Wees kreatief (1)

2021-03-04
Genesis 1:27 NLV

Hoekom vier ons die geboorte van ons kinders? Omdat ons, soos God, gehelp het om iets te skep. Die beroemde Amerikaanse voetbalafrigter, Vince Lombardi, het gesê: ‘Die vreugde word in die skepping, nie die onderhoud daarvan nie, gevind.’

Dis ‘n fout om te glo dat God net in ‘geestelike’ dinge en nie in ‘sekulêre’ dinge geïnteresseerd is nie. Ja, jy moet geestelik groei. Jy moet egter ook die gawes wat Hy vir jou gegee het gebruik om sy doelwitte hier op aarde te vervul en ander mense te seën.

Jy hoef nie ryk te wees of ‘n hoë IK te hê om kreatief te wees nie. Jy kan ‘n kreatiewe haarkapper wees, of met ‘n nuwe resep vorendag kom, of werksgeleenthede vir gevangenes skep om hulle lewens mee te herbou. Dis nie net sekulêr nie, dis geestelik ook!

Jy sal oplet dat die kruis twee balke het: vertikaal en horisontaal. Die vertikale balk verteenwoordig jou verhouding met God, wat Hy vir jou wil doen en wat Hy wil hê jy vir Hom moet doen. Die horisontale balk verteenwoordig wat Hy ons geroep het om vir mekaar te doen. Jy sê: ‘Maar ek is nie baie kreatief nie.’ Sodra jy jou Godgegewe gawe ontdek, sal dit jou kreatiwiteit vrystel.

Paulus skryf: ‘Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik…’ (Romeine 12:6 NLV). Hou op om jouself te kasty net omdat jy nie so kreatief is soos jy graag wil wees nie. Kreatiewe denke is nie noodwendig oorspronklike denke nie. Dikwels is kreatiewe denke net ‘n samestelling van ander mense se gedagtes wat jy langs die pad ontdek het. Die woord vir jou vandag is dus: wees kreatief.

Sielskos: Gen 37-39; Matt 20:29-34; Ps 136:1-12; Spr 6:30-31

Wanneer jou familie jou nie verstaan nie

2021-03-03
Markus 3:35 DB

Die Bybel sê: ‘Die mense het om Jesus gesit toe hulle Hom kom roep. ‘Jou ma en broers wag hier buite vir jou,’ sê hulle. Jesus sê toe: ‘Wie is regtig my ma en broers?’ Hy kyk toe na die mense wat om Hom sit en sê: ‘Hier is my regte familie. Elkeen wat doen wat God van hom verwag, is deel van my familie. Hulle is regtig my broer, my suster, my ma’ (verse 32-35 DB).

Een van die grootste toetse van jou geloof sal familielede wees wat nie jou waardes of visie verstaan of deel nie. Dit sal wysheid en genade van jou kant af verg. Ten spyte van sy familie se onvermoë om Hom te verstaan, het Jesus aangehou om vir hulle om te gee en hulle te respekteer. Hy het egter geweier dat hulle Hom voorsê of om sy opdrag van God, te verander. Sy prioriteit was die mense wat byeen gekom het om te hoor wat Hy vir hulle wou sê.

Voel jy vandag verwerp en misken deur jou familie? Bid dan die volgende gebed: ‘Vader, help my om te lewe soos Jesus geleef het; deur diegene wat my misverstaan in die oë te kyk. Deur hulle woorde aan te hoor en die angel van hulle beskuldigings te voel, maar te leer om dit te bowe te kom. Help my om genadig teenoor die een te wees wie se lewe deur wrokkigheid verteer word en deur vrees verlam word. Bring my volsirkel na ‘n plek van vrede, sodat dit nie sal saak maak wie my misverstaan nie, maar dat ek in staat sal wees om aan te gaan soos Jesus aangegaan het – al die pad na die kruis, die opstanding en die prys toe. In Christus se naam bid ek dit. Amen.’

