2020-12-24
Psalm 34:19 NLV
Wanneer jy jouself alleen tydens Kersfees bevind, kan die beelde en geluide wat jou eens vreugde verskaf het, jou sin van hartseer en verlies versterk. Daar is nie ‘n voel-vinnig-beter wonderkuur nie; om dit wat jy verloor het te prosesseer, neem tyd en God se genade. Hier is egter ‘n paar insigte om jou te help:
1) Moenie aanvaar nie. Moenie by die mite inkoop dat almal anders ‘n perfekte Kersfees het terwyl jy sukkel nie. Die waarheid is dat ons almal die onrealistiese druk en eise van inkopies, gaste vermaak en presente gee, ervaar. Dis erger in tye van hartseer. Dis hoekom ons so verlig is wanneer dit verby is.
2) Dis net een dag uit 365 dae. Jy kan dit vir vier-en-twintig uur hanteer, omdat God beloof het dat: ‘…jou krag soveel [sal] wees soos jou dae!’ (Deuteronomium 33:25 NLV).
3) Neem die fokus van jouself af. Reik uit. Kyk of daar ‘n behoeftige familie of ‘n kennis wat seer het is wat dit sal geniet om ‘n uur saam met jou deur te bring. Dis heel waarskynlik die laaste ding waarvoor jy lus sal wees, maar dis terapeuties, herstel jou perspektief en bring ‘n gevoel van welwillendheid en dankbaarheid mee.
4) Begin nuwe tradisies – veral as die ou tradisies jou net slegter laat voel. ‘…ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê’ (Filippense 3:13 NLV).
As jy eensaam voel, is hier ‘n gebed vir jou: ‘Here, U weet dat my hart vandag seer is. U Woord sê dat U naby diegene is wat hartseer is. Laat my u nabyheid voel. Word meer werklik vir my as die aktiwiteite sonder my geliefdes en die leegheid binne-in my. Help my om nader aan U te beweeg en maak sodoende hierdie Kersfees een soos ek nog nooit beleef het nie.’
Sielskos: Sag 9-11; Matt 1:12-17; Ps 117; Spr 31:18-21
2020-12-23
1 Konings 17:13 NLV
Dink aan ‘n ma en kind in ‘n ernstige hongersnood, met net genoeg kos vir een laaste maaltyd. Dink nou aan Elia wat sê: ‘Deel met my wat jy het. Moenie bang wees nie; God sal seker maak dat jy meer as genoeg het om jou deur hierdie tyd te bring.’ Wat sou jy gedoen het? Die vrou het gekies om God te gehoorsaam. Gevolglik het sy haar hongersnood oorleef en het Jesus in een van sy preke aan haar hulde gebring.
Daar is basies twee soorte gewers: diegene wat dit wat oorbly vir God gee en diegene wat aan Hom die beste van hulle oes gee (sien Spreuke 3:9). Die eerste tipe gewer sien hulself as verantwoordelik vir hulle eie behoeftes, dus gaan dit wat oorbly na God toe. Die oomblik wat jy dan voor finansiële onsekerheid te staan kom, neem vrygewigheid die agtersitplek in.
Aan die ander kant weet diegene wat die beste oes aan God gee, dat Hy die bron van alles wat hulle het, is. Hulle is gemotiveerd om eerste in sy belange en tweedens in hul eie belange te belê. Hulle glo die skriftuurlike beginsel dat jy altyd meer oes as wat jy saai (sien 2 Korintiërs 9:6-11).
Vrees sal veroorsaak dat jy irrasioneel word en teenoorgesteld optree as wat jy in jou hart glo. Maak dit nie sin om God met jou finansies te vertrou nie, aangesien dit alles in elke geval aan Hom behoort? En om Hom met iets te vertrou wat in elk geval buite jou beheer is nie? Dink daaroor: Jy sê jy vertrou God met jou ewige lewe, maar tog verwerp jy sy aanbod om jou finansiële vennoot te wees. Maak dit sin? Die waarheid is dat jy nooit meer as God kan gee nie – wees dus vrygewig!
Sielskos: Sag 5-8; Matt 1:6b-11; Ps 113; Spr 31:14-17
2020-12-22
Matteus 6:27 NLV
Bekommernis verander niks, behalwe jouself – en nie ten goede nie. Dit sal nie jou rekeninge betaal, jou familieprobleme oplos of vir jou ‘n goeie nagrus gee nie. Jy kan nie een dag by jou lewe of een minuut by jou dag voeg deur jou te bekommer nie. Jy kan wel vroeg oud word en voor jou tyd sterf.
Lees die volgende twee Skrifgedeeltes aandagtig: ‘Hulle wat op die Here vertrou is soos Sionsberg; hulle is onbeweeglik en sal vir altyd bly bestaan’ (Psalm 125:1 NLV). ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is’ (Jesaja 26:3 NLV). Beide Skrifgedeeltes bevat die woord ‘vertrou.’
Bekommernis openbaar eenvoudig ons gebrek aan vertroue in God! Wie vertrou ons dus? Onsself! Eers wanneer dit nie meer werk nie, is ons gewillig om ons probleem aan God te gee. Kan jy jou indink om vir Michaelangelo te vra: ‘Is jy seker jy weet wat jy met daardie stuk marmer doen?’
God weet wat Hy doen en wanneer jy Hom vertrou: ‘…sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:7 NLV). Paulus gebruik hier ‘n militêre metafoor. Die mense in Fillipi het onder Romeinse besetting geleef, wat sleg was. Hulle het egter geweet dat veiligheidswagte hulle stad oppas, wat goed was. Hulle het geweet dat ‘n vyand eers verby die veiligheidswagte moes kom, voor hulle by hulle sou uitkom. Omdat jy ‘in Christus’ is, moet Satan eers verby Hom kom om by jou uit te kom.
