Ons dien ‘n vrygewige God

2021-02-04
2 Korintiërs 9:8 AFR83

God het nie net lief nie; Hy oorlaai ons met liefde (sien 1 Johannes 3:1). Hy deel nie net wysheid uit nie; Hy ‘…sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie’ (Jakobus 1:5 NLV). Die Verlore Seun het die vetste kalf gekry, die gaste by die troue in Kana die beste wyn en Petrus het so baie vis gevang dat sy boot begin sink het.

Paulus sê vir ons dat God ‘saad voorsien aan die saaier’ (2 Korintiërs 9:10 NLV). Die Griekse woord vir ‘voorsien’ stam van twee betekenisse af. Die eerste beteken ‘om te dans’ en die tweede beteken ‘om te lei.’ Dit beteken letterlik om “‘n dans te lei.” Wanneer God dus vir jou gee, dans Hy van vreugde. Hy is lief daarvoor om te gee! Een dag het Petrus vir Jesus gesê: ‘…Ons het alles opgegee om u dissipels te word. Wat sal ons daaruit kry?’ (Matteus 19:27 NLV). Dit lyk na ‘n goeie geleentheid vir Jesus om Petrus se ‘Wat’s in dit vir my?’ mentaliteit aan te spreek. Hy doen dit egter nie. In plaas daarvan, verseker Hy vir Petrus dat ons honderdvoudig in hierdie lewe sal ontvang en die ewige lewe ook sal verkry (sien Matteus 19:29). Jesus beloof ons ‘n wins van 10,000 persent! God deel sy goedheid nie met ‘n oogdrupper uit nie, maar met ‘n brandkraan; nie met ‘n teekoppie nie, maar met die Middellandse See. Jy kan dit eenvoudig nie bedwing nie.

Laat dit dus oorborrel. Uitloop. Oor die kant mors. ‘…En onthou, hierdie dinge het julle nie self verdien nie. Ek het dit gratis vir julle gegee. Gaan gee dit daarom ook verniet aan ander weg’ (Matteus 10:8 DB).

Sielskos: Jes 58-62; Matt 12:22-37; Ps 108; Spr 3:31-32

Volgehoue genade

2021-02-03
2 Korintiërs 12:9 NLV

Daar is twee tipes genade: 1) Reddende genade. Die oomblik wat jy jou vertroue in Christus plaas, wis God die hele rekord van jou sonde uit. 2) Volgehoue genade. Paulus skryf: “…Daarom, sodat ek nie hoogmoedig moet word nie, is aan my ‘n doring in die vlees gegee… Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat. Hy het egter vir my gesê: ‘My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking'” (verse 7-9 NLV).

Wat ‘n helder beeld! ‘n Doring steek in die sagte vel tot onder die oppervlakte in. Elke tree is ‘n herinnering daaraan: Die kind in die rehabilitasiesentrum. Die rooi ink op die lêer. Die misdaadrekord. Die smagting na alkohol in die middel van die dag. Die trane in die middel van die nag. ‘Here, neem dit weg?’ Jy hoor egter die volgende: ‘My genade is genoeg vir jou.’ Volgehoue genade beloof ons nie die afwesigheid van beproewing nie, maar die versterkende teenwoordigheid van God.

John Newton, die Anglikaanse predikant wat ‘Amazing Grace’ geskryf het, het gevind dat God se genade genoeg is. Op die dag wat sy geliefde vrou, Mary, oorlede is, het hy die krag ontvang om ‘n Sondagpreek te lewer. Die volgende dag het hy kerklede besoek en later haar begrafnis waargeneem. Toe hy terugkyk op daardie tyd, het hy geskryf: ‘Die Bank van Engeland is te arm om vir so ‘n verlies soos myne te vergoed. Maar die Here, algenoegsame God, spreek, en dit word gedaan. Laat hulle wat Hom ken en vertrou, moed skep. Hy kan hulle krag volgens hulle dag gee. Hy kan hulle krag vermeerder soos hulle beproewings vermeerder. Dit wat Hy kan doen, het Hy beloof dat Hy sal doen.’

