Jy kan jou lewe oor begin

2021-01-17
Spreuke 23:7 AFR53

Dit was ‘n lang, harde pad wat die Chandler familie uit die katoenvelde en uit armoede in Mississippi moes stap. Al nege van die kinders kon die bywonershuisie waarin hulle moes bly en dat hulle nie genoeg gehad het om te eet nie, onthou. Vandag het al nege kinders egter universiteitsgrade agter hulle name!

Hier is hulle inspirerende verhaal: Hulle ouers het twee dollars geleen om ‘n buskaartjie vir hulle seun Cleveland te koop, wat uiteindelik die voorsitter van die departement van ekonomie aan Howard Universiteit geword het. Luther het die Universiteit van Omaha bygewoon en die bestuurder van publieke werke vir Kansas City geword. Hy het sy broer James gehelp om Omaha toe te kom en toe van daar af hom gehelp om werk by Yale Universiteit te kry. James het op sy beurt weer vir Herman gehelp, wat nou ‘n tegniese bestuurder in Dallas is. Donald werk in Minneapolis. Die kinders het ook hulself gehelp – deur katoen te pluk, mielies te oes en aartappels op te grawe. Fortson het die Morehouse Kollege in Atlanta bygewoon en ‘n prediker in Colorado geword. Princess het haar M.A. graad aan Indiana Universiteit behaal en ‘n onderwyseres geword. Gloria is ook ‘n onderwyseres. Bessie het ‘n M.A. graad en is ‘n dieetkundige by ‘n hospitaal. In 1984, het al die kinders bymekaar gekom en vir hulle ouers ‘n huis gekoop.

Die Bybel sê: ‘Want soos hy in sy siel bereken, so is hy…’ As jy jouself oortuig dat jy nie kan nie, of ander mense toelaat om jou daarvan te oortuig, sal jy nie kan nie. As jy egter glo dat jy deur God se genade kan, dan sal jy! As die Chandlers dit kon doen, kan jy ook. Vergeet dit wat in die verlede gebeur het! Elke dag gee God jou die keuse om jou lewe oor te begin.

Sielskos: Gen 5:22-24; Heb 11:5; 2 Kon 2:1-12; Hand 1:9-11

Areas van sukses, areas van sukkel

2021-01-16
Romeine 12:6 NLV

Die Bybel leer ons dat God vir ons elkeen sekere gawes gegee het, sowel as die genade om hierdie gawes te gebruik. Wanneer ons nie binne die area van ons gawes optree nie, sukkel ons. Ons moet dit in gedagte hou wanneer ons iemand sien wat presteer, of self ‘n groot presteerder word.

Paulus het vyf tale gepraat en die helfte van die Nuwe Testament geskryf, maar hy het konstant met dit wat hy as ‘die doring in sy vlees’ beskryf het, geworstel. Toe hy tot God bid en Hom vra om dit te verwyder, het God nee gesê: ‘…My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking’…’ (2 Korintiërs 12:9 NLV).Ons het dus genade nodig in die areas waarin ons begaafd is, sowel as genade vir die areas waarin ons glad nie begaafd is nie.

Daar is ‘n verhaal van ‘n man wat na ‘n bekende spreker gaan luister het en op die stoel langs die spreker se vrou beland het. Gedurende die praatjie, het die man opgelet dat die bekende spreker geborduurde kouse aan het. Met nadere ondersoek het die man gesien dat die letters op die spreker se kouse ‘TGIF’ gelees het. Toe die praatjie verby is, het hy die spreker gekomplimenteer en toe na die spreker se vrou gedraai en gevra: ‘Hoekom sê jou man se kouse, TGIF: Thank Goodness It’s Friday?’ Sy het geantwoord: ‘O, dis nie waarvoor die letters staan nie; dis om hom te help aantrek. Die letters staan vir ‘Toes Go In First’.’

Solank as wat jy lewe sal jy in sekere areas uitblink en in ander areas sukkel. Jy sal egter vind dat God se genade genoeg is vir enige uitdaging waarvoor jy te staan sal kom. Dis die woord vir jou vandag.

