Leer om te wag

2021-03-10
Galasiërs 6:9 NLV

Daar is nie so ‘n ding soos onmiddellike sukses nie, nie as dit by mense of probleme kom nie. Of jy nou tien kilogram of eenhonderd kilogram moet verloor, die gewig kan net een kilogram op ‘n slag afgeskud word. Dis opwindend om op die kruin van die berg te staan, maar jy kan net met een tree op ‘n slag daar kom. Niks groots vind onmiddellik plaas nie; amper alle betekenisvolle sukses in die lewe vind eers na ‘n lang, moeilike wagtydperk plaas. Totdat jy hierdie waarheid aanvaar, sal jy te gou tou opgooi of met minder as die sukses wat God vir jou in gedagte het, tevrede wees.

Jell-O het in 1997 sy eenhonderdste herdenking gevier, maar as die uitvinder daarvan nog gelewe het, sou hy heel waarskynlik min troos in sy produk se sukses gevind het. In 1897 het Pearl Wait baie hoede gedra. Hy was ‘n konstruksiewerker wat ook met patent medisyne geëksperimenteer het wat hy deur tot deur verkoop het. Tydens sy eksperimente het hy met die idee vorendag gekom om vrugtegeursel met gegranuleerde gelatien te meng. Sy vrou het dit Jell-O gedoop en Wait het nog ‘n produk gehad om mee te smous. Ongelukkig was die aanvanklike verkope van sy wriemelrige happie nie so goed soos hy gehoop het nie, dus het hy die regte van sy Jell-O uitvindsel vir ‘n skamele $450 aan Orator Woodward verkoop.

Woodward was ‘n slim besigheidsman. Hy het die waarde van bemarking geken en binne agt jaar het hy die $450 belegging in ‘n miljoen dollar besigheid omskep. Vandag verdien nie een van Pearl Wait se nasate ‘n sent van die meer as een miljoen boksies Jell-O wat elke dag verkoop word nie. Hoekom nie? Omdat Wait nie kon wag nie!

Sielskos: Gen 50; Haggai 1-2; Matt 22:1-14; Ps 27; Spr 7:10-20

Het jy vandag jou Bybel gelees?

2021-03-09
2 Timoteus 3:15 NLV

Die Bybel intimideer mense om verskeie redes. Vir sommige mense is dit so ‘n groot boek dat dit hulle bang maak en hulle nie weet waar om te begin nie. Ander dink weer dat dit so ‘n antieke boek is, wat oor so ‘n lang historiese tydperk strek en so baie temas bevat, dat hulle dit nooit sal kan ontrafel nie. Kom ons probeer dit dus vereenvoudig.

Dink aan die Bybel as ‘n biblioteek wat ses-en-sestig boeke van verskeie lengtes bevat, wat oor ‘n periode van vyftien honderd jaar, deur meer as veertig mense uit alle kulturele en opvoedkundige agtergronde, geskryf is. Dis buitengewoon uniek en samehangend deurdat die woorde van elke boek ‘deur God geïnspireer’ is (vers 16 NLV). Saam vertel die boeke van die Bybel die verhaal van God se wonderbaarlike liefde vir ons en bereik ‘n hoogtepunt by die kruis.

Soos Paulus vir Timoteus geskryf het: ‘Jy moet getrou bly aan die dinge wat jy geleer het. Jy weet dit is waar, want jy weet jy kan dié vertrou wat jou geleer het. Jy is van kindsbeen af onderrig in die Heilige Skrif en dit het jou die wysheid gegee om die verlossing te ontvang wat deur geloof in Christus Jesus kom’ (verse 14-15 NLV).

Die Bybel is hoofsaaklik die verhaal van God se liefde vir jou. Laat dit elke keer wat jy dit dus lees, toe om in jou hart as ‘n liefdesbrief wat God aan jou geskryf het, te ontvou. Soos jy dit lees en daaroor mediteer, sal jou vrese en bekommernisse opgelos word, jou vrae sal beantwoord word en jy sal krag en leiding vir jou daaglikse lewe ontvang.

Sielskos: Gen 47-49; Matt 21:33-46; Ps 112; Spr 7:6-9

Hoekom moet jy bid?

