2021-02-10
Spreuke 14:30 NLV
In die laaste halfeeu, het dokters die verhouding tussen geestelike en fisiese gesondheid begin verstaan en beklemtoon. Tog praat die Bybel meer as drie duisend jaar gelede al daaroor toe koning Salomo vir ons hierdie vier spreuke gegee het: 1) ‘Innerlike kalmte bevorder die gesondheid. Jaloesie vreet ‘n mens op.’ 2). ‘Oë wat blink, bring vreugde. Goeie nuus, bring gesondheid’ (Spreuke 15:30 NLV). 3) ‘Mooi woorde is soos heuning; dit is goed vir die gees en bevorderlik vir sy lewe’ (Spreuke 16:24 NLV). 4) “‘n Vrolike mens is soos goeie medisyne. ‘n Neerslagtige mens tap jou krag” (Spreuke 17:22 NLV).
Hierdie Skrifgedeeltes kan as volg opgesom word: ‘n Houding wat met geloof gevul is (deur op die goeie eerder as die slegte te fokus), lag (die vermoë om jouself te verbly) en gesproke woorde van aanmoediging het ‘n diepgaande effek op jou gesondheid (sowel as die gesondheid van diegene rondom jou).
Wat is die teenmiddel vir stres? Kalmte! Wat is die geneesmiddel vir vrees? Geloof! Waar kom kalmte en geloof vandaan? Van God af! Dit het nie goed met Dawid gegaan toe hy die volgende geskryf het nie: ‘Ek het na U geroep, Here. Ek het by U gepleit om genade: ‘Wat sal dit U baat as ek sterf, as ek wegsak in die graf?’…’ (Psalm 30:9-10 NLV). Ons weet nie of hy stres gehad het of fisies siek was nie. God het egter ingetree en later het Dawid in dieselfde Psalm geskryf: ‘U het my droefheid verander in ‘n dans van vreugde. U het my… met vreugde geklee. Daarom sal ek sing tot u eer en nie swyg nie…’ (verse 12-13 NLV).
Daar is geen twyfel daaraan nie – jou gedagtes het ‘n diepgaande effek op jou gesondheid!
Sielskos: Rom 9:17-11:36; Matt 13:36-46; Ps 138; Spr 4:14-17
2021-02-09
Romeine 8:15 ABA
As jy ‘n aangenome kind is, beteken dit dat jou ouers jou gekies het. Hulle kon ‘n ander geslag, kleur of afkoms gekies het. Hulle het egter vir jou gekies. Jy sê: ‘As hulle egter die res van my lewe kon vooruitsien, mag hulle dalk van gedagte verander het.’ Dis presies die punt! God het ons hele lewe van begin tot einde gesien en tog was Hy steeds oortuig om ‘Deur wat Christus gedoen het… ons as sy kinders aan te neem…’ (Efesiërs 1:5 NLV). Ons kan nou lewe soos God se ‘…kinders, en die Heilige Gees help ons om vir God te sê ‘Vader’… Ons is God se kinders, en daarom sal God ook vir ons gee wat Hy vir ons belowe het. Ja, ons sal saam met Christus alles kry wat God gee…’ (Romeine 8:15, 17 ABA).
God aanvaar jou nie op grond van jou stamboom nie. Hy verwerp jou ook nie op grond van jou tekortkominge, skuld of dom keuses nie. Jy is sy verloste kind. Jy kan ‘…met vertroue vrymoedig na God toe gaan’ (Efesiërs 3:12 NLV). Dit raak egter beter. Jou aanneming is horisontaal sowel as vertikaal. Jy is nou ‘n lid van sy verloste familie. Verdelende mure van vyandigheid word afgebreek en ‘n samelewing word op die basis van ‘n gemeenskaplike Vader geskep. Oombliklike familie wêreldwyd!
As God vir jou lief is, is jy waardig om liefde te ontvang. As Hy jou in sy koninkryk wil hê, is jy waardig om geken te word. God se genade nooi jou uit – nee, dit verwag van jou – om jou houding teenoor jouself te verander en saam met God teen jou gevoelens van verwerping en onwaardigheid standpunt in te neem. Jy is aanvaar, geliefd en veilig!
