2021-04-08
Johannes 20:25 NLV
Sommige van ons neem die boodskap van Christenskap en plaas dit in ‘n boks gemerk: ‘Moenie vra nie, moenie vertel nie.’ Die verhaal van ongelowige Tomas leer ons dat dit nie net in die haak is om te twyfel nie – dis soms nodig! As jy dit nie doen nie, sal jy nie groei nie. Jy sal met iemand anders se antwoorde opeindig, wat in baie gevalle onvoldoende antwoorde vir jou sal wees – selfs as jy eerlik genoeg is om hulle te vra.
Vraag: Het ‘n godsdienstige siel wat goed bedoel jou al ooit in ‘n hoek gedruk en jou probeer oortuig dat jou vrae ‘n oortreding teenoor Christus is? As dit die geval is, is dit tyd om weer na die sagte woorde van die Een wat jou twyfel en vrese beter as jyself ken, te luister: ‘Vrede vir jou. Kyk na my hande en voete. Kyk met oë van geloof en glo. Jy is geseënd wanneer jy ten spyte van jou vertwyfelinge glo.’
Jy mag bid: ‘Here, soos Tomas sukkel ek soms met vertwyfelinge. Ek het nog nie al die stukke van my lewe heeltemal bymekaar gesit nie. Dit sal ook nie gebeur totdat ek by U is nie. Dankie dat U my in my worsteling aanvaar en dat U nie my vrae ignoreer nie. Tomas het eindelik die plek bereik waar hy kon sê: ‘My Here en my God!’ Dankie dat U geduldig met my is terwyl ek strewe om ook daardie plek te bereik.’
So, hoe kom ons deur ons vertwyfelinge? Soos Tomas! Deur hulle eerlik in die gesig te staar, hulle na Jesus toe te bring en as gevolg van hulle, geestelik te groei.
Sielskos: Lev 13:38-14:57; Mark 1:9-13; Ps 25:1-7; Spr 9:17-18
2021-04-07
Johannes 20:25 NLV
Tomas was nie daar toe Jesus die eerste keer aan sy dissipels na die opstanding verskyn het nie. Soos baie van ons, was ander mense se ervarings nie goed genoeg vir Tomas nie – hy moes sy eie hê. Jesus het seker gemaak dat hy dit kry. Let op dat Hy nie Tomas verwyt het omdat hy getwyfel het nie. Hy het verstaan dat enige vraag wat in ‘n eerlike hart ontstaan, nie ‘n skeptiese vraag is nie, maar ‘n soeke na die waarheid.
Die Bybel sê vir ons: ‘Agt dae later was Jesus se dissipels weer saam, en Tomas was by hulle… Jesus het tussen hulle kom staan en aan hulle gesê: ‘Vrede vir julle!’ Daarna sê Hy vir Tomas: ‘Bring jou vinger hier en kyk na my hande, en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar glo.’ Tomas het vir Jesus gesê: ‘My Here en my God!’ (verse 26-28 NLV).
Ons kan twee belangrike lesse uit hierdie verhaal leer: 1) Jou twyfel kan jou na ‘n nuwe vlak van geloof lei. Wanneer die bodem uit jou wêreld val, wanneer die pyn van jou omstandighede ondraaglik voel, wanneer ‘n verwoestende gebeurtenis plaasvind en twyfel onaangekondig instap, moenie dit ontken nie – erken dit. Tye van vertwyfeling word klaskamers van onderrig wanneer hulle jou na God vir antwoorde dryf. Soos jy deur hulle werk, sal jy ‘n nuwe vlak van geloof bereik.
2) Jou twyfel kan jou na ‘n dieper verhouding met Jesus lei. Die getuienis van ander sal jou net sover dra, maar uiteindelik het jy jou eie persoonlike ervaring met die Here nodig. Jy kan dit hê! Tomas het begin deur Jesus in twyfel te trek en het opgeëindig as ‘n martelaar wat vir Jesus se koninkryk gesterf het. Dink daaroor!
