Wees kreatief (2)

2021-03-05
Filippense 2:13 NLV

Jy sal slegs goeie idees hê, indien jy idees waardeer. Andersins sal jy op die rug van ander mense se idees deur die lewe dryf. Kreatiewe denkers:

1) Verken elke opsie. Jou verbeelding word gestimuleer wanneer jy ‘n verskeidenheid opsies verken, wat noodsaaklik vir kreatiwiteit is. Albert Einstein het gesê: ‘Verbeelding is belangriker as kennis.’ Hoekom? Omdat dit nuwe maniere soek om jou kennis aan die werk te sit.

2) Verwelkom dubbelsinnigheid. Kreatiewe mense voel nie die behoefte om onsekerheid uit te wis nie. Hulle sien allerhande teenstrydighede en gapings in die lewe raak en geniet dit om daardie gapings te verken of hulle verbeelding te gebruik om die gapings te vul. Wanneer jy voor ‘n onvervulde behoefte te staan kom, kan jy óf tot die gevolgtrekking kom dat jy niks daaraan kan doen nie, óf daaroor bid en na ‘n manier soek om aan daardie behoefte te voldoen (sien Filippense 4:19)

3) Vier die vreemde. Kreatiwiteit verken die ongekende paadjies. Kingman Brewster, voormalige president van Yale Universiteit, het gesê: ‘Daar is ‘n korrelasie tussen die kreatiewe en die eksentrieke. Dus moet ons die eksentrieke met ope arms verwelkom.’ Om kreatiwiteit te bevorder, moet jy gewillig wees om oorspronklikheid en vreemdheid te verduur.

4) Is nie bang vir mislukking nie. Die Amerikaanse filosoof Charles Frankel het gesê: ‘Angs is die noodsaaklike toestand van intellektuele en kunssinnige skepping.’ Kreatiwiteit verg die gewilligheid om simpel te lyk, maar steeds die kans te vat.

Kreatiewe mense weet al hierdie dinge, maar hou steeds aan soek na nuwe idees. Hulle weier om toe te laat dat die idees wat nie werk nie, hulle daarvan weerhou om met idees wat wel werk, vorendag te kom.

Sielskos: Gen 40-41; Matt 21:1-11; Ps 136:13-26; Spr 6:32-35