2021-03-08
Matteus 21:22 NLV

Jy sê: ‘As God lief is vir my en weet wat ek nodig het, hoekom moet ek Hom dan daarvoor vra?’ Omdat gebed beteken dat jy met God praat en na God luister, wat daartoe lei dat jy ‘n verhouding met Hom bou. Jesus het gesê: ‘Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (Matteus 6:33 NLV).

Wanneer jou gebede op jou verhouding met God gebaseer is, word daar aan jou behoeftes voldoen. Wanneer jy vir God lief is en tyd met Hom deurbring, sê sy Woord: ‘…Wat geen oog gesien het; wat geen oog gehoor het; wat in niemand se hart opgekom het nie – dit het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet’ (1 Korintiërs 2:9 NLV). God het ‘n vlak van seën vir jou in gedagte wat geen aardse oog kan sien of wat geen aardse gedagtes kan verstaan nie.

Wanneer jy bid, openbaar Hy dinge deur sy Gees aan jou. Wanneer dit gebeur, groei jou geloof en is jy in staat om dit te ontvang wat God vir jou wil voorsien. Ontwikkel dus ‘n leefstyl van gebed – deur voortdurend te bid, orals waar jy gaan, te midde van jou daaglikse roetine. ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV).

God gee oor elke detail van jou lewe om. Wanneer jy dus angstig oor iets raak, praat met Hom daaroor. Moet ook nie vergeet om sy Woord te lees nie. Wanneer ‘n probleem dus opduik, kan jy die volgende sê: ‘Vader, U het in u Woord gesê dat U dit vir my sal doen,’ en dan die belofte aanhaal en daarop staan.

Sielskos: Gen 44-46; Matt 21:18-32; Ps 106:24-48; Spr 7:3-5

Wees kreatief (4)

2021-03-07
Eksodus 28:3 AFR53

God het vir Moses gesê: ‘En jy moet vir jou broer Aäron heilige klere maak, tot eer en tot sieraad. Jy moet ook spreek met almal wat kunsvaardig is, wat Ek met die gees van wysheid vervul het, dat hulle vir Aäron klere maak…’ (verse 2-3 AFR53). Let die woord ‘kunsvaardig’ op. God het vir ons kunssinnige vermoëns gegee en wanneer ons dit gebruik, verheerlik ons Hom. Klere ‘tot eer en tot sieraad’ verg kreatiwiteit.

Hou op om onderskeid tussen die geestelike en die sekulêre te tref! ‘Verder, doen alles – of dit nou met woorde of dade is – asof julle dit namens die Here Jesus doen…’ (Kolossense 3:17 NLV). Hoe word jy kreatief?

1) Deur te erken dat God jou gemaak het om kreatief te wees.

2) Deur Hom te vra om jou areas van talent en kreatiwiteit aan jou te openbaar.

3) Deur kreatiewe idees te waardeer. Maak nie saak wat jy tans doen, of hoe goed jy dit doen nie, ‘n kreatiewe idee sal jou in staat stel om dit beter te doen.

Kreatiwiteit is die vermoë om te sien wat almal anders gesien het, te dink wat niemand anders gedink het nie, om te kan doen wat niemand anders al gedoen het nie. Soms lê kreatiewe denke langs die lyne van uitvinding, waar jy nuwe grond breek. Ander kere beweeg dit langs die lyne van innovasie, wat jou help om ou dinge op ‘n nuwe manier te doen. In elke geval, is dit om die wêreld deur nuwe oë te sien sodat nuwe oplossings te voorskyn kom.

‘Op die sewende dag was God klaar met alles wat Hy gemaak het…’ (Genesis 2:2 NLV). Kreatiwiteit verg werk, daarom neig baie mense om dit te vermy. As jy egter gewillig is om aan jou kreatiwiteit te werk, sal God jou gebruik om groot dinge te doen.