Sielskos: Lev 11:1-13:37; Mark 1:1-8; Ps 32; Spr 9:10-16
2021-04-05
Openbaring 2:5 NLV
Jesus het met die kerk in Efese gepraat en die volgende gesê: ‘Ek ken jou handel en wandel. Ek het ook jou harde werk en volharding raakgesien, en dat jy slegte mense net nie kan verdra nie… Verder volhard jy ook en het jy ter wille van My baie verdra sonder om moeg te word. Maar Ek het hierdie klag teen jou: dat jy jou eerste liefde versaak het. Dink terug aan hoe ver jy uitgesak het en kom tot inkeer, en doen weer wat jy aan die heel begin gedoen het…’ (verse 2-5 NLV).
Dink terug aan jou eerste dae as Christen. Onthou hoe opgewonde jy geword het wanneer jy oor die Here gepraat het. Onthou hoe jy elke dag tyd in gebed bestee het en hoe sy teenwoordigheid jou versterk het. Jy kon nie genoeg van sy Woord kry nie. Dit was met vars insigte gevul wat jou siel opgewonde gemaak het en jou uitgedaag het om dieper oor Hom te delf. Jy het nie ‘n geleentheid laat verbygaan om met ander mense oor die Here te praat nie. Jou pad met Hom was vervuld en die spil waarom jou lewe gedraai het.
Wat het gebeur? Het jy dieselfde punt as die Christene in Efese waarmee Jesus gepraat het, bereik? As dit die geval is, moet jy verstaan dat God nie jou besige skedule sal onderbreek of sy pas sal versnel om by jou te bly nie. Nee, jy moet stadiger loop om weer in pas met Hom te kom. Jy moet kies om Hom eerste te stel en Hom daar te hou. Vandag rig die Here dalk die volgende woorde tot jou: ‘Kom tot inkeer, en doen weer wat jy aan die heel begin gedoen het.’
Sielskos: Lev 5-7; Matt 28:11-15; Ps 72:1-11; Spr 9:1-6
2021-04-04
Johannes 20:7 NLV
In die Bybelse tyd het jy iemand met ‘n reputasie van uitnemendheid uitgesoek wanneer jy ‘n mooi meubelstuk gemaak wou hê – ‘n meesterskrynwerker of -afwerker. Hierdie skrynwerkers het egter ‘n interessante gebruik gehad. Wanneer die skrynwerker ‘n werk voltooi het, het hy sy voorskoot afgehaal, dit opgevou en dit op sy voltooide werk gesit as ‘n teken dat die werk voltooi is.
Met daardie prentjie in gedagte, lees die volgende: ‘Vroeg die Sondagoggend toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf aan en merk op dat die klip voor die graf weggerol is. Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en die lieflingdissipel… Petrus en die ander dissipel het uitgekom en na die graf toe gehardloop. Die twee het saam gehardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf aangekom. Toe hy vooroor buk, sien hy net die linnedoeke daar lê, maar hy het nie ingegaan nie. Simon Petrus het ná hom ook daar aangekom en by die graf ingegaan. Hy sien toe ook die linnedoeke daar lê, én die kopdoek wat om Jesus se kop was. Die kopdoek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant opgerol. Daarna het die ander dissipel wat eerste by die graf aangekom het, ook ingegaan, gesien, en geglo. Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie’ (verse 1-9 NLV).
Let op die woorde: ‘Die kopdoek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant opgerol’. Die meesterskrynwerker het die werk voltooi. Ons verlossing is voltooi. Jy hoef nie te werk om gered te word nie, jy moet slegs jou vertroue in Christus plaas en jou sondes word vergewe en jou plek in die hemel verseker.
