2021-01-29
Esegiël 8:4 NLV
Wanneer God vir jou ‘n visie gee, sal dit jou lewe verander. John Sculley, die voormalige president van PepsiCo en Apple rekenaars, het gesê: ‘Die toekoms behoort aan diegene wat die moontlikhede sien, voordat dit ooglopend raak.’ Die Bybel sê vir ons dat God: ‘…dinge wat nog nie bestaan nie, aanspreek asof hulle reeds werklikheid is’ (Romeine 4:17 NLV).
Visie steek die vuur binne-in jou aan die brand en dryf jou vorentoe. As dit wat jy in die lewe najaag nie vanuit ‘n brandende begeerte in jou kom nie, sal jy dit nie kan bereik nie. Hoekom nie? Omdat jy langs die pad struikelblokke, teenstand, padblokkades en weerstand sal moet oorkom.
Ester se visie het beteken dat sy haar lewe in gevaar moes stel om die Joodse volk van uitwissing te red. Sy het gesê: ‘…As ek dan daarvoor moet sterf, moet ek maar sterf’ (Ester 4:16 NLV). Het sy gesterf? Nee, maar sy was gewillig om te sterf. Is jy? Om jou visie te vervul, moet jy twee dinge doen:
1) Jouself meet. As jy voorheen oor jou lewensvisie gedink het en dit duidelik geartikuleer het, meet hoe goed jy dit uitdra. Praat met diegene wat jy vertrou en vra hulle wat hulle dink jou visie is. As hulle dit kan artikuleer, dan is jy heel waarskynlik besig om dit te leef.
2) Dit neerskryf. ‘…Skryf… die visioen in groot, duidelike letters… sodat iemand wat verbyhardloop, dit kan lees’ (Habakuk 2:2 NLV). Deur dit neer te skryf, kry jy klarigheid in jou gedagtes. Wanneer jou visie neergeskryf is, word dit ‘n padkaart na jou bestemming toe. Raadpleeg dit dikwels en jaag dit met alles binne-in jou na. As jy dit doen, is die kans goed dat jy die vervulling daarvan in jou lewe sal sien.
Sielskos: Jes 38-41; Matt 11:1-9; Ps 107:10-16; Spr 3:19-20
2021-01-28
Spreuke 22:3 NLV
Hier is drie dinge wat realistiese denke vir jou sal doen:
1) Dit sal jou ‘n sin van sekuriteit gee. Wanneer jy gedink het aan die ergste wat kan gebeur en ‘n gebeurlikheidsplan daarvoor opgestel het, voel jy meer gemaklik en vol vertroue. Dis gerusstellend om te weet dat jy nie maklik verras sal word nie. Teleurstelling is die verskil tussen verwagtinge en die realiteit. Wanneer jy realisties dink, verminder jy die verskil tussen die twee.
2) Dit sal jou geloofwaardigheid gee. Leiers wat aanhoudend deur die onverwagte verras word, verloor vinnig geloofwaardigheid in hul volgelinge se oë. Leiers wat realisties dink en daarvolgens beplan, posisioneer hulself om te wen. Dit gee hul volgelinge vertroue in hulle. Voordat jy dus enigiemand uitnooi om deel van jou visie of projek te wees, moet jy jouself die volgende afvra: a) Is dit moontlik? b) Het ek die voordele en nadele van die projek geïdentifiseer en dit verduidelik? c) Het ek ‘n vaste fondasie om op te bou? Thomas Edison het opgemerk: ‘Die waarde van ‘n goeie idee lê in die gebruik daarvan.’
3) Dit sal jou help om ‘n idee bruikbaar te maak deur die ‘wens faktor’ uit die weg te ruim. Die meeste idees en pogings bereik nie hul bedoelde resultate nie, omdat ons te veel op dit wat ons wens, en nie op dit wat is nie, staatmaak. Jy kan nie ‘n huis in die lug bou nie; dit benodig ‘n soliede fondasie. Idees en planne is dieselfde. Hulle het iets konkreet nodig om op te bou en realistiese denke voorsien daardie soliede fondasie.