Sielskos: Rom 7:1-9:16; Matt 13:24-35; Ps 134; Spr 4:5-13
2021-02-08
2 Timoteus 4:7 NLV
In die Mount Hope begrafplaas in Hiawatha, Kansas, sal jy verskeie groot grafstene kry wat deur John Milburn Davis opgerig is. Davis het sy beroep begin as ‘n loonwerker en het dit later reggekry om ‘n groot fortuin op te bou. Hy het nie baie vriende in die proses gemaak nie. Hy was ook nie na aan sy vrou se familie nie, omdat hulle gedink het dat Davis benede haar is. Hy was bitter en het gesweer om hulle nie ‘n sent na te laat nie. Toe sy vrou oorlede is, het Davis ‘n groot grafsteen van hom en haar wat op ‘n bankie sit, opgerig. Hy was so in sy skik daarmee dat hy ‘n tweede monument beplan het, wat sy vrou sou uitbeeld waar sy met blomme voor sy toekomstige graf kniel. Een idee het tot ‘n volgende gelei en voor hy sy oë kon uitvee, het hy ‘n kwartmiljoen dollars op huldeblyke aan sy vrou en homself spandeer. Wanneer mense hom gevra het om by te dra tot ‘n nuwe hospitaal of park, sou die ou gierigaard sê: ‘Wat het hierdie dorp al ooit vir my gedoen?’ Davis het sy lewensfortuin op standbeelde spandeer en is as eensame, norse ou man op twee-en-negentig jaar in die armhuis oorlede.
Wat het van sy monumente geword? Elke liewe een van hulle is stadig besig om in die Kansas grond in te sink – slagoffers van tyd, vandalisme, verwaarlosing – monumente van ‘n nydige en selfgesentreerde lewe. Daar is ‘n sekere poëtiese geregtigheid daaraan dat hulle almal oor ‘n paar jaar in rommel sal verdwyn. Net een persoon het Davis se begrafnis bygewoon – Horace England, die grafsteenverkoper! Moenie dat dit met jou gebeur nie; laat jou lewe voor God tel!
Sielskos: Rom 3:21-6:23; Matt 13:10-23; Ps 125; Spr 4:3-4
2021-02-07
2 Korintiërs 11:3 DB
Paulus skryf: ‘Maar ek is regtig bang dat julle in dieselfde slaggat sal trap as Eva toe sy deur die slang verlei is. Ek is bekommerd dat julle gedagtes nie meer een honderd persent daarop gerig is om Christus opreg te dien nie.’
Versoeking begin altyd in jou gedagtes en om jou gedagtes te beskerm, moet jy op God se Woord staan. Dit was Satan wat die gedagte vir Eva gegee het om die verbode vrugte te eet. Eva het nie rondgestaan en wonder hoe om ongehoorsaam aan God te wees nie. Onthou dus dat wanneer jy versoek word, dit nie God is wat met jou praat nie. Die duiwel bestudeer jou op dieselfde manier wat ‘n afrigter die spel van die span se teenstanders bestudeer. Omdat hy dit doen, ken hy jou swakpunte en weet hy watter versoekings die beste kans vir sukses het. Hoeveel keer het jy nie al gesê: ‘Ek beloof myself ek sal dit nie weer doen nie,’ maar dit tog weer doen nie? Dit gebeur omdat Satan weet wat vir jou werk.
Jy hoef egter nie weerloos en moedeloos te voel nie. Die Bybel sê: ‘Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou’ (1 Korintiërs 10:13 NLV). Satan wag tot jou weerstand laag is voor hy toeslaan, maar God voorsien altyd ‘n uitweg. Dit beteken dat hoewel jy voor versoekings te staan sal kom, jy dit kan oorwin. Sodra Satan dan agterkom dat sy taktieke nie meer werk nie, sal hy êrens anders heen aanbeweeg.
