Het jy vandag jou Bybel gelees?
2021-03-092 Timoteus 3:15 NLV
Die Bybel intimideer mense om verskeie redes. Vir sommige mense is dit so ‘n groot boek dat dit hulle bang maak en hulle nie weet waar om te begin nie. Ander dink weer dat dit so ‘n antieke boek is, wat oor so ‘n lang historiese tydperk strek en so baie temas bevat, dat hulle dit nooit sal kan ontrafel nie. Kom ons probeer dit dus vereenvoudig.
Dink aan die Bybel as ‘n biblioteek wat ses-en-sestig boeke van verskeie lengtes bevat, wat oor ‘n periode van vyftien honderd jaar, deur meer as veertig mense uit alle kulturele en opvoedkundige agtergronde, geskryf is. Dis buitengewoon uniek en samehangend deurdat die woorde van elke boek ‘deur God geïnspireer’ is (vers 16 NLV). Saam vertel die boeke van die Bybel die verhaal van God se wonderbaarlike liefde vir ons en bereik ‘n hoogtepunt by die kruis.
Soos Paulus vir Timoteus geskryf het: ‘Jy moet getrou bly aan die dinge wat jy geleer het. Jy weet dit is waar, want jy weet jy kan dié vertrou wat jou geleer het. Jy is van kindsbeen af onderrig in die Heilige Skrif en dit het jou die wysheid gegee om die verlossing te ontvang wat deur geloof in Christus Jesus kom’ (verse 14-15 NLV).
Die Bybel is hoofsaaklik die verhaal van God se liefde vir jou. Laat dit elke keer wat jy dit dus lees, toe om in jou hart as ‘n liefdesbrief wat God aan jou geskryf het, te ontvou. Soos jy dit lees en daaroor mediteer, sal jou vrese en bekommernisse opgelos word, jou vrae sal beantwoord word en jy sal krag en leiding vir jou daaglikse lewe ontvang.
Sielskos: Gen 47-49; Matt 21:33-46; Ps 112; Spr 7:6-9