Het jy daaroor gebid?

2021-02-20
2 Korintiërs 4:18 NLV

God het nie gebed moeilik of gekompliseerd gemaak nie, maar regtig eenvoudig. Die waarheid is dat baie van ons meer gereeld bid as wat ons weet. Ons het ‘n effektiewer en suksesvoller gebedslewe as wat ons besef. Die probleem is dat ons nie altyd besef wanneer ons bid nie. Dis omdat jy die verkeerde idee daaroor het. Ons is geleer dat gebed ‘n spesifieke omgewing soos die kerk nodig het, dat ons ‘n spesifieke posisie moet inneem, deur byvoorbeeld te kniel, dat ons spesifieke woorde soos ‘O Heer’ moet gebruik en dat ons streng aan sekere godsdienstige rituele moet voldoen. Nee, gebed is eenvoudig ‘n gesprek met God, waarna jy stil word en Hom toelaat om met jou te praat. Jy kan enige tyd, enige plek, oor enigiets bid, deur jou gedagtes – gesproke en ongesproke – na God toe te rig.

Paulus skryf: ‘Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare is vir altyd.’ Verbeel jou dat al God se seëninge en voordele in ‘n pakhuis in die onsigbare ryk gestoor word; dinge soos vergifnis, krag, wysheid, leiding, guns en hulpbronne. Deur gebed gaan jy God se pakhuis van seëninge binne en deur geloof ontvang jy dit en bring dit na jou lewe toe terug.

Die Bybel sê dat ons nie het nie, omdat ons nie vra nie (sien Jakobus 4:2). Wat jy dus ook al vandag benodig, bid en vra God daarvoor – met die geloof dat Hy dit vir jou sal gee. Jesus het gesê: ‘As julle aan My verbind bly en my woorde ‘n stewige vastrapplek in julle gekry het, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry’ (Johannes 15:7 NLV). So, het jy daaroor gebid?

Sielskos: Gen 10-12; Matt 16:13-28; Ps 36; Spr 5:21-23

Rande en robyne

2021-02-19
Efesiërs 2:8 NLV

Om te verstaan hoe God jou sien, kyk na hierdie twee voorbeelde:

1) ‘n R10 noot. Wat maak dit waardevoller as enige ander stukkie papier van dieselfde grootte? Die rykdom en stabiliteit van die regering wie se stempel daarop afgedruk is. Jy kan die R10 noot opfrommel, daarop trap of dit selfs in twee skeur en weer vasplak, maar sy waarde bly steeds dieselfde.

2) ‘n Robyn. As jy ‘n robyn in die stof rondrol, is dit steeds ‘n robyn, net ‘n vuile. Ons moet uitwys dat jy dan egter eers die vuilheid sal moet afwas en die robyn sal moet poets, om waarlik die skoonheid daarvan te kan waardeer.

Wat is die punt van hierdie twee illustrasies? Dat jou waarde in God se oë, as sy verloste kind, nie verander of verminder wanneer jy vuil word, op getrap word of deur die lewe en omstandighede uitmekaar geskeur word nie. Dis omdat jou werklike waarde nie deur jou eie pogings bepaal word nie, maar deur die prys wat Jesus vir jou aan die kruis betaal het. Daar het die groot wisseling plaasgevind. Al jou sondes, van jou geboorte tot by jou graf, is op Hom gelê. Wanneer jy Hom dan as jou Redder aanvaar, word sy geregtigheid na jou toe oorgedra. Jy hoef dit nie na te streef nie; dis “‘n gawe.” ‘…julle geloof kom nie uit julleself nie, maar is ‘n gawe van God.’