Sielskos: Jes 53-57; Matt 12:15-21; Ps 111; Spr 3:29-30

Krag deur mededeling

2021-02-02
Handelinge 19:18 NLV

Met betrekking tot die kerk in Efese, skryf Paulus: ‘Baie van dié wat gelowig geword het, het hulle aangemeld en al hulle praktyke openlik bely… So het die Woord van die Here kragtig gegroei en sterk geword’ (verse 18-20 NLV). Geestelike genesing vind in kerke soos dié plaas. Wanneer jy dus in dieselfde patroon van sonde en mislukking vasgevang is, moet jy volwasse, toegewyde Christene soek wat nie deur jou probleem geskok sal word nie, wat nie jou vertroue sal skend nie en wat weet hoe om vir jou en saam met jou te bid.

Jesus het sy volgelinge die outoriteit gegee om belydenisse aan te hoor en genade uit te spreek. ‘Wie se sondes julle ook al vergewe, dit word hulle vergewe; wie s’n julle ook al handhaaf, word gehandhaaf’ (Johannes 20:23 NLV). ‘n Geestelike katarsis vind plaas wanneer iemand jou in die oë kyk en sê: ‘God vergewe jou, ek vergewe jou, vergewe nou jouself en wandel in God se vergifnis!’ Vergifnis is so ‘n sterk krag dat dit genesing kan fasiliteer.

Jakobus skryf: ‘Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid. En ‘n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan. En watter sondes die sieke ook al gedoen het, dit sal hom vergewe word. Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ‘n kragtige uitwerking’ (Jakobus 5:14-16 NLV). Indien jy nie seker is met wie jy moet praat, of wie jy kan vertrou nie, begin by jou pastoor.

Sielskos: Jes 49-52; Matt 12:1-14; Ps 107:33-43; Spr 3:27-28

Deur God se genade kan jy oorkom

2021-02-01
Romeine 8:31 NLV

Sommige van die wêreld se bekendste mense het die grootste uitdagings ervaar, maar hulle het dit oorkom. Hier volg ‘n paar voorbeelde: kreupel: sir Walter Scott. In die tronk: John Bunyan. In volslae armoede grootgeword: Abraham Lincoln. Bittere godsdienstige veroordeling: Benjamin Disraeli. Verlam: Franklin Roosevelt. Grootgemaak in ‘n gemeenskap vol rasse-diskriminasie: Booker T. Washington, Harriet Tubman, Marian Anderson en George Washington Carver. Die eerste kind uit ‘n arm Italiaanse familie van agtien lede om te oorleef: Enrico Caruso. Ouers wat die Nazi konsentrasiekampe oorleef het, verlam vanaf die middel ondertoe vanaf sy vierde jaar: die onvergelykbare violis, Itzhak Perlman. ‘n Stadige leerder, verstandelik gestrem en ononderrigbaar: Albert Einstein. Helen Keller is blind en doof gebore, maar tog het sy haar Universiteitopleiding met die hoogste eer geslaag en ‘n impak op die wêreld gehad. Margaret Thatcher, Engeland se eerste vroulike Eerste Minister, het bo haar pa se kruidenierswinkel gewoon. Vir ‘n tydperk het hulle huis geen lopende water of binnenshuise loodgieterswerk gehad nie. Golda Meier, Israel se eerste en enigste vroulike Eerste Minister, was ‘n geskeide ouma van Milwaukee.

Wat kan ons uit hierdie mense se lewens leer? Dat sukses nie van ons omstandighede afhang nie, maar van ons vermoë om ons omstandighede te oorkom! Met God aan ons kant, kan ons dit doen! Paulus, wat voor groot struikelblokke in sy lewe te staan gekom het, het geskryf: ‘…As God aan ons kant is, wie kan ooit téén ons wees?’

