2021-03-27
Job 22:21 NLV
Vandag het ons nie net gewone stres nie, ons het kuberstres. E-posse vermeerder soos hase. As jy jou selfoon net vir ‘n paar ure afskakel, weeg dit sommer vyf kilogram swaarder wanneer jy dit weer aansit as gevolg van al die boodskappe wat ingekom het. Dan het ons hiperstres. Gaan na die kruidenierswinkel toe en sien hoeveel geselsies die kassier, wie se spoed en effektiwiteit deur ‘n rekenaar gemeet word soos hy of sy jou kruideniersware elektronies skandeer en jou totale bedrag uitroep, met jou wil maak.
In ‘n vyf-jaar studie, het 88 persent van drieduisend salaristrekkers gesê dat hulle ‘baie hard’ werk. Agt-en-sestig persent het gesê dat hulle ‘baie vinnig’ werk. Sestig persent het gesê dat hulle ‘nie al die werk klaarkry nie.’ Een-en-sewentig persent het gesê dat hulle ‘opgebruik’ voel.
Selfs pastore is nie immuun daarteen nie. Amper die helfte van hulle bedank uiteindelik en 80 persent van hulle gee die effek van pastorale bediening op hulle familielewe, as die rede daarvoor.
Wat is dus die oplossing vir ons stres? Vrede! Waar kan jy vrede kry? Die Bybel sê vir ons: ‘Onderwerp jou aan God, dan sal jy vrede hê en sal alles met jou goed gaan.’ Hier is hoe dit werk: Wanneer jy weet dat God lief is vir jou en jou onvoorwaardelik aanvaar, stel dit jou vry om dieselfde vir jouself te doen. Gevolglik word jy nie meer deur ‘n behoefte aan aanvaarding, verkryging en prestasie gedryf nie. Ja, wanneer jy volgens die beginsels wat duidelik in die Bybel uiteengesit is lewe, kan jy vrede en voorspoed hê!
Sielskos: Eks 12:1-14; Matt 26:17-29; 1 Kor 11:20-34; Ps 49
2021-03-26
Matteus 26:31 DB
Die aand voor sy dood, het Jesus die volgende afkondiging gemaak: ‘…Nog vannag gaan julle almal die rug vir My draai en maak of julle My nie ken nie. Die Skrif sê mos: ‘Ek sal die skaapwagter platslaan en sy skape sal in alle rigtings weghardloop.’ Maar Ek sal uit die dood opgewek word. Dan sal Ek Galilea toe gaan. Julle sal agter My aankom’ (verse 31-32 DB).
Dink daaroor! As die dissipels wat vir drie-en-‘n-half jaar elke oomblik met Jesus deurgebring het hulle rûe kon draai, dan kan enigeen dit doen. Petrus kon sy ore nie glo nie. ‘…Al hardloop almal weg en maak of hulle U nie ken nie, hoef U nie bekommerd te wees nie. Ek sal dit nooit doen nie’ (vers 33 DB).
Dit was nie een van Petrus se fyner oomblikke nie. Hy was arrogant en selfversekerd: ‘Ek sal dit nooit doen nie.’ Petrus se vertroue was in Petrus se krag. Tog sou Petrus se krag hom faal. Jesus het dit geweet: “‘Simon, Simon!’… ‘Let op, die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges gaan ondersteun'” (Lukas 22:31-32 NLV).
Satan sou Petrus aanval en hom toets. Satan sou hom egter nooit opeis nie. Hoekom nie? Omdat Petrus sterk was? Nee – omdat Jesus sterk was. Hier is ‘n wonderlike waarheid: Jesus bid ook vir jou: ‘…Heilige Vader, bewaar hulle op grond van u Naam wat U aan My gegee het… Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat op grond van hulle boodskap nog in My sal glo’ (Johannes 17:11,20 NLV). Sal God Christus se gebede vir jou beantwoord? Natuurlik sal Hy!
