Wees kreatief (4)
2021-03-07Eksodus 28:3 AFR53
God het vir Moses gesê: ‘En jy moet vir jou broer Aäron heilige klere maak, tot eer en tot sieraad. Jy moet ook spreek met almal wat kunsvaardig is, wat Ek met die gees van wysheid vervul het, dat hulle vir Aäron klere maak…’ (verse 2-3 AFR53). Let die woord ‘kunsvaardig’ op. God het vir ons kunssinnige vermoëns gegee en wanneer ons dit gebruik, verheerlik ons Hom. Klere ‘tot eer en tot sieraad’ verg kreatiwiteit.
Hou op om onderskeid tussen die geestelike en die sekulêre te tref! ‘Verder, doen alles – of dit nou met woorde of dade is – asof julle dit namens die Here Jesus doen…’ (Kolossense 3:17 NLV). Hoe word jy kreatief?
1) Deur te erken dat God jou gemaak het om kreatief te wees.
2) Deur Hom te vra om jou areas van talent en kreatiwiteit aan jou te openbaar.
3) Deur kreatiewe idees te waardeer. Maak nie saak wat jy tans doen, of hoe goed jy dit doen nie, ‘n kreatiewe idee sal jou in staat stel om dit beter te doen.
Kreatiwiteit is die vermoë om te sien wat almal anders gesien het, te dink wat niemand anders gedink het nie, om te kan doen wat niemand anders al gedoen het nie. Soms lê kreatiewe denke langs die lyne van uitvinding, waar jy nuwe grond breek. Ander kere beweeg dit langs die lyne van innovasie, wat jou help om ou dinge op ‘n nuwe manier te doen. In elke geval, is dit om die wêreld deur nuwe oë te sien sodat nuwe oplossings te voorskyn kom.
‘Op die sewende dag was God klaar met alles wat Hy gemaak het…’ (Genesis 2:2 NLV). Kreatiwiteit verg werk, daarom neig baie mense om dit te vermy. As jy egter gewillig is om aan jou kreatiwiteit te werk, sal God jou gebruik om groot dinge te doen.
Sielskos: Joel 2:23-32; Hand 2:1-21