Sielskos: Gen 35-36; Matt 20:17-28; Ps 77; Spr 6:29

Hou aan volhard

2021-03-02
Hebreërs 12:1 NLV

Voor jy gebore is, het God jou aankoms voorsien en ‘n spesifieke plan vir jou gehad. Daardie plan sluit die hantering van probleme en struikelblokke wat oorkom moet word, in, omdat dit die manier is waardeur karakter ontwikkel word. Die teken van ‘n suksesvolle persoon is sy of haar vermoë om probleme as geleenthede, in plaas van struikelblokke, te sien. Die belangrikste lesse vind nie plaas wanneer jy die goeie tye vier nie, maar wanneer jy gedurende die slegte tye volhard. Dis inderdaad hoekom die slegte tye die goeie tye so goed maak!

As jy enigiets van die geboorte van kameelperde af weet, sal jy weet dat die eerste dele wat verskyn, die voorste hoewe en die kop is. Dan kom die hele kalf te voorskyn, tuimel grond toe en beland op sy rug. Binne sekondes rol die baba om en staan op en sukkel om daardie lang, nuwe bene te kry om te beweeg. Dan gebeur ‘n wonderbaarlike ding. Die ma kameelperd posisioneer haarself direk bokant haar nuwe kalfie, kyk of hy ongedeerd is en skop hom weer om. As hy nie weer opstaan nie – skop sy hom weer. Wanneer die kalfie moeg is, skop sy hom weer om hom te stimuleer om weer op te staan. Elke keer wat die baba op sy voete kom, skop die ma hom weer om. Haar aksies mag dalk vir ons wreed lyk, maar sy is besig om haar kind vir oorlewing voor te berei. Tensy die klein kalfie leer om vinnig op te staan en saam met die trop te hardloop wanneer daar gevaar is, sal hy nie oorleef nie.

Wat is die les hier uit te leer? Wanneer die lewe jou onderstebo skop – staan weer op (sien Spreuke 24:16). Gedurende moeilike tye leer jy, deur pure vasberadenheid en deursettingsvermoë, die grootste lewenslesse.

Sielskos: Gen 32-34; Matt 20:1-16; Ps 70; Spr 6:26-28

Vertrou op God en moenie bang wees nie

2021-03-01
Jesaja 41:10 NLV

Vrees sal jou kreatiwiteit en selfwaarde by jou steel. Vrees is die vyand van grootheid en die antitese van geloof. Hoe langer dit binne-in jou leef, hoe sterker word dit. Dit word deur woorde bemes, nie net deur die woorde wat ander mense sê nie, maar deur die woorde wat jy vir jouself sê. Wanneer jy vir jouself sê: ‘Daar is nie ‘n manier wat ek dit gaan maak nie,’ duik jy jou wapenrusting en ondermyn jy jou effektiwiteit. Wanneer jy dit in jou laat sweer, sal dit jou soos ‘n plaag affekteer.

Om vrees te oorkom, moet jy dit eers identifiseer en dit blootstel. Dit sal in jou beweegsredes wegkruip. Dit sal met oorbeskerming, woede, kleinlikheid, jaloesie en spogpraatjies, beklee word. Dit sal jou met ‘n gevoel van verantwoordelikheid dat jy vir jouself moet sorg, jouself moet beskerm en jouself moet verdedig, aftrek. Wanneer jy vol vrees is, wat moet jy dus doen?

Daar is net een gewaarborgde koers van aksie: Staan teen jou vrese op. Hier is ‘n belofte uit God se Woord wat net so waar is vandag soos toe Hy dit die eerste keer gespreek het: ‘Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek hou jou vas met my reddende regterhand.’ In die Skrif spreek die terme: ‘God se regterhand’ tot sy gewilligheid en mag om namens jou te werk. Twee hoofstukke later in Jesaja, het God vir dieselfde mense gesê: ‘Moenie bang wees nie, want Ek het jou verlos. Ek het jou by jou naam geroep. Jy is Myne’ (Jesaja 43:2 NLV). God sorg vir wat syne is.

Sielskos: Gen 30:25-31:55; Matt 19:15-30; Ps 66:13-20; Spr 6:23-25

Is jy verraai?

