2021-03-16
Genesis 3:10 NLV
Ons dink dat suksesvolle mense van vrees gevrywaar is. Niks kan egter verder van die waarheid af wees nie. Elke generasie in die geskiedenis het vrees ervaar. Die eerste mens wat God geskep het, was Adam en die eerste aangetekende woorde van Adam is as volg: ‘…Ek het U hoor aankom en kruip nou weg. Ek was bang omdat ek sonder klere is.’
Vrees is geneties; dis deel van die menslike natuur. Studies bevestig dat ons sewe grootste areas van vrees die volgende is: 1) finansies, 2) gesondheid, 3) kommer oor ons loopbane, 4) ouerskap, 5) familieverhoudings, 6) die bereiking van persoonlike doelwitte, en 7) die dood. Is jy in enige van hierdie areas angstig of vol vrees? Vrees kan ‘n vernietigende krag in jou lewe wees.
Een van die ou Engelse woorde vir vrees beteken ‘skielike aanval.’ Dit stem ooreen met ‘n ou Duitse woord vir vrees wat ‘hinderlaag of lokval’ beteken. Dis wat vrees doen; dit val ons aan en hou ons gevange.
Wat is dus die antwoord? Geloof in God! Vrees verswak, maar geloof versterk. Vrees neem gevange, maar geloof maak vry. Vrees verlam, maar geloof bemagtig. Vrees stel teleur, maar geloof bemoedig. Vrees maak siek, maar geloof genees. Daar word gesê dat die woorde ‘moenie bang wees nie,’ 366 verskillende kere in die Skrif aangeteken is. As dit die geval is, het God vir ons ‘n ‘moenie bang wees nie’ vir elke dag van die jaar gegee – en een vir ‘n skrikkeljaar! Hier is een van die Skrifgedeeltes: ‘…Moenie bang wees nie, want Ek het jou verlos. Ek het jou by jou naam geroep, jy is Myne’ (Jesaja 43:1 NLV).
Vandag is God by jou en Hy belowe om jou in elke situasie waar voor jy te staan kom, te versterk en te lei.
Sielskos: Job 11-14; Matt 23:13-22; Ps 11; Spr 8:4-5
2021-03-15
Psalm 118:6 NLV
Gedurende die Groot Depressie het werkloosheid 25 persent van die Amerikaanse bevolking getref. Spaarrekeninge is deur banke wat ineengestort het uitgewis, boere se land is teruggeneem en mense het gesukkel om hulle families te voed. Gedurende hierdie donker tye het Franklin Delano Roosevelt die nasie met die volgende woorde toegespreek: ‘Laat ek my ferme geloof uitspreek dat die enigste ding wat ons het om te vrees, vrees self is – naamlose, onredelike, ongegronde vrees wat die nodige pogings om voort te bou, verlam.’
Wat die meeste mense nie besef nie is dat die president self tye waartydens vrees hom verlam het, ervaar het. Roosevelt is as bevoorregte kind gebore en het in Europa, by Harvard en by Columbia se regskool, studeer. Op die ouderdom van nege-en-dertig het hy egter polio opgedoen wat hom erg gestrem gelaat het. Gedurende sy siekbed het hy ‘n uiterste vrees vir vuur ontwikkel. Hy was bekommerd dat hy as gevolg van sy gebrek nie in staat sou wees om te ontsnap nie. Met verloop van tyd het hy egter sy vrees oorkom, die gebruik van sy hande herwin en selfs geleer om met stutte te loop. Hy het weer die politieke arena betree – en vreesloos ‘n veldtog geloods om goewerneur van New York te word, wat hy in 1929 reggekry het. Hy het voortgegaan om een van Amerika se grootste presidente te word en het die land na oorwinning in die Tweede Wêreldoorlog gelei. In sy memoires het Roosevelt geskryf hoe hy na God vir hulp, moed en leiding gedraai het en hoe hy dit ontvang het.
Is jy vandag bang? Indien jy is, staan op hierdie belofte: ‘Die Here is by my, ek sal nie bang wees nie. Wat kan ‘n mens aan my doen?’