Sielskos: Gen 7-9; Matt 16:1-12; Ps 33:13-22; Spr 5:15-20

Stel gesonde grense vir jouself

2021-02-18
Spreuke 25:28 NLV

‘n Christelike leier skryf: ‘Die Groot Muur van China is in die derde eeu NC as verdediging teen strooptogte van die nomadiese volke uit die noorde opgerig. Dwarsdeur die daaropvolgende eeue, veral gedurende die Ming Dinastie (1368 – 1644), is die Groot Muur herstel en uitgebrei totdat dit uiteindelik vyf-en-veertig myl lank gestrek het.’ Eeue voor die oprigting daarvan, het Bybelse volke mure gebruik om hulself te beskerm en om grense rondom hulle op te rig, om sodoende die land wat aan hulle behoort het, te kon identifiseer. Om effektief te wees, moes die mure egter gereeld onderhou word. Die kleinste gat kon die vyand ‘n noodlottige voordeel gee. Daar is ‘n waardevolle les hieruit te leer.

As ‘n Christen, is daar een muur in jou verdedigingsisteem wat ten alle tye onderhou en beskerm moet word – die muur van selfbeheersing. Die Bybel sê: ‘Iemand wat homself nie in bedwang kan hou nie, is soos ‘n stad sonder ‘n muur wat beskerming bied.’ Jou versuim om selfbeheersing te handhaaf, is soos om die hekke van die stad oop te maak en vir die Duiwel ‘n uitnodiging te stuur om jou aan te val.

J. Wilbur Chapman, een van grootste predikers in die geskiedenis, het ‘n reël wat hy ‘My reël vir ‘n Christelike lewenstyl’ genoem het, geformuleer. Dis ‘n reël wat jy in jou lewe moet nastreef. Hy het gesê: ‘Die reël wat my lewe regeer is as volg: Enigiets wat my visie vir Christus aantas, of my lus vir Bybelstudie wegneem, of my gebedslewe inperk, of Christelike werk moeilik maak, is verkeerd vir my en ek moet, as Christen, daarvan af wegdraai.’ Vraag: Is jou verdedigingsmure geskend of het dit vervalle geraak? Indien so, doen vandag iets daaraan.

Sielskos: Gen 4-6; Matt 15:29-39; Ps 33:1-12; Spr 5:7-14

Die Mickey Mantle verhaal

2021-02-17
2 Korintiërs 5:17 NLV

Mickey Mantle is een van die ware legendes in die geskiedenis van bofbal. Hy het van 1951 tot 1968 tweeduisend vierhonderd en een wedstryde vir die New York Yankees gespeel en met ‘n rekord van agtien tuislopies in twaalf wêreldreekse, vir hom ‘n plek in bofbal se ‘Hall of Fame’ in 1974 losgeslaan. Die skare was mal oor hom. Hy was beroemd. Hy was ryk. Maar tog het hy leeg gevoel, dus het hy na alkohol gedraai.

In ‘n onderhoud met Sports Illustrated, het hy sy lang stryd met drank en sy hartverskeurende probleme met sy familie beskryf. Die onderhoudvoerder het hom gevra: ‘Hoe gaan dinge deesdae met jou, Mickey?’ Hy het geantwoord: ‘Ek het al vir agt maande nie ‘n druppel drank gedrink nie. Ek begin my lewe weer agtermekaar kry, maar ek voel dat daar iets ontbreek.’

Voel jy dieselfde vandag? Het al die dinge wat jy bereik het of verkry het jou nie bevredig nie? Mickey Mantle het uiteindelik uitgevind hoe om die gat in sy siel te vul.

Aan die einde van sy lewe het hy dít gevind waarna hy nog altyd op soek was – Jesus Christus. ‘n Ander beroemde bofbalspeler, Bobby Richardson, het hom na Christus gelei. By Mantle se begrafnis, het Richardson vertel hoe hy Mantle gehelp het om die Here Jesus as sy persoonlike Redder te aanvaar. Op sy sterfbed het Mickey Mantle gesê: ‘Ek vertrou in Christus se dood om my hemel toe te neem.’ Wat Jesus vir Mickey Mantle gedoen het, wil Hy vir jou ook doen. ‘Daarom – iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’

Sielskos: Gen 1-3; Matt 15:15-28; Ps 28; Spr 5:3-6

Die waarheid van die skepping (5)

