2021-01-23
1 Korintiërs 12:14 NLV
Net soos jy nie die kleur van jou oë kan bepaal nie, kan jy nie jou geestelike gawes bepaal nie. Die Heilige Gees gee vir ons sy gawes ‘soos Hy dit goedvind’ (vers 11 NLV). Let drie dinge op:
1) Ons is verskillend van mekaar. ‘Ja, die liggaam bestaan nie net uit een lid nie, maar uit baie’ (vers 12 NLV). Hoekom is daar verskillende gawes? Omdat daar verskillende behoeftes is!
2) Ons is afhanklik van mekaar. Al die dele moet saamwerk voordat daar ‘n gesonde liggaam kan wees wat behoorlik funksioneer. Paulus skryf: ‘Die oog kan nie vir die hand sê: ‘Ek kan sonder jou klaarkom’ nie. En op sy beurt kan die kop nie vir die voete sê: ‘Ek kan sonder jou klaarkom’ nie’ (vers 21 NLV). Nie net is elke lid van die liggaam ewe nodig nie, hulle is ook ewe belangrik. Sommige van ons is verbaal sterk en ander is stil. Sommige is dinamies en ander is rustig. Sommige is leiers en ander volgelinge. Dit maak nie saak wie die krediet kry nie, solank as wat die werk gedoen word en God die glorie kry.
3) Ons moet aan mekaar toegewyd wees. ‘…God het dus ons liggaam so kunstig saamgestel dat daardie liggaamsdele wat eer kortkom, juis dubbele eer kry. Gevolglik heers daar harmonie in ons liggaam en al die liggaamsdele sorg saam vir mekaar. As een lid swaarkry, kry al die lede saam swaar, en as een lid vereer word, juig al die lede saam. Julle is Christus se liggaam en elkeen van julle is ‘n noodsaaklike liggaamsdeel’ (verse 24-27 NLV).
Sielskos: Jes 17-21; Matt 9:27-38; Ps 96; Spr 3:5-6
2021-01-22
Romeine 12:6 NLV
Moenie sê: ‘Ek is van geen nut vir God nie,’ of ‘Ek word nie by die kerk benodig nie,’ of ‘Daar is nie ‘n manier wat God my sal kan gebruik nie.’ God het vir jou gawes gegee! Jy is geroep om jou gawes te gebruik om ander te seën, die kerk op te bou en sy koninkryk vir ‘n wêreld wat ons dophou, voor te hou. ‘…Met hierdie gawes moet julle mekaar dien sodat God se ryk en onverdiende goedheid deur julle na mekaar toe kan vloei.
Het jy die gawe ontvang om te preek? Dan moet jy só preek dat Gód deur jou praat. Het jy die gawe ontvang om ander te dien? Doen dit met die krag en energie wat Gód gee. Só moet God verheerlik word…’ (1 Petrus 4:10-11 NLV).
Elke Christen is ‘n dominee met ‘n bediening. Die bediening van die kerk moet deur individuele gelowiges uitgedra word soos hulle hulle geestelike gawes beoefen deur mekaar te bedien. As jy nie jou geestelike gawe uitoefen nie, verhoed jy jou kerk se bediening.
Aangesien die Heilige Gees besluit watter spesifieke gawes elkeen van ons ontvang, is daar dus nie plek vir jaloesie of mededinging nie. Paulus skryf: ‘Wat maak jou beter as enige ander gelowige? Wat het jy wat God nie aan jou gegee het nie? En as dit dan aan jou gegee is, hoe spog jy dan asof jy op eie houtjie presteer het?’ (1 Korintiërs 4:7 NLV).
Elkeen van ons het verskillende gawes ontvang en elkeen van ons het die perfekte gawes ontvang. Die Heilige Gees het in sy goddelike wysheid vir elkeen van ons die presiese gawes gegee wat ons in staat stel om die effektiefste in die liggaam van Christus te funksioneer. Begin dus vandag jou gawe gebruik!