Salomo het dit so gestel: ‘Iemand wat verstandig is, sien wanneer onheil kom en vermy dit. Die onervare mens loop oopoë daarin vas en boet daarvoor.’ Die woord vir jou vandag is dus – dink realisties.
Sielskos: Jes 34-37; Matt 10:32-42; Ps 107:1-9; Spr 3:13-18
2021-01-27
Lukas 14:28 NLV
Realiteit is die verskil tussen dit waarvoor jy wens – en dit wat is. As jy van nature ‘n optimistiese persoon is, mag jy dit moeilik vind om realisties te dink. Jy mag inderwaarheid dink dat dit die teenoorgestelde van geloof is. Nee, geloof ontken nie die probleem nie, dit konnekteer jou met God deur wie se krag jy dit kan oorkom. Hier is twee dinge wat realistiese denke vir jou sal doen:
1) Onnodige risiko’s minimaliseer. Alle aksies het gevolge. Realistiese denke kan jou help om te bepaal wat daardie gevolge mag wees. Dis veral belangrik wanneer jou aksies ander mense affekteer. Die ou gesegde: ‘Verwag die beste maar beplan vir die ergste,’ het waarde. Deur so te dink, minimaliseer jy onnodige risiko’s. Dit gee jou ‘n doelwit, met ‘n plan om dit te bereik. Hier is die goeie nuus: Jy het ‘n sin van hoop nodig om sukses te behaal. Hier is die slegte nuus: Hoop is nie ‘n strategie nie.
2) Jou wys wat verander moet word. Mense wat alleenlik op hoop vir hulle sukses vertrou, maak selde verandering ‘n hoë prioriteit. As jy slegs hoop het, impliseer jy dat sukses uit jou hande is. Dis ‘n saak van kanse en geluk – hoekom sal jy dus verander? Daar is niks soos realiteit wat jou in die gesig staar, wat jou help sien wat verander moet word nie. Verandering alleen bring nie groei mee nie, maar jy kan nie groei sonder verandering nie.
Om Christus te volg is die mees geseënde en vreugdevolle lewe wat jy kan lei, maar daar is ‘n prys aan verbonde. Jesus was realisties daaroor: ‘En jy kan nie my dissipel wees as jy nie jou eie kruis dra en My volg nie. Moenie eers begin voordat jy die koste bereken het nie…’ (verse 27-28 NLV).
Sielskos: Jes 30-33; Matt 10:21-31; Ps 104:24-35; Spr 3:11-12
2021-01-26
Handelinge 17:27 NLV
Die Bybel sê dat God nie ver van enigeen van ons af is nie. Van die massas in die stad se strate tot die geïsoleerde dorpenaars op die platteland, alle mense kan God se teenwoordigheid geniet. Baie doen egter nie. Hulle swoeg deur die lewe asof daar geen God is wat hulle liefhet nie. Asof hulle enigste krag hul eie is. Asof die oplossing van binne af kom, nie van bo af nie. Hulle lewe goddeloos.
Jy hoef dit egter nie te doen nie. Jy kan: 1) Op God se teenwoordigheid steun. “…Onthou dat God die versekering gegee het: ‘Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie'” (Hebreërs 13:5 NLV). 2) Op God se mense steun. ‘Waar twee of drie bymekaarkom omdat hulle my mense is, is Ek immers ook saam met hulle daar’ (Matteus 18:20 NLV).
Toe Moses en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het, het God vir Josua beveel om die geveg in die vallei te lei, terwyl Moses die koppie uitgeklim het om te bid. Hy het egter nie alleen gegaan nie. Hy het sy twee luitenante, Aäron en Hur, saamgeneem. Terwyl Josua die fisiese geveg gelei het, was Moses by ‘n geestelike geveg betrokke. Aäron en Hur het weerskante van hulle leier gestaan om sy arms tydens sy strydgebed op te hou. Die Israeliete het die Amalekiete oorwin omdat Moses gebid het en Moses het gewen omdat hy ander gehad het wat saam met hom gebid het. Jy kan ook gebedsondersteuning inroep.