2021-02-16
Genesis 1:24 NLV

Die teorie van evolusie is onversoenbaar met die Bybel. God het gesê: ‘Laat die aarde allerlei soorte diere oplewer… almal na eie aard.’ Ook, ‘…Toe God mense geskep het, het Hy hulle na sy beeld gemaak… Toe Adam 130 jaar oud was, is sy seun Set gebore. Hy was die ewebeeld van sy pa’ (Genesis 5:1,3 NLV). Met ander woorde, die mens is nie net nog ‘n dier op die evolusionêre ketting nie. ‘Mikro-evolusie’ leer mens dat daar variasies binne spesies is. Daar is byvoorbeeld verskillende soorte honde, ens. Daar is egter geen wetenskaplike bewyse om ‘makro-evolusie’ – een spesie wat in ‘n ander spesie ontwikkel – te staaf nie.

Met betrekking tot die skepping, het dr Derek Prince geskryf: ‘Ek is eenvoudig genoeg om te glo dat dit gebeur het soos die Bybel dit beskryf. Ek was vir nege jaar lank ‘n professor aan Brittanje se grootste universiteit (Cambridge). Ek het verskeie grade en akademiese onderskeidings ontvang en ek voel dat ek op baie vlakke intellektueel gesofistikeerd is. Ek voel egter op geen manier intellektueel minderwaardig wanneer ek sê dat ek die Bybelse weergawe van die skepping glo nie. Voordat ek die Bybel geglo het, het ek baie ander pogings om die mens se oorsprong te verduidelik, bestudeer, maar ek het hulle almal onbevredigend en in baie gevalle selfs teenstrydig gevind. Ek het die Bybel as professionele filosoof – nie as ‘n gelowige nie – begin bestudeer en vir myself gesê: ‘Ten minste kan dit nie dwaser as van die ander dinge wat ek gehoor het, wees nie,’ maar tot my verbasing het ek ontdek dat dit die antwoord bevat het.’

Is jy opsoek na antwoorde vir jou lewensprobleme? Of rigting vir jou toekoms? Lees die Bybel en lewe volgens sy voorskrifte!

Sielskos: Pred 9-12; Matt 15:1-14; Ps 5; Spr 5:1-2

Die waarheid van die skepping (4)

2021-02-15
1 Korintiërs 15:39 NLV

Die Bybel sê: ‘…so is daar ook verskillende soorte vleis – dié van mense en diere en voëls en visse is almal verskillend.’ Een skrywer skryf: ‘Die Bybel sê vir ons dat diere sonder insig is (sien Psalm 49:21 NLV). Ons is na God se beeld gemaak. Ons is nie net ‘n hoër spesie op die evolusieleer nie. As menslike wesens, is ons bewus van ons ‘wese.’ God is ‘EK IS,’ en ons weet dat ‘ons is.’ Ons begryp dat ons bestaan.

Tesame met ander unieke karaktereienskappe, het ons die ingebore vermoë om God se skepping te waardeer. Watter ander dier staar met verwondering na die Grand Canyon? Watter dier verkry vreugde uit die klanke van musiek of neem die tyd om ‘n orkes te vorm om musiek te skep en te harmoniseer? Watter dier stel howe daar om geregtigheid aan sy mede-skepsels uit te meet? Ons is morele wesens. Terwyl voëls en ander diere die instink het om te skep (nessies, ens.), het ons die vermoë om die verborge wette van elektrisiteit te ontdek. Ons kan die wet van aerodinamika gebruik om onsself rondom die aarde te vervoer. Ons het ook die Godgegewe vermoë om die waarde van skepping te waardeer. Ons ontdek die verborge skatte van goud, silwer, diamante en olie en gebruik dit tot ons eie voordeel. Net mense het die unieke vermoë om hierdie wonderbaarlike skepping van God te waardeer en op sy liefde te reageer.’

Ja, God het ons geskep, ons verlos, ‘n spesiale doel vir ons en is so lief vir ons dat wanneer ons sterf, Hy ons na die hemel toe wil neem om vir ewig daar saam met Hom te woon.

Sielskos: Pred 5-8; Matt 14:22-36; Ps 149; Spr 4:25-27