Sielskos: Job 40-42; Matt 25:31-40; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29
2021-03-25
Johannes 10:28 NLV
Jou verlossing word nie deur jou optrede gewaarborg nie – maar deur Christus se optrede aan die kruis. Solank as wat jy jou vertroue in Christus plaas, is jy gered en sal jy hemel toe gaan.
Jesus het gesê: ‘Ek sal ook die ewige lewe aan hulle gee, en hulle sal so nimmer as te nooit verlore gaan. Niemand sal hulle uit my hand steel nie.’ Wat meer is, God kies ons om die ewige lewe saam met Hom deur te bring. ‘…Hy het boonop sy amptelike stempel op ons lewe geplaas as die bewys dat ons aan Hom behoort… God het die Heilige Gees aan ons almal gegee as die deposito… om ons te verseker dat sy nuwe wêreld op ons wag’ (2 Korintiërs 1:21-22 DB).
Jy het al iets soortgelyks gedoen: jou naam op ‘n ring of op ‘n stuk gereedskap of ‘n iPad gegraveer. Om iets te stempel beteken dat jy eienaarskap daarvan verklaar. God stempel ons deur sy Gees. Satan word daardeur teruggedryf: ‘Hou jou hande tuis. Hierdie verloste kind is myne!’
Waar daar geen versekering van verlossing is nie, is daar geen vrede nie. Geen vrede beteken geen vreugde nie. Geen vreugde veroorsaak lewens wat op vrees gebaseer is. Genade skep ‘n siel wat met vertroue kan verklaar: ‘…ek ken die Een op wie ek vertrou en ek is seker dat Hy sal bewaar wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag van sy koms’ (2 Timoteus 1:12 NLV).
Jou kaartjie hemel toe is veilig: ‘Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle met die wete kan leef dat julle nou reeds deel het aan die ewige lewe, julle wat aanhou glo in die persoon van die Seun van God’ (1 Johannes 5:13 NLV). Dit gaan nie oor jou houvas op God nie – maar oor sy houvas op jou!
Sielskos: Job 38-39; Matt 25:22-30; Ps 38:13-22; Spr 8:24-26
2021-03-24
Deuteronomium 33:27 NLV
Dink na oor hierdie tydlose woorde deur Margaret Fishback Powers: ‘Een nag het ek ‘n droom gehad. Ek het gedroom dat ek op die strand loop en gebeure uit my verlede het voor my afgespeel. In elke toneel het ek twee rye voetspore in die sand gesien: myne en die Here Jesus s’n. Toe die laaste toneel voor my afspeel, het ek teruggekyk na die voetspore in die sand en merk toe op dat daar soms net een ry spore was. Dit was telkens gedurende die eensaamste en droewigste tye in my lewe! Dit het my gehinder en ek het gevra: ‘Here, toe ek begin het om U te volg, het U beloof dat U my nooit in die steek sal laat nie. Hoekom was daar dan net een ry spore gedurende daardie moeilike tye in my lewe? Ek kan nie verstaan waarom U, in die tye wat ek dit die nodigste gehad het, my verlaat het nie.’ Die Here het geantwoord: ‘My liewe kind! Ek het jou lief en sal jou nooit verlaat nie. Die tye wat jy net een ry spore gesien het, was die tye toe Ek jou gedra het.’
As jy nog versekering nodig het, lees hierdie twee Skrifgedeeltes: ‘…die Here is die Een wat voor jou uitgaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie en jou nie verlaat nie’ (Deuteronomium 31:8 NLV). “…Onthou dat God die versekering gegee het: ‘Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.’ Daarom kan ons moed skep en antwoord: ‘Die Here is my hulp, daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan nietige mensies my aandoen?'” (Hebreërs 13:5-6 NLV). Die woord vir jou vandag is – God is by jou.
Sielskos: Job 35-37; Matt 25:14-21; Ps 38:1-12; Spr 8:22-23
2021-03-23
Prediker 2:18-19 NLV
As jy harder werk kan jy meer geld verdien, maar jy kan nie meer tyd verdien nie.