Sielskos: Eks 36-38; Matt 8:1-9; Ps 81; Spr 2:11-15

Moenie oor die toekoms obsessief raak nie

2021-01-15
Matteus 6:34 NLV

Daar is ‘n verhaal van ‘n horlosie wat baie tyd daaraan toegewy het om hom oor sy toekoms te bekommer. Hy het tot die slotsom gekom dat hy twee keer elke sekonde moet tik. ‘Hoeveel keer sal ek dus moet tik?’ het die horlosie gewonder. Dus het hy uitgewerk dat hy 120 keer elke minuut moet tik, wat 7,200 keer ‘n uur is. Dit beteken dat hy in vier-en-twintig uur 172,800 keer sal moet tik en 63,072,000 keer in ‘n jaar. Teen hierdie tyd het die horlosie oorweldig begin voel en al hoe meer begin sweet. Uiteindelik het hy uitgewerk dat hy oor ‘n periode van tien jaar 630,720,000 keer sal moet tik – en op daardie punt het die horlosie ‘n senu-ineenstorting beleef.

Sielkundiges reken dat omtrent 95 persent van dit waaroor ons ons bekommer, nooit gebeur nie. Wat van die ander 5 persent? Vier uit die vyf kere draai dinge beter uit as wat ons verwag het, insluitend ‘n hele klomp seëninge! Op die einde van die dag gebeur net 1 persent van al die slegte goed waaroor ons ons bekommer en dis selde so erg soos ons gevrees het. Dis hoekom Jesus gesê het: ‘Moet julle daarom nie oor môre bekommer nie. Môre sal sy eie bekommernisse bring. Vandag se moeilikhede is vir een dag heeltemal genoeg.’

Die apostel Paulus gee ons die regte perspektief om volgens te lewe: ‘Neem al die dinge waaroor julle julle bekommer of wat julle omkrap na God toe, want Hy self is die Een wat vir julle sorg’ (1 Petrus 5:7 DB). Die woord vir jou vandag is dus – moenie oor die toekoms obsessief raak nie.

Sielskos: Eks 33-35; Matt 7:15-29; Ps 79; Spr 2:9-10

Die protokol vir kerk

2021-01-14
Psalm 100:4 NLV

Een Sondag het ‘n man met eenvoudige klere aan ‘n kerk in Nederland besoek en ‘n sitplek naby die preekstoel ingeneem. ‘n Paar minute later het ‘n vrou die kerkbank genader. Toe sy die vreemdeling in die kerkbank sien sit, het sy hom kortaf ingelig dat hy op haar sitplek sit. Die man het op ‘n aangename manier verskoning gevra en na een van die kerkbanke aan die agterkant, wat vir die armes uitgehou is, beweeg en daar gaan sit. Daar het hy na die diens geluister en na die tyd sonder enige verdere insidente die kerk verlaat.

Toe die diens verby was, het een van die vrou se vriende haar gevra of sy weet wie die persoon is wat sy uit haar kerkbank geskop het. ‘Nee,’ het sy ewe geantwoord, ‘seker maar net een of ander vreemdeling.’ Sy was geskok om by haar vriend te hoor dat die vreemdeling koning Oscar van Swede was, wat in hulle land op besoek aan die Nederlandse koningin was.

Of jy nou na ‘n groot of klein kerk toe gaan, Jesus, die Hoof van die kerk, het gesê: ‘Waar twee of drie bymekaarkom omdat hulle my mense is, is Ek immers ook saam met hulle daar’ (Matteus 18:20 NLV). Dit beteken dat Jesus, die Koning van Konings, by jou kerk teenwoordig sal wees. Jy moet sy teenwoordigheid herken, Hom aanbid en Hom jou sentrale fokus maak. Andersins kan jy net sowel by ‘n sosiale klub aansluit of by die huis bly.