Sielskos: Jes 12-16; Matt 9:14-26; Ps 91; Spr 3:3-4
2021-01-21
1 Korintiërs 12:11 NLV
Die Bybel sê: ‘Daar is ‘n hele verskeidenheid geestelike gawes, en tog kom hulle van dieselfde Gees’ (1 Korintiërs 12:4 NLV). Die woord ‘gawe’ kom van die Hebreeuse woord ‘charis,’ wat letterlik genade beteken. Dit beteken dat jy nie ‘n geestelike gawe kan verdien, daarvoor kan kwalifiseer of daarvoor kan werk nie. Die Heilige Gees gee hulle aan elkeen van ons ‘soos Hy dit goedvind.’ Dit is nie iets wat jy deur studie of oefening kan kry of kan erf nie. Dit is nie hoogsontwikkelde natuurlike talente nie. Dit is bonatuurlike skenkings wat jou in staat stel om God se wil op God se manier uit te dra. Jy sal nooit God se wil kan doen voordat jy nie besef dat jy nie veronderstel is om Hom te dien deur krag uit jou eie vaardighede te put nie, maar dat jy op die inwonende krag van sy Gees moet vertrou.
Jy is, in ‘n mate, soos ‘n handskoen; die Heilige Gees binne-in jou vul daardie handskoen, beweeg dit en bereik daardeur dit wat gedoen moet word.
‘n Jong pastoor het een maal vir ‘n ouer pastoor gesê: ‘Ek is moedeloos, want God verwag die beste van my, maar maak nie saak hoe hard ek probeer nie, ek kan dit nie altyd vir Hom gee nie.’ Die ouer pastoor het gesê: ‘Seun, God verwag niks van jou nie, behalwe mislukking!’ Toe het hy egter bygevoeg: ‘Hy het egter vir jou die Heilige Gees gegee, sodat dit nie nodig is vir jou om te misluk nie.’ Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘…Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie’ (Johannes 15:5 NLV). Jou werk is om God se maniere te leer en op die krag van God te steun.
Sielskos: Jes 8-11; Matt 9:1-13; Ps 89:38-52; Spr 3:1-2
2021-01-20
1 Korintiërs 10:13 NLV
God se plan om versoeking in oorwinning te verander is nie om dit te verduur nie, maar om daarvan te ontsnap. Dit beteken dat jy twee dinge moet doen:
1) Moenie in ‘n situasie wat jou versoek, beland nie. Te veel mense is soos die seuntjie wat onder die boer se appelboom sit. Toe die boer hom vra: ‘Seun, probeer jy my appels steel?’ het hy geantwoord: ‘Nee oom, ek probeer om dit nie te doen nie.’ Sy probleem was dat hy in die eerste plek onder die appelboom was. Jy kan nie pornografie van die internet af hou nie, maar jy kan dit vermy deur gehoorsaam te wees aan God se Woord wat sê: ‘Ek stel geen lae ding voor my oë nie…’ (Psalm 101:3 AFR53).
2) As jy jouself in ‘n situasie wat jou versoek bevind, kom vinnig daaruit. Die Bybel sê nooit dat ons versoeking moet beveg nie, maar dat ons daarvan moet wegvlug. Paulus sê vir Timoteus: ‘Vlug vir enigiets wat jeugdige drange aanwakker…’ (2 Timoteus 2:22 NLV). Hy waarsku die mense van Korinte: ‘Vlug dus weg van seksuele losbandigheid…’ (1 Korintiërs 6:18 NLV). Potifar se vrou het aanhoudend probeer om vir Josef te verlei. ‘…Ná sy bevordering het Potifar se vrou begerig na hom gekyk en hom genooi om by haar te kom slaap (Genesis 39:6-7 NLV). Josef het egter gevlug en sy kleed agtergelaat.
God voorsien nie ‘n uitweg voor die versoeking of na die versoeking nie, maar tydens die versoeking. Word jy vandag versoek? Bid en God sal jou versterk. ‘Gelukkig weet die Here hoe om almal te help wat in ‘n opregte verhouding met Hom leef as hulle voor versoekings te staan kom. Hy help hulle om nie daaraan toe te gee nie…’ (2 Petrus 2:9 DB).
