Struikelblokke tot beantwoorde gebede (6)
2021-01-10Habakuk 2:3 NLV
Voordat ons met ons reeks oor struikelblokke tot beantwoorde gebede klaar maak, laat ons duidelik wees oor een ding: sommige van ons onbeantwoorde gebede is reeds beantwoord. Die antwoord is ‘wag.’ Omdat ons egter nie van die antwoord hou nie, hou ons aan hoop dat God van plan sal verander. Die waarheid is dat God nie van plan sal verander om ons te akkommodeer nie. Ons het dus twee opsies: 1) Hou aan om by Hom te kla. 2) Begin met Hom saamwerk.
Wat het God vir die profeet Habakuk gesê toe hy antwoorde op sy gebede nodig gehad het om Israel in die regte rigting te stuur? Wag! “…’Skryf my antwoord, die visioen, in groot, duidelike letters op kleitablette sodat iemand wat verbyhardloop dit kan lees… Wag geduldig, al voel dit of dit stadig gaan. Wees seker dit gaan gebeur, dit sal nie onnodig talm nie'” (verse 2-3 NLV).
God werk volgens sy eie plan en skedule en sal nie aangejaag word nie. Wanneer jy voor Hom probeer uitbeweeg, beland jy altyd in die moeilikheid. Abraham het dit gedoen en die eindresultaat daarvan was Ismael. Dis toe Abraham se moeilikheid in alle erns begin het! God weet wat jy kan hanteer en wanneer jy gereed sal wees om dit te hanteer.
Paulus het gesê: ‘Drie maal het ek die Here gesmeek… Hy het egter vir my gesê: ‘My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking’…’ (2 Korintiërs 12:8-9 NLV). In plaas daarvan om Paulus uit sy probleem te red, het God dit gebruik om hom te ontwikkel. Sonder die doring in sy vlees om sy groot talent en potensiële trots uit te balanseer, sou Paulus nie naastenby so effektief in die diens van God gewees het nie. Dink daaroor!
Sielskos: 1 Sam 17:4-51; Ef 6:10-18