Daar is ‘n verhaal van ‘n man wat die laat skof by ‘n fabriek gewerk het en in die vroeë oggendure huis toe gestap het. Een nag het hy ‘n kortpad deur die begraafplaas gevat. Hy het nie die nuwe graf wat in die middel van sy pad gegrawe is gesien nie en in die graf geval. Na verskeie onsuksesvolle pogings om uit te klim, het hy besluit om te ontspan tot die oggend wanneer iemand hom sou kon help. Soos hy half aan die slaap in die hoekie van die graf gesit het, het ‘n mede-reisiger wat bietjie oorbodig by die kroeg gekuier het, langs hom ingeval. Die dronkie was desperaat om uit te kom en het begin skree en woes by die graf probeer uitkom. Op daardie punt het ons held sy arm uitgesteek, saggies aan die dronk man se been gevat en gesê: ‘Dit gaan nie help nie, my vriend, ek het dit al probeer. Jy gaan nooit hier uitkom nie.’ Die dronk man het so groot geskrik dat hy met een groot sprong by die graf uitgespring het!
‘n Besoek aan die plaaslike begraafplaas sal jou dalk help om jou lewe te herevalueer en te herprioritiseer! Dit mag jou dalk, byvoorbeeld, aanmoedig om te stop en jouself af te vra waarvoor jy regtig lewe. Salomo het so ‘n openbaring gehad: ‘Alhoewel ek my werk met wysheid, kennis en vaardigheid doen, moet ek alles wat ek gekry het aan mense nalaat wat nie daarvoor gewerk het nie’ (geparafraseer).
Moenie net ‘n lewe maak nie; kom uit jou groef en maak ‘n verskil. Moenie net ‘n erfenis nalaat nie, laat ‘n nalatenskap na wat die mense wat jou volg, se lewens sal verryk.
Sielskos: Job 32-34; Matt 25:1-13; Ps 55:12-23; Spr 8:19-21
2021-03-22
Johannes 15:12 NLV
As liefde slegs ‘n sentiment was wat van iemand anders se aksies en reaksies afgehang het, of ‘n emosie was waaroor jy geen beheer gehad het nie, sou Jesus nie gesê het: ‘Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefgehad het’ nie. Dit beteken dat liefde ‘n keuse is wat jy maak. Jesus het ook gesê: ‘…julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan dié wat julle haat. Seën dié wat julle vervloek. Bid vir hulle wat julle seermaak’ (Lukas 6:27-28 NLV). Hy sal ook vir jou die genade gee om dit te doen wat Hy jou beveel om te doen.
Vir duisende jare (en ook tot vandag nog in sommige Oosterse kulture), het ouers hulle kinders se huwelike gereël. Baie bruide en bruidegomme het eers op hul troudag mekaar vir die eerste keer ontmoet. ‘n Sekere jong dame van Indië moes met ‘n man trou wat sy nie geken het nie. Eendag het sy ‘n brief van haar verloofde ontvang, met die doel om hom voor die troue aan haar voor te stel. Die toekomstige bruid het egter die brief onoopgemaak teruggestuur, deur te sê dat sy glo dat die liefde na die troue ontwikkel moet word, nie voor dit nie.
‘Toe ons gebore is,’ het sy geskryf, ‘kon ons nie ons ma, pa, broers of susters kies nie en tog het ons geleer om saam met hulle te leef en hulle lief te hê. So is dit ook met man en vrou.’ In gemeenskappe wat hierdie filosofie nastreef, is skeisake amper ongehoord. Ons beveel nou nie gereëlde huwelike aan nie, maar die ‘romantiese liefde’ wat deesdae so algemeen is, het min te make met ‘n suksesvolle huwelik.
Wanneer jy daarna streef om iemand onvoorwaardelik lief te hê soos Christus jou liefhet, sal jy vreugde en vervulling ervaar.
Sielskos: Job 29-31; Matt 24:36-51; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18