Niks – absoluut niks – sal by jou kom sonder om eers deur Hom te gaan nie! Wanneer jy dit aanvaar, sal God se vrede jou hart vul.
Sielskos: Sag 1-4; Matt 1:1-6a; Ps 128; Spr 31:10-13
2020-12-21
Jakobus 5:16 AFR53
Die Bybel sê: ‘…Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag. Elía was ‘n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie’ (verse 16-17 AFR53). Daar is twee woorde in hierdie Skrifgedeelte waaraan jy spesifiek aandag moet gee:
1) ‘Vurige.’ Dit beskryf die intense hitte wat jy van ‘n brandende vuur voel. As jy nie versigtig is nie, kan jy dalk in die strik trap om te dink dat jy sterk emosies moet ‘opwerk’ voor jy bid of terwyl jy bid, sodat jou gebede gehoor en beantwoord kan word. Dis nie so nie! Jou gevoelens mag jou dalk roer, maar net jou geloof sal God roer. Die Bybel sê: ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon’ (Hebreërs 11:6 NLV). Net omdat jy gister God se teenwoordigheid op ‘n spesiale manier aangevoel het toe jy gebid het, maar dit nie vandag voel nie, beteken nie dat jou gebede vandag nie aangehoor en beantwoord sal word nie.
2) ‘Regverdige.’ Elia was ‘n regverdige man, maar hy was verseker nie ‘n perfekte man nie. Ja, sy gebede was effektief. Hy was egter ook geneig om te vrees en het soms in ‘n diep depressie verval. Hier is die sleutel: Omdat jy in Christus se geregtigheid geklee is, is jy altyd waardig en aanvaarbaar voor God, dus kan jy vol vertroue wees dat jou gebede gehoor en beantwoord sal word (sien Romeine 5:17). Met hierdie wete, kan jy effektief bid.
Sielskos: 2 Tim 1-4; Joh 21:15-25; Ps 47; Spr 31:6-9
2020-12-20
Romeine 15:13 NLV
Die Here het vir ons ‘n sin van blydskap te midde van elke situasie waarvoor ons te staan kom, beloof. Jesus het gesê: ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome mag wees’ (Johannes 15:11 NLV). Hoe kan jy dus aan jou blydskap vashou en dit nie verloor nie?
Die apostel Paulus sê vir ons: ‘Ek bid dat dié God wat aan ons ‘n toekomsverwagting gee, deur die geloof julle lewens met blydskap en vrede sal vul. Ja, mag julle lewens tot oorlopens toe vol verwagting word deur die kragtige werking van die Heilige Gees’ (Romeine 15:13 NLV). Let die woorde ‘deur die geloof’ op. Jy mag vrae hê, maar jy moet nooit aan God se liefde en getrouheid teenoor jou twyfel nie.
Een Bybelonderwyser skryf: ‘Ek onthou ‘n aand wat ek baie ontevrede en misnoeg gevoel het. Ek het geen vrede of blydskap gehad nie en het ellendig gevoel. Ek het Romeine hoofstuk 15:13 gelees en dit was die regte woord op die regte tyd vir my. My probleem was eenvoudig: Ek het getwyfel in plaas daarvan om te glo. Ek het aan God se onvoorwaardelike liefde vir my getwyfel, ek het getwyfel dat ek sy stem kan hoor, ek het aan sy roeping vir my lewe getwyfel en ek het getwyfel of Hy met my tevrede was. Toe ek die probleem herken en terug in geloof en uit twyfel beweeg, het my vrede en blydskap onmiddellik teruggekeer. Ek het gevind dat dit deurlopend in my lewe die geval was. Wanneer my blydskap en vrede weg was, moes ek na my geloof kyk – gewoonlik was dit ook dan weg.’
Dieselfde beginsel is vandag op jou van toepassing!
Sielskos: Jona 2; Luk 11:29-32
2020-12-19
Matteus 14:22 NLV
Het Jesus geweet dat daar ‘n storm aan die broei was toe Hy die dissipels gedwing het om weer in die skuit te klim? Ja. Hoekom het Hy hulle dus in die middel daarvan uitgestuur? Om te leer, te groei en hulle geloof te strek.
Die Bybel sê vir ons: “Kort voor dagbreek het Jesus op die see na hulle toe aangeloop gekom. Toe die dissipels Hom so op die see sien loop… [het] hulle gedink dis ‘n spook. Maar Jesus het dadelik vir hulle gesê: ‘Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek'” (verse 25-27 NLV).
Daar is drie belangrike lesse hieruit te leer: 1) Om die Here te dien, stel jou nie van die lewe se storms vry nie, maar dit beskerm jou wanneer jy daarin is. Jesus het belowe: ‘…In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed. Ek het die wêreld reeds oorwin’ (Johannes 16:33 NLV).
2) Wat jy as ‘n probleem sien wat na jou kant toe kom, mag dalk die Here wees wat na jou toe op pad is. Die dissipels het gedink dat Jesus ‘n spook is, terwyl Hy inderwaarheid hulle Redder was.
3) Jesus mag dalk nie opdaag wanneer jy wil hê Hy moet nie, maar Hy sal altyd betyds opdaag. Die dissipels was vir ure in die storm voor Jesus te voorskyn gekom het. Toe Hy daar kom, het Hy gesê: ‘…Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek.’ Let op dat Jesus hulle eers innerlik gekalmeer het, voor Hy die uiterlike storm laat bedaar het.
Dis hoe Hy werk. Eers verander Hy ons – dan verander Hy ons omstandighede. Gevolglik groei ons in geloof en word ons toegerus om die volgende storm in ons lewens, te hanteer.
Sielskos: Miga 5-7; Joh 21:1-14; Ps 12; Spr 31:1-5