Sielskos: Job 8-10; Matt 23:1-12; Ps 115; Spr 8:1-3
2021-03-14
Spreuke 31:28 DB
Regdeur die geskiedenis was digters en sprekers oorvloedig met hulle huldeblyke aan moederskap. George Washington het gesê: ‘My ma was die mooiste vrou wat ek al ooit gesien het. Alles wat ek is, het ek aan my ma te danke. Ek skryf my sukses in die lewe aan die morele, intellektuele en fisiese opvoeding wat ek by haar ontvang het, toe.’ Abraham Lincoln het geskryf: ‘My ma se gebede het my gevolg. Hulle het my hele lewe aan my gekleef.’ Charles Haddon Spurgeon het gesê: ‘Ek kan jou nie vertel hoeveel ek aan die plegtige woorde van my goeie moeder te danke het nie.’
Die offisiële viering van Moedersdag in Amerika kan aan die aanhoudende briewe en druk van een volhardende vrou toegeskryf word. Toe Anna Jarvis se ma in 1905 oorlede is, het Anna besluit om haar lewe aan ‘n veldtog om publieke erkenning aan die moeders van Amerika te gee, toe te wy. Toe sy leer dat die Amerikaanse kongres ‘n wet moes goedkeur om sodoende moedersdag tot ‘n jaarlikse instelling te kan vestig, het Jarvis ‘n een-vrou drukgroep geword. Ontduiking, onverskilligheid en vyandigheid het haar nie af geskrik nie.
Nege jaar later kon sy vreugde in die sukses van haar inspanning vind. President Woodrow Wilson het verklaar dat Moedersdag vanaf 9 Mei, 1914, jaarliks gevier sal word. In 1948 is Jarvis, blind en armoedig, in Philadelphia oorlede, maar haar droom is bewaarheid.
Die Bybel sê: ‘Waar sal jy ‘n knap vrou kry? ‘n Goeie vrou is meer werd as edelstene… Sy werk baie hard. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy praat met wysheid, sy gee raad saam met liefde… Haar kinders is trots op haar…’ (verse 10, 17, 26, 28 NLV). Kan daar ‘n waardiger huldeblyk wees?
Sielskos: Jes 61:1-9;
Luk 4:16-30
2021-03-13
Spreuke 18:8 NLV
Skinderstories kan ‘so soet soos lekkers’ wees, wat moeilik is om te weerstaan. Wat is dus die oplossing? Keer jouself voor jy toegee daaraan! Vra jouself af hoekom jy besluit het om die draer van slegte nuus te wees. Is dit die enigste manier om kameraadskap met ander te bewerkstellig? Geniet jy dit om die middelpunt van aandag te wees? Laat dit jou meerderwaardig voel om iets negatiefs van iemand te weet? Is jy jaloers op die onderwerp van die storie se prestasies? Hoekom is jy gewillig om die tempel van God as ‘n ‘asblik’ te gebruik deur skinderstories aan te hoor? (sien 1 Korintiërs 6:19). Wat beplan jy om met die skinderstorie wat jy gehoor het te doen? Is jy verveeld en het meer bevredigende aktiwiteite nodig?
Mense wat weet wat hulle Godgegewe lewensdoel is en daaraan toegewyd is om dit te vervul, het nie tyd vir skinderstories nie. As jy dus ernstig is om dit uit jou lewe te elimineer, moet jy oorlog daarteen maak. Laat almal weet dat jy nie meer soet lekkers gaan aandra of aanhoor nie. Verklaar dat jou omgewing by die werk, by die huis, by die kerk of in jou vrye tyd ‘n ‘skinder-vrye sone’ is en wend elke poging aan om skindertonge te vermy. Salomo skryf: ‘Iemand wat loop en skinder, lap geheime uit. Bly weg van iemand wat alte maklik praat’ (Spreuke 20:19 NLV).
Wanneer jy jou tong as ‘n instrument van geregtigheid gebruik, styg jou aandele in die hemel. Jy sal in staat wees om nederig, met volkome afhanklikheid aan die Vader, te verklaar: ‘Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees, Here, my rots en my Verlosser’ (Psalm 19:15 NLV). Moenie skinder nie!