Sielskos: 1 Kor 15; Matt 28:1-10
2021-04-03
1 Korintiërs 15:17 NLV
Fox nuus het berig oor ‘n professor in Florida wat sy studente aangesê het om Jesus se naam op ‘n stuk papier te skryf, die papier op die vloer te sit en dan daarop te trap. Al die studente het dit gedoen – behalwe een! Uit liefde en lojaliteit aan Jesus, het hy gesê dat hy nie bereid was om dit te doen nie.
Dit lei ons na die volgende vraag: ‘Hoekom sal ‘n onderwyser, selfs ‘n ateïs, so ‘n ding doen?’ Die antwoord: Omdat ons dit wat ons vrees, soms probeer beveg. Dit word ‘n lewe van ontkenning genoem.
Dink daaroor: Haat en gegriefdheid eindig gewoonlik by die graf, omdat die persoon dood is en geen mag meer oor jou het nie. Hoekom haat sommige mense dan steeds vir Jesus? Vrees! Diep binne-in hulle vrees hulle dat Hy lewe en dat sy invloed in die wêreld aan die groei is. Sy invloed sal aanhou groei! ‘Soos die water die see vol maak, so sal die aarde vol wees van mense wat die Here ken’ (Jesaja 11:9 NLV).
Die geskiedkundige waarheid van Christus se opstanding word nie betwyfel deur enige eerlike, oop gemoed nie. Die grootste bewys van sy opstanding kan egter in lewens wat verander, gesien word. Paulus skryf: ‘As Christus in julle lewe, is julle liggame wel nog as gevolg van die sonde aan die dood onderhewig, maar julle gees is die ene lewe omdat julle saak met God reggemaak is. Omdat die Gees van die God wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy… ook julle dooie liggame weer lewendig maak deur dieselfde Gees wat in julle woon’ (Romeine 8:10-11 NLV). Die liedjieskrywer Alfred Ackley het dit só gestel: ‘You ask me how I know He lives? He lives within my heart.’
Sielskos: Num 21:4-9; Matt 27:51-66; Ps 69:7-21; Deut 21:22-23
2021-04-02
Kolossense 1:20 NLV
Carolyn Arends skryf: ‘Paassondag is die Christelike geloof se goue medalje oorwinningsrondte, die gelukkige einde. Ek vrees egter Goeie Vrydag. Die beelde van marteling en lyding, die somber musiek, die verskriklike uitroep: ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ As dit van my afgehang het, het ek heelwaarskynlik Goeie Vrydag oorgeslaan. As ek dit egter doen, sal Paassondag hol word. Ek sal vergeet hoeveel my redding gekos het. Ek sal by die leuen inkoop dat Christus se oorwinning oor die dood – en my besluit om Hom te volg – beteken dat my lewe van moeilikheid gevrywaar sal wees. Die Bybelse skrywers moedig ons aan om die lyding te oordink en bied ‘n geleentheid om met Christus te identifiseer en sy kruis op te neem. Tog, wanneer die werk verlore is, die gewas kwaadaardig is of die vriendskap verraai is, rou ons nie net oor die wond nie, maar ook oor die feit dat ons gewond kan word. Ons voel dat Jesus ons in die steek gelaat het. Ons sien dit nie as vreugde nie, maar as mislukking. Hoe word ons dus Paassondag Christene? Wanneer ek Paassondag verwag en Goeie Vrydag kry, probeer ek onthou dat God se definisie van ‘goed’ by verre my definisie daarvan oorskry.’
As jy sukkel om die ‘goeie’ in jou situasie te sien, lees die volgende: ‘…Die Seun is die begin. Hy is die Eerste wat uit die dood opgestaan het sodat Hy inderdaad eerste in alle dinge is. God het dit goedgedink om met sy volle Goddelikheid in die Seun te woon, en om deur die Seun sy goeie verhouding met alles in die hemel en op die aarde te herstel. Hierdie vrede is bewerk deur die bloed wat aan die kruis gevloei het’ (verse 18-20 NLV).
Sielskos: Gen 22:1-18; Matt 26:69-27:50; Ps 22; Jes 53