Jesus het gesê: ‘…As twee van julle hier op aarde sou saamstem oor enigiets wat julle van God behoort te vra, sal my hemelse Vader dit vir julle doen’ (Matteus 18:19 NLV). Steun dus op God se teenwoordigheid en sy mense.
Sielskos: Jes 26-29; Matt 10:11-20; Ps 104:1-23; Spr 3:9-10
2021-01-25
Spreuke 2:6 NLV
Persoonlike groei vereis vier dinge:
1) Omgewing. Jy moet jouself in ‘n omgewing plaas wat groei aanmoedig. Sekere visse groei volgens die grootte van hulle omgewing. As jy hulle in ‘n klein visbak hou, bly hulle klein, maar wanneer jy hulle in die oseaan loslaat, groei hulle tot die grootte wat hulle bedoel was om te wees. Dieselfde beginsel is op jou van toepassing. Jy moet jou tyd met die regte mense, op die regte plek, met die regte dinge deurbring om sodoende te groei.
2) Sterkpunte. Wanneer jy probeer om in alles uit te blink, is jy op die ou einde in niks goed nie. God het jou spesifieke sterkpunte gegee – identifiseer en gebruik hulle.
3) Verandering. Die meeste van ons wil hê dat dinge moet beter word, sonder dat ons hoef te verander. Die Bybel sê: ‘…Kom ons gaan eerder verder en word geestelik volwasse…’ (Hebreërs 6:1 NLV). Om te groei, moet jy nie net jouself daaraan toewy om verandering te aanvaar nie, maar om dit na te jaag.
4) Genot. Die meeste skaakmeesters neem vyftien jaar om hulle bewegings te leer voordat hulle hul eerste wêreldtitel wen. Dis amper ‘n vyfde van hulle lewensduur! Wanneer jy so baie tyd aan iets toewy, moet jy seker maak jy geniet dit! As die bestemming vir jou aanloklik lyk, maar jy geniet nie die reis nie, sal jy wys wees om God se leiding te vra om seker maak dat jy in die regte rigting op pad is. As jy op die verkeerde trein is, moenie net saamry nie – klim by die volgende stasie af!
Sielskos: Jes 22-25; Matt 10:1-10; Ps 100; Spr 3:7-8
2021-01-24
Spreuke 3:13 NLV
Hier is drie redes hoekom ons nie persoonlike groei ervaar nie:
1) Ons dink dit vind slegs deur ervaring plaas. Om te glo dat persoonlike groei slegs deur ervaring plaasvind, is soos ‘n boogskutter wat telkens die teiken mis, maar glo dat hy verbeter omdat hy eenvoudig aanhou pyle afvuur. Ervaring is slegs winsgewend wanneer jy daaruit leer en begin om jou teiken te tref. Moenie jou lewe eindig met spyt oor die tyd en geleenthede wat jy vermors het nie. Gebruik van vandag af elke geleentheid wat God vir jou gee om te groei.
2) Ons dink dat groei slegs deur informasie plaasvind. Het jy al ooit iemand geken wat absoluut briljant was, maar tog nooit iets kon bereik tot voordeel van God, hulself of ander mense nie? Hulle is soos ‘n ensiklopedie gevul met kennis wat geen waarde het nie, omdat dit nooit gebruik word nie. Die grootste struikelblok tot persoonlike groei is nie onkunde nie; dis die illusie van kennis! Die Bybel sê: ‘Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie, dan bedrieg julle julleself’ (Jakobus 1:22 NLV).
3) Ons neem aan dat groei outomaties kom. Wanneer ons kinders is, vind groei outomaties plaas. Gedurende daardie tyd is daar ouers, afrigters en onderwysers wat ons op ‘n daaglike basis uitdaag om te groei, dus raak ons gewoond aan groei. Die probleem kom wanneer ons klaar is met skool en niemand ons druk om te groei of te vorder nie. Die prys van groei is altyd minder as die koste van onkunde en stilstand. Die waarheid is dat indien jy nie verantwoordelikheid vir jou persoonlike groei neem nie – sal dit nie plaasvind nie!
Sielskos: Dan 6:1-24; Hand 12:1-19