees kom. Wees die persoon wat weet hoe om nuwe inligting te bekom en wat innoverende insigte en perspektiewe kan lewer.
As jy jou oë en ore oophou en versigtig luister, sal jy ontdek dat daar goeie idees reg rondom jou is. Jy sal ‘n honderd mense kry wat ‘n goeie idee kan bestuur, vir elke persoon wat met ‘n goeie idee vorendag kan kom. As jy nie besluite, rigtings of mense beïnvloed nie, moet jy onmiddellik ‘n plan vir persoonlike groei implementeer.
Salomo, wat dikwels die wysste man (na Christus) wat nog ooit gelewe het, genoem word, het gesê: ‘Selfs hulle wat wys is, kan luister na die spreuke sodat hulle tot dieper insig kan kom…’
Sielskos: Neh 1-4; Joh 19:17-30; Ps 105:16-22; Spr 30:10-14
2020-12-13
Spreuke 4:18 NLV
Phil Cooke skryf: ‘Groei is wat ons met kennis doen. Groei is waar ons ons kennis neem, hoe ons dit toepas en hoe ons dit in ons alledaagse lewe gebruik. Die leierskapskundige, John Maxwell, het my lank gelede geleer om my uitgangspunt van doelwitte na groei te verander. Dit was ‘n openbaring. Ek het altyd geleer dat doelwitte belangrik was en ek het ‘n sisteem gebruik waar ek oor en oor doelwitte probeer bereik het, maar aanhoudend daarmee gesukkel het. Ek kan sien dat doelwitte baie mense motiveer, maar dit het my leeg en onbevredig laat voel.
Toe John my egter wys hoe om my aandag op groei te fokus, het alles skielik in plek geval. Die proses het my geleer dat doelwitte goed is, maar wanneer ons ‘n doelwit bereik, is dit klaar.
Groei is egter ‘n nimmereindigende proses – waar jy altyd leer, altyd vorentoe beweeg en altyd presteer. Ek hoop dat wanneer ek die einde van my lewe bereik, daar ‘n paar goeie boeke op my bedkassie sal wees, want ek wil tot met my laaste asem nog leer en groei.
Kyk na mense in jou vriendekring. Hoekom behaal party van hulle sukses, terwyl ander stagneer? Hoekom beweeg sommige van hulle na hoër prestasievlakke, terwyl ander jare lank op dieselfde plek bly? Baie mense blameer die sisteem, die maatskappy of hulle baas. Hulle blameer die samelewing, hulle opvoeding of hulle verlede. ‘n Lewenslange plan vir groei kan egter grense breek en amper enige struikelblok oorkom.’
Die Bybel stel dit so: ‘Die pad van die regverdiges is soos die lig met dagbreek. Dit word al helderder totdat die volle dag aanbreek.’
Sielskos: Eseg 37:1-14; Matt 27:50-53; 1 Tess 4:13-18