2021-02-28
Psalm 41:10 NLV

Nie net moet ons spasie los vir onverwagte teleurstellings en onbekende veranderlikes in die lewe nie, ons moet ook besef dat ons onvermydelik deur ander mense verraai en seergemaak sal word. Miskien het hulle ons mislei deur ons te laat glo dat hulle betroubaar is, of dalk het hulle opreg begin maar deur die virusse van jaloesie en gierigheid geïnfekteer geraak. In alle geval, jy sal iewers voor verraad te staan kom. Selfs die psalmdigter, Dawid, het geskryf: ‘My beste vriend wat ek vertrou het, wat saam met my geëet het, selfs hy het sy rug op my gedraai.’ Ingesluit by die lys teenspoed waaronder Paulus in sy bediening gely het, is ‘valse medegelowiges’ (sien 2 Korintiërs 11:26).

Ja, soos een skrywer opmerk: ‘As jy lank genoeg lewe, sal jy agterkom hoe wisselvallig en selfsugtig die mens se hart kan wees.’ Dis dikwels die mense vir wie ons die liefste is en volkome vertrou, wat die meeste mag het om ons te verraai. Wat kan ons dus doen? Ons moet die seer en woede hanteer, sonder om toe te laat dat dit ons vir die langdurige nagevolge van bitterheid verblind. Moet ook nie van jou lewensdoelwitte of ander verhoudings afsien wanneer dit gebeur nie. Soos ‘n kind wat leer loop en deur ‘n boelie gepootjie word, moet jy weer opstaan en met jou reis voortgaan. Jy sal aan die begin ‘n bietjie seer en vol bloukolle wees, maar die rowe sal genees en jy sal sterker wees omdat jy die val oorleef het. Nadat hy die verraad van sy beste vriend betreur het, het Dawid vir God gesê: ‘Ek weet dat U my liefhet, want my vyand seëvier nie oor my nie. U hou my staande…’ (Psalm 41:12-13 NLV). Dis die wenhouding!

Sielskos: Eks 17:8-16; 2 Kor 1:3-7

Fokus op die oplossing, nie die probleem nie

2021-02-27
Jesaja 30:15 NLV

Soos probleme in jou verhoudings opduik, sal jy geforseer word om ‘n vertaler, onderhandelaar, diplomaat en vredemaker te wees. Goeie kommunikasievaardighede is altyd noodsaaklik. Niks is meer frustrerend as om misverstaan, verkeerd gehoor, geïgnoreer of verkeerd opgevat te word nie.

Om daaroor te praat is egter nie altyd die antwoord nie. Soms bekragtig dit die probleem. Ons fout is dat ons dikwels te veel oor die kwessie praat, in plaas daarvan om stil te wees en op ‘n oplossing te fokus. God het vir jou die gawes gegee om die situasie te verander. Moenie net daaroor praat nie, doen dit!

As ons woorde verkeerd gebruik of uit ons beurt praat, kan dit ons van ‘n oplossing weglei wat ons andersins sou gesien het. Jakobus sê vir ons dat die dinge wat ons sê groot mag het, wat tot vernietiging kan lei: ‘So is die tong ook iets kleins, en tog kry dit groot dinge reg. ‘n Klein vuurtjie kan ‘n groot bos aan die brand steek’ (Jakobus 3:5 NLV). Net ons stemtoon kan die gesprek tot ‘n woedende vuur stook! Moenie die persoon wees uit wie se mond vlamme kon nie. Tem jou tong. Ons gesprekke moet met genade deurspek wees (sien Kolossense 4:6). Praat op ‘n positiewe manier, want God is steeds op die troon en Hy het ‘n plan. Dit verg dikwels stilte en versigtige besinning om toepaslik te reageer.

Soms is dit beter om net stil te bly. Wanneer jy angstig is, is die kans goed dat jy te veel sal praat. Wanneer jy kwaad is, sal jy die situasie vererger. Wanneer jy aggressief is, sal jy verloor, in plaas daarvan om te wen. Die Bybel sê: ‘…Deur stil te raak en te vertrou, sal julle sterk word…’ Dis ‘n skriftuurlike beginsel wat altyd werk.

Sielskos: Gen 28:1-30:24; Matt 19:1-14; Ps 66:1-12; Spr 6:20-22