Die Psalmdigter gee vir ons die protokol vir kerk: ‘Gaan sy poorte in met dankliedere, sy hofsaal met lofgesange. Dank Hom en prys sy Naam. Want die Here is goed. Sy troue liefde hou aan vir altyd, sy trou is van geslag tot geslag’ (Psalm 100:4-5 NLV).

Sielskos: Eks 30-32; Matt 7:1-14; Ps 74:12-23; Spr 2:7-8

Leer om ja of nee te sê

2021-01-13
Matteus 5:37 NLV

Goeie onderhandelaars verstaan dat om te veel te praat, ‘n teken van onsekerheid en swakheid is. Soms is die kragtigste woorde in enige taal ‘n eenvoudige ja of nee, sonder verdere verduideliking of uitbreiding. Die meeste besluite stuur uiteindelik op daardie punt af. Om dit te kan doen, moet jy in staat wees om hierdie drie vrae te antwoord:

1) Is die besluit alleenlik myne om te maak? As jy die enigste of finale besluitnemer is, moenie huiwer of aarsel nie, maak die besluit. Voor jy dit doen, staan op hierdie Skrifgedeelte: ‘Vra vir God as jy nie kan agterkom wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie’ (Jakobus 1:5 NLV).

2) Wat sal gebeur as ek wag om hierdie besluit te maak? In die meeste gevalle, sal dinge óf beter, óf slegter vir een of meer partye raak. Weeg dus jou besluit versigtig, met die besef dat dit heel waarskynlik ten gunste van die swaarder gewig van die argument sal wees en besluit dan. Op hierdie punt, staan op die volgende Skrifgedeelte: ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys’ (Spreuke 3:5-6 NLV).

3) Het elke besluit ‘n morele en geestelike dimensie? Wanneer jy jou oortuigings of karakter vir populariteit of wins prysgee, sal jy moreel en geestelik bankrot opeindig. Hou dus vas aan jou waardes, baseer jou besluite daarop en staan op hierdie Skrifgedeelte: ‘Die Here hou van ‘n mens wat goeddoen…’ (Spreuke 12:2 NLV).

Sielskos: Eks 28-29; Matt 6:19-34; Ps 74:1-11; Spr 2:6

Jy het doelgerigtheid en volharding nodig

2021-01-12
Handelinge 20:24 NLV

Om jou beste lewe te lei, het jy twee dinge nodig – doelgerigtheid en volharding. As jy Hom vra, sal God jou help om dit te ontwikkel.

1) Kom ons kyk na doelgerigtheid. Op die geskiedkundige monument wat hulde aan die skrywer Jack London, wat die klassieke White Fang geskryf het, se lewe bring, staan die volgende woorde: ‘I would rather be ashes than dust! I would rather my spark burn out in a brilliant blaze than that it should be stifled by dry rot. I would rather be a superb meteor, every atom of me in magnificent glow, than a sleepy and permanent planet. The function of a man is to live, not to exist. I shall not waste my days trying to prolong them. I shall use my time.’ Om ‘n verskil in hierdie wêreld te maak, moet jy jou Godgegewe lewenstaak ontdek en jouself 100 persent daaraan toewy. Paulus het dit gedoen. ‘Al is my lewe kosbaar, ag ek dit van geen waarde as ek nie my lewenstaak en my bediening wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak nie: om die Goeie Nuus te verkondig dat God mense liefhet sonder dat hulle iets hoef te doen om dit te verdien.’

2) Kom ons kyk na volharding. Dit het sir Winston Churchill drie jaar geneem om graad agt te voltooi, omdat hy gesukkel het om Engels deur te kom. Tog het sy toesprake tydens die Tweede Wêreldoorlog Brittanje geïnspireer en opgesweep om te veg en teen alle verwagtinge in, te wen. Toe hy gevra is om die aanvangstoespraak by Oxford Universiteit te lewer, het hy die kortste toespraak bekend, gelewer – net agt woorde. ‘Moet nooit opgee nie! Moet nooit opgee nie!’ Hierdie woorde is die kern van doelgerigtheid en volharding.

Sielskos: Eks 25-27; Matt 6:9-18; Ps 71:17-24; Spr 2:3-5