Sielskos: Jes 45-48; Matt 11:20-30; Ps 107:23-32; Spr 3:25-26

Onsekerheid in leierskap

2021-01-31
Filippense 2:3 NLV

Hier is die dilemma van ‘n onsekere leier: as ander in ‘n werk uitblink, vrees hulle dat dit hulle sal laat sleg lyk. Hulle vrees egter ook dat as die ander persoon die werk sleg doen, dit hulle ook sleg sal laat lyk. Dus probeer hulle alles self doen. Gevolglik behaal hulle nie sukses nie, of hulle sukses is beperk.

Paulus spreek dit as volg aan: ‘Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange’ (verse 3-4 NLV).

Selfversekerde leiers is in staat om in ander mense te glo, omdat hulle in hulself glo. Hulle is nie arrogant nie; hulle ken hulle eie sterk- en swakpunte en respekteer hulself. Wanneer mense goed presteer, voel hulle nie bedreig nie. Hulle gaan uit hul pad om die beste mense bymekaar te bring en hulle op te bou sodat hulle na die beste van hul vermoë kan presteer. Wanneer ‘n selfversekerde leier se span sukses behaal, bring dit vir hulle groot vreugde. Hulle sien dit as die hoogste kompliment wat hulle vir hul leierskapsvaardighede kan kry.

Een skrywer merk op: ‘Die grootste hindernis om op goeie voet met ander mense te wees, is om ongemaklik met jouself te wees.’ Wat moet jy dus doen? 1) Ken jouself. As jy nie van nature daarvan bewus is nie, vra iemand wat jy vertrou om jou drie opvallendste sterk- en swakpunte te noem. Moenie jouself verdedig wanneer jy hulle antwoorde hoor nie. Samel die inligting in en reflekteer daarop. 2) Kry hulp. Jy verdien dit, jy is dit waardig! As jy jou onsekerheid kan oorkom, sal jy ‘n nuwe vlak van seën en prestasie bereik.

Sielskos: 2 Kon 6:8-20; Ef 1:15-23

Hou aan verbeter

2021-01-30
Lukas 12:48 NLV

Die skrywer H. Jackson Brown Jnr het geskerts: ‘Talent sonder dissipline is soos ‘n seekat op rolskaatse. Daar is baie beweging, maar jy weet nooit of dit vorentoe, agtertoe of kant toe gaan nie.’ As jy weet dat jy talent het en al baie beweging sonder veel konkrete resultate gesien het, mag jy dalk selfdissipline kort. Kyk na verlede week se skedule. Hoeveel tyd het jy aan gereelde, gedissiplineerde aktiwiteite toegewy? Het jy enigiets gedoen om te groei en jouself te verbeter? As jy dit aanhou uitstel en vir jouself sê dat jy dit later sal doen, moet jy aan jou selfdissipline werk. ‘n Kwekery in Kanada het ‘n plakkaat op die muur wat lui: ‘Die beste tyd om ‘n boom te plant is vyf-en-twintig jaar gelede. Die tweede beste tyd, is vandag.’ Begin vandag om jouself te dissiplineer. Hoekom?

Omdat: 1) Daar ‘n prys daaraan verbonde is om die volgende vlak te bereik. Die Amerikaanse dramaturg Sidney Howard het opgemerk: ‘Die een helfte van weet wat jy wil hê, is om te weet wat jy moet opgee om dit te kan kry.’

2) Wees gewillig om klein te begin. Aan die begin sal jou wins min wees, maar dit sal groei. Die verskil tussen die wenner van die goue medalje en die res, is dikwels net ‘n honderdste van ‘n sekonde.

3) Kies die regte omgewing. Omdat verbetering altyd ‘n graad van risiko en mislukking verg, kies ‘n plek waar groei en eksperimentasie aangemoedig word.

4) Glo dat jy dit altyd beter kan doen. Enigiets wat jy op ‘n spesifieke manier vir ‘n gegewe tydperk gedoen het, kan altyd beter gedoen word. Jy kan dus, met God se hulp, aanhou verbeter.

Sielskos: Jes 42-44; Matt 11:10-19; Ps 107:17-22; Spr 3:21-24