Sielskos: 1 Kon 3:4-28; Jak 1:2-8
2021-02-06
Lukas 19:8 NLV
As jy iemand bedrieg het, verwag God van jou om daarvoor te vergoed. Saggeus was ‘n bedrieër in die eerste eeu wat belasting van die Jode, sy eie mense, vir die Romeine ingesamel het. Hy het almal wat hy kon, bedrieg. Die Bybel sê dat hy ryk was (sien vers 2 NLV). Nadat hy egter ‘n aand saam het Jesus deurgebring het, het hy radikaal verander. Hoe weet ons dit? Omdat hy gesê het: ‘…Here, ek gaan die helfte van my besittings aan die armes gee, en as ek iets van iemand met ‘n slenter bekom het, gee ek dit vierdubbel terug.’ Jesus leer ons: ‘Bewys eerder deur julle voorbeeldige lewe dat julle werklik tot inkeer gekom het’ (Matteus 3:8 NLV).
Soms is dit egter nie moontlik om vrede te maak met die persoon wat jy seergemaak het nie. Wat as hulle oorlede is? Wat as jy ‘n ‘affair’ met iemand anders se eggenoot gehad het? Moet jy teruggaan en hulle man of vrou daarvan vertel sodat jy minder skuldig kan voel? Nee, jy sal hulle harte breek en hulle gesin vernietig. Wat moet jy dus doen? Bid en ontvang God se vergifnis (sien 1 Johannes 1:7-9). As jy daarna steeds daarmee worstel, gaan praat daaroor met jou pastoor, of ‘n Christelike berader, of ‘n volwasse vriend wat dit kan hanteer. Jakobus skryf: ‘Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word…’ (Jakobus 5:16 NLV).
Die punt is dat jy gewillig moet wees om vrede te maak wanneer dit moontlik is en gewillig moet wees om die koste te dra om dinge reg te stel. As jy dit doen, sal God jou seën en kan jy met ‘n skoon gewete met betrekking daar toe lewe.
Sielskos: Rom 1:1-3:20; Matt 13:1-9; Ps 67; Spr 4:1-2
2021-02-05
Matteus 18:33 NLV
Jesus het gesê: ‘Om hierdie rede kan God se koningsheerskappy vergelyk word met ‘n koning wat besluit het om na te gaan wat sy amptenare hom skuld. Skaars het die ondersoek begin of een word na hom toe gebring wat hom miljoene rande skuld. Toe hy dit nie kon bybring nie, gee die koning opdrag dat hy, sy vrou en sy kinders en al sy besittings verkoop moet word om sy skuld te betaal. Hy val toe voor die koning neer en smeek hom: ‘Gee my kans, ek sal alles aan u terugbetaal.’ Daarop het die koning hom innig jammer gekry. Hy het hom laat gaan en sy skuld afgeskryf. Toe die amptenaar daarvandaan weggaan, loop hy egter een van sy medeamptenare raak wat hom net ‘n paar rand geskuld het. Hy… sê: ‘Betaal jou skuld!’ Sy medeamptenaar val toe voor hom neer en smeek hom: ‘Gee my kans, ek sal alles aan jou terugbetaal.’ Maar daarvan wou sy skuldeiser nie hoor nie. Hy is daar weg en het hom in die tronk laat gooi… Toe sy medeamptenare sien wat gebeur het, was hulle uitermate ontsteld. Hulle het alles wat gebeur het toe aan die koning gaan vertel. Daarop het die koning daardie man laat roep en vir hom gesê: ‘Jou ellendige vent! Toe jy my gesoebat het, het ek vir jou al jou skuld afgeskryf. Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek vir jou jammer gekry het nie?’ Woedend het die koning hom toe oorgegee aan die folteraars om elke sent uit hom te pers totdat hy al sy skuld betaal het. So sal my hemelse Vader ook met julle maak as julle weier om julle medegelowiges met julle hele hart te vergewe’ (verse 23-35 NLV).
As jy vandag wraak in jou hart koester en weier om iemand te vergewe, lees weer hierdie verhaal. Dis die woord vir jou vandag!
Sielskos: Jes 63-66; Matt 12:38-50; Ps 120; Spr 3:33-35