Sielskos: Job 5-7; Matt 22:34-46; Ps 26; Spr 7:26-27
2021-03-12
1 Petrus 1:5 AFR83
As ons redding verseker is wanneer ons ons vertroue in Christus plaas, kan sommige mense nie dalk misbruik van hierdie versekering maak nie? Ja, hulle mag dalk, vir ‘n tyd lank. Soos genade egter dieper gaan en soos God se liefde en goedheid by hulle insink, begin hulle verander.
Genade bevorder gehoorsaamheid. ‘Die liefdevolle goedheid van God wat verlossing bring, het inderdaad vir almal sigbaar geword. Dit voed ons op om die goddelose leefstyl en die wêreldse begeertes af te lê en gebalanseerd, met opregtheid en toewyding aan God, in die huidige tyd te leef’ (Titus 2:11-12 NLV). God se genade doen meer as om jou in moeilikheid te troos; dit oortuig jou in jou ongehoorsaamheid.
As jy jouself ooit vang dink: ‘Ek kan doen wat ek wil, want God sal my vergewe,’ beteken dit dat genade nie in jou posgevat het nie. Selfsug, dalk. Arrogansie, vir seker. Maar genade? Nee. Genade skep ‘n voorneme om goed te doen, nie toestemming om sleg te doen nie.
Kyk na Christus vir jou begin en einde. Hy is die Alfa en die Omega. Hy sal jou en jou geliefdes vashou. Het jy ‘n verlore seun of dogter? Smag jy vir jou eggenoot om terug te keer na God toe? Het jy ‘n vriend wie se geloof koud geword het? God wil hulle nog meer as jy terughê. Hou aan bid en moenie opgee nie. Ons weet nie altyd of iemand God se genade vertrou het nie. ‘n Persoon mag dalk voorgegee het dat hulle glo, maar dit nie regtig bedoel het nie. Dis nie vir ons om te weet nie. Ons weet egter die volgende: waar daar opregte bekering is, hou genade nooit op werk nie. Vertrou dus vandag op God se reddende en blywende krag.
Sielskos: Job 1-4; Matt 22:23-33; Ps 24; Spr 7:24-25
2021-03-11
Psalm 29:11 NLV
Met die dat ons ons pas verhoog het, het ons ons vrede verlaag. Daar is ‘n ou grap van ‘n gespanne persoonlike assistent wat vir haar baas gesê het: ‘Wanneer hierdie stormloop verby is, gaan ek ‘n senu-ineenstoring hê. Ek het dit verdien en niemand gaan dit van my af wegneem nie!’ Ons glimlag, maar die kans is goed dat jy daarby aanklank kan vind.
Nie lank gelede nie het ons die verloop van tyd in seisoene gemeet. Seisoene het egter in maandelikse kalenders verander, wat in dagbeplanners verander het en vandag sit ons met elektroniese persoonlike organiseerders in ons hande. Waartoe lei dit alles? Soos ons produktiwiteit toeneem, lyk dit of ons lewenskwaliteit afneem.
‘n Artikel in USA Today beskryf hoe die terapeut Ofer Zur ‘n konferensie getiteld: ‘Speed.com: The Search for Meaning in the New Millennium,’ aangebied het. Soos die konferensiegangers begin instroom het, het Zur die fronsende gesigte en bekommerde kyke van sy gehoor begin oplet. Hy sê dat hy bekommerd begin raak het toe hy sien dat hulle selfone en skootrekenaars saamgebring het – wat hulle van plan was om tydens die konferensie te gebruik. Hier is wat hy daaroor te sê gehad het: ‘Ons het obsessief oor spoed geraak. Ons eindig op met baie planne wat ons nie kan uitvoer nie en ‘n vol skedule wat ons nie kan volg nie. Die paradoks van ons tegnologiese toestelle wat ons tyd moet bespaar, is dat ons met geen vrye tyd opgeëindig het nie.’
Klink dit bekend? Waar kan jy dus gaan om vrede te kry? Na die Een wie se naam die ‘Prins van Vrede’ is. Vandag sê Hy vir jou: ‘As jy maar net na my gebooie geluister het! Dan sou jou vrede soos ‘n rivier gewees het, en jou geregtigheid soos die golwe van die see’ (Jesaja 48:18 NLV).
Sielskos: 1 Tess 1-5; Matt 22:15-22; Ps 135; Spr 7:21-23