Sielskos: Jes 4-7; Matt 8:28-34; Ps 89:15-37; Spr 2:21-22
2021-01-19
1 Korintiërs 10:13 NLV
Is daar ‘n sekere versoeking wat jy aanhoudend voor te staan kom en waarvoor jy om elke hoek en draai swig? God het ‘n manier om jou versoeking in oorwinning te verander. Satan word ‘die versoeker’ genoem en hy weet presies voor watter versoekings jy die maklikste swig.
Paulus skryf egter: ‘Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook…’ Jesus moes self: ‘…presies dieselfde versoekings as ons trotseer – behalwe dat Hy nie voor die sonde geswig het nie’ (Hebreërs 4:15 NLV). Die rede daarvoor? ‘Omdat Hy self versoekings verduur het, kan Hy dié help wat onder versoeking swaarkry’ (Hebreërs 2:18 NLV).
Baie jong Christene dink dat wanneer hulle gered word, hulle nie meer versoekings sal ervaar nie. Nee, wanneer jy gered is, sal jy meer versoekings ervaar as toe jy nog verlore was. Versoeking neem nooit ‘n vakansie nie. Wanneer jy op vakansie gaan, gaan dit saam met jou. Dit sal jou tref wanneer jy die sterkste voel en jou neerfel en skop wanneer jy op jou swakste is. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Daarom – as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ‘n val kom nie’ (1 Korintiërs 10:12 NLV).
Wat is die antwoord? ‘…God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word’ (vers 13 NLV). Let twee dinge op: Eerstens, sal jy versoek word. Tweedens, sal jy nooit voor ‘n versoeking te staan kom wat jy nie die hoof kan bied nie, want God is getrou. Hy beantwoord gebede. Veral die gebed wat Jesus vir ons gesê het om te bid: ‘Help ons om nooit te swig voor versoekings nie, en pas ons op wanneer die duiwel ons wil verlei om verkeerde dinge te doen’ (Matteus 6:13 DB).
Sielskos: Jes 1-3; Matt 8:18-27; Ps 89:1-14; Spr 2:20
2021-01-18
Jesaja 50:7 NLV
Iemand het een keer vir die kampioenvegter, James Corbett, gevra: ‘Wat is die belangrikste ding wat ‘n man moet doen om ‘n kampioen te word?’ Hy het geantwoord: ‘Veg nog ‘n rondte.’ Suksesvolle mense het verskillende talente, maar hulle het almal dieselfde kwaliteite: volharding, hardnekkigheid en taaiheid.
Thomas Grey het vyf-en-sewentig manuskripte geskryf voordat hy tevrede was met Elegy Written in a Country Churchyard, sy poëtiese meesterstuk. S.N. Behrman, die Amerikaanse dramaturg, het vir elf jaar lank toneelstukke geskryf voor hy ‘n enkele een verkoop het. Somerset Maugham het net vyfhonderd dollar in sy eerste tien jaar as skrywer verdien. Terwyl hy voltyds in ‘n fabriek gewerk het, het Enrico Caruso vir twaalf jaar sanglesse geneem voordat hy ‘n tenoor geword het. George Gershwin het amper eenhonderd melodieë gekomponeer voor hy sy eerste een vir vyf dollar verkoop het.
Daar is ‘n belangrike les uit elkeen van hierdie verhale te leer: As jou droom nie onmiddellik plaasvind nie, moenie moedeloos word nie. Hou aan om aan jou droom te werk en ontwikkel jou talent. Studeer en leer. Groei deur ervaring. Hou aan werk. Oorwinning word aan die man of vrou gegee wat ‘nog ‘n rondte veg.’ Wanneer jy tou opgooi, kan God niks meer vir jou doen nie. Wanneer jy egter volhard, sal Hy jou help. Let op wat sy Woord sê: ‘Omdat die oppermagtige Here my help, sal ek nie in die skande kom nie. Ek het my gesig hard soos vuurklip gemaak. Ek weet ek sal nie in die verleentheid kom nie.’ Wanneer beloof God om jou te help? Wanneer jy jou gesig so hard soos vuurklip maak.
Sielskos: Eks 39-40; Matt 8:10-17; Ps 84; Spr 2:16-19