Struikelblokke tot beantwoorde gebede (1)

2021-01-05
Jeremia 33:3 NLV

Kom ons kyk vir die volgende paar dae na redes hoekom ons gebede nie beantwoord word nie: Magte van gevalle engele. Daniël het vir drie weke lank gebid en geen antwoord gekry nie. Hoekom? Omdat ‘n bose mag in die geestelik ryk dit geblokkeer het (sien Daniël 10:13). Dus het God vir Migael, een van die aartsengele, gestuur om hom te beveg. Een-en-twintig dae later was die stryd verby en het Daniël sy antwoord ontvang.

Paulus sê: ‘Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose hemelse regeerders en maghebbers… teen die bose geeste in die hemelruimtes’ (Efesiërs 6:12 NLV). Hoe magtig is die Duiwel? Magtig genoeg om jou om die bos te lei (sien 2 Korintiërs 4:4). Magtig genoeg om die regverdiges aan te kla (sien Sagaria 3:1). Magtig genoeg om jou te verslind (sien 1 Petrus 5:8).

Jy vra: ‘Wat kan ek doen om hom te oorkom? Paulus sê dit ook vir ons: ‘Doen alles deur gebed en smeking. Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei. Bly in alle omstandighede op julle hoede en bid vir almal wat aan God behoort’ (Efesiërs 6:18 NLV).

Die Christus wat binne-in jou woon, is magtiger as die Vyand waarvoor jy te staan kom. Jesus het gesê: ‘Want wanneer Satan, wat ten volle gewapen is, sy paleis bewaak, is dit veilig – totdat iemand wat sterker is, hom aanval en oorweldig…’ (Lukas 11:21-22 NLV). Satan is sterk, maar Jesus is sterker.

Johannes teken die volgende op: ‘…Die aanklaer van ons medegelowiges is neergewerp, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het. En hulle het hom self oorwin op grond van die bloed van die Lam en die boodskap waaroor hulle getuig het…’ (Openbaring 12:10-11 NLV). Is jy nie bly daaroor nie?

Sielskos: Eks 7-9; Matt 4:12-25; Ps 10:1-11; Spr 1:10-16

‘n Woord vir die nuwe jaar (4)

2021-01-04
Deuteronomium 11:12 NLV

Hierdie jaar sal God vir jou sorg. Soos ‘n goeie vader vir sy geliefde kind sorg, sal God oor jou waak en nooit sy oë van jou afneem nie. Hy sal dit ‘dwarsdeur die jaar’ doen. Wie anders kan so ‘n belofte maak – en dit nakom? Jou bankier en prokureur is normaalweg Maandag tot Vrydag vir jou beskikbaar, mits hulle nie te besig is nie en jy hulle dadelik telefonies in die hande kan kry. As jy siek word en nie in ‘n kritieke toestand is nie, mag jy dalk op die dokter se waglys beland.

Dis nie hoe dit met God is nie! Hy waarborg aan jou deurlopende sorg! Jy het egter ook ‘n rol om te speel: ‘As julle al die gebooie wat ek vandag vir julle gee, noukeurig gehoorsaam, en as julle die Here julle God met hart en siel liefhet en Hom dien, sal Ek vir julle reën gee op die regte tyd sodat julle koring [voorsiening in al jou behoeftes], druiwe vir die wyn [vreugde en geluk], en olywe vir olie [die krag en teenwoordigheid van God] kan oes. In die veld sal Ek weiding voorsien vir julle diere [beleggings] sodat julle oorgenoeg kan hê om te eet [seën en sukses in jou besigheid en loopbaan]’ (verse 13-15 NLV).

As jy saam met God stap en Hom eer in alles wat jy doen, kan hierdie een van die mees geseënde jare van jou lewe wees.