Sielskos: Joel 2:23-32; Hand 2:1-21

Wees kreatief (3)

2021-03-06
Genesis 1:28 NLV

Jou hemelse Vader het die wêreld geskep – en jy is na sy beeld gemaak. Dit beteken dat jy geskep is om kreatief te dink. God het sy kreatiewe werk in ses dae klaargemaak en toe het ons werk begin. God sê inderwaarheid vir ons: ‘Ek het julle van al die hulpbronne en talente voorsien om ‘n oorvloedige lewe te kan hê. Doen nou iets goeds daarmee.’

Die skape wat Hy gemaak het, voorsien ons van wol, waarmee ons pragtige materiaal in verskillende kleure kan maak. God het nie kaas gemaak nie; Hy het koeie gemaak wat melk voorsien waarmee ons kaas kan maak.

Die Bybel beskryf die begin van al hierdie dinge in die volgende woorde: “God het hulle geseën deur te sê: ‘Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde…'” Die woord ‘vermeerder,’ beteken dat God wil hê dat jy met meer moet opeindig as waarmee jy begin het. Om dit te doen moet jy egter kreatief begin dink!

In plaas daarvan om dinge net te aanvaar soos dit is, moet jy dit neem en iets meer daaruit maak. Wanneer jy dit doen, volg jy in jou hemelse Vader se voetspore.

Soms gooi die kerk koue water oor enige gedagte of aktiwiteit wat nie godsdienstig is nie, deur te sê dat dit ‘wêrelds’ is en dus nie God sal behaag nie. Dis soos om te sê dat God slegs binne die vier mure van die kerk werk. Nee, ‘Die aarde behoort aan die Here, met alles wat daarop is, die wêreld en alles wat daarop lewe’ (Psalm 24:1 NLV).

Waar jy ook al is, wie jy ook al is, wat jy ook al in die lewe doen, God wil hê dat jy jou kreatiwiteit moet gebruik sodat jy Hom kan verheerlik en ander mense kan seën.

Sielskos: Gen 42-43; Matt 21:12-17; Ps 106:1-23; Spr 7:1-2

Wees kreatief (2)

2021-03-05
Filippense 2:13 NLV

Jy sal slegs goeie idees hê, indien jy idees waardeer. Andersins sal jy op die rug van ander mense se idees deur die lewe dryf. Kreatiewe denkers:

1) Verken elke opsie. Jou verbeelding word gestimuleer wanneer jy ‘n verskeidenheid opsies verken, wat noodsaaklik vir kreatiwiteit is. Albert Einstein het gesê: ‘Verbeelding is belangriker as kennis.’ Hoekom? Omdat dit nuwe maniere soek om jou kennis aan die werk te sit.

2) Verwelkom dubbelsinnigheid. Kreatiewe mense voel nie die behoefte om onsekerheid uit te wis nie. Hulle sien allerhande teenstrydighede en gapings in die lewe raak en geniet dit om daardie gapings te verken of hulle verbeelding te gebruik om die gapings te vul. Wanneer jy voor ‘n onvervulde behoefte te staan kom, kan jy óf tot die gevolgtrekking kom dat jy niks daaraan kan doen nie, óf daaroor bid en na ‘n manier soek om aan daardie behoefte te voldoen (sien Filippense 4:19)

3) Vier die vreemde. Kreatiwiteit verken die ongekende paadjies. Kingman Brewster, voormalige president van Yale Universiteit, het gesê: ‘Daar is ‘n korrelasie tussen die kreatiewe en die eksentrieke. Dus moet ons die eksentrieke met ope arms verwelkom.’ Om kreatiwiteit te bevorder, moet jy gewillig wees om oorspronklikheid en vreemdheid te verduur.

4) Is nie bang vir mislukking nie. Die Amerikaanse filosoof Charles Frankel het gesê: ‘Angs is die noodsaaklike toestand van intellektuele en kunssinnige skepping.’ Kreatiwiteit verg die gewilligheid om simpel te lyk, maar steeds die kans te vat.

Kreatiewe mense weet al hierdie dinge, maar hou steeds aan soek na nuwe idees. Hulle weier om toe te laat dat die idees wat nie werk nie, hulle daarvan weerhou om met idees wat wel werk, vorendag te kom.

Sielskos: Gen 40-41; Matt 21:1-11; Ps 136:13-26; Spr 6:32-35