Wees kreatief (3)
2021-03-06Genesis 1:28 NLV
Jou hemelse Vader het die wêreld geskep – en jy is na sy beeld gemaak. Dit beteken dat jy geskep is om kreatief te dink. God het sy kreatiewe werk in ses dae klaargemaak en toe het ons werk begin. God sê inderwaarheid vir ons: ‘Ek het julle van al die hulpbronne en talente voorsien om ‘n oorvloedige lewe te kan hê. Doen nou iets goeds daarmee.’
Die skape wat Hy gemaak het, voorsien ons van wol, waarmee ons pragtige materiaal in verskillende kleure kan maak. God het nie kaas gemaak nie; Hy het koeie gemaak wat melk voorsien waarmee ons kaas kan maak.
Die Bybel beskryf die begin van al hierdie dinge in die volgende woorde: “God het hulle geseën deur te sê: ‘Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde…'” Die woord ‘vermeerder,’ beteken dat God wil hê dat jy met meer moet opeindig as waarmee jy begin het. Om dit te doen moet jy egter kreatief begin dink!
In plaas daarvan om dinge net te aanvaar soos dit is, moet jy dit neem en iets meer daaruit maak. Wanneer jy dit doen, volg jy in jou hemelse Vader se voetspore.
Soms gooi die kerk koue water oor enige gedagte of aktiwiteit wat nie godsdienstig is nie, deur te sê dat dit ‘wêrelds’ is en dus nie God sal behaag nie. Dis soos om te sê dat God slegs binne die vier mure van die kerk werk. Nee, ‘Die aarde behoort aan die Here, met alles wat daarop is, die wêreld en alles wat daarop lewe’ (Psalm 24:1 NLV).
Waar jy ook al is, wie jy ook al is, wat jy ook al in die lewe doen, God wil hê dat jy jou kreatiwiteit moet gebruik sodat jy Hom kan verheerlik en ander mense kan seën.
Sielskos: Gen 42-43; Matt 21:12-17; Ps 106:1-23; Spr 7:1-2