Sielskos: Eks 4-6; Matt 4:1-11; Ps 90:7-17; Spr 1:5-9

‘n Woord vir die nuwe jaar (3)

2021-01-03
Deuteronomium 11:11 NLV

Hierdie jaar sien God na jou behoeftes om. Maak nie saak watter politieke party aan bewind is, wat die wisselkoers is, of in watter toestand die behuisings- en werksmarkte is nie, glo dat God in al jou behoeftes sal voorsien. Jesus het gesê: ‘Dit moet vir julle maklik wees om vir ander mense iets te gee, want dan sal hulle vir julle ook iets gee. Ja, hulle sal vir julle baie meer gee, want wat julle aan ander mense doen, sal hulle aan julle doen’ (Lukas 6:38 ABA). God sal mense gebruik om jou te seën, maar Hy alleenlik is jou bron van voorsiening. Jy moet dit nooit vergeet nie.

Wanneer jy introspeksie doen, word jy van jou eie onvolmaaktheid bewus. Wanneer jy om jou kyk, word jy daarvan bewus dat ander mense met dieselfde stryd sukkel. Wanneer jy egter na God kyk, ontdek jy dat Hy ‘…mag het om… oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra’ (Efesiërs 3:20 NLV). Onthou jy die middelste vers in die Bybel? ‘Dit is beter om by die Here te skuil as om staat te maak op mense’ (Psalm 118:8 NLV).

Soms laat God toe dat jy die einde van jou kragte bereik, sodat Hy vir jou kan wys dat wanneer jy niks behalwe Hom oor het nie, is Hy al wat jy nodig het! Let die frase op: ‘baie reën wat van die hemel kom,’. Dit klink soos ‘n ander belofte wat God gemaak het: ‘…Toets My hierin of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak nie. Ek sal voorspoed op julle laat reën wat meer as genoeg vir julle sal wees!’ (Maleagi 3:10 NLV). Wees hierdie jaar aan God gehoorsaam, en die seëninge van die hemel sal joune wees.

Sielskos: Ps 23; Joh 10:7-18

‘n Woord vir die nuwe jaar (2)

2021-01-02
Deuteronomium 11:11 NLV

Hierdie jaar sal jy voor ‘n paar berge te staan kom en deur ‘n paar valleie gaan. Die krag wat jy kry wanneer jy jou laaste berg uitgeklim en oorwin het, sal jou deur jou volgende vallei dra. Die soetste vrugte groei in die vallei, omdat dit water uit die bergstrome ontvang. Jesus het gesê: ‘Dis juis hierin dat my Vader verheerlik word, dat julle baie vrugte oplewer en my dissipels is’ (Johannes 15:8 NLV).

Hierdie jaar wil Jesus hê dat jy meer vrugte in sy diens moet oplewer. Hy sê ook vir jou hoe jy dit kan doen: ‘Julle moet aan My verbonde bly soos Ek aan julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as dit nie aan die druiwestok verbind bly nie, en só julle ook nie as julle nie voluit aan My verbonde bly nie. Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie’ (Johannes 15:4-5 NLV).

Watter tipe vrugte wil God hierdie jaar in jou lewe sien? Paulus sê vir ons: ‘Net soos ‘n boom wat ‘n baie goeie vrug oplewer, wys hierdie mense se lewe dat hulle aan God behoort. Sulke mense gee baie om vir ander. Hulle lewe is vol vreugde. Die vrede wat van God af kom, ken en ervaar hulle. Hulle verdra ander mense sonder om ooit lelik met hulle te wees. Hulle straal vriendelikheid en warmte uit… Hulle doen goeie dinge vir ander mense. Ander kan altyd op hulle reken omdat hulle self deur dik en dun op God vertrou. Hulle is vol deernis en ontferming…’ (Galasiërs 5:22 DB).

Wanneer jy dus hierdie jaar voor ‘n berg te staan kom of deur ‘n vallei gaan, onthou dat God by jou is.

Sielskos: Eks 1-3; Matt 3:11-17; Ps 90:1-6; Spr 1:1-4

‘n Woord vir die nuwe jaar (1)

2021-01-01
Deuteronomium 11:12 NLV

Soos jy die nuwe jaar binnegaan, lees hierdie Skrifgedeelte en staan daarop: ‘Die land wat jy nou binnegaan… is nie soos Egipte van waar julle kom nie… Dit is ‘n land met berge en valleie met baie reën wat van die hemel kom. Dit is ‘n land waarvoor die Here jou God sorg. Dag vir dag, dwarsdeur die jaar, hou Hy sy oog op die land!’ (verse 10-12 NLV). Kom ons kyk vir die volgende paar dae na hierdie Skrifgedeelte.

‘Die land wat jy nou binnegaan en in besit gaan neem, is nie soos Egipte van waar julle kom nie…’ Egipte was die plek van stres, smart en struwelinge. Kanaän was egter die plek van Godgegewe sukses, selfwaarde en geestelike groei. Hierdie jaar hoef, met ander woorde, nie soos verlede jaar vir jou te wees nie. Hoekom? Omdat ‘die Here jou God sorg.’

Jeremia het gesê: “Tog is daar een ding waarop ek kan reken en waarop ek altyd kan hoop: Deur die Here se troue liefde is ons nie doodgemaak nie. Hy hou nooit op om vir ons om te gee nie. Sy liefde het geen einde nie. Op u ontferming kan mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut. Ek sê vir myself: ‘My lewe behoort aan die Here. Ek kan op Hom vertrou. Die Here is goed vir hulle wat hoop op Hom en vra wat Hy wil hê'” (Klaagliedere 3:21-25 NLV).

Dawid het gesê: ‘Sy toorn duur net ‘n oomblik, maar sy genade is lewenslank! In die nag vloei die trane, maar in die oggend is daar vreugde’ (Psalm 30:6 NLV). Jy hoef nie dit wat voor jou lê te vrees nie. Hierdie jaar kan jy God se liefde, genade, getrouheid, goedheid en guns in jou lewe ervaar.

Sielskos: Rom 13:12-14:19; Joh 1:1-14

Laat gaan en laat God toe

2020-12-31
Psalm 55:23 NLV

Is jy bekommerd oor iemand vir wie jy lief is? Het jou pogings om hulle te help, gefaal? Laat gaan en laat God toe om hulle te hanteer! Dit beteken nie dat jy nie meer omgee nie wanneer jy laat gaan nie, dit beteken net dat jy dit nie vir hulle kan doen nie. Jy sny jouself nie af deur te laat gaan nie; dit gaan daaroor om toe te laat dat ander uit hulle nagevolge leer. Dis om te erken dat die uitkoms hierdie keer nie in jou hande is nie. Dit gaan nie daaroor om die ander persoon te blameer of hulle te probeer verander nie, maar om die wysheid te hê om te besef dat jy net jouself kan verander.

Dit beteken dat jy ondersteunend is sonder om hulle te probeer regmaak en in plaas daarvan om veroordelend te wees, om hulle toe te laat om menslik te wees. In plaas daarvan om rond te hang en oorbeskermend te wees, laat jy hulle toe om realiteit in die gesig te staar. Dis om te aanvaar, eerder as om te ontken. Dis om eerder aan jou eie tekortkominge te werk, as om te neul, te raas en te baklei. Om te laat gaan beteken dat jy elke dag vat soos dit kom en elke oomblik koester, eerder as om alles by jou eie begeertes te probeer aanpas. Dit beteken dat jy fokus op die doel waarvoor God jou geroep het, eerders as om te kritiseer en te reguleer. Dit beteken dat jy nie met spyt op die verlede terugkyk nie, maar daarop fokus om te groei en vir die toekoms te lewe. Om te laat gaan beteken dat jy minder vrees en meer liefhê.

Die woord vir jou vandag is dus – laat gaan en laat God toe!

Sielskos: 2 Kor 5:14-21; Fil 3:8-14; Ps 77